Skrifgedeelte: Handelinge 2: 37 – 47
Fokusvers: Handelinge 2: 38 (2020 Vertaling)
Tema: God vergewe ons sondes en gee vir ons sy Gawe sodat ons ons Christenskap reg kan uitleef.
Inleiding
Hoe lyk ‘n “gesonde” gemeente? Wat is die eienskappe van ‘n kerk wie se prioriteite op die regte plek is? Hoe lyk lidmate wat nie net sê hulle is Christene nie, maar dit ook met hulle lewe wýs? Hierdie is baie aktuele vrae – verál in ‘n tyd waar mense moeg is vir voorgee. Waar mense keelvol is vir hipokritiese, skynheilige, mense. Vir ‘n antwoord op hierdie vrae gaan ons na die volgende gedeelte in die boek, Handelinge, kyk. Om te sien hoe ‘n gesonde gemeente lyk, gaan ons terug na die básiese toe – ons gaan terug na die eerste gemeente toe.
God vergewe ons ons sondes en gee vir ons sy Gawe
Aangesien ons verlede week ons reeks uit Handelinge onderbreek het, gaan ons net vinnig onsself herinner waar ons was: Die Heilige Gees is pas oor die kerk uitgestort. Daardie Sondag-oggend het die aarde gebewe en almal het ‘n hewige stormwind gevoel. Hulle het iets soos tonge van vuur uit die hemel sien afkom en almal is met die Heilige Gees vervul. Dit het die gevolg gehad dat die mense, onder sy leiding, in verskillende tale gepraat het. Die Evangelie is verstaanbaar in elkeen se moedertaal gehoor. Daarna spreek Petrus die hele volk toe en vertel vir hulle wie Jesus Christus is, en wat sy verlossing inhou. Al is dit ‘n onbekende skare mense, preek Petrus vir hulle en gee aan hulle die hoop van die ewige lewe. Hy sê vir hulle dat die dood géén houvas op Christus óf die gelowiges het nie, want die dood is oorwin. Die vyand is verslaan.
En noudat die skare hierdie wonderlike preek van Petrus gehoor het, vra hulle: “Wat moet ons doen, broers.” Hierdie preek tréf hulle nie net baie diep, soos ons in vers 37 lees nie, dit drýf ook die skare tot áksie. Aangesien die Heilige Gees en God se lewendige Woord aan die werk is, ontvang die mense ook ‘n nuwe lewenslus. Want niemand wat die Goeie Nuus hoor, kan onaangeraak bly nie. Hebreërs 4: 12 leer vir ons dat ware Woordbediening soos ‘n twee-snydende swaard is. Wanneer die Woord bedien word dan sny dit óf tot nuwe lewe óf tot die dood. Niemand kan onaangeraak bly nie. Alle mense reageer op die Woord. Ware Woordbediening bring jou óf tot bekering óf tot verharding.
Daar was dus ‘n reaksie op Petrus se preek daardie Pinkster-oggend. ‘n Gehoorsame reaksie. ‘n Reaksie van hongerte. “Wat moet ons doen, noudat die Gees ons aanspreek?” “Wat moet ons doen om aan die Here se Woord gehoorsaam te wees?” En dan antwoord die apostels hulle met die wysheid van ons fokusvers: “Bekeer julle en laat elkeen van julle, in die Naam van Jesus Christus, tot vergewing van julle sondes gedoop word.” Geliefdes, die régte vertaling van hierdie vers is baie belangrik, sodat ons nie verwar word nie. Ons ontvang nie eers die vergewing van ons sondes nádat ons gedoop is nie. ‘n Mens kwalifiseer nie eers as ‘n gelowige sodra jy gedoop is nie, maar sodra jy tot geloof gekom het. God verlos ons nie van ons sondes eers as ons gedoop is nie, maar wanneer ons geestelik nuut gemaak (weer gebore) is. Die vergewing van sondes kan dus lank voor ‘n mens se fisiese doop, óf selfs na jou doop plaasvind. Want die téken van die doop maak nie van ons kinders van God nie. Selfs nie my status as “gedoopte” is vir my ‘n waarborg dat my sonde vergewe is nie. Al wat vir my die waarborg gee dat my sonde vergewe is, is my konstante geloof in Jesus Christus.
Maar waarom moet ons dan gedoop word? Waarom was dit o.a. Petrus se opdrag aan hierdie jong gemeente? Die doop is nie daar sodat God kan onthou wie almal gemerk is as sy kinders nie. Nee, geliefdes, die doop is daar sodat óns onsself kan herinner dat God met ons in ‘n verhouding staan. Die doop is vir óns ‘n herinneringsteken dat God ‘n verbond met ons gesluit het. Die doop herinner óns dat ons sondes deur Jesus Christus vergewe is. Dit is vir ons ‘n seël wat al God se beloftes aan ons verseël. In die Here se groot genade gee Hy hierdie sigbare middele vir ons omdat óns dit nodig het – nie omdat Hý dit nodig het nie. In sy almag weet Hy presies wie sy geestelike kinders is. In God se volmaaktheid het Hy nie iets sigbaar en tasbaar nodig om Hóm aan óns te herinner nie.
Volgende week het ons die voorreg om die ánder teken en seël, fisies, hier in die erediens te ervaar. Volgende week het ons die voorreg om weer Nagmaal te gebruik. Net soos die doop, verseker die gebruik van die Nagmaal nie vir ons vryspraak van ons sondes nie. Die feit dat ek elke keer met Nagmaal hier is, en dit getrou gebruik, is nie iets waarna die Here kyk om te bepaal of ons die ewige lewe moet ontvang of nie. Ons ontvang die ewige lewe – die verlossing deur Christus – enkel en alleen uit genade. Die Here skenk dit vir ons ongeag van ons optrede. Ongeag of ons dit verdien of nie. Hy skenk dit vir ons wél vir ons op grond van sy Seun, Jesus Christus, se optrede en verdienste. In ons plek het Hy die Wet van God, volmaak gehoorsaam. In ons plek, het Hy ten volle vir die sonde betaal. In ons plek, het Hy sy Vader se vervloeking deurgemaak. In ons plek is Hy verbrysel. En daarom, omdat ons dit weet, maar soms sukkel om die impak daarvan mooi te besef, kom gebruik ons Nagmaal. Mag ons diep hieroor nadink as ons onsself hierdie week daarvoor voorberei.
Al mense wie hulself oprég vir Nagmaal kan voorberei en wie die Doop vir die régte redes gebruik, is mense wat deur die Here uitverkies is. Soos ons in ons fokusvers lees, is dit die gemeente se opdrag om ook hulleself te bekeer. Bekering is iets wat God van sý kant af doen. Dit is ‘n eenmalige aksie van die Here, wanneer Hy ons harte totaal en al verander en ons losruk van die bose wêreld sodat ons kinders van die lig kan wees. Ons noem hierdie aksie van God “wortelbekering”. Maar elke gelowige het die plig om homself/haarself ook daagliks te bekeer. Omdat ons nog deel van hierdie sondige wêreld is, en deur die sonde verlei word, is dit nodig dat ons daagliks – uurliks – daarvan wegvlug. Gelowiges word opgeroep om aktief van die bose weg te vlug en hulself van sondige, wêreldse, dinge te bekeer.
Lidmate van die kerk wat erns maak om só lewe, ontvang die belofte van ons fokusvers, nl. dat hulle die gawe van die Heilige Gees sal ontvang. Wanneer ‘n mens elke dag van jou sondes bekeer en daarmee breek, wanneer jy jou sondige self in gebed leegmaak voor die Here, dan is daar plek in jou hart en jou gemoed wat die Heilige Gees kan vul. Dit is waarna gesonde lidmate streef – om al meer Geesvervuld te lewe. Om die Here al meer te vertrou en al meer goed te doen in plaas van sleg.
Nou kan ons ons Christenskap reg uitleef
Daarom is Petrus se laaste opdrag daardie dag dat hierdie groep mense dat hulle hulself van ongelowige mense moet red. Noudat hulle tot geloof gekom het, is dit hulle plig om hulself van mense te distansieer wat Jesus Christus en sy verlossing ontken.
In die laaste paar verse van hierdie hoofstuk lees ons dan hoe die gelowiges hulle geloof uitgeleef het. Hierdie mense het ‘n geloofsgemeenskap gevorm. Hulle het besef dat hulle soveel meer as kultuur en taal in gemeen het – hulle voel ook dieselfde oor hulle geloof. Omdat hulle geloof in God-Drie-Enig vir hulle die belangrikste was, het hulle gereeld saam gekom om bymekaar te wees. Dit het vir hulle die geleentheid gegee om, as een liggaam, die Here te aanbid en te verheerlik. Hulle het ook volhard in die leer van die apostels, die gemeenskaplike maaltyd en gebed.
Dit is dus duidelik dat hierdie mense erns gemaak het om te hou by dít wat die apostels vir hulle geleer het – die suiwer Woordbediening was vir hulle uiters belangrik. Hulle het ook onderlinge meelewing met mekaar gehad – natuurlik deur saam te eet, maar óók deur saam Nagmaal te vier. Hulle het gereeld mekaar herinner aan die kruisdood en volmaakte offer van hulle Here, Jesus Christus – iets waarna ons uitsien om volgende week te doen! Ons lees dat hulle ook, as gemeente, gereeld saam gebid het. Tydens die erediens en by ander geleenthede, het hulle hulself voor die Here verootmoedig en Hom geloof en geprys vir al sy wonderlike genade.
Laastens lees ons dat hierdie eerste gemeente ook alles wat hulle gehad het, met mekaar gedeel het. Omdat hulle wérklik vir mekaar lief was, was dit nie vir hulle moeilik nie. Omdat hulle regtig mekaar gesien het as broers en susters in die geloof, kon hulle met hierdie spesifieke gesindheid geleef het. Ons moet goed verstaan dat dit ‘n vrywillige opoffering van eiendom en besittings was. Hulle het dit gedoen omdat hulle dit graag wóú doen, en nie omdat die Here dit van gelowiges verwag nie. Hierdie optrede wys ons maar net hoe hierdie paar mense mekaar se belange op die hart gedra het.
Vanoggend vra ons onsself af: “Is ons só ‘n gemeente?” “Doen ons van hierdie dinge?” “Leef ons ons Christenskap op ‘n gesonde manier uit?” Natuurlik was die eerste gemeente ook ‘n onvolmaakte gemeente – dit is ‘n onvolmaakte voorbeeld – maar tog kan ons baie by hulle leer. Ons leer by hulle dat die Evangelie ons diep behoort te tref. Indien dit nie die geval is nie, dan kan ons bid dat die Gees ons verstand en harte sal oopmaak om anders daarop te reageer. Dit word ook van ons verwag om, as gemeente, en elkeen afsonderlik onsself van die sonde te bekeer en dankbaar te wees teenoor die Here. Want ons is alleen deur genade gered. Jesus Christus het reeds al ons sondes vergewe. Die Doop en die Nagmaal herinner ons daaraan en bevestig dit aan ons. Omdat ons so dankbaar vir hierdie onverdiende genade is, wil ons graag wegvlug van alles wat skeiding maak tussen ons en die Here. Ons wil graag moeite doen om naby aan die Here te leef en te doen wat Hý van ons verwag.
Slot
Wat moet ons nou doen? Noudat die Gees gewerk het en die Evangelie aan ons verkondig is? Ons moet op die regte manier teenoor God én ons naaste leef, geliefdes. Ons moet as gemeente – as een liggaam – dieselfde einddoel hê. Mag ons aanhou gevorm en toegerus word om geestelike gemeenskap met mekaar te geniet, sonder dat dit vir ons moeite is. Mag ons, van ons kant af, die Here kom dien en eer. Mag ons opreg dankbaar wees dat ons weer fisies kan saamkom.
Mag ons mekaar met ons gawes bedien – nie uit dwang nie, maar omdat ons graag wíl. Mag ons alles wat ons kán vir ons gemeente gee, want dit is híér waar ons die Here kom ontmoet. Geliefdes, kom ons doen moeite om nie maar net te sê ons is gelowiges nie – kom ons bewys dit ook met ons lewe en optrede. Kom ons kom getrou bymekaar onder die erediens en leef in geduld met mekaar saam. Kom ons fokus op ons onderlinge bande met mekaar en doen dinge uit ons eie en nie omdat iemand ons daarvoor moet smeek nie.
Dít is hoe ‘n gemeente lyk wie se prioriteite op die regte plek is. Dit is hoe ‘n gesonde liggaam funksioneer. Is dit só in óns gemeente? Toon óns ook simptome van ‘n gesonde gemeente? Amen.