Handelinge 4: 32 – 5: 11

Skrifgedeelte: Handelinge 4: 32 – 5: 11

Fokusvers(e): Handelinge 5: 3

Tema: God-Drie-Enig is alwetend. Ware gelowiges sal nie teen die Heilige Gees sondig nie, maar hulle deur Hom laat lei.

Inleiding

Ons het verlede week tydens die erediens die voorreg gehad om Nagmaal te gebruik. Ons het weereens kom beleef hoe werklik die Here se kruisdood vir ons is, maar hoeveel van ons onthou nog waaroor die preek gegaan het? Hoeveel van ons se ingesteldheid het wérklik verander? Hoeveel van ons leef nog die geesvervuldheid, wat ons hier aan die Nagmaalstafel ervaar het, uit? 

God-Drie-Enig is alwetend

Verlede week het ons die waarde van ‘n geesvervulde lewe besef. Ons het van ‘n verlamde man gehoor wat wonderbaarlik genees is. Nie net fisies nie maar óók geestelik. Te danke aan die Heilige Gees se kragtige werking, het hierdie man sy kop uit skaamte opgelig en die Here se genade raakgesien. Die Heilige Gees neem heeltemal beslag van die man – tot só ‘n mate dat hy kon opspring, regop staan en onophoudelik God geprys het. Hy het, van daardie dag af, ‘n lewe van geesvervuldheid begin leef! Al het hierdie man iets fisies soos geld of kos van die apostels verwag, gee die Here hom iets wat hy nie besef het hy het nodig nie. Daardie dag by die tempel ontmoet hy die Here. Hy ontvang daardie dag geloof in God-Drie-Enig – iets wat soveel meer waardevol as goud of silwer is.

Nadat hierdie man genees is en ‘n getroue navolger van die apostels en Christus geword het, het die Joodse Raad vyandig op hulle afgekom. Nét omdat die apostels hierdie man in die Naam van Jesus Christus genees het – nét omdat hulle vir Hom en die res van die skare vertel het wie Jesus Christus is – word hulle gekonfronteer. Want u sien, geliefdes, die Jode wou nie erken en geglo het dat Jesus die Messias is nie. Hulle hét geglo dat Iemand sou kom om die volk te verlos, maar hulle wou nie glo dat dit Jesus Christus is nie. In hulle eiewilligheid wou hulle nie glo dat Hý die Gestuurde van God is nie. En daarom keer, hulle met alle mag, die apostels as hulle Christus se oorwinning oor die dood aan die mense verkondig. Hulle neem hierdie twee apostels van die Here dan in hegtenis en ondervra hulle o.a. deur dieselfde hoëpriester wat Jesus Christus nét voor sy kruisdood ondervra het.

Ons het hierdie gedeelte in ‘n onlangse preek behandel, en daarom gaan ons nie vandag weer daarby stilstaan nie. Vandag behandel ons die gedeelte nét nadat die apostels weer vrygelaat is. Vandag kyk ons weer na hoe die gelowiges hulle Christenskap prakties uitgeleef het noudat hulle tot geloof gekom het. Omdat hulle so dankbaar vir hulle verlossing is, wil hierdie groep gelowiges dit met hulle hele lewe wýs. Hulle het die vergewing van al hulle sondes gekry en dít is vir hulle die allerbeste. Niks in die lewe is meer belangrik as hulle geloof in Jesus Christus nie. Hulle besef dat Hy maar baie onlangs vir hulle sondes aan die kruis gesterf het. Van hulle was dalk sélf teenwoordig daardie dag op Golgota.

Christus se kruisdood en die impak daarvan is só ‘n groot werklikheid vir hierdie eerste gemeente, geliefdes. Die apostels, wat vir hierdie gemeente preek, het Jesus Christus persoonlik geken. Hulle was dáár toe Hy met sy amptelike werk op aarde begin het. Hulle was dáár toe Hy vir verskeie mense vertel het dat Hy die ware Messias is wat deur sy Vader aangewys is om te kom doen wat geen mens kan doen nie. Hulle was daar toe Hy verloën en verraai is. Hulle was daar toe Hy in alle angs gebid het in die Tuin. Hulle was daar by die voet van die kruis – toe Hy sy laaste asem uitgeblaas het. Hulle was óók daar toe Hy weer uit die dood uit opgestaan het. Jesus Christus het met sy verheerlikte liggaam o.a. aan hulle verskyn.

Ja, saam met die apostels, besef hierdie eerste gemeente hoe ég Christus se opofferende liefde vir hulle is. Hulle beséf dat hulle dit nie verdien nie. Dat hulle dit gratis ontvang het, en daarom wil hulle dit ook gratis aan ander kan deel. Ons sien hierdie mense se dankbaarheid en hulle mededeelsaamheid baie goed raak in hierdie gedeelte. Soos vroeër in die boek Handelinge, lees ons weer dat hierdie gemeenskap alles wat hulle gehad het, met mekaar gedeel het. Hierdie gelowiges het mekaar soos ‘n gesin behandel – hulle was een van hart en siel. Hulle het soos een liggaam opgetree en ook só na mekaar gekyk. Soos ons gehoor het, het almal van daardie gemeenskap hulle eiendom verkoop en die geld met mekaar gedeel. Hulle het selfs ‘n gedeelte van die geld vir die apostels – of dan die kerk – gegee. Ons lees dat Barnabas ook sy stuk grond verkoop het en die geld vir die apostels gebring het sodat dit uitgedeel kon word aan wie ook al behoeftig is.

Geliefdes, soos ons in ‘n vorige preek gehoor het, het die mense dit vrywillig gedoen, en nie omdat God dit van gelowiges verwag om hulle eiendom te verkoop ter wille van ander nie. Dit is ook belangrik om te sien dat nie álle eiendom en besittings verkoop is nie, maar net sover daar ‘n behoefte was. Die gelowiges het egter gevoel dit is hoe hulle dankbaarheid teenoor mekaar kan bewys. Deur van hulle besittings en eiendom vir die gemeente te gee, het hulle gevoel hulle gee iets vir die Here terug nadat Hy hulle so oorvloedig seën.

Hulle het dit eerstens gedoen omdat hulle dankbaar was vir hierdie onverdiende genade, nl. dat Christus hulle van al hulle sondes vergewe het. Maar hulle het dit óók gedoen want hulle het geweet dat God alwetend is. Hierdie mense was diep onder die indruk dat geen mens enige iets vir God kan wegsteek nie. Skrifgedeeltes soos Psalm 139 en Prediker 12 was vars in hierdie lidmate se geheue. Saam met Dawid erken hulle: “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.” Saam met die Prediker bely hulle: “God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.”

Geliefdes, in die res van die Skrif is dit óók duidelik dat God van alles weet. In Psalm 90: 8 lees ons o.a. “U sien ons oortredinge raak, U bring die sondes wat ons wegsteek, aan die lig.” In Psalm 69: 6 hoor ons: “U weet hoe sondig ek is, o God, my verkeerde dade kan ek tog nie vir U wegsteek nie.” En in Jesaja 29 lees ons: “Ellende wag vir dié wat dink hulle kan hulle planne diep wegsteek vir die Here. Hulle wat besig is om dinge in die donker te doen en dink: ‘wie sien ons?’ ‘Wie weet van ons?’ Julle is agterstevoor met álles, asof die pottebakker die klei is. Die maaksel kan mos nie van sy maker sê: ‘Hy het my nie gemaak nie’; die kleipot kan mos nie vir die pottebakker sê: ‘Hy weet nie wat Hy doen nie.’”

Ware gelowiges sal nie teen die Heilige Gees sondig nie, maar hulle deur Hom laat lei

Tog lees ons hier in Handelinge 5 van twee mense wat nié soos die res van die geloofsgemeenskap opgetree het nie. Ons lees van ‘n man en ‘n vrou wat nié diep bewus was van God se alwetendheid nie. Geliefdes, ons lees van Ananias en Saffira, wat gedink het hulle kan iets vir God wegsteek en dan met dit wegkom. Weereens was hulle nie verplig om al hulle eiendom en besittings vir die behoeftiges te gee nie. Die hoofrede waarom Ananias en Saffira met die dood gestraf word, is nié omdat hulle nie die hele opbrengs vir die kerk gee nie, maar omdat hulle vir die Here se dienaars gelieg het. Hulle het al die reg gehad om self te besluit wat om met die geld toe doen nadat hulle die stuk grond verkoop het. Niemand het dit van hulle verwag om van die geld vir die gemeente te gee nie, wat nog van die totale bedrag. Weens Ananias en Saffira se wanbegrip oor Wie die Here is – weens hulle skynheiligheid en ongeloof – dink hulle hulle kan iets vir die apostels én hulle God wegsteek.

Hierdie man en vrou dink hulle kan iets vir die alsiende God wegsteek, want hulle ken Hom nie werklik nie. Hulle het waarskynlik onlangs tot geloof gekom en beskik oor ‘n oppervlakkige geloof. Daarom dink hulle dat geld vir die Here belangrik is. Daarom dink hulle dat Hy nie van hulle slinkse planne weet nie. Hulle dink hulle kan gelowiges met hulle mooi woorde beïndruk, maar hulle besef nie dat Gód hulle intensie en harte raaksien nie.

Geliefdes, ons kan dalk nog iets vir mense wegsteek – maar ons kan nóóit iets vir die Here wegsteek nie. God-Drie-Enig weet van álles. Soms openbaar Hy dan ook hierdie verborge intensies van mense aan sy geliefde kinders. Daarom kon Petrus vir Ananias met die waarheid konfronteer en vir hom in ons fokusvers sê: “Waarom het Satan jou hart vervul sodat jy vir die Heilige Gees gelieg het en vir jouself van die geld vir die grond teruggehou het?” Dit is dus duidelik dat Ananias nie net vir die gelowiges oor die eiendom se prys lieg nie, maar óók vir die Here sélf. Hy pleeg sonde teen die Heilige Gees deur die almag van die Heilige Gees te onderskat. Hy pleeg sonde teen die Heilige Gees deur hierdie front voor te hou dat hy baie gelowig en godsdienstig is, maar al die tyd het hy en sy vrou ‘n verskuilde agenda. Hulle albei laat hulle eerder deur die Satan lei in plaas daarvan dat hulle deur die Heilige Gees gelei word. Hulle verwerp die ware geloof en kies aktief om ongelowig op te tree. Wanneer iemand sonde teen die Heilige Gees pleeg, dan beteken dit dat hulle aktief die Waarheid van die Woord en die Almag van God verwerp. Presies dit wat Ananias en Saffira gedoen het. Hulle het gewéét wat die regte ding is om te doen, maar hulle doen net mooi die teenoorgestelde. Daarom kan Petrus reguit vir Ananias sê: “Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” Die oomblik toe hy hierdie waarheid hoor, val hy in mekaar en sterf. Presies dieselfde gebeur maar ‘n paar ure later met Saffira.

Omdat hulle aktief dit gekies het om die Here se genade te verwerp, moet hulle sélf vir hulle sonde betaal. En soos ons weet is die betaling vir alle sonde die ewige dood. Ongelowiges het nie, soos ons, die voorreg dat Jesus Christus, namens hulle, vir die sonde betaal nie. Ongelowiges moet sélf die verskriklike oordeel van God dra. Ons lees twee keer dat die mense wat die skielike dood van Ananias en Saffira aanskou het, ‘n vrees vir die Here gekry het. Die mense wat dit gesien het, was diep bewus van die Here se werking. Hulle besef: Hy bestaan werklik – al kan ‘n mens Hom nie sien nie. Hy doen sekere dinge want Hy sien alles raak. Hy kyk dieper as ons mense, en Hy eis ‘n heilige lewe én ‘n heilige gesindheid. 

Geliefdes, het ons – soos ons hier sit – ontsag vir die Here? Besef ons dat Hy álles van ons weet? Dat Hy ons deur en deur ken – óók ons diepste geheime? As ons geseënd genoeg is om dit te besef en daarvolgens lewe, dan sal ons ons al meer deur die Heilige Gees laat lei sodat ons in alle eerlikheid optree. Ware gelowiges sal nooit teen die Heilige Gees wil sonde doen nie. Ware gelowiges sal altyd erken en bely dat die Heilige Gees God sélf is en eerder hulself deur sy wysheid laat lei.

Slot

Verlede week by die Nagmaal en hierdie week tydens Nabetragting kom ons diep onder die indruk dat ons ‘n geesvervulde lewe behoort te lei. Dit beteken o.a. dat ek altyd sal onthou dat ek meer ingestel op die geestelike moet wees eerder as op die fisiese. Dit beteken dat ek sal onthou dat die grootste geskenk wat ek vir iemand kan gee, is om hom/haar aan die Hére voor te stel. Om geesvervuld te lewe, beteken om meer bewus van die Heilige Gees in my lewe te wees. Om deur sy wysheid te besef Wie die Here is, en dat Hy alwetend is.

Hy ken my hart. Hy wéét wat my intensie is wanneer ek iets in sy Naam doen. Daarom – omdat ek sy almag besef en sy wil respekteer – leef ek in lyn met dit waartoe God se Woord en die Heilige Gees my lei.

Amen.