Haggai 1: 1 – 15

Skrifgedeelte: Haggai 1: 1 – 15

Fokusgedeelte: Haggai 1: 7 en 8

Tema: God se Huis moet herbou word tot sy lof en eer. Let jy op? Is jy deel?

Inleiding

Baie mense sê: “Ons lewe nou in ‘n tyd van ‘n nuwe normaal.” Die COVID-19 pandemie het veroorsaak dat ons “anders” oor alles in die lewe begin dink. My werksplek lyk “anders”. Die skole lyk “anders”. Alles in die samelewing funksioneer nou onder ‘n “nuwe normaal”. En dit is goed so – ons moet onsself teen die virus beskerm. Om te oorleef, moet ‘n mens aanpasbaar wees.

Maar wat beteken dit vir die kerk? Hoe lyk die “nuwe normale” erediens? Hoe lyk ‘n gemeente wat aanpas by ‘n wêreld-pandemie?

God se Huis moet herbou word tot sy lof en eer

Geliefdes, om hierdie vrae te beantwoord, gaan ons na die Here se Woord toe om daarin ons antwoorde te kry. Die profeet, Haggai, is ‘n ietwat onbekende profeet. Ons weet maar baie min van hom, as persoon. Soos meeste ander profete, profeteer Haggai in ‘n moeilike tyd. Die volk, Israel, kry die goeie nuus dat hulle kan terugkeer uit die wrede Ballingskap. Koning Kores gee vir die kinders van die Here die geleentheid om terug te keer na hulle éie land toe en die tempel te gaan herbou. Maar die Israeliete is treurig en traag. Aangesien hulle nou al vir jare in Babel woon en deur hierdie land se mense en gebruike beïnvloed is, voel hulle nie ‘n dringendheid om na hulle eie gebruike terug te keer nie. In ‘n sekere sin kan ons dit verstaan: baie Israeliete is tydens die Ballingskap dood, en ander is daar in Babel gebore – dit is ál wat hulle ken. As hulle weer in hulle tuisland, Israel, aankom, sien hulle dat die Tempel van die Here verwoes is. Hulle sien óók hoe verwaarloos die landerye is en hoe verlate die stad se strate is. Dít wat eers suksesvolle boerderye en pragtige geboue was, is nou dorre grond en vervalle ruïnes.

Bó dit alles was daar ook wrywing tussen die Israeliete wat agtergebly, het en dié wat uit Babel teruggekeer het. Dit alles het daartoe aanleiding gegee dat daar niks aan die vervalle Tempel gedoen is nie. Weens moedeloosheid, laksheid en onderlinge twis het elkeen maar gedoen wat reg was in sy/haar eie oë. Daar was geen samehorigheid en lojaliteit oor nie – dit wat tydens die Ballingskap gebeur het, was te traumaties. Die Here se volk was moeg en moedeloos. Dit wat met hulle daar in Babel gebeur het, het die onderlinge band tussen hulle beskadig. Die eenheid tussen die volk, is iets van die verlede. Alles wat eers belangrik was, maak nou nie meer regtig saak nie. Daarom is die tempel van die Here ook nou net ‘n bouval.

As ons onsself net vinnig herinner aan hoe die Tempel in Jerusalem eens op ‘n tyd gelyk het: Voordat die Ballingskap plaasgevind het, en dit ‘n bouval geword het, was die tempel in Jerusalem ‘n uitsonderlike gebou – ons lees daarvan in 1 Konings 6. Die Here se tempel was 30 meter lank en 10 meter breed met ‘n reuse voorportaal en verskillende verdiepings. Slegs die béste materiaal is gebruik vir die bouwerk van die tempel – want wanneer dit by die Here en sy wil kom, dan verwag Hy ons beste nie waar nie? Natuurlik het hierdie indrukwekkende tempel ook ‘n afdeling gehad wat die Allerheiligste genoem is. Dáár het die Verbondsark van die Here gestaan – die plek wat God se heerlike teenwoordigheid bevat het. Hiermee ontvang die volk die belofte en troos dat God permanent in die volk se midde teenwoordig is. Maar tóg is God óók alomteenwoordig. Hy is nie net dáár in die tempel nie, maar oral – in die besonder in gelowiges se harte.

God kan nie ingeperk word tot ‘n gebou nie, geliefdes. In sy almag is Hy die héle tyd, op álle plekke teenwoordig. In die Here se groot genade gee Hy egter vir die mens die geleentheid om Hom op ‘n besonderse manier te ontmoet. Dit is in die témpel waar die Ou-Testamentiese gelowiges kon saamkom om weer aan die Here se verbondsbeloftes herinner te word. Híér kon hulle week na week weer hoor dat die Here in ‘n baie besonderse verhouding met hulle staan. Die gelowiges kon mekaar in die oë kyk en mekaar bemoedig. Hulle kon weer vir mekaar vertel hoe getrou hulle God is – nog al die jare! Maar wat die belangrikste van alles is, is die feit dat God, dáár in die tempel, sélf aan die Woord kom. Wanneer gelowiges saamkom, dan praat God – met álle gesag – met sy kinders (vgl. 1 Kon. 8).

Die tempel in Jerusalem was dus ‘n baie belangrike plek, nie waar nie? Maar toe die volk, onder leiding van Serubbabel en Jesua, weer in Jerusalem aankom, is die Here se tempel vernietig! Volgens die profeet Haggai lyk dit nie asof sy mense meer die belangrikheid van die tempel besef nie. Dalk het daar al te veel tyd verloop vir hulle om te onthou waarom die tempel se verwoesting hulle moet ontstel. Dit klink asof niemand hulle regtig gesteur het aan die agteruitgang van die Heilige Stad, Jerusalem, nie. Want toe die mense na die traumatiese en aanhoudende ballingskap teruggekeer het, het hulle nie dadelik aan die témpel gedink nie, maar aan hulle éie verblyf. Volgens Haggai 1: 2 -4 is dit duidelik dat die Here se volk meer ingestel was op hulle éie gemak en sukses as wat hulle ingestel was op dit wat vir die Here belangrik is. Daarom word die profeet Haggai deur die Here geroep om ‘n boodskap vir die volk te gee: “Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl My huis in puin lê? Neem ter harte wat met julle gebeur, sê die Here die Almagtige.”

Die Here sê dat hulle moet oplet wat met hulle gebeur, want die volk het baie gesaai, maar min geoes. Hulle het geëet, maar nooit versadig geraak nie. Hulle het gedrink, maar nooit genoeg gekry nie. Hulle het probeer warm aantrek, maar dit het niks gehelp nie. Dit is tyd dat die Here se kinders mooi nadink oor wat besig is om met hulle te gebeur. Is dit nie dalk omdat hulle prioriteite verkeerd is, dat al hierdie dinge met hulle gebeur nie?

Het die Here nie dalk die reën en die oeste teruggehou omdat die volk slégs op hulle eie belange gefokus het nie? (verse 10 en 11).

En dan herhaal die Here dat die volk moet oplet en ag slaan op dit wat met hulle gebeur. Nadat die profeet met hulle gepraat het, werk die Heilige Gees in hierdie mense en bring hulle tot die besef dat dit tyd is dat hulle hul prioriteite moet reg kry. As daar tyd en geld is om aan hulle éie huise te werk en te bou – dan moet daar tog sekerlik die gawes wees om dit tot eer van die Here aan te wend? Nadat die volk die opdrag van die Here in ons fokusvers gekry het om die tempel te herbou, werk die Heilige Gees kragtig in hulle en dryf Hy hulle om oor te gaan tot aksie (vers 14). Haggai hoofstuk 1 sluit af met die volk van die Here wat aangeblaas word tot ‘n nuwe ywer om weer te fokus op dít wat vir die Here belangrik is. Die Here se belofte in vers 13: “Ek is by julle, sê die Here” het hulle moontlik laat terugdink aan hoe wonderlik dit is om die Here se teenwoordigheid aan te voel. Onder die leiding van die Heilige Gees het hulle weer daarna verlang om die Here op ‘n besonderse manier in die tempel te ontmoet.

Let jy op? Is jy deel?

Deur die eeue was dít nog altyd die manier waarop gelowiges die Here ontmoet het – éérs by die tabernakel, daarná by die tempel, dán die Joodse sinagoge en dán – uiteindelik – by die Nuwe Testamentiese gemeentes. Soos ons reeds gesê het, is die Here nie slégs in die tempel of in die kerkgebou teenwoordig nie. Die Here se heerlike teenwoordigheid kan nie op só ‘n manier ingeperk word nie – Hy is orals teenwoordig! Maar tog is dit duidelik dat die samekoms van gelowiges vir die Here gewéldig belangrik is, nie waar nie? Die kerkgebou is maar net ‘n gebou – dit is nie fisies die huis van die Here nie. Dít wat egter saak maak is die feit dat gelowiges saamkom, geliefdes. Dít wat saak maak is die feit dat ons die Here se teenwoordigheid op ‘n besonderse manier ervaar, wanneer ons so as gemeente saamkom.

Al waarom ons hierdie voorreg het, om die Here Sondag na Sondag in die erediens kan kom ontmoet, is omdat Jesus Christus sy roeping gehoorsaam het. Hy wat God is en bly, was bereid om Mens te word en onder ons te kom woon. Die Griekse taal het hier die bedoeling dat ons Here, Jesus letterlik kom “tent opslaan het” in ons midde. Sy fisiese liggaam verteenwoordig God se tabernakel – of dan die tempel – hier op aarde. Toe Hy die vorm van ‘n Mens aangeneem het, word God se teenwoordigheid sigbaar en tasbaar. Nóú is God se teenwoordigheid onder sy volk nie meer ‘n abstrakte konsep nie – maar iets fisies! Ná Jesus Christus se Kruisdood, Opstanding en Hemelvaart word Nuwe-Testamentiese gemeentes gestig. Want deur die geloof is ons lede van sy Liggaam, geliefdes! Deur sy verlossende genade is óns ook “tempel van God”.

Daarom is ons verstaan van “kerkwees” baie belangrik, geliefdes – veral in hierdie COVID-19 tydperk. As ons dalk op ‘n manier gewoond geraak het aan die virtuele bediening van die afgelope 6 maande, dan moet ons dalk wéér dink. Ons, as gelowiges, kan nooit dit verkies om eerder eredienste by die huis te kyk, nét omdat dit meer gerieflik is nie. As gelowiges word ons opgeroep om saam te kom en met mekaar geestelike gemeenskap te hê. Die Here verwag ook van óns om onsself die vraag te vra oor waar ons prioriteite werklik lê. Is ons opgewonde om weer, as een gemeente, te kan saamkom op ‘n Sondag? Is ons bereid om te help bou aan ons gemeente, noudat ons weer fisies bymekaar kan wees? Of wil ons maar eerder net op ons eie huishoudings fokus? Is ons bereid om aan ons geestelike huis te bou deur deel te neem aan gemeente-aktiwiteite? Of spandeer ons eerder dáárdie energie om ons boerderye of besighede uit te brei?

Geliefdes, net soos die gelowiges in die tyd van Haggai, word ons vanoggend ook opgeroep tot selfondersoek. Dalk voel ons ook moeg en moedeloos na ‘n lang tydperk van inperking. Dalk voel ons ook soos die bannelinge wat terugkom ná ‘n moeilike tyd van afsondering.

Slot

Die vraag is, hoe gaan ons reageer op die Here se opdrag? Sê ons dalk ook: “Dit is nie nóú die tyd om die tempel te herbou nie”? Of hoor ons die stem van die Heilige Gees? Let ons op wat besig is om met ons te gebeur? Is ons bereid om onsself beskikbaar te stel in diens van die Here?

Die “nuwe normale” erediens lyk nie baie anders as die “ou normale” erediens nie, geliefdes. Ons word steeds opgeroep om, as liggaam van Christus, saam te kom om die Here te kom ontmoet. Al is daar soms tye wat dit moeilik is, beteken dit nie dat ons daarmee kan ophou nie. Mag elkeen van ons bereid wees om deel te wees van die bouwerk tot eer van ons Here. Amen.