Esegiël 18: 1 -20

Skrifgedeelte: Esegiël 18: 1 -20

Fokusvers: Esegiël 18: 20(a)

Tema: Geen mens kan vir ‘n ander se sonde betaal nie, behalwe Hy wat volmaak Mens én God is.

Heidelbergse Kategismus Sondag 6

Vraag: Waarom moet hy ‘n ware en regverdige mens wees?

Antwoord: Omdat die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal. Maar die mens wat self sondaar is, kan nie vir ander betaal nie.

Vraag: Waarom moet hy terselfdertyd ware God wees?

Antwoord: Om, deur die krag van sy Godheid, die las van die toorn van God aan sy mensheid te kon dra en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee.

Vraag: Wie is hierdie Middelaar wat terselfdertyd ware God en ware regverdige mens is?

Antwoord: Ons Here Jesus Christus, wat God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het.

Vraag: Waaruit weet jy dit?

Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het. Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders en profete laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die Wet laat uitbeeld; Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul.

Inleiding

  • Daar is ‘n paar gedeeltes in die Bybel wat die vermoë het om ons uit ons geestelike slaap wakker te laat skrik.
  • Esegiël 18 is een van daardie gedeeltes.
    • Want hoeveel van ons is nie maar ook gerus in ons geloofslewe nie?
    • Hoeveel van ons gee nie ook maar al te maklik die skuld vir iets of iemand anders nie?

Geen mens kan vir ‘n ander se sonde betaal nie

  • In die paar verse wat ons vanoggend saam gelees het, vind ons die volk van die Here in die Babiloniese ballingskap.
    • Die volk was nou in ‘n vreemde land, en onder ‘n vreemde regering.
    • Die heidense koning, Nebukadneser, se woord was nou wet.
  • Maar in die Here se groot genade stuur Hy een van sy profete saam met die volk.
    • Ook die profeet, Esegiël, word o.a. weggevoer na hierdie vreemde land.
  • Dit is genade van die Here, geliefdes, want nou het die volk God se Woord byderhand.
  • Die Ou-Testamentiese profete het konstant God se wil aan die volk deurgegee.
  • Die gelowige Ou-Testamentiese profete het altyd die volk herinner deur te sê: “Só sê die Here, Here”.
  • Soos ons gehoor het, was daar onder die Jode ‘n spreekwoord wat sê: “Die vaders eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp.”
    • Hierdie spreekwoord beteken dat kinders, op ‘n manier, moet ly vir hulle ouers se sonde.
    • Die kinders word gestraf vir die sondes van hulle ouers.
      • Met hierdie spreekwoord, wou die volk, Juda, nie verantwoordelikheid vir hulle eie sondes aanvaar nie, geliefdes.
      • Hulle meen dat dit eintlik hulle vóórgeslagte se skuld is dat húlle nou in Ballingskap is.
      • Die volk voel dat húlle nou moet boet vir iets wat iemand ánders verkeerd gedoen het.
  • Hierdie spreekwoord word ook in Jeremia 31: 29 gebruik, maar met die oog op die toekoms.
  • “Daar kom ‘n tyd wanneer die mense nie meer sal sê: ‘Die vaders het groen druiwe geëet en, en die kinders se tande het stomp geword’ nie, profeteer Jeremia. ‘Elke mens sal oor sy eie sonde sterf: wie groen druiwe eet, se (eie) tande sal stomp word.’
  • En dit is ook baie duidelik hier, in Esegiël 18.
    • Wat die Here hier, by monde van sy profete, wil sê, is dat élke mens verantwoordelik is vir sy/haar éie optrede.
    • Die Here maak dit baie duidelik wanneer Hy ‘n voorbeeld van drie geslagte gee.
      • Die eerste geslag waarvan ons lees, is ‘n persoon wat leef soos wat die Here wil hê ‘n mens moet lewe.
      • ‘n Man word vir ons geskets wat nié deelneem aan die rituele en offers aan afgode nie.
      • Hy dien slégs die Een Wáre God.
      • Hierdie man soek nié hulp by afgode nie, hy onteer nie vrouens nie, hy hou homself rein.
      • Hierdie persoon verdruk niemand nie, en hou by sy woord.
      • Hierdie man beroof niémand nie, en deel dit wat hy het, met die mense rondom hom.
      • Hy leen nie geld op rente uit nie en hou homself nie besig met mense wat onreg pleeg nie.
      • Hiérdie persoon is voorbeeldig en leef volgens God se voorskrifte.
      • Hy blý by die opdragte wat die Here in sy Woord vir ‘n mens gee.
      • Dit is nie vir hierdie man moeilik om die Here se wil te doen nie (vers 3 – 8).
        • Só iemand leef volgens My wil en hy sal blý lewe, sê die Here.”
  • Maar dan kom die wending, geliefdes.
  • Want dit ís moontlik dat só iemand ‘n wilde seun kan hê, wat net mooi die teenoorgestelde van sy ouers is.
    • Hierdie kind kan sondes doen wat sy/haar ouers nooit gedoen het nie.
    • Dit is moontlik dat hierdie kind afgode aanbid, onsedelik lewe, ander mense verdruk en indoen, en homself/haarself met die verkeerde geselskap laat besoedel.
  • Maar dáárdie kind kan weer op sy beurt ‘n gehoorsame kind hê, sê ons Skrifgedeelte.
    • Hierdie kind, van die derde geslag, kan weer ánders as sy/haar ma/pa wees.
    • Hierdie kind kan die sonde van sy/haar ouers sien en ánders as hulle wil leef.
    • Die Heilige Gees kan hierdie kind lei om weer Gód se wil volkome uit te leef.
    • Omdat die Heilige Gees van hierdie kind ‘n nuwe mens gemaak het, volg hy/sy nie die slegte voorbeeld wat ander mense aan hul stel nie.
    • Hierdie derde seun doen die Here se wil en lewe soos die Here sê.
  • God sélf sê in vers 18 dat só iemand nié sterf vir sy pa se sondes nie.
  • Omdat hy graag wil doen wat reg is, sal só ‘n persoon blý lewe.
    • Maar sy pa sterf vir sy éie sonde.
    • Want hý het mense verdruk en beroof en die verkeerde dinge tussen sy mense gedoen.
  • En dan kom ons by ons fokusvers waar die Here sê: “Die mens wat sondig, sal sterf. ‘n Seun sal nie die straf op sy pa se sonde dra nie, en ‘n pa sal nie die straf op sy seun se sonde dra nie.
  • Geliefdes, dit is ‘n baie belangrike vers hierdie.
  • Dit is ‘n vers wat ‘n mens ontnugter.
    • Dit is verál vir die Ou-Testamentiese Jode ontnugterend, want hulle het baie klem gelê op die groep.
    • Vir húlle was die groep belangriker as die individu.
  • Die Ou-Testamentiese Jode het gedink dat God die volk, as geheel, straf vir die sondes van hul voorgeslag.
    • En ons kan verstaan waarom hulle so geglo het, geliefdes: Want in die Wet hoor ons telkens die woorde van God: “Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon My liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet, en My gebooie gehoorsaam.”
    • Natúúrlik voel die volk dan dat hulle nou in hierdie verskriklike omstandighede van die ballingskap is, omdat hulle ouers die verkeerde dinge gedoen het.
    • Natuurlik voel die volk dat húlle op hierdie manier moet betaal vir die sondes van hulle váders.

Behalwe Hy wat volmaak Mens én God is

  • Maar juis omdat die volk só voel, praat God met hulle.
  • Juis omdat die volk dink dat húlle almal moet lei vir die sondes van hulle vóórouers, praat die Here met hulle deur die profeet, Esegiël.
    • Want God oordeel nie die volk, as geheel nie, maar eis van elke sondaar rekenskap.
    • God straf nie die kinders van die sondaar nie, maar daardie persoon wie sélf gesondig het.
      • Wanneer ons in die 10 Gebooie hoor dat God die kinders die sondes van hulle vaders toereken, dan moet ons dit reg verstaan.
      • Hierdie kinders van die derde en vierde geslag, is ook mense wat God háát, geliefdes.
      • Ook húlle het aktief besluit om God te ontken.
      • Hulle dra dus nie onregverdig die sondes van hulle voorgeslag nie, hulle is sélf skuldig!
  • Boonop kan géén mens vir iemand ander se sonde betaal nie – dit bely ons in Heidelbergse Kategismus Sondag 5 en 6.
    • Die mens, wat self sondaar is, kan nie vir ‘n ander se sondes betaal nie.
      • Ons moet ‘n ánder Middelaar soek.
      • Iemand wat vir die menslike sonde kan betaal, maar wat óók sterk genoeg is om die toorn van God te dra.
        • Geen van hierdie seuns, waarvan ons gelees het, kan dit doen nie – al is hulle ook hóé goed.
        • Al leef hulle naby aan die Here, en doen wat Hom behaag, het geen mens die vermoë om sy eie sonde, of iemand anders se sonde, op hom/haar te neem nie.
  • En daarom lees ons in die Bybel van ‘n Ander Seun.
  • Ons lees van die Seun van God – Jesus Christus – wat as Mens én God hier tussen ons kom woon het.
  • Ons lees van Hom wat deur die Profete bekendgemaak is,
  • van Hom wat wél die vermoë het om vir ánder se sonde te kan betaal, al het Hý geen sonde gehad of gedoen nie.
    • Ons Here, Jesus Christus, is al Seun wat vir die sondes van ander kan betaal, omdat Hy ten volle God én Mens is.
    • Deur sy almag kan Hy alleen die woede van God teenoor die sonde daar aan die kruis dra.
      • En deur God se genade, geld hierdie betaling vir álle gelowiges.
    • Te danke aan sý opstanding uit die dood, ontvang álle uitverkore kinders van God, die ewige lewe.
  • Maar weereens kan ‘n mens, óók híérvoor, nie op die héle groep fokus nie.
    • Dit kan gebeur dat daar ‘n kind van gelowige ouers is, wat aktief besluit om God te verwerp.
      • ‘n Mens is nie outomaties gered as jy uit ‘n gelowige huis kom nie,
      • ‘n mens word nie outomaties gered as jy kerk bywoon nie – ‘n mens word slégs opgrond van God se genade gered.
        • Dit is dus élke mens se eie verantwoordelikheid om God te leer ken, geliefdes.
  • Dit is God wat ‘n mens roep, maar ‘n mens kán kies om nie te antwoord nie.
    • Dit is God wat ‘n mens uitverkies, maar ‘n mens kán besluit om sy liefde te verwerp.
      • God straf nie die héle volk met moeilike omstandighede, omdat hulle voorouers sonde gedoen het nie.
      • ‘n Mens dra dalk die gevolge van die sonde, maar dit is nie God se straf nie.
      • Wanneer God die sonde straf, dan straf Hy die sonde met die dóód.
        • Opregte gelowiges se sonde reeds gestraf in en deur Christus se kruisdood.   
  • Die ballingskap was nie die einde van die pad vir God se uitverkore kinders nie.
  • Hy red sy kinders deur die dood heen.
    • Soms gaan ons deur diep gevare en beproewings in ons lewe, maar dit bring ons net nader na God toe.
    • Ware gelowiges sal altyd aan die Here bly vashou – ongeag van hulle omstandighede.
      • Hulle sal hulle persoonlike verantwoordelikheid besef en breek met hulle sonde as hulle voel hoe die Gees hulle aanspreek.
      • Ander mense, weer, sal uit ‘n gelowige omgewing kom, en glad nie op God se oproep om bekering nie reageer nie.

Slot

  • Deur die Here se genade is die ou Joodse spreekwoord vir ons ‘n onbekende spreekwoord.
  • Deur die Here se genade dra die volgende geslag nié die straf op die vorige geslag nie.
  • Die Here hanteer élke persoon op grond van dit wat hy/sy sélf doen.
  • Maar die Here se genade stop nie hier nie, geliefdes, want Hy oordeel gelowiges se sonde in en deur sy Seun, Jesus Christus.
  • Alleen Christus het die gesag om vir alle gelowiges se sonde te betaal.
  • Alleen Hý kan ons en ons kinders verlos van die ewige dood.
    • Daarom rus daar ‘n groot verantwoordelikheid op ons om ons kinders van die Here se bestaan en almag te vertel.
    • Elkeen van ons kry die opdrag om, soos die Ou-Testamentiese profete, te sê: “So sê die Here, Here!”
  • Mag ons hulle daaraan herinner dat die Here na hulle éie lewe kyk en nié na die lewe van hulle voorgeslagte nie.
  • Mag ons hulle daaraan herinner dat die Here na hulle éie geloof in Hom kyk, en nie na die geloof van hulle gesinslede nie.
  • Mag ons, en hulle, getroos word deur sy liefde vir ons – ongeag van ons agtergrond.
  • Herinner hulle daaraan dat hulle manier van lewe en uitkyk op die lewe nie dieselfde hoef te wees as iemand uit hulle verlede nie.
  • Mag die Heilige Gees in jou – én hulle – harte werk om die Here se uitgestrekte hand te neem.
  • Amen.