Hebreërs 4: 1-11

Skrifgedeelte: Hebreërs 4: 1 – 11

Fokusvers: Hebreërs 4: 9 en 10

Heidelbergse Kategismus Sondag 7 (V&A 20 en 21)

Vraag: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?

Antwoord: Nee; maar slegs die wat deur ‘n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem.

Vraag: Wat is ‘n ware geloof?

Antwoord: ‘n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

Tema: Deur die Here se genade ontvang ons iets wat nie aan alle mense gegee word nie. Vertrou jy dat hierdie belofte ook vir jóú waar is?

Inleiding

  • In verlede week se preek het ons gehoor dat ons nooit té gerus in ons geloofslewe kan wees nie.
    • ‘n Mens word nie outomaties gered as jy in ‘n gelowige huis grootword nie.
    • ‘n Mens word nie outomaties gered nét omdat jy aan ‘n gemeente behoort nie.
    • Die ewige lewe is nie ‘n waarborg nét omdat jy deel is van ‘n spesifieke groep of volk nie.
  • Vanoggend se Skriflesing en Belydenis sluit hierby aan.
  • Dit is vanoggend amper nóg duideliker dat daar wél mense is wat nié in God-drie-enig glo soos Hy Homself in sy Woord aan ons bekendmaak nie.

Deur die Here se genade ontvang ons iets wat nie aan álle mense gegee word nie.

  • Ons Belydenis begin deur die vraag te vra: “Word alle mense dan weer deur Christus salig, soos hulle deur Adam verlore gegaan het?
  • Anders gestel: “Kry álle mense (die héle mensdom) die ewige lewe?”
  • En dan is die antwoord: “Nee, slegs die mense wat in God-drie-enig gló, ontvang die ewige lewe.”
    • Voordat jy sê: “Dit is onbillik” of “Dit is wreed”, kom ons kyk wat sê die Bybel hieroor – want dit is op grond van dít wat in die Bybel staan, dat ons hierdie antwoord bely.
  • In Johannes 3: 18 lees ons: “Wie in Jesus Christus glo, word nie veroordeel nie; wie nié glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die Enigste Seun van God glo nie.
  • En in Johannes 3: 36 staan daar: “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.
  • In Mattheus 7:14 sê ons Here, Jesus: “Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen is breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die (ewige) lewe lei, is nou en die pad daarheen is smal, en dié wat dit kry, is min.”
  • In Mattheus 22 vertel Jesus van ‘n bruilofsfees waarna baie mense uitgenooi is.
  • Nie almal wou egter die uitnodiging van die koning aanvaar nie.
  • Hulle het nie besef watter groot eer dit is om deur hulle koning uitgenooi te word na ‘n lieflike fees toe nie.
    • Dalk was hulle té gewoond aan die goedheid van die koning?
    • Dalk was sy genade vir hulle té algemeen en alledaags?
  • En daarom het elke genooide eerder sy/haar eie ding gaan doen.
  • Die koning nooi toe ánder mense na sy fees toe uit: “Slegtes, sowel as goeies.”
    • En daarom sluit Christus sy gelykenis af met ‘n waarskuwing: “Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.
  • Dit is maar ‘n paar voorbeelde, geliefdes.
  • Vanuit hierdie enkele Skrifgedeeltes is dit alreeds baie duidelik dat die héle mensdom nié gered is nie.
  • Baie mense dink dat álle mense hemel toe gaan, maar vanuit die Bybel is dit duidelik dat God slegs aan sékere mense hierdie genade skenk.
    • Jesus Christus het dus nie vir álle mense se sondes aan die kruis gesterf nie.
    • Daar ís mense wat nié deur Hom gered is nie.
    • Daar ís mense wat verlore gaan.
  • In Hebreërs 4 het ons gelees van die volk van die Here wat nie álmal in die Beloofde Land ingaan nie.
    • Ons moet onthou dat die Here in die Ou-Testament ‘n verbond met sy kinders gesluit het.
    • Die Here verwag van sy kinders om aan Hóm gehoorsaam te wees – om te erken dat Hý hulle God is, maar Hy belowe ook dat Hy hulle Váder sal wees.
      • Hy belowe dat Hy álles vir hulle sal gee wat hulle nodig het: beskerming, liefde, ondersteuning en leiding.
      • Bo dit álles beloof God ook iets fisies vir sy kinders.
        • God belowe aan hulle dat hulle ‘n land in besit sal neem.
        • Die God van die Verbond belowe dat hulle, iewers in die toekoms, die land, Kanaän, gaan beërf (vgl. o.a. Gen. 12 en 15).
  • Moses was geroep om die volk na hierdie wonderlike land toe te lei, maar soos ons weet, dwaal die volk vir veertig jaar in die woestyn word.
  • Omdat hulle hardkoppig en ondankbaar teenoor die Here was, het die Here hulle in die woestyn laat swerf.
    • In sy liefde gee Hy vir hulle egter tyd om hulle eiewysheid eenkant toe te skuif, om van hulle ongeloof te bekeer.
    • Máár baie Israeliete het in hulle ongehoorsaamheid volhárd.
      • Soos ons gehoor het, was daar báie wat die geleentheid gekry het, wat nié die land in besit geneem het nie.
        • En dit is nie Moses, of sy opvolger Josua, se skuld nie.
        • Want ván hierdie mense se hele wése is ongehoorsaam.
        • Maar wat húlle nie besef nie, is dat hulle nie net aan die Here se dienaars ongehoorsaam is nie, maar aan die Almagtige God sélf.
  • Al het Moses en Josua hierdie hardkoppige mense gereeld aan die Here se sorg, beskerming en opdragte herinner, wou ván hulle glad nie luister nie.
  • Ván hulle kon – of wou – net nie glo dat hulle aan Gód gehoorsaam moes wees nie.
    • In hulle ongeloof het hulle hulself nét nie gesteur aan die oproepe tot ‘n gehoorsame lewe nie.
    • En omdat God regverdig aan sy verbond is, het hierdie verharde mense nié die land in besit geneem nie.
      • Hulle het blý rondswerf in die woestyn.
      • Hulle het blý brand in die son.
      • Hulle het blý water soek, maar dit nooit gekry nie.
        • Hierdie ongehoorsame mense het godverlatenheid begin beleef, en dit áánhou ervaar.
        • Hulle het éwige pyn en rusteloosheid ervaar.
        • Want weens hulle rebellie teen God, het Hy in sy toorn ‘n eed afgelê: “In My rus, sal hulle beslis nie ingaan nie” (vgl. Ps. 95: 11).
  • Die gehoorsame kinders van die Here, het dit egter gemaak, geliefdes!
  • Omdat hulle hulself deur die Here se dienaars – en sy Heilige Gees – laat lei het, het hulle léwendig aan die ander kant uitgekom.
  • Omdat hulle op die Here blý vertrou het, het hulle die Beloofde Land binne gegaan.
  • Hulle het die vervulling van die Here se verbondsbeloftes ervaar – want hulle was gehoorsaam aan sy opdragte.
    • Daarom het hulle die voorreg gekry om in die Here se Rus in te gaan, soos ons hier in Hebreërs 4 lees.
    • Hier, in die land Kanaän, kon hulle hulself weer fisies en emosioneel versterk met die béste van die beste.
      • Híér kon hulle fisies rus van hulle lang, uitputtende reis.
      • Maar híér kon hulle ook rus van die dinge wat hulle gemoed negatief affekteer.
      • Hier, in die land wat oorloop van melk en heuning, kon hulle rus van al die angstigheid en onsekerheid wat ‘n mens so gereeld ervaar.

Vertrou jy dat hierdie belofte ook vir jóú waar is?

  • Maar geliefdes, hierdie “Rus” waarvan ons in Hebreërs 4 lees, is nie iets wat nét aan die gelowige Jóde belowe is nie.
  • Dit is óók vir die eerste lesers van Hebreërs, waar.
  • Geliefdes, dit is selfs ‘n belofte wat vir óns, wat vandag leef, geldig is!
    • Want wat lees ons in vers 1?
    • Ons word daar opgeroep met die woorde: “Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan, nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie.”
  • Die belofte van rus in ‘n beloofde land is steeds vir ons geldig, geliefdes!
  • Maar ons word – in die selfde asem – óók opgeroep tot ‘n nuwe gehoorsaamheid.
  • Ons word daaraan herinner dat ons God in sy beloftes moet vertrou, geliefdes!
  • Mag ons daarom die Here glo wanneer Hy sê dat Hy vir ons ‘n wonderlike toekoms beplan het.
  • Mag ons die Here vertrou wanneer Hy vir ons sekere dinge in sy Woord belowe.
  • Mag ons soos die gelowiges van vers 2 wees, wat die Blye Boodskap gehoor het, dit geglo het, en ongehinderd in die Here se Rus ingaan.
    • Want daar ís mense wat óók die Evangelie hoor en ontvang, maar wat nie die Here régtig vertrou wanneer Hy sekere dinge aan hulle beloof nie.
    • Daar is mense wat, week na week, suiwer prediking hoor, maar dit baat hulle eintlik niks nie, want hulle gló nie wat hulle hoor nie.   
  • Wanneer ons dalk gedink het dat álle mense die ewige lewe sal ontvang, dan hoor ons vanoggend die waarheid.
    • Dit is alleen mense wat in Jesus Christus gló, wat gered sal word.
    • Dit is alleen mense wat erkén dat Christus die Seun van God is, wat gered is.
    • Dit is slégs die mense wat erken dat Hy wérklik bestaan – dat Hy wérklik uit ‘n maagd gebore is, dat Hy hier tussen ons kom woon het, en wonderwerke gedoen het – wat gered sal word.
    • Dit is alleen dié mense wat sonder twyfel glo dat Hy aan die kruis gesterf het en vir gelowiges se sondes betaal het, wat begenadig word, geliefdes.
    • Dit is alleen húlle wat met volle sekerheid glo dat Hy drie dae later uit die graf opgestaan het, na die hemel toe opgevaar het, en weer eendag sal terugkom, wat die ewige lewe sal ontvang.
  • Verlossing is op geen ander manier as dít moontlik nie, geliefdes.
  • Iemand wat nié dít van Jesus Christus kan bely en erken en gló nie, sal nie die ewige lewe ontvang nie.
  • Hulle sal nie in God se ewige Rus kan ingaan nie. 
  • Maar vir ons, wat vas gewortel in die geloof in God-drie-enig is, wag daar nog stééds ‘n Sabbatsrus.
  • Ons fokusvers gee vir ons die troos dat wáre gelowiges sál rus van ons werk, nét soos God van sy werk rus.
    • Eendag, in die hemel, sál ons rus, geliefdes.
    • Maar dit beteken nie dat ons nét gaan stilsit of slaap nie, dit beteken dat ons sal rus van die sonde en gebrokenheid van hierdie wêreld.
    • Ons, wie deur die gawe van geloof begenadig is, sal déél in God se Sabbatsrus.
  • Al het God die skepping voltooi en op die sewende dag gerus, beteken dit nié dat Hy onbetrokke by die skepping is nie.
  • Hy blý in beheer van álles.
  • Élke oomblik van élke dag.
  • Net só is die Rus waarna ons kan uitsien, nie ‘n doellose dooie rus nie, maar ‘n aktiewe rus.
  • Dit is ‘n Rus tot eer van God!
  • In die hemelse rus, gaan ons, as volmaakte mense, God ewig loof en prys vir sy wonderlike genade!   

Slot

  • Vanoggend maak die Heilige Gees dit aan ons duidelik dat álle mense nié deur Jesus Christus salig word nie.
  • Daar ís mense wat verlore gaan.
    • Ál manier waarop ‘n mens gered word, is wanneer jy wérklik die dinge wat God in sy Woord beloof, as wáár aanvaar.
  • Soos ons gehoor het, ís daar mense wat nié ‘n ware geloof in God-drie-enig het nie.
  • Hierdie mense is dalk deel van gelowige omgewing, maar hulle is nie 100% oortuig dat God betroubaar is nie.
  • Hulle hoor die Evangelie, maar gló dit nie ten volle nie.
  • Hoe reageer jý op God se beloftes?
    • Is jy hardkoppig en dalk ongehoorsaam aan God se verbondsbeloftes?
    • Of glo jy wérklik dat, dít wat God aan jou belowe, die ábsolute wáárheid is?
    • Is jy oortuig dat die ewige Sabbatsrus ook vir jou, persóónlik, bedoel is?
    • Amen.