Skrifgedeelte: Handelinge 3: 1 – 26
Fokusgedeelte: Handelinge 3: 14 – 16
Tema: “Die Volmaakte word verwerp en gekruisig sodat onvolmaaktes aanvaar word en kan léwe.”
Inleiding
Dink jouself die volgende beeld in: Jy en jou gesin kom heel rustig – of dalk gejaagd – by die kerk aan. Gefokus op dít wat jy nou gaan hoor. Ingestel op die gewyde atmosfeer wat nét die kerk kan bied. En ewe skielik is hier ‘n persoon by die kerk terrein wat lyk asof hy/sy bedel. Hierdie persoon keer jou voor nét voor jy by die kerk se deure wil instap. Wat sou jy doen? Hoe sou jy reageer? Wat sou jy vir die persoon sê?
Die Volmaakte word verwerp en gekruisig
Geliefdes, dit is presies wat in Handelinge 3 gebeur het. In daardie tyd was die gelowiges baie meer toegewyd as die meeste van ons vandag. Hulle het drie keer per dag, intens, tot die Here gebid (vgl. Dan. 6: 11; Handl. 10: 9). Vroeg in die oggend en later in die middag het hulle gebruik gemaak van publieke aanbidding. Hulle het al die moeite gedoen om na die tempel toe te gaan om dáár te gaan bid. Natuurlik het die verlamde man, waarvan ons lees, se mense geweet dat daar baie mense by die tempel gaan opdaag. Hulle maak dan misbruik – of dalk eerder gebruik – van die geleentheid. Hulle plaas hulle verlamde vriend en familielid baie strategies by die ingang van die tempel. Hulle hoop dat die mense hom sal jammer kry, noudat hulle harte “sagter” is by die kerk. Hulle hoop vir geld of kos – want as daar ‘n plek is waar ‘n mens dit kan kry, dan moet dit by die kerk wees, nie waar nie?
Maar dan vind ‘n wending plaas. Lukas verras ons met karakters wat ánders optree as wat ons sou indink. Al is Petrus en Johannes “kerkmense” – al is hulle diep gelowiges – gee hulle nie vir hierdie man wat hy graag wou hê nie. Hulle sê uitdruklik dat hulle nie geld vir hierdie man het nie. Hy het dalk geld of kos of geskenke by die ánder gelowiges gekry, maar Petrus en Johannes gaan nie dit vir hom gee nie.
Hulle sê vir hierdie verlamde man dat hy hulle stip in die oë moet kyk – ook vreemde versoek nie waar nie? Ons wil baie keer nie oogkontak met ‘n bedelaar maak nie. Ons dink, as ons hom/haar ignoreer, sal die probleem weggaan. Ons wil net so vinnig as moontlik uit die ongemaklike situasie kom – ons wil net hé die persoon moet so gou as moontlik weer uit ons lewe verdwyn.
Maar wat doen die apostels? Hulle maak aktief kontak met hierdie man. Hulle kyk stip na hom en vra hom dat hy ook na hulle moet kyk. Hulle vra hom dat hy sy kop uit die skaamte moet oplig en hulle in die oë moet kyk. Ons lees dat die man dan na die apostels gekyk het met die hoop dat hy iets van hulle sou ontvang. Dink net aan die wankelende hoop in daardie moeë oë. Dink net aan die verwagting. “Gaan ek vandág versadig word?” “Is daar uiteindelik iemand wat vir my iets gaan gee wat ek só nodig het.” Deur die Heilige Gees wat in die apostels werk, sê Petrus vir hierdie man: “Silwer en Goud het ek nie, maar wat ek het gee ek vir jou: Om die Naam van Jesus Christus, staan op en loop.” Die verlamde man ontvang daardie dag baie méér as geld of kos. Deur die Here se wysheid weet Hy dat hierdie man nie iets fisies, soos kos of geld nodig het nie, maar iets geesteliks soos geloof en vertroue.
Op daardie dag ontvang die hulpelose bedelaar hoop! Daar, by die tempel, kry hy baie méér as waarvoor hy gewens het. Hierdie dag ontmoet hy nie maar weer mense wat niks met hom te doen wil hê nie. Hier, by die tempel, ontmoet hy die Here! Deur die Here se gestuurdes leer hy die Here sélf ken – Hy wat die mag het om verlamdes te laat opstaan. Hy wat die mag het om iemand, wat al moed opgegee het, te laat opspring en van vreugde te jubel. Die Here wat aan iemand die behoefte gee om in Hom te begin glo en Hom te volg. Dít is Wie die verlamde bedelaar daardie dag by die tempel ontmoet het.
Omdat sy hart én sy ingesteldheid én sy uitkyk op die lewe daardie dag totaal en al verander is, begin hy om Jesus Christus na te volg. Hy word deel van die apostels se geselskap en betree waarskynlik vir die eerste keer in sy lewe die tempel. God gebruik die feit dat hierdie man wonderbaarlik genees is, om sy koninkryk uit te brei. Die feit dat hierdie man fisies opgestaan het, en begin stap het, het baie mense nuuskierig gemaak. Hulle wou kom kyk of dít wat hulle by die ander mense hoor, werklik wáár is. Daarom gebruik Petrus hierdie geleentheid – nee, daarom geruik die Heilige Gees hierdie geleentheid om die Evangelie aan die nuuskierige mense te verkondig.
Petrus begin deur vir die skare te sê dat dit nie hy óf die ander apostels is, wat hierdie man genees het nie, maar dat dit God is wat aan hom die krag gegee het. Petrus maak dit duidelik aan die skare dat dit dieselfde God is, wat hulle aanbid, want hierdie man genees het. Die God van Abraham, Isak en Jakob – die God van die Verbond – die Ou-Testamentiese God, het hierdie man genees. Die Jode kén Hom – Hy is hulle persoonlike God en Redder.
Dit is ook Hý wat sy Seun, Jesus Christus, na hierdie aarde toe gestuur het. Dit is dieselfde God van die Ou-Testament, wat nou in die Nuwe-Testament werk. Hy het die Messias belowe, en Christus het aarde toe gekom, maar die meeste van die Jode wou Hom nie as die Gesalfde aanvaar nie. Hulle beskou Hom nié as Seun van God nie. Hulle erken Hom nié as die ware Verlosser nie. En daarom is Hy gevange geneem. Daarom is Hy deur ‘n menslike regter tot die dood toe veroordeel. Mense wat veronderstel was om Hom as die Christus te aanvaar, het Jesus laat doodmaak. Hulle het alles in hulle vermoë gedoen om Hom aan die kruis te sien hang.
En tog is dit nie vir God die Vader ‘n verassing nie, geliefdes. Soos ons in ‘n vorige preek, uit van Handelinge 2 gehoor het, het God dit besluit en vooruit bepaal dat sy Seun aan mense uitgelewer moet word. God het dit vooruit besluit dat Hy, as die Volmaakte, deur mense verwerp en verstoot moet word – ons lees dit ook hier in vers 18. God het dit vooruit besluit dat sy geliefde Seun gekruisig moet word. Nié omdat God die Vader onredelik en wreed is nie, geliefdes. Maar juis omdat Hy sy kinders só innig lief het.
Hy het ons só lief dat Hy sy Seun, Jesus Christus, vanuit die hemel stuur om hier op hierdie stukkende wêreld te kom woon. Hy het ons só lief dat Hy Christus, in ons plek, gestuur het, want Hy het geweet óns sou dit nooit maak nie. Daarom word Jesus Christus verloën, bespot en beledig. Daarom word Hý gemartel, geklap en bespoeg. Daarom ervaar Hý die Godverlatenheid en daarom betaal Hý vir al ons sonde. Want God het ons innig lief, en Hy weet dat nie een van ons dit sou deurmaak nie.
Dit is wat ons vandag by die Nagmaal kom vier, geliefdes. Ons vier vandag weer die wonder van sy opofferende liefde vir ons. Aan die Nagmaalstafel dink ons weer aan hoe bitter sy kruisdood was. Ons dink aan hoe werklik dit was. Die brood en die wyn help ons om dit te besef. Die brood en die wyn maak Christus se kruisdood ‘n groter werklikheid vir ons, want in ons swakheid het ons soms iets fisies nodig om dit aan ons te bewys. In die Here se groot liefde vir ons, gee Hy dan vir ons iets so konkreets soos die Nagmaal, om ons geloof te versterk.
Die Vader het sy Seun, Jesus Christus, ook ínnig lief. Hy het Hom só lief dat Hy Hom uit die dood laat opstaan het, en Hom na die hemel toe laat opvaar het. Hiervan is die apostels getuies, sê Petrus in vers 15. Die Nagmaal laat ons dan ook uitsien na óns ewige lewe, geliefdes. Want tydens die Nagmaal kom ons maar net weer tot die besef dat ons, deur die geloof, deelkry aan al Christus se weldade. Deur my geloof in God-Drie-Enig, kan ek séker wees van ‘n ewige lewe saam met Christus en my geliefdes. ‘n Volmaakte lewe wat nooit sal ophou nie.
Onvolmaaktes word aanvaar en ontvang die ewige lewe
Ja, dit is juis vir hierdie volmaakte lewe wat Jesus Christus aan die kruis gesterf het en uit die dood uit opgestaan het. Te danke aan sy absolute gehoorsaamheid – te danke aan sy volkomenheid – is dít wat Hy moes deurmaak, géldig vir ál God se kinders. Jesus Christus, as die Volmaakte, is bereid om álles vir ons op te offer sodat ons deur God as volmaak beskou word. Deur ons kosbare geloof in Jesus Christus, sien God die Vader Christus se volmaaktheid raak as Hy na ons kyk. Te danke aan Christus word onvolmaakte mense, soos die bedelaar by die tempel, deur Hom aanvaar. Waar mense gewoonlik hierdie persoon sou verwerp, aanvaar God-Drie-Enig hom, op grond van sy geloof. Waar hierdie tipe mens gewoonlik géén hoop op die lewe het nie, gee die Heilige Gees vir hom álle hoop. Waar hierdie man nie geweet het hoe lank hy aan die lewe gaan bly nie – hoe lank sy misvormde liggaam dit meer gaan hou nie – ontvang hy die belofte van die éwige lewe.
Geliefdes, ons elkeen kan onsself, op ‘n manier, met hierdie bedelaar by die tempelpoort vereenselwig. Dalk voel jy vanoggend soos die bedelaar: dalk is dit jou grootste begeerte om deur iemand raakgesien te word. Dalk ervaar jy ook hoe mense jou ignoreer of verstoot. Dalk het jou omstandighede veroorsaak dat jou vriende of familie jou optrede begin bevraagteken. Onthou dan die woorde wat die Gees vandag vir jou sê: “Ja, sónder die Here is ek onvolmaak, verwaarloos, en verwerplik.” “Sónder die Here beteken ek niks.” “Maar wanneer ek die Here se stem hoor, en daarop reageer, is daar vir my Hoop!” “Ek kan maar my kop oplig, om die genade van die Here raak te sien.” “Ek moet dalk vêrder kyk as my fisiese nood.” “Ek moet dalk dieper begin soek, en nie net fisiese uitkoms verwag nie, maar geestelike uitkoms.”
Slot
Daardie dag by die tempel, het die bedelaar iets gekry wat hy nie besef het hy nodig het nie. Daardie dag het hy geloof in Jesus Christus ontvang! Ja, hy ís liggaamlik genees, maar sy geestelike genesing was vir hom báie meer werd.
Geliefdes, hoe sou jy reageer as hier ewe skielik ‘n persoon by die kerk terrein jou sou voorkeer? Wat sou jy in só ‘n situasie doen? Wat sou jy vir die persoon sê? Mag ons vandag die waarde van geestelike kos besef. Mag ons besef dat die grootste geskenk wat ons vir só ‘n persoon kan gee, is om hom/haar aan die Here voor te stel. Mag ons méér as sy maag vul – mag ons sy hart vul met die hoop van die Evangelie!
Want ons weet hoe dit voel om geestelik versterk te word. Ons beleef dit vanoggend weer by die Nagmaal. Die sekerheid wat ons hier aan tafel kry nl. dat Jesus Christus vir ál ons sondes betaal het, gee aan ons vrede. Dit gee aan ons gemoedsrus. Want ons besef dat ons dit verdien om weens ons sondes verstoot te word, maar nou aanvaar die Here ons weens sy volmaakte Seun.
Wat gaan jy doen as jy weer hopeloosheid in iemand se oë sien? Wat gaan jy volgende keer doen as jy in oë vaskyk wat vol verwagting is? Watter soort kos gaan jy vir dáárdie persoon aanbied? Amen.