Lukas 1: 57 – 80

Skriflesing: Lukas 1: 57 – 80

Fokusvers: Lukas 1: 68 en 69

Tema: “God soek sy volk op om hulle uit ellende te verlos, daarom is Hy lofwaardig!”

Inleiding

Ons leer al vroeër in Lukas 1 vir Sagaria ken. Ons hoor dat hy ‘n priester was wat gereeld in die tempel diens gaan doen het. Hy en sy vrou kom uit Aaron se nageslag – hulle kom dus uit ‘n gelowige familie. Hulle was gewoond aan die tempel en het goed geweet wie die Here is. Lukas sê dat Sagaria en Elisabet albei regverdig in die Here se oë was en dat hulle volgens al God se Gebooie en voorskrifte geleef het.

Verder hoor ons ook dat hierdie gelowige paartjie kinderloos was. Ons hoor ook dat hulle al op ‘n vêr gevorderde leeftyd was. Die kans dat hulle ‘n kind sou kry is minder as nul. Maar dan verskyn ‘n engel aan Sagaria en sê dat hy en Elisabet binnekort ‘n seun sal hê. “Jy moet hom Johannes noem”, sê God se boodskapper vir Sagaria. “Jy sal blydskap en uitbundige vreugde oor hom beleef, en baie mense sal bly wees oor sy geboorte.”

God soek sy volk op om hulle uit ellende te verlos

Omdat Sagaria nie die engel, Gabriël, se woorde wou glo nie, maak God hom stom, tót en met die geboorte van die seun. Ons kan nie regtig Sagaria se twyfelende hart kwalik neem nie, geliefdes. Hier kry hy ‘n boodskap wat amper te goed is om waar te wees. Hier is hy – ‘n ou man – wat wéét dat hy en sy vrou nie kan kinders kry nie, en nou kry hy só ‘n boodskap? En dit van ‘n engel af? En dán kan hy ewe skielik nie meer praat nie! Hoe sou jy gevoel het as jý in Sagaria se skoene was?

In die gedeelte wat ons saamgelees het, hoor ons dat Elisabet toe wél swanger geword het en dat dit tyd geword het dat sy aan die seun moes geboorte skenk. Elisabet se naam beteken: “God is getrou.” Sagaria se naam beteken weer: “Die Here onthou.” Is dit blote toeval dat Sagaria en Elisabet hierdie name gekry het? Is dit toevallig dat hulle name hierdie spesifieke betekenis bevat?

Noudat ons die verhaal klaar gelees het, sien ons dat hierdie name ‘n besonderse doel gehad het. Dit is nie toevallig dat die Here juis vir hulle hierdie name gegee het nie – immers gebeur niks per toeval nie, geliefdes. Alles wat gebeur, gebeur met ‘n doel. Dit was nodig dat Sagaria en Elisabet gedurig moes onthou dat “die Here getrou is” en dat “die Here van hulle onthou”. Al was hulle kinderloos, en al word hulle al as bejaardes gereken, het hulle name steeds betekenis. Ongeag van hulle omstandighede – ongeag van hulle ouderdom – bly die Hére getrou. Hy blý van hulle onthou. 

Geliefdes, die Here het nie vir Sagaria en Elisabet met kinderloosheid gestraf nie. God straf nie sy kinders met dinge soos onvrugbaarheid, armoede of droogte nie. In die Bybel is dit duidelik dat ons Verlosser, Jesus Christus, ál ons straf op Hom geneem het. Gelowiges se straf op hulle sondes word álles deur Christus gedra. Die Apostel Petrus sê dat Christus in ons plek gely het. “Hy het sélf ons sondes is sy liggaam aan die kruis gedra” (1 Pet. 2: 21-24). “Want Christus het één maal vir die sondes gely. Die Onskuldige vir die skuldiges” (1 Pet. 3: 18). Wanneer gelowiges swaarkry ervaar, dan is dit nie omdat God besig is om hulle te straf nie. God plaas ons egter wél soms in moeilike omstandighede om ons geloof in Hom te versterk óf om ons vertroue op Hom sterker te maak. Verder ervaar ons óók soms tye van swaarkry omdat ons – deur die geloof – deel het aan Christus se lyding. Wanneer ons, as gelowiges lyding ervaar, dan is dit nooit omdat God ons straf nie, maar juis omdat die Here ons náby aan Hom wil hê.    

Na hierdie swaarkry, na baie jare van moedeloosheid en aanhoudende gebed, word daar ‘n seun vir Sagaria en Elisabet gebore. Die mense van die omgewing was saam met Elisabet bly oor hierdie wonderwerk! Almal van die omgewing was opgewonde oor hierdie baba seuntjie se geboorte! Sagaria was óók dankbaar en bly. Al kon hy nog nie praat nie, het hy die Here geloof en geprys in sy hart. Toe die mense van die omgewing hom vra of hulle hierdie seuntjie ook Sagaria gaan noem, skryf hy op ‘n bordjie: “Johannes is sy naam.” Dis ‘n afgehandelde saak. Die Here het van hom en Elisabet onthou. Die Here is só getrou aan sy beloftes, dat Sagaria nie anders kán as om ook getrou te wees aan sý opdrag nie. Al was dit die gebruik dat ‘n seun sy pa se name kry, sal hierdie seun se naam Johannes wees. Want die Hére het dit só beveel (Luk 1: 13).

Omdat Sagaria die Here se Hand in sy lewe raaksien, gaan sy innerlike lof oor na uiterlike lof. Die óómblik toe hy sy stem teruggekry het, begin hy om die Here met ‘n loflied te besing. Hy kan sy vreugde teenoor die Here nie inhou nie, geliefdes! En ons, as ouers, kan dit verstaan. Ons kan verstaan hoe dankbaar en bly hy teenoor die Here moes wees oor die geboorte van hierdie seun. Na soveel jare, word hy uiteindelik gebore. Na soveel jare van twyfel, is daar nou sekerheid. Maar, geliefdes, aan watter Seun, wy Sagaria sy loflied toe? Sing Sagaria van sy eie seun, of ‘n ander Seun? Dit is opmerklik dat die grootste gedeelte van Sagaria se loflied nie oor sy éie seun gaan nie, maar oor Iemand ánders se Seun. Sagaria besing die lof van ‘n ander Seun, wat kort daarna in ‘n stal gebore sou word. Hy besing die lof van Gód se Seun, Jesus Christus.

Dit is alleen moontlik omdat die Heilige Gees vir Sagaria vervul, geliefdes. Ons lees daar in vers 67 dat Sagaria as profeet opgetree het. Alleen omdat die Heilige Gees Sagaria vervul, kan hy hierdie profesie oor Christus bring. Ons moet goed verstaan dat hierdie nie ‘n toekoms-voorspelling is nie, maar ‘n preek wat Sagaria gee. Hy maak die Here se groot werke deur sy lofsang bekend. Hy verkondig die Woord wanneer hy sê dat die God van Israel sy volk in genade opsoek. Deur die genade beséf Sagaria waarmee die Here besig is. Die Here wil sy volk uit hulle ellende verlos. Omdat God onveranderlik is, wil Hy wéér sy kinders uit hul haglike omstandighede uitred. Al is Herodus die Grote die leier in die land, en al is hy ‘n genadelose heerser, sal die Here sy kinders binnekort uit sy kloue uitred. Nét soos in die Ou-Testament, sal die Here sy kinders wéér verlos. Die Here stuur die langverwagte Verlosser om sy kinders uit hulle ellende te red!

Maar soos ons weet, geliefdes, is Christus baie meer as ‘n wêreldse Verlosser. Hy is tot baie meer in staat as nét om die volk van hulle aardse vyande te red. Hy is die Sterke Verlosser wat uit die nageslag van Dawid opstaan, soos ons in ons fokusvers lees. Aan Hóm is alle gesag in die hemel en op die aarde gegee. Hý ontvang die besondere voorreg om aan God se Regterhand te sit en oor alle volke en nasies te heers. Al sy vyande word aan Hom onderwerp – hulle word ‘n voetbank vir sy voete (Ps. 110). Omdat Hy almagtig is – omdat Hy God sélf is – kom Hy óók om die Here se kinders van hulle sonde te verlos, geliefdes. Hy word gebore om die satan te oorwin. Hy word gebore om vir die straf op ons sonde volledig te betaal.

God, alleen, is lofwaardig

Deur die koms van Jesus Christus soek God sy kinders wéér op, want Hy wil hulle graag náby aan Hom hê. In sy volmaakte Vaderliefde onthou Hy sy Verbond met sy kinders. Hy het ‘n eed aan Abraham gemaak wat Hom aan alle gelowiges vasbind. Hy sal vir ewig ‘n Vader vir hulle wees. Hy sal hulle uit alle gevare uitred – ook van die dood – en om dit bewerk, stuur Hy sy Volmaakte Seun – dit is sy besondere roeping. Maar die Here het sy verlossing noukeurig beplan, geliefdes. Voordat Jesus Christus gebore word, stuur hy eers iemand om die mense op sy koms voor te berei. God kies Sagaria en Elisabet se seun, Johannes, uit om hierdie belangrike taak te verrig. Deur Johannes se prediking kry gelowiges die kennis dat, elkeen van hulle wél sonde het. Die Heilige Gees werk deur Johannes om die volk te laat besef hoe nodig hulle die Here het.

Sagaria besef dat sý seun nie so belangrik soos die ánder Seun is nie. Sagaria is dankbaar en opgewonde oor die geboorte van Johannes, maar hy is nog meer opgewonde oor die geboorte van Jesus. Dit vat baie van ‘n ouer om dít te besef, nie waar nie? Dit vra baie van ‘n ouer om meer vreugde oor Iemand anders te hê as wat jy oor jou eie kind het, nie waar nie. Maar wanneer jy besef Wie Jesus Christus is, en wat sy verlossing inhou, dan is dit moontlik, geliefdes. Wanneer die Heilige Gees opregte geloof in ‘n mens se hart werk, dan sal ‘n mens nie anders kan as om die Here te loof nie! Want jy besef nou waaruit jy gered is. Jy kom nou agter waar jy was en waar Christus se gehoorsame opoffering jou gebring het. Omdat die Heilige Gees vir Sagaria vervul het, besef hy Wie die Here is. Deur die genade kom hy agter dat die Here wél altyd sy verbondsbeloftes onthou.

Die laaste vers van ons Skrifgedeelte sê dat Johannes opgeroei het en deur die Gees sterk geword het en in die woestyn gebly het totdat hy gereed was om in die openbaar op te tree. Waarom word hierdie vers ingevoeg? Waarom is dit belangrik? Geliefdes, ons lees telkens in die Bybel dat gelowiges in ‘n woestyn is, en daar is ‘n rede daarvoor. In ‘n woestyn is ‘n mens afgesonder – daar is niks wat jou aandag van die Here kan aflei nie. Nét die basiese is tot jou beskikking sodat jy meer bewus van die Here is. In ‘n woestyn is jy totaal en al afhanklik van die Here. Dit is vir hiérdie rede dat Johannes dan in die woestyn voorberei word vir sy openbare optrede. Híér kon hy sy nederigheid voor die Here besef, en besef dat hy nie belangriker is as die Een Wie Hy verkondig nie.

Al word hy ‘n profeet van die Allerhoogste genoem – al is hy baie belangrik – herinner hy later die mense: “Ek doop julle wel met water, maar Hy wat ná my kom, is my Meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie” (Matt. 3: 11; Luk. 3: 16). Nét soos Sagaria besef Johannes die Doper Wie Jesus Christus is. Hy besef dat al die lof en die eer en die heerlikheid, alleen aan Hóm behoort. Hy besef dat Christus alleen lofwaardig is. Daarom is Johannes se hoofboodskap aan die gelowiges: “Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemel het náby gekom.”

Slot

Geliefdes, hierdie boodskap is vandag nog net so geldig as wat dit in daardie tyd was. Want ons staan gereed vir Christus se tweede koms. Ons wag in spanning dat Hy weer sal kom om die satan totaal en al te vernietig. Want die Here onthou van sy kinders – Hy onthou sy Verbond en Hy is getrou. Hy hou aan om ons, in sy groot liefde, op te soek. Hy hou aan om ons nader aan Hom te trek en ons vir ons roeping, hier, voor te berei.

Die vraag is, besef jy wérklik wie Hy is? Besef jy wat Hy, as Verlosser, vir jou beteken? Wanneer die Heilige Gees aan jou hierdie besondere insig gee, dan sal jy sý lof wil besing, en niemand anders s’n nie. Wanneer jy God-Drie-Enig wérklik ken, dan sal jou vreugde oor sý wederkoms groter wees as oor enige iets anders. Amen.