Handelinge 5: 12 – 42

Skrifgedeelte: Handelinge 5: 12 – 42

Fokusgedeelte: Handelinge 5: 38 en 39

Tema: As iets van God af kom, sal geen mens dit kan keer nie. Is jy bereid om Hom daarvoor te vertrou?

Inleiding

Dit lyk vir ons asof min dinge die apostels régtig pla. Nét in die vorige hoofstuk het ons  Ananias en Saffira se skielike sterfte gehoor – hulle het morsdood neergeval toe hulle, deur die apostels se woorde, hulle sonde besef het. En nou gaan die apostels bloot aan met dit wat hulle doen. Hulle bly die Evangelie verkondig – hulle bly siekes gesond maak – hulle bly dinge in die Naam van die Here doen ongeag van die moontlikheid van negatiewe dinge wat dit tot gevolg kan hê. Hoe kry die apostels dit reg? Wat dryf hulle om te doen wat hulle doen? Waar kry hulle die waagmoed om so, op die man af, te werk te gaan?

As iets van God af kom, sal geen mens dit kan keer nie

Geliefdes, dit is duidelik dat hierdie uitgestuurdes van Christus nie omgegee het om hulself bloot te stel nie. Hulle is al vantevore vir hulle uitlatings gedreig. Die Joodse Raad wou hulle al van tevore met alle mag stil maak, en nou gebeur dit wéér. Hierdie keer word hulle egter nie net gedreig nie, hulle word ook gevang en in die tronk toegesluit. Want die Jode meen hierdie apostels veroorsaak te veel skade met dít wat hulle vir die skare leer. Die Jode voel bedreig oor die impak wat hierdie paar navolgers van Christus onder hulle mense gemaak het. Al is die Christene min in getal, maak dít wat hulle verkondig ‘n groot indruk op die mense – ons lees dit in vers 13 en 14.

Hierdie groot aantrekkingskrag tot die Christelike geloof het die Jode baie onsekerheid gegee. Is hulle geloof dan nou nie meer goed genoeg nie? Dit was dan van alle eeue af dié geloof? Hulle aanbid dan die Ware God? Hoe is dit dat daar nou skielik soveel mense wat Christene word? Daarom het die Jode jaloers geword op hierdie groep apostels. In vers 17 sien ons hoe hulle in afguns besluit het om die apostels in die tronk te stop – want iemand moet hierdie reuse golf keer! Iemand moet die impak, wat die navolgers van Christus maak, op ‘n manier verminder!

En só word daar besluit om die apostels in die tronk te gooi – want bloot om hulle te praat, bloot om hulle te dreig – het geen effek nie (Hand. 4: 21). Maar dan gebeur daar iets bomenslik dáár in die tronk – ‘n engel van die Here verskyn in die nag aan die apostels. Hierdie engel sluit die tronkdeure vir die apostels oop en lei hulle uit die tronk uit! Tydens Bybelstudie behandel ons die doel en eienskappe van engele – en hier sien ons nóg ‘n eienskap van hulle, geliefdes. Hulle sorg óók dat die Woordverkondiging ongehinderd kan voortgaan! God stuur hierdie engel van Hom om iets prakties te gaan doen sodat die Goeie Nuus weer die volgende dag gehoor kan word. Maar hierdie engel het ook – soos meeste ander – ‘n boodskap van die Here: “Gaan staan in die tempel en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.” Deur sy boodskapper troos en bemoedig die Vader sy kinders sodat hulle nie moed opgee nie. Vol ywer het die apostels die Here se opdrag aan hulle gehoorsaam: Vroeg die volgende oggend was die apostels rééds daar by die tempel – besig om die mense van die nuwe lewe in Christus te leer.

Hoe moedeloos moes die Joodse Raad nie daardie oggend gewees het toe hulle hoor dat die apostels nie meer in die selle was nie? Die tronk was dan behoorlik toegesluit, die bewaarders was óp hulle pos, maar die apostels het stééds ontsnap. Dit was dus nie omdat die gevangenis-personeel nalatig was nie – hier is iets ánders aan die gebeur! Dit voel vir die Joodse Raad asof hulle besig is om teen die see se branders getref word. Nét sodra hulle dink hulle maak vordering, kom nóg ‘n brander en slaan hulle om! Hulle probeer álles in hulle vermoë om hierdie paar mense te keer, maar niks wil werk nie.

Geliefdes, ons wéét waarom dit die geval is. Hulle probeer teen Iemand ingaan, teen wie hulle geen kans staan nie. Hulle probeer Iemand stuit wat álle mag en gesag in die hemel en op aarde het. Die Joodse hoëpriester en al sy ondersteuners probeer die Almagtige God se Boodskap van Verlossing stilmaak, maar hulle kan géén verskil maak nie.

Om teen die Here se heilige wil in te gaan, is een van die grootste foute wat ‘n mens kan maak, geliefdes. Want God is hoog bó alle dinge verhewe. Hy vernietig alle mense wie teen Hom opstaan (Eks. 15: 7). As mense kwaad teen God beplan, as hulle bose planne teen die Here beraam, dan sal hulle niks uitrig nie, want wanneer God sy boog na hulle toe mik, dan vlug hulle (Ps. 20: 12 en 13). Die gelowige besef: “Laat ons God met dankbaarheid dien, met eerbied en ontsag, soos Hý dit wil, want ons God is ‘n verterende vuur” (Hebr. 12: 24 en 25). Anders as die ongelowiges bely ons saam met Paulus: “God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy, as straf, ook laat ly; en aan julle lyding en ons s’n sal Hy ‘n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele in ‘n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nié vir God ken nie en dié wat die Evangelie van ons Here Jesus nié gehoorsaam nie. Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbare mag” (2 Tess. 1: 6-9).

Geliefdes, ons sien dus duidelik raak dat nietige mens géén kans teen die Almagtige God staan nie. Wanneer Hy op iets besluit het, kan niemand daaraan verander nie. Wanneer Hy iets laat gebeur, kan niemand dit keer nie. Dít het Gamaliël, waarvan ons gelees het, góéd besef. Gamaliël was een van die belangrikste Leermeesters van die Fariseërs in daardie tyd. Hy het ook verskeie dissipels gehad wat hom nagevolg het. Voor Paulus tot bekering gekom het, was hý ook ‘n getroue navolger van Gamaliël en van sy interpretasie van die Wet (Hand. 22: 3).

Toe die Joodse Raad met alle mag die apostels van Jesus Christus wou doodmaak, was dit egter Gamaliël wat hulle ánders oortuig het. Al was hy ‘n Jood wat óók waarskynlik Jesus Christus as die ware Verlosser verwerp het – al het hy óók waarskynlik nie geglo dat Christus uit die dood opgestaan het en nou ewig leef nie – erken hy God die Váder se almag. Hy sê vir hierdie woedende Jode dat hulle versigtig moet wees in hulle optrede. Gamaliël gee vir hulle die raad dat hulle rustig moet wag op die resultate van die apostels se werk. Hy gee twee voorbeelde van mense wat opslae onder die volk gemaak het, maar daar het niks daarvan gekom nie. Hulle getalle was min – kort voor lank was die leier dood en die volgelinge verstrooi – wie weet – dalk is dit ook só met hierdie paar apostels van Jesus Christus. Hulle Leier is dan reeds daar aan die kruis dood, dit is dalk net ‘n kwessie van tyd voordat die apostels ook sal moed opgee en ophou met dit wat hulle verkondig. Gamaliël gee hulle dan die raad van ons fokusgedeelte en sê dat hulle hierdie apostels maar eerder moet laat gaan, want as dít wat hulle verkondig, mensewerk is, sal daar elkgeval niks daarvan kom nie. En as dit van Gód af kom, dan sal niemand hulle kan keer nie.

Geliefdes, soos ons weet, het die apostels se Boodskap nié kort daarna verdwyn nie. Hulle is nié soos die ander voorbeelde van mekaar verstrooi nie, want dít waarvan hulle getuig het, was nie hulle eie woorde nie, maar God se woorde! Die groep gelowiges het nié gekrimp nie, maar gegroei tot ‘n Algemene Christelike Kérk met verskeie gemeentes. Die Boodskap van die Kruis en die Christus se oorwinning oor die dood is oor die eeue aanhou verkondig – ons verkondig dit selfs vandág nog! Die Evangelie het oor verskeie kontinente versprei en verskeie kultuurgroepe bereik!

Waarom is dit só? Hoe is dit moontlik? Want die Here se Woord kan nie ingeperk word nie, geliefdes! God-Drie-Enig maak Homself aan mense bekend, en niemand kan Hom keer nie! Wanneer die Vader besluit om Homself aan sy geliefde kinders te openbaar, dan sal geen mens Hom kan stop nie. Wanneer Christus sy lyding en opstanding aan iemand bekendmaak, dan sal géén wêreldmag Hom kan stuit nie. Wanneer die Heilige Gees ‘n nuwe ywer in ons harte laat brand, dan sal geen instansie of regering ons kan keer nie – selfs al is hulle ook hóé magtig. Want die Here se Woord is soos ‘n veldbrand – aangevuur deur die sterkste wind denkbaar – dit is soos ‘n woedende see wat deur niks en niemand gekeer kan word nie.

Is jy bereid om Hom daarvoor te vertrou?

Die vraag wat elkeen van ons vanoggend moet antwoord is: “Glo ons dit wérklik?” “Vertrou ons die Here se almag genoeg om voort te gaan met die opdrag wat Hy vir elke gelowige gee?” Deur die Here se boodskapper beveel Hy die apostels om die “volle Boodskap van die Nuwe Lewe” te gaan verkondig. Die apostels het dit as ‘n eer beskou, en dádelik dit gaan doen. Al is hulle vir hierdie Boodskap deur die Jode geoordeel, al is hulle daarvoor gevang en in die tronk gegooi, al is hulle geslaan en verbied om weer in die Naam van Christus iets te doen, blý die apostels getrou aan die roeping waarmee God hulle geroep het.

Hulle het ánders na hulle lyding en vernedering ter wille van die Evangelie gekyk. Hulle het dit beskou as ‘n vóórreg om ter wille van die Naam van hulle Leier en Verlosser te ly. Waarom? Want hulle sien dit as ‘n éér om deur dieselfde lyding en verwerping as Jesus Christus te gaan. Hulle beséf dat hulle werklik in álles deel waarin Christus deel. Deur die werking van die Heilige Gees bind Hy gelowiges op só ‘n manier aan Christus vas, dat ons selfs deel het aan die lyding wat Hy moes deurmaak. Ons beskou dit as ‘n voorreg wanneer ons hierdie lyding ter wille van Hom ervaar, want dit verséker ons dat ons ook in die héérlikheid van Christus sal deel. Die lyding wat ons nóú ter wille van sy Naam moet verduur weeg hoegenaamd nie op teen die heerlikheid wat in die toekoms vir ons sal aanbreek nie (Rom. 8: 18).

Slot

Geliefdes, dít is wat aan die apostels die waagmoed en die ywer gegee het om die Evangelie te blý verkondig, ongeag van dit wat rondom hulle gebeur. Want hulle Leier is nié dood soos baie ander voor en ná hulle nie. Hy het uit die dood uit opgestaan en Hy lewe steeds! Hy regeer oor sy kerk deur sy Woord en Gees! En daarom spat die Here se kerk nie uitmekaar, en verstrooi hulle sonder enige impak nie. Opregte lidmate sal áltyd saamstáán en saam strý teen die mag van die Bose. Hulle onwrikbare geloof in Jesus Christus drýf hulle om op die volle Boodskap van tydelike dood en ewige lewe te verkondig. Niks en niemand kan hierdie boodskap keer nie! Omdat die Almagtige God aan die werk is – omdat dit sý Boodskap is – kan geen méns die verspreiding daarvan stuit nie.

Het jy al die onuitblusbare krag van die Evangelie beleef? Glo en vertrou jy die Here wanneer Hy jou verseker dat Hy mét jou sal wees daar waar jy Hom aan ander bekendmaak? Maak jy op sy almag staat wanneer jy weet dat iets Hy iets van jou verwag wat menslik onmoontlik is? Leef jy ook met die geloof wat sê: “As dit van Gód af kom, dan sal wérklik niks en niemand dit kan keer nie?” Amen.