Jeremia 17: 5 – 13

Skrifgedeelte: Jeremia 17: 5 – 13

Fokusvers: Jeremia 17: 5 en 7

Heidelbergse Kategismus Sondag 50

Tema: God is al Een wat ons kan versorg. Omdat ons daarin twyfel, leer Hy ons daarvoor bid. 

Inleiding

Op wie vertrou jy vir jou basiese behoeftes? Op wie maak jy staat vir fisiese versorging? As ons hierdie vrae vir ‘n paar kinders sou vra, sal hulle waarskynlik in alle onskuld sê dat hulle op hul ouers vertrou. Kinders – verál babas en kleuters – maak ten volle op hulle ouers staat vir versorging en beskerming. Daar is min dinge so mooi soos die eenvoud van ‘n kind se geloof in God en hulle volkome vertroue in hulle ouers.

Maar soos ons weet is dit nie vir éwig so eenvoudig nie. Sodra ‘n mens met die gebrokenheid van die wêreld te doen kry, dan sien ‘n mens die ánder kant van die lewe. Sodra ‘n mens met mense te doen het wat jou nié onvoorwaardelik liefhet nie, dan begin die ontnugtering.

God is al een Wie ons kan versorg

Ongelukkig word gelowiges nie van teleurstellings gespaar nie. Al is ons ook hoé goeie mense – al kén ons die Here – beleef elkeen van ons soms moeilike dae. Jesus sê op ‘n keer vir sy dissipels: “Dit sê Ek vir julle sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Joh. 16: 33). Ons elkeen weet hoe dit voel om deur mense teleurgestel te word. Ons elkeen weet hoe seer dit is wanneer jy iemand vertrou het, en dan word daardie vertroue verbreek. Juis daarom leer die Here ons vanoggend in wie ons ons vertroue moet stel. Vanuit die Woord en die Belydenis sien ons dat dit slegs Gód is wat ons régtig kan versorg. God praat deur sy profeet, Jeremia, en verduidelik die groot verskil tussen iemand wat op mense vertrou en iemand wat op die Here staatmaak. ‘n Mens wat op ánder mense vir bystand en hulp vertrou, word vervloek genoem, want só ‘n persoon verkies sterflike mense eerder as die Almagtige God (vers 5). Hy/sy word met ‘n droë bossie/stuik in die woestyn vergelyk wat nooit water kry nie – ‘n nuttelose plant wat alleen daar staan waar niks en niemand woon nie.

Maar dié mense wat op die Here vertrou word met ‘n boom vergelyk. Hierdie boom groei by water en stoot sy wortels diep in die grond in sodat dit altyd groen blare kan dra en altyd vrugte het. Deur hierdie beeld sien ons dus hoeveel beter af iemand is wat op die Almagtige vir versorging vertrou teenoor hy wat op mense vertrou.

As ons verder lees, dan is dit duidelik dat die natuurlike mens se hart bedrieglik en vol boosheid is. Die Here ondersoek álle harte en álle mense se ingesteldheid om te bepaal op wie ons staatmaak (vers 10). Kinders van God sal op die Hére vertrou – deur die genade gee die Heilige Gees nuwe harte aan hulle. Maar wanneer jy van die Here se goedheid en troue sorg vergeet – wanneer jy Hom in sy almag verwerp – dan tree jy op soos ‘n voël wat op die eiers van ‘n ander broei (vers 11). Dit is hoe iemand optree wat op ‘n listige, oneerlike, manier ryk wil word. Hy/sy sal die optrede van ‘n dier kry, en nie omgee wie se lewens verwoes word in die proses nie.

Maar, soos Jeremia 17 vir ons duidelik sê, is God bewus van alles wat ons, mense, hier op aarde doen. Hy regeer op sy magtige troon daar in die hemel. Hy wéét wie Hom verwerp en verlaat (vers 13). Hy wéét van hulle wat in sy troue sorg begin twyfel en op hulle eie vermoë en suksesse begin staatmaak. Hy wéét van hulle wat dink: “Ek het nie die Here in my lewe nodig nie.” “Ek ken die regte mense – ek is suksesvol genoeg om op my eie reg te kom.”   

Omdat ons daarin twyfel, leer Hy ons daarvoor bid

Geliefdes, omdat ons baie keer dink ons moet vir onsself sorg, omdat ons baie keer in die Here se Vaderliefde twyfel, leer Hy ons om aktief daarvoor te bid. Ons behandel vandag die vierde bede van die “Onse Vader-gebed”, nl. “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Waar die eerste drie bedes van hierdie volmaakte gebed op God se Naam, sy koninkryk en sy wil gefokus het, fokus hierdie bede op die méns en sý behoefte. “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Wat beteken dit as ons hierdie bede bid? Hoekom leer Jesus juis hierdie bede vir sy dissipels? Hoe moet ons dit verstaan?

Die eerste ding wat belangrik van hierdie bede is, is dat ons dit nie moet sien asof ons vir God ‘n opdrag gee nie. ‘n Ware gelowige sal altyd met die regte gesindheid bid – altyd met nederigheid en ‘n besef dat God se wil altyd bó ‘n mens se wil is. Daarom kan ons by al die bedes in die Onse Vader-gebed, “as dit U wil is” byvoeg. Verder moet ons goed verstaan dat hierdie bede wél op fisiese versorging dui. Wanneer ons dit bid, dan vra ons letterlik vir die Here dat Hý ons sal versorg met dit wat ons nodig het om te lewe.

Verder is die verklaring van hierdie bede volgens Heidelbergse Kategismus Sondag 50 ook vir ons belangrik (Kyk agter in jou Psalmboek en lees dit gerus). Geliefdes, wanneer ons hierdie bede bid, dan erken ons dat God die Vader ons met álles versorg wat ons liggame nodig het. Soos ons in Jeremia 17 gelees het, is dit uiters belangrik dat ‘n gelowige besef dat dit God-Drie-Enig is wat vir hom/haar sorg en niemand anders nie. Dit is uiters belangrik dat ons ons vertroue slégs in God stel, en nie in onsself of in iemand naby aan ons nie. God is die Gewer van alle dinge – Hy gee vir ons méér as wat ons nodig het, selfs al voel dit soms vir ons asof ons meer verdien. Alles wat die Here vir ons gee, is genade, selfs iets so eenvoudig en alledaags soos brood. Hy sorg vir almal van ons – of ons skatryk is of brandarm. Hierdie bede is nie net vir arm mense bedoel, wat letterlik brood van die Here vra nie, geliefdes. Dit is ‘n bede wat op alle gelowiges van toepassing is, want alles kom uit die Here se hand. Alles wat ons het, is ons s’n omdat die Hére dit vir ons gee. Van die mees basiese – soos die brood in jou kombuis, tot die mees kosbare, soos jou geloof in Jesus Christus.

Om te kan werk vir jou kos, is óók ‘n seën van die Here. Om die vermoë te hê om te kan werk sodat jy kan kos koop, kom óók van die Here af. Hy alleen stel jou in staat om iets te kan doen om geld te verdien sodat jy aan die lewe kan bly. Dit is dus nie óns wat kos op die tafel sit nie, maar God wat ons in staat stel om dit te doen. My vermoë om goed te wees in my beroep, is nie omdat ék, uit my eie uit, so begaafd is nie, maar omdat die Hére aan my die nodige gawes gee. In werklikheid is dit Gód wat vir ons sorg en nie óns wat vir onsself sorg nie. Dit is nie ék, as werkgewer, wat vir my mense sorg nie, maar dit is ons Vader wat, élke dag, vir ons álmal sorg.

Daarom leer Christus ons ook bid vir ons dááglikse brood. Hy leer ons bid vir dit wat ons op daardie spesifieke dag nodig het – môre bid ons weer vir dit wat ons dán nodig het. Sodoende bly ons besef dat ons élke dag van die Here afhanklik is. Ons leer om in gesprek met God te blý deur gebed. Om slegs te vra vir dit wat ons dáárdie dag nodig het, leer ons om die Here te vertrou vir die tóékoms. Al kan ons nie sien wat môre of volgende jaar gaan gebeur nie, kan ons seker weet dat die Here ook dán vir ons sal sorg. Sodra ons dit besef, dan sal ons rustig raak en met die geloof van Mattheus 6 kan leef: “Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie, en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is, en môre verbrand word, só versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? Julle moet dus nie julle bekommer en vra: ‘wat moet ons eet, of wat moet ons drink, of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader wéét tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer hulle allereers vir die Koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook ál hierdie dinge gee.” 

Daarom, omdat ons na God kyk as ons Volkome Versorger, kan ons almal opreg bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Dit beteken dat ons tevrede sal wees met dit wat God uit sy Vaderliefde vir ons gee. Geliefdes, ons moet goed verstaan dat ons nét vir dit moet vra wat nodig is om God opreg te dien en eer. Gelowiges wat verwag om deur die Here bederf te word, verstaan sy genade verkeerd. Ek herhaal – ons verdien niks nie, geliefdes! Ons is geregtig op niks! Alles wat die Here vir ons gee, gee Hy vir ons omdat Hy ons liefhet, en nie omdat óns so wonderlik is nie. Soos elkeen van ons weet gee die Here baie meer as net die brood waarvoor ons nederig vra. En daarom behoort ons tevrede en vergenoegd te wees met dit waarmee die Here ons so ryklik seën (vgl. 1 Tim. 6: 6-10). 

Die óngelowige sal nooit tevrede met sy deel wees nie. Die ongelowige soek méér as brood. Hy/sy soek meer as net die dag se porsie, want die sonde van onvergenoegdheid is deel van hom/haar. Omdat hulle nie op Gód staatmaak en Hóm vertrou nie, wil hulle alle oorvloed hê wat die wêreld vir hulle kan bied. In hulle selfsugtigheid wil hulle hierdie wêreldse oorvloed dan ook slegs vir hulself hou. Hulle sal altyd op feilbare mense en instansies staatmaak en altyd teleurgestel word – ‘n bose kringloop wat nooit sal ophou nie.

Maar ons, as gelowiges beséf dat ons nie ons vertroue in mense en in die wêreld kan stel nie. Deur die geloof en die wysheid wat die Heilige Gees aan ons gee, beséf ons dat dit Gód is wat vir ons sorg en ons elke dag onderhou. Ons sien sy hand in ons lewens raak. Ons ervaar jaar in en jaar uit sy Vaderliefde – óók in die manier hoe Hy fisies vir ons sorg.

Maar, soos ons weet, sal ons nie van brood alleen lewe nie, maar van elke Woord wat uit die Here se mond kom (Matt. 4: 4). Ook hierin voorsien ons Vader vollédig vir ons. Hy stuur sy Enigste Seun, Jesus Christus, sodat Hy hier tussen ons kom woon. Jesus Christus gehoorsaam God se wil volkóme in ons plek en is bereid om vir ons sondes te betaal. Hy is die wáre Brood van die Lewe, en belowe dat elkeen wat na Hom toe kom, nooit weer honger sal kry nie (Joh. 6: 35). Wanneer ons in Jesus Christus se volkome verlossing gló – wanneer ons sonder twyfel daaraan vashou dat Hy die dood oorwin het – dan sal ons nooit weer geestelik honger kry nie. Wanneer ons gereeld en gelowig onsself voed met die Brood van die Lewe, dan ontvang ons ook die ewige lewe. Só sien ons maar net wéér raak hoe God-Drie-Enig ons wérklik na liggaam én siel voed en versterk – niemand anders kan ons só versorg nie.

Slot

Mag elkeen van ons, daarom, slegs die Hére vertrou – vir ál ons behoeftes. Mag ons sélfs meer vertroue in die Here hê, as wat ‘n kleuter in sy ma en pa het. Mag ons besef dat mense ons áltyd sal teleurstel, maar dat die Here ons nooit kan teleurstel nie.

Omdat Hy ons innig liefhet leer Hy ons om alleen op Hóm te vertrou. Deur die werking van die Heilige Gees beséf ons dat God werklik al Een is op Wie ons kán staatmaak. Hou daarom aan om élke dag vir dáárdie dag se versorging te bid. Amen.