Skriflesing: Romeine 10: 1 – 15
Fokusvers: Romeine 10: 9
Tema: God bring ons tot innerlike én uiterlike Geloofsbelydenis
Inleiding
As ons nou hier by die kerk sou uitstap en vir ‘n klomp mense vra aan watter geloofsgroep hulle behoort, dan sou die meeste mense sê dat hulle Christene is. Die meeste mense sal dadelik sê dat hulle die Here ken en in Hom glo – want hulle weet dit is die regte antwoord. Maak nie saak wat die vraag is nie, hulle weet dat hulle antwoord “Jesus” moet wees. Dalk voel jy: “ag dit maak nie saak nie.” “Die manier waarop iemand anders glo, het niks met my te doen nie.” Of dalk redeneer jy: “Ons het reeds ons liefde aan ons naaste bewys.” “Ons het vir die mense in ons lewe vertel wie die Here is.” Maak nie regtig saak of hulle alles verstaan nie, ons het hulle lief nét soos hulle is.
God bring ons tot innerlike Geloofsbelydenis
Maar wanneer ons Romeine 10 lees, dan sien ons dat dít nie werklike naasteliefde is nie. Wanneer ons ons naaste régtig liefhet, dan sal dit vir ons belangrik wees dat hulle in die Here glo – en dan ook nog op die régte manier. Dit is Paulus se hartewens en sy gebed dat hierdie gemeente deur God gered sal word. Paulus se grootste begeerte is dat hierdie mense deur die Here se genade verlos sal word. Vir hom is dit nie goed genoeg dat hierdie mense bloot sê dat hulle gelowiges is nie, want hy weet dat hulle dit nie opreg bedoel nie. Paulus begeer dat hulle op die “regte manier” tot die geloof kom. Wat beteken dit? Hoe kom ‘n mens “op die regte manier” tot geloof?
Geliefdes, soos ons duidelik hoor het hierdie mense die Here met ywer gedien – maar sonder enige insig. Hierdie mense is baie besig met geestelike dinge – maar hulle verstaan nie waaroor dit wérklik gaan nie. Hulle is entoesiasties oor die dinge van die Here maar hulle het geen kennis oor die Here van alle dinge nie. Hierdie mense is deel van iets, sonder om te weet waarvan hulle deel is. Hulle staan vir iets, sonder dat hulle werklik besef waarvoor hulle staan.
En omdat Paulus dan hierdie mense waarlik liefhet, kan hy nie toekyk hoe hierdie mense só leef nie. Omdat hy hulle met Christus se liefde liefhet, ontstel dit hom dat hierdie gemeente kennis sonder begrip het. Dit ontstel die apostel dat hierdie gelowiges nie weet wat hulle geloof vir hulle beteken nie. In vers 3 hoor ons dat hierdie mense hulself nie gesteur het aan die manier waarop die Here ‘n mens vryspreek nie. Omdat hierdie mense nie verstaan het hoe God ‘n mens vryspreek nie, probeer hulle op hulle eie manier vrygespreek word. Hulle doen – van hulle kant af – ‘n klomp dinge om gered te word.
Geliefdes, dít is die rede waarom Paulus ten diepste wéns dat hierdie mense sal verstaan wat die Here se verlossing behels. Want die manier waarop húlle dink dat hulle verlos word, is verkeerd. Hulle goeie werke gaan hulle nêrens bring nie. Selfs die feit dat hulle ‘n ywer vir die Here het, baat hulle in werklikheid niks. Want hulle kén nie die Here nie. Hulle ken ook nie sy Woord nie, geliefdes. Hulle is nie vertroud met Skrifgedeeltes soos: “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo” (Rom. 5: 1) Of: “Julle is inderdaad deur genade gered – deur die geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God” (Ef. 2: 8). Want dat niemand op grond van (die onderhouding van) die Wet deur God vrygespreek word nie, is duidelik. Want hy wat deur God vrygespreek word omdat hy gló, sal lewe’” (Gal. 3: 11). Dit is juis in die Evangelie waar dit tot openbaring kom dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom. 1: 17).
Wanneer hierdie mense dan hulle éie verlossing probeer bewerk, dan wys hulle met hulle optrede dat hulle nié die Here ken nie. Hulle begryp nie Wie Jesus Christus is nie. Hulle besef nie dat Hy self God is wat, in die gelowige se plek, die Wet kom voltooi het nie. Hulle het nêrens gehoor of gelees dat Hy alleen die Wet kon gehoorsaam omdat Hy alleen volmaak is nie. Hierdie mense sê máklik dat hulle Christene is, maar hulle besef nie dat Christus die einde van die Wet is nie.
Soos ons kan agterkom, is dit belangrik dat ‘n gelowige die Here kén én sy werke verstáán, geliefdes. Ons kan nie net sê ons glo in die Here, maar ons weet nie wat Hy vir ons beteken nie. Ons kan nie net sê ons is Christene maar ons weet nie wat die Christelike geloof behels nie. Ons kan nie bloot sê ons is volgelinge maar ons weet nie hoe ons Leier lyk nie. Dit baat ‘n mens niks wanneer ons maklik kan praat en maklik kan sê: “Ek glo in die Here” maar ‘n mens verstaan nie werklik wat dit behels nie. God verwag van sy kinders om wáre gelowiges te wees. Dit beteken dat ons regtig verstaan waarin en waarom ons glo. Dit beteken dat ons Hom werklik sal vertrou juis omdat ons Hom ken. God verwag van ons om anders as die mense daar buite te wees, wat eintlik van Christenskap iets goedkoops maak deur maklik praat maar dit nie werklik te bedoel nie.
Wanneer ons dan iemand teëkom wat sê dat hy/sy ‘n gelowige is, nét omdat hulle weet dat dít die antwoord is wat ons soek, dan het ons werk om te doen, geliefdes. Dán het ons ‘n invalshoek om ‘n diep, kosbare, gesprek met daardie persoon te begin. Want Christenskap is baie méér as net om te sê dat jy ‘n Christen is. Dit is baie meer as om net iets te antwoord wat jy weet iemand wil hoor. Dit is om werklik oortuig te wees dat dit wat jy sê jy is, jou toekoms bepaal. Christenskap is om die Here werklik te ken en te weet dat Hy ook vir jou sondes betaal het. Dit is om oortuig te wees dat Hy ook vir jou die ewige lewe bewerk. Deur die werking van die Heilige Gees vertrou die gelowige dat al God se beloftes ook vir hom/haar geld. Wanneer ‘n mens ware geloof het, dan glo ‘n mens wérklik dat jy slegs op grond van genade vrygespreek is. Ware gelowiges sal met ‘n diep dankbaarheid teenoor die Here hulle geloof in Hom bely – want hulle besef dat hulle geen aandeel daarin het nie
God bring ons tot uiterlike Geloofsbelydenis
Geliefdes, deur die Here se genade bring Hy elkeen van sy kinders tot innerlike geloofsbelydenis. Te danke aan die Heilige Gees se werking in ons harte, erken ons gereeld teenoor die Here dat ons dankbaar is vir die geloof wat Hy vir ons skenk. Deur persoonlike gebed en stiltetyd voor die Here, loof ons Hom vir die gawe van geloof wat Hy aan ons geskenk het. Ons loof en prys Hom dat ons Hom mag ken – soos Hy werklik is – en dat ons sy verlossingswerke ook mag verstaan.
En terwyl ons dit doen is ons nooit hooghartig nie, want ons besef watter groot voorreg dit is om in God te kan glo soos Hy dit van ons verwag. Ons is nederig teenoor die Here, want dit is Hy alléén wat hierdie kennis en vertroue in ons harte werk. Uit onsself is ons te swak en sondig om Hom op die regte manier te ken. Dit is alleen omdat sy Géés in ons werk, dat ons kom luister na die een wat Hy gestuur het om te preek. En dit is alleen deur die gepredikte Woord wat God self aan die Woord kom. Dit is alleen deur die gawe van suiwer Woordverkondiging wat ons die Here leer ken soos Hy Homself aan ons openbaar. En dit is daarom dat ons Hom kan aanroep, geliefdes. Omdat ons Hom deur sy Woord leer ken, wéét ons dat ons die vrymoedigheid kan hê om tot Hom te bid. Alleen omdat sy genade suiwer aan ons verkondig word, nader ons tot God en bely ons ons geloof in Hom.
Innerlike Geloofsbelydenis is goed. Die Here vereis van ons om met Hom in gesprek te tree en onsself te herinner dat ons in Hom glo en aan Hom alleen vashou. Maar, geliefdes, dit kan nie daar stop nie. Die Heilige Gees bring ons óók tot uiterlike geloofsbelydenis. God-Drie-Enig verwag van ons om óók vir die wêreld te vertel dat ons in Hom glo. Ons word ook opgeroep tot uiterlike geloofsbelydenis – veral met die oog om ons naaste van die Here te vertel. Wanneer ons wérklik gelowig is, dan sal ons óók bereid wees om ons geloof in God teenoor die wêreld te erken.
En dit is presies wat vandag gebeur. Vandag het ‘n jong gelowige die besonderse geleentheid om sy geloof openlik te bely. Vanoggend kry jy die geleentheid om teenoor die wêreld te getuig dat jy in God-Drie-Enig glo. Vandag kry jy die geleentheid om die gevoel wat jy diep in jou hart het, te verwoord. Deur die werking van die Heilige Gees bring Hy jou innerlike geloofsvertroue na uiterlike geloofsbelydenis.
Om jou geloof in die Here te kan bely is ‘n groot voorreg, geliefdes! Want watter belofte kry ons daar in ons fokusvers? “As jy met jou mond bely dat Jesus jou Here is, en jy glo met die hart dat God Hom uit die dood opgewek het, dán sal jy verlos word.” Hoe wonderlik! Vir wat meer wil ons vra? Wat sal ooit vir ons belangriker wees as die vaste oortuiging dat God ons van al ons sondes vrygespreek het? Wat sal ooit vir ons belangriker wees as die vaste sekerheid dat ons ook die ewige lewe ontvang?
Vir ons, as ouers is dit óók ‘n besonderse dag. Want dit is tog waartoe ons met ons kinders werk, nie waar nie? Vandag gaan die belofte wat julle 17 jaar terug by die doop gemaak het, in vervulling. Julle het jul ouerlike plig nagekom en hom self onderrig en hier in die kerk laat onderrig.
En vir ons, as gemeente, is dit ook ‘n besonderse dag. Vandag het ons die geleentheid om getuies te wees van iemand wat met vrymoedigheid sy geloof bely. Dit laat ons ook met dankbaarheid terugdink aan die dag toe óns ons geloof voor die gemeente bely het. Terwyl ons onsself so vir volgende week se Nagmaal voorberei, dink ons weer vir ‘n slag aan ons éie geloof. Vanoggend is ons elkeen dankbaar dat ons op ‘n eenvoudige manier in die Here en in sy Woord glo. Ons is dankbaar dat ons die Here werklik kén omdat die Evangelie vir soveel jare suiwer aan ons verkondig word. Ons loof die Here vanoggend vir sy dienaar wie se voetstappe ons so gereeld gehoor het. Ons prys die Here vanoggend dat ons kon leer dat ons nie self ons eie verlossing kan bewerk nie. Deur die Here se genade gee Hy aan ons die insig dat ons verlos word, slegs omdat ons, sonder twyfel, in Hom glo.
Omdat ons dan so dankbaar in die Here is, wil ons daaroor praat, nie waar nie? Omdat ons besef wat die Here vir ons gedoen het, kan ons nie stilbly nie. En daarom kry ons op ‘n dag soos vandag, die geleentheid om ons dankbaarheid teenoor die Here te verwoord. Elke gelowige kry die geleentheid om sy/haar geloof teenoor die Here en die gemeente te bely. Maar ons dankbaarheids-woorde kan nie net hier by die kerk gehoor word nie, geliefdes. Ware gelowiges sal ook – sonder om te vrees – hulle geloof in die sondige wêreld bely. “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar ‘n gees van liefde en selfbeheersing” (2 Tim. 1: 7).
Slot
So kom ons gaan dan die wêreld in, en kom ons leef ons geloof uit. Kom ons vertel vir die mense wie die Here wérklik is, en op watter manier Hy ‘n mens wérklik verlos. Mag ons nooit tevrede wees wanneer iemand vir ons sê dat hy/sy ‘n Christen is, maar hulle kén nie werklik die Here nie. Baie mense sê maklik dat hulle ‘n gelowige is, maar in hulle harte het hul nog nie ware bekering ondergaan nie. Iemand wat só ‘n geloof in die Here het, verstaan nie waaroor dit werklik gaan nie. Mag ons aanhou om die mense rondom ons só liefhê dat ons vir hulle sal aanhou wys wie God-Drie-Enig wérklik is. Mag ons innerlike geloofsvertroue áltyd tot uiterlike geloofsbelydenis oorgaan. Amen.