Hebreërs 10: 32 – 39

Skrifgedeelte: Hebreërs 10: 32 – 39

Fokusverse: Hebreërs 10: 38 en 39

Tema: Egte Geloof verseker vryspraak maar verg inspanning. Deins jy hiervoor terug of volhard jy daarin?

Inleiding

Vandag kyk ons ‘n bietjie terug deur die geskiedenis om te sien hoe ons medegelowiges moeilike tye deurgemaak het. Ons kyk vanoggend spesifiek hierna, omdat ons vandag die 503de jaar na die Reformasie herdenk. Die Reformasie is begin deur gelowiges wat bloot aan die waarhede van die Bybel vasgehou het. Toe hierdie mense sien dat die Rooms-Katolieke kerk die Bybel se inhoud verdraai het, het hulle begin opstaan vir die waarheid. Want nêrens in die Bybel lees ons dat ‘n mens se siel eers in ‘n vuur moet “skoonbrand” voordat dit hemel toe gaan nie. Ons sien nêrens dat menslike gebruike en tradisies dieselfde gesag as die Skrif geniet nie. Ons lees nêrens dat ‘n mens die “heiliges” soos Moeder Maria of Paulus moet aanroep as ‘n mens bid nie. En ons sien ook nêrens dat ‘n mens jouself van sonde kan vrykoop deur ‘n groot bedrag geld aan die kerk te betaal nie.

Egte geloof verseker vryspraak maar verg inspanning

Omdat daar dan gelowiges was wat ernstig oor hulle geloof was, en hierdie dwaalleer uitgewys het, wou die Roomse leiers hierdie mense stilmaak. Iets wat in hulle guns getel het, was dat die regering in Europa ook aan die Rooms-Katolieke kerk behoort het. Dit het daartoe aanleiding gegee dat jy as ‘n vyand van die Staat beskou is, as jy jouself teen die Roomse kerk uitgespreek het. Die Staat kon dus hierdie Protestantse Hervormers straf en vervolg omdat hulle dan ook, in effek, hulself teen die regering verset het.

Maar dit was nie die eerste keer wat gelowiges vir die waarheid vervolg is nie. Soos ons hier in Hebreërs 10 gelees het, was vervolging deel van die vroeë Nuwe-Testamentiese kerk. Selfs vóór dit is die Here se kinders vervolg – dink maar net hoe wreed die Ou-Testamentiese gelowiges behandel is deur die heidense volke. En dit is juis in aansluiting hiermee dat die skrywer van Hebreërs oor die vervolging in sý tyd praat. Die skrywer van Hebreërs is besig om met mense in sy tyd te praat, maar hy vestig gedurig hulle aandag op dít wat hulle ken – op dit waarvandaan hulle kom – die inhoud van die Ou-Testament.

Net soos ons vandag maak, word hierdie gelowiges opgeroep om “terug te dink aan die vroeër dae” toe God hulle na die Lig toe gebring het. Die skrywer roep die gelowiges op “om terug te dink aan hoe hulle in die stryd staande gebly het en hoe hulle ook baie moes ly.” Die lidmate van die vroeë kerk in Jerusalem het geweet wat dit beteken om vir hulle geloof te ly. As ons so deur die boek van Handelinge lees, dan sien ons keer op keer hoe gelowiges vervolg – en selfs doodgemaak is – omdat hulle Christus se bestaan teenoor ander mense erken het. Dink maar aan mense soos die diaken, Stefanus, wie met klippe doodgegooi is – en dit deur Joodse kerkleiers (Hand. 7). Dink ook maar aan hoe koning Herodes vir Jakobus laat doodmaak het en baie ander gelowiges laat mishandel het (Hand. 12: 1-5). Ander apostels, soos Petrus, is in die tronk gegooi – en dit maar net omdat hy die Waarheid oor Jesus Christus gepraat het. Paulus vertel sélf hoe hy deur mense geslaan is. Hy vertel hoe hy verskeie kere die gebruiklike 39-houe-lyfstraf moes deurmaak. Hy getuig dat mense hóm ook al met klippe bestook het. Hy is ook verskeie kere onregverdig in die tronk toegesluit en hy was dikwels in groot benoudheid en selfs doodsgevaar (vgl. 2 Kor. 11).

Die feit dat Nuwe-Testamentiese gelowiges die angs van vervolging geken het, is geen geheim nie, geliefdes. Bykans alle Apostels en hulle medewerkers het geweet hoe dit voel om deur die vyand gejag te word. Hulle het geweet hoe ‘n vuurvlam se brand voel. Baie ander gelowiges is agtervolg, ontvoer en op ander bloeddorstige maniere om die lewe gebring. Hierdie gelowiges word “martelare” genoem omdat hulle bereid was om deur die ergste pyn denkbaar te gaan ter wille van die waarheid. Hulle word “martelare” genoem omdat hulle bereid was om, saam met ander, van die waarheid te getuig.

Daarom moedig die skrywer van Hebreërs sy lesers aan om weer terug te dink aan hulle verlede. Deur die werking van die Heilige Gees word hierdie mense herinner aan hoe hulle, eens op ‘n tyd, in hulle geloof volhard het. Hulle moet met inspanning weer daaraan dink, want hulle ervaar nou wéér ‘n moeilike tyd. Hulle word weer deur mense vervolg omdat hulle aan die waarheid vashou. Wanneer ‘n mens moeite doen om terug te dink aan hoe jy iets in die verlede hanteer het, dan is dit makliker om weer deur ‘n soortgelyke moeilike tyd te kom. Hierdie mense word opgeroep om weer te dink aan hoe Gód hulle staande gehou het (vers 32). Dit sal hulle help om in hulle geloof te volhard – selfs al beleef hulle nóú weer uiters moeilike dae.

Watter tipe lyding ervaar hierdie gelowiges? Vers 33 gee vir ons die antwoord: hulle ervaar fisiese én emosionele lyding. Hulle word fisies tot ‘n bespotting gemaak. Die heidene beledig hulle aanhoudend en só word hulle eintlik ‘n lagwekkende skouspel vir alle ongelowiges. Dit het vir die martelare gevoel asof hulle in ‘n area gegooi word en asof daar duisende toeskouers hulle snedig beledig en spot. Maar  hierdie gelowiges het ook emosionele lyding ervaar omdat hulle medelye met ander gelowiges gehad het. Elke keer wanneer iemand naby aan hulle vir hulle geloof moes ly, het dit vir hierdie mense gevoel asof húlle sélf ly. As ander vir hulle geloof gemartel is, het dit vir hierdie mense gevoel asof hulle sélf gemartel word. Hierdie mense kon hulself met hul medegelowiges vereensélwig het. Die band van gemeenskaplike geloof het dit moontlik gemaak dat hulle in mekaar se toestand kon déél. Ons lees daar in vers 34 dat hulle met die ander meegevoel gehad het – dit is iets wat ons in hierdie tyd baie goed verstaan. Ons het hierdie afgelope week meegevoel met die boere in die Vrystaat gehad. Ons het empatie wanneer ons hoor van iemand wat die teiken van misdaad is.

Wat leer ons egter van die mense van Hebreërs se gesindheid terwyl hulle hulself in ander se situasie indink? Hulle fokus nie op die hier en die nou nie, nee hulle fokus op die ewige lewe! Vers 34 sê dat hierdie mense dit met blymoedigheid aanvaar het toe ander mense hulle beroof het, omdat hulle geweet het dat hulle ‘n besitting het wat beter is en blywend is. Ons weet wat hiermee bedoel word, geliefdes! Omdat hierdie mense gelowiges was – en dan verál Nuwe-Testamentiese gelowiges, het hulle Jesus Christus geken. Hulle was vas oortuig dat Hy die Seun van God is wat ‘n paar jaar gelede aan die kruis gesterf het. Hulle is vas oortuig dat Hy die Tweede Persoon in die Drie-Eenheid is, en daarom almagtig is. Hulle gló in sy volkome verlossing. Hulle erkén dat Hy die dood oorwin het en hulle vertrou sy beloftes. Verál toe Hy gesê het dat Hy moet gaan om plek in sy Vader se huis gereed te gaan maak. Hulle het hom gegló toe Hy beloof het dat Hy weer sal kom sodat gelowiges kan wees waar Hy is (vgl. Joh. 14).

Daarom het hierdie mense se moeilike omstandighede hulle nie totaal en al platgeslaan nie, want hulle het geweet dat hulle die ewige lewe gaan ontvang. Hulle het geweet dat hulle iets in die toekoms gaan besit – iets wat béter is as die beste ding op aarde – iets wat éwig gaan hou. Want Hý, die grootste Martelaar van alle tye, het dit aan hulle beloof. En hulle sal aanhou om dit te glo. Want dit is alleen deur die geloof dat ‘n mens vrygespreek word. Nie op grond van goeie werke of sonde belydenis of die kerk te betaal nie.

Deins jy hiervoor terug of volhard jy in geloof?

Dit is juis hierdie gedagte – hierdie waarheid – wat die Reformatore, soos Maartin Luther, gedryf het om jare nadat die Nuwe-Testament geskryf is, nog steeds daaraan vas te hou. Vir ware gelowiges is die inhoud van die Bybel uiters belangrik. Sodra iemand die inhoud daarvan verdraai of wan-interpreteer, dan sal gelowiges reageer. Soos ons in ons laaste fokusvers duidelik sien, is daar twee maniere waarop ‘n mens kan reageer. Wanneer ‘n kind van die Here se geloof getoets word deur die versoekings van dwaalleer of vervolging dan kan een van twee dinge gebeur: óf jy hou aan glo dat Christus se kruisdood en opstanding jou vryspreek. Of jy deins terug sodra jy in ‘n ongemaklike situasie kom?

Die Here verwag van ons om in ons kosbare geloof in Hom te volhard, geliefdes. Wanneer ons ooit in die situasie kom waar ons Hom ontken net om ‘n gemakliker lewe te hê, dan is ons ongehoorsaam aan God-Drie-Enig. Wanneer ons nie kans sien om ons geloof tussen vriende of by die werk uit te leef nie, dan is ons soos dié mense wat terugdeins en verlore gaan. Christus sê self vir sy dissipels: “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor die Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, hom sal Ek óók verloën voor My Vader wat in die hemel is” (Matt. 10: 32, 33).

Mag ons Verlosser se woorde sélf ons aanspoor om nie terug te deins as daar ‘n geleentheid kom om ons geloof te bely nie. Kom ons smeek die Heilige Gees dat Hy kragtig in ons kom werk en aan ons die waagmoed gee om vir die wêreld te vertel dat ons aan die Here vashou – soos Hy Homself in die Bybel aan ons openbaar. Uit eie krag sal niemand van ons dit ooit regkry nie, maar as die Here deur ons aan die Woord kom, dan kan ons bloot getuig van sy goedheid. Sonder om te vrees. En sonder om te huiwer.

En as dit beteken dat ons ook vervolg sal word vir ons kosbare geloof – dan moet dit so wees, geliefdes. Want die Here sal ons nie een oomblik verlaat nie. Juis omdat ons ons geloof uitleef, kan ons verseker wees dat die Here ons kragtig sal bystaan. Selfs al word ons as martelare van die kerk beskou is dit ‘n voorreg. Want wanneer ons Openbaring 6: 9-11 gaan lees, dan sal ons sien dat daar in die hemel mense is wat doodgemaak is, omdat hulle aan die Woord van God en aan die getuienis van Jesus Christus vasgehou het. Hulle dra lang wit klere – die belofte dat Jesus Christus hulle rein gewas het met sy kosbare bloed. En hulle sien met verlange uit na die dag waarop die Here dié gaan oordeel wat hulle doodgemaak het.

Slot

Mag ons dan hierdie dag gebruik om “terug te dink” aan al ons medegelowiges wat “in die stryd staande gebly het – selfs al moes hulle baie gely het.” Deur al die eeue word gelowiges vervolg – al is dit ook hóé subtiel – vir dit waaraan hulle vashou. Maar mag ons medegelowiges se volharding in die geloof ons aanspoor om óók te volhard. Mag ons bloot die Reformasie-gebeure van 503 jaar terug voortsit. Mag ons met ons medegelowiges medelye hê en sáám met hulle ly – al is dit net in ons harte en gedagtes. Want dit is die manier waarop geloof ons aan mekaar verbind, geliefdes. “As één lid ly, ly ál die lede saam” (1 Kor. 12: 26).

En mag ons, bo alles, nie soos dié wees wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, mag ons altyd soos dié wees wat die ewige lewe ontvang, juis omdat ons gló. Amen.