Skrifgedeelte: Romeine 13: 1 – 7
Fokusvers: Romeine 13: 1
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 36
Tema: Omdat God aan die owerheid gesag gee, onderwerp ons onsself aan hulle gesag
Inleiding
Ons behandel vandag ‘n gedeelte wat vir baie gelowiges ongewild is. Nie omdat hulle nié die boek, Romeine, ken nie, maar eerder omdat hulle nie altyd met hierdie gedeelte wil saamstem nie. Dalk is dit weens ons land se unieke situasie. Dalk is dit weens ons geskiedenis. Ons moet erken dat hiérdie gedeelte vir baie van ons moeilik is om aan te hoor.
God gee aan die owerheid gesag
Maar net omdat dit ‘n ongemaklike onderwerp is, beteken dit nie dat ons dit eenkant toe kan skuif nie. Net omdat ons dalk nóú anders as Paulus voel, beteken dit nie dat ons Skrifgedeeltes soos hierdie kan vermy nie. Geliefdes, ons kan nie die Bybel selektief lees nie. Ons kan nie sélf besluit watter gedeeltes in die Bybel vir ons belangrik is, en watter gedeeltes nie saak maak nie. Ons bely tog dat die Bybel God se wil volkome bevat. Die hele Bybel is nodig dat ons God reg kan leer ken en kan weet hoe ons verlos word. Alles wat daarin staan, is ook daar sodat ons kan verstaan hoe ons God kan dien en eer. Die héle Bybel is dus Woord van God. As gelowiges het ons het die héle Bybel nodig. Daarom kan ons ook niks by God se Woord byvoeg of iets – na willekeur – daaruit wegvat nie (vgl. NGB Artikel 7).
Dit is die rede waarom ons vanoggend ‘n gedeelte soos Romeine 13 kan behandel. In hierdie paar verse kry ons ‘n boodskap wat kristal-helder is – ons elkeen is verplig om homself/haarself aan die owerheid te onderwerp. Anders gestel: Ons elkeen moet gehoorsaam wees aan die uitvaardigings en reëls wat die regering opstel. “Maar waarom”, sou baie mense vra? “Kan ons elkeen nie maar net doen wat reg is in ons eie oë nie? Ons is mos Christene. Ons het mos ‘n goeie opvoeding gehad. Ons het mos alle dinge in plek om reg en veilig op te tree. Ons het alles wat nodig is om goeie landsburgers te wees. Waarom moet ons dit dan doen? Waarom moet ons aan die regering gehoorsaam wees? Ons het nie nodig dat ander – soms onbekwame – mense vir ons moet sê wat ons mag en nie mag doen nie.”
Ons fokusvers gee ons die antwoord op al hierdie emosionele – maar tóg geldige – vrae. Kom ons lees weer vers 1: “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerheid wat oor hom gestel is.” En dan hoor ons die rede hiervoor: want “daar is immers geen gesag wat nie van God af kom nie…” ‘n Ander vertaling sê: “Daar is geen mag behalwe van God af nie”. Dit is dus duidelik dat daar geen mag is wat buite God se mag staan nie. Daar is geen gesag wat nié van God af kom nie. Gód gee aan die owerheid ‘n sekere mag – hulle het dit nie uit hulleself nie. Niemand het enige gesag indien Gód dit nie aan daardie persoon of instansie gee nie. En dan lees ons verder dat die magte of regerings deur God ingestel is. Hulle is daar deur die beskikking van Gód.
Hierdie is nie net Paulus se woorde nie, geliefdes. In Spreuke 8: 15 en 16 hoor ons dat dit deur die Here se wysheid is dat konings goed kan regeer en maghebbers reg aan ander kan laat geskied. Dit is deur die hulp van wysheid wat leiers en alle mense wat mag het, op die regte manier kan regeer. In Daniël 4 bely die hoogmoedige koning Nebukadneser: “So sal alle mense weet dat die Allerhoogste mag het oor al die koninkryke van die aarde en dat Hy dit gee aan wie Hý wil; Hy stel selfs die onbelangrikste mens daaroor aan” (Dan. 4: 17). In 1 Petrus 2: 13 lees ons die bekende woorde: “Omdat die Hére dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is, of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes…” En net voor Christus se kruisdood antwoord Hy vir Pilatus en sê dat Pilatus geen gesag oor Jesus sou gehad het as van Bo aan hom gegee was nie (Joh. 19: 11).
Vanuit die res van die Skrif sien ons baie duidelik dat God gesag aan leiers en regerings gee. Dit is sy wil dat verskillende lande deur mense regeer moet word. Dit is die Hére wat oor alles en almal bly regeer, maar Hy doen dit deur gebruik te maak van nietige mense. Waarom Hy dit juis só wil doen, is dalk nog nie aan ons duidelik nie. Maar omdat ons God respekteer, gehoorsaam ons eenvoudig sy wil. Omdat ons God se wil respekteer, gehoorsaam ons dié wat oor ons aangestel is – of ons nou daarvan hou of nie. Want, as gelowiges, kan ons nie ons eie voorkeure navolg nie, geliefdes. Ons wil aan Gód onderdanig wees. Ons wil Hom gehoorsaam, want sý wil is vir ons belangrik. As dit dan sy wil is dat ons die regering van die dag se besluite moet eer, dan doen ons dit. Ons doen dit, nie omdat ons noodwendig vir húlle manier van doen respek het, maar omdat ons weet dat God deur hulle regeer. Te danke aan die insig van die Heilige Gees kyk ons verder – en dieper – ons kyk verby die fisiese regering en sien ons Ewige Koning, Jesus Christus, raak waar Hý oor hulle heers.
Ons onderwerping aan die owerheid
Wanneer ons dan teen die regering se mag rebelleer, dan rebelleer ons eintlik teen dit wat God daargestel het. Dit sê vers 2 vir ons. God gee in sy voorsienigheid dat alle mense deur die owerheid regeer moet word. Indien ons nie hulle gesag wil aanvaar nie, dan kom ons in opstand teen God se instelling. Dit is die rede waarom ons onsself vrywillig aan die regering se besluite onderwerp.
Maar wat doen ons wanneer ons deur ‘n sekulêre regering regeer word? Hoe moet ons optree wanneer ons leiers nie Christelike waardes het nie? Moet ons dan stééds aan hulle opdragte gehoorsaam wees? Gelowiges behoort altyd aan hulle land se owerheid gehoorsaam te wees, selfs al stem ons nie saam met hulle besluite of manier van regering nie. Ál uitsondering wat in die Skrif gemaak word, is wanneer die regering die Christene se geloofsvryheid bedreig. Al wanneer ons teen die regering se besluite kan ingaan, is wanneer Christene weens hulle geloof vervolg word. Of wanneer Woordbediening onderdruk word.
Toe Petrus en Johannes op ‘n keer besig was om met die mense oor ons Here, Jesus, en sy opstanding uit die dood gepraat het, het die Joodse priesters en die tempelwag hulle skielik gevange geneem. Nét omdat hierdie twee apostels getuig het van Jesus Christus se opstanding uit die dood, en nét omdat hulle, deur die krag van die Heilige Gees, ‘n siek man genees het, word hulle gevange geneem. Daarom antwoord Petrus en Johannes die Joodse Raad met wysheid wat alleen van die Heilige Gees af kom, en sê: ‘”Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees, of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nié te praat oor dit wat ons gesien en gehoor het nie.’”
Dit is hierdie tipe wysheid wat ons, as gelowiges, nodig het. Ons moet só oortuig wees wat die Hére se wil in ons situasie is, dat ons rég sal optree. “Probeer die regering alle mense beskerm, of is hulle besig om Woordverkondiging te onderdruk?” Om hierdie vraag te antwoord, verg besonderse wysheid, geliefdes. Wat egter vir ons duidelik is, is dat oproerigheid altyd ‘n Christen se heel laaste reaksie moet wees. In Spreuke 24: 21 lees ons die wysheid: “Dien die Here, my seun, en ook die koning; moet jou nie oproermakers ophou nie.” Dit word van ons verwag om altyd rebellie as laaste uitweg te sien.
Dit kom ook baie sterk deur in Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 36. Al is die Protestantse kerk daardie tyd wreed vervolg, het Guido de Bres steeds hierdie einste Artikel ingewerk. In die laaste paar sinne van hierdie Artikel bely ons: “Hierin verfoei/verafsku ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot…” Op voetspoor van Romeine 13 noem hy dat elke gelowige – van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, homself aan die owerheid moet onderwerp. Drie keer word dit in Romeine 13 herhaal dat die regering dienaars van God is (verse 4 en 6). Hulle staan in God se diens, al besef hulle dit dalk nie. God het die verhouding daargestel – hulle staan onder sý gesag. Daarom het de Bres die sekerheid gehad om eerder vir sy geloof te vlug, as om teen die regering te rebelleer.
Met die voorbeelde wat ons van ons medegelowiges het, kan ons met insig na ons eie optrede kyk. Ons kan dit wat ons voel, teen die Skrif meet om te bepaal of ons reg optree. Mag ons almal daarom rustig word en om verligting van die Heilige Gees bid, voordat ons optree. Mag ons altyd sý leiding vra – ook in ons verhouding met die owerheid. Vir ‘n Christen wat deur ‘n sekulêre owerheid regeer word, is hierdie kwessies baie moeilik, maar nooit onoorkombaar nie. Vandag kry ons die troos om te sien dat die meeste voorbeelde wat ons in die Bybel het, oor hoe gelowiges teenoor die regering gevoel het, voorbeelde is waarmee ons onsself kan vereenselwig.
Soos hulle, word óns ook opgeroep om aan ons regering gehoorsaam te wees, sover hulle nie die Woordbediening onderdruk nie. Al is dit nie nou moontlik om soos normaal saam te kom nie, gaan die Woordbediening steeds voort. Ons kan die Here net dank vir die maniere waarop ons Hom wél nog kan aanbid en tot Hom nader. Ons kan stééds by mekaar uitkom en mekaar bemoedig uit sy Woord. Ons kan stééds in kleiner groepe saamkom en onsself verwonder oor die Here se genade. Ons kan stééds in die publiek van sy verlossing en opstanding getuig.
Geliefdes, wanneer ons só daaraan dink, dan sien ons raak dat ons nog baie vryheid het. Omdat ons hierdie vryheid graag wil behou, word ons ook deur die Here opgeroep om vir die regering te bid. Ons word opgeroep om vir die regering voorbidding te doen dat hulle sal besef dat hulle in diens van God staan. Veral waar ons tekens van ongeloof raaksien, moet ons bid dat die regering sal besef dat hulle onder God se koningskap staan en ook eendag oor hulle leierskap sal moet rekenskap gee. Daarom is dit ons roeping om te bid dat die regering die deur vir die Evangelie sal oopmaak en die Woordbediening sal beskerm. Dit is ons plig om te bid dat die regering sal toesien dat die koninkryk van Christus bevorder sal word en dat hulle ook hulself gewillig onder sy Ewige Regering beskikbaar sal stel. Geliefdes, bid ons op só ‘n manier vir ons regering?
Slot
Vanoggend word ons gekonfronteer met ‘n ongemaklike onderwerp. Baie van ons sou hierdie gedeelte eenkant toe wou skuif of bloot maak asof dit nie bestaan nie. Maar geliefdes, ons kan nie die Here se Woord selektief lees nie. Ons kan nie net die gedeeltes wil aanhoor wat óns pas nie.
Die Here roep elkeen van ons op om aan die regering wat oor ons aangestel is, onderdanig te wees. Self al verskil ons van hulle, is ons geduldig, want ons besef dat daar geen gesag is wat nié van God af kom nie. En onthou, die gebed van ‘n gelowige het groot krag (Jak. 5: 16).
Gebroke, eiewillige, leierskap laat ons tog uitsien na ‘n volmaakte regering wat ons alleen by Jesus Christus kan kry. Daarom dink ons dááraan, daarom is ons fokus dáárop, want hierdie wêreld is nie ons ewige woonplek nie. As gelowiges het ons die troos om nóú al deur ons Koning, Jesus Christus regeer te word, al maak Hy nou van mense gebruik. As kinders van God het ons die vooruitsig van ‘n volmaakte regering – een wat alleen deur Christus regeer sal word – een wat géén gebrokenheid en eiewilligheid bevat nie. Mag ons met alle wysheid en geduld dáárop bly wag. Amen.