Handelinge 6: 1 – 15; 7: 51 – 60

Skrifgedeelte: Handelinge 6: 1 – 15; 7: 51 – 60

Fokusverse: Handelinge 6: 3 en Handelinge 7: 55

Tema: Die Vader rus ons ten volle met die Heilige Gees toe sodat ons Jesus Christus kan raaksien en uitwys

Inleiding

Die Nuwe-Testamentiese kerk is besig om met ‘n geweldige spoed te groei. Die eerste gemeente is besig om uit haar nate te bars! Mense van oral oor word lidmate van hierdie gemeente. Jode, heidene, geleerdes, ongeskooldes, bekendes, onbekendes – almal stroom oor na hierdie gemeente wat waarskynlik maar ‘n paar weke oud is. Die meeste mense wil kom hoor wat die apostels oor Jesus Christus vertel. Baie wil kom luister na die besonderse en unieke Boodskap van Hom wat die dood oorwin het. Want die Heilige Gees is oor die Here se kerk uitgestort. Alle mense reageer op hierdie groot wonder van God – baie is wantrouig en voel bedreig met wat hier aan die gebeur is – maar die meeste is gelowig en wil graag deel van hierdie nuwe lewe wees (Hand. 5: 20). 

Die Vader rus ons met die Heilige Gees toe

Dit is omdat die Heilige Gees maar ónlangs in hulle harte kom woon het. Hy woon nie net in hulle nie, Hy verander hulle totaal en al.Dit is die Heilige Gees wat ‘n mens se uitkyk op die lewe verander, en veroorsaak dat jy jou vertroue nie meer in jouself of in ander mense stel nie, maar in God alléén. Die Heilige Gees skenk ook geloof aan ons, sodat ons nou nie meer in enige iets ánders as in Gód glo nie. Dit is die Heilige Gees wat ons oortuig dat ons kinders van God is – Hý bring ons tot die besef dat ons God as ons Enigste Versorger en Beskermer moet erken. Dit is die Heilige Gees wat ons lei dat ons tot die besef kom dat die Vader ons innig liefhet en dat Hy ons nooit sal verwerp nie. Dit is die Heilige Gees wat aan ons die waarde van Jesus Christus laat besef. Dit is Hý wat ons laat besef dat ons Iemand groter as onsself nodig het om ons uit ons ellende te verlos. Daarom oortuig Hy ons dat Jesus Christus ál Een is wat ons sondes kan wegneem. Dit is die Heilige Gees wat my leer dat Jesus Christus se kruisdood ook ‘n betaling vir mý sondes is en dat sý oorwinning oor die dood ook vir mý, persoonlik, die ewige lewe bewerk.

Geliefdes, dit is dus duidelik dat ons nie uit ons eie tot geloof kan kom nie – die Heilige Gees bring ons tot geloof. oortuig my dat ek húlp nodig het om uit die diep modderige put, waarin ek is, te kom. breek my eiewilligheid af dat ek sal erken dat ek nie op my eie kan bestaan nie. oortuig my dat ek sonde in my lewe het en Hy bring my tot op die punt om my eie swakheid te erken. Geliefdes, dit is ook wat my heenwys na Jesus Christus – die Enigste Oplossing op die probleem wat ek het.  Ons sien dus raak dat dit nie ons – uit ons eie vermoë – is wat God as ons Verlosser aanneem nie, maar die Heilige Gees wat my daarvan oortuig. Ek gee nie – uit eie krag – my hart vir die Here nie. Die Here het al, vóór my geboorte, my hart besit. Wanneer ek wérklik besef Wie Hy is, en dat ek Hom bróódnodig het, dan is dit omdat die Heilige Gees dit aan my duidelik maak. En, soos ons al telkens gehoor het, is die Heilige Gees maar nie net ‘n krag van God nie – Hy is God sélf. Hy is ‘n Persoon in die Drie-Eenheid nét so belangrik soos die Vader en die Seun. Hy het sy éie roeping en doel in die Drie-Eenheid wat uniek aan Homself is.

Nét voor Jesus Christus se kruisdood en Hemelvaart belowe Hy dat Hy nie sy navolgers as weeskinders hier gaan agterlaat nie, maar dat Hy vir hulle ‘n ánder Voorspraak gaan stuur. Een wat éwig by en in hulle te woon. Wanneer die Heilige Gees dan Jesus Christus se plek kom vul, dan moet ons dit as minderwaardig sien nie. Ons hoef nie te wens dat ons in die tyd geleef het toe Jesus op aarde was nie, want om die Heilige Gees tussen ons te hê, is nét so goed, geliefdes. Ook Hý is Immanuel – God met ons.

Die apostels het die oorgang beleef, geliefdes. Hulle het geleef toe Jesus Christus hier op aarde was, maar óók toe die Heilige Gees oor die kerk uitgestort is. Die apostels werk dus met ‘n besondere passie:- hulle onthou alles wat Jesus Christus vir hulle geleer het:- hulle wil sy woorde met alle mense deel. Én die Heilige Gees dryf hulle óók noudat Hy in hulle harte uitgestort is. Dit is nie net hulle herinnering aan Jesus Christus waarvan die apostels getuig nie, maar óók van die almag van die Heilige Gees. Die Heilige Gees dryf hierdie manne om die volle Evangelie sonder enige terughoudendheid te verkondig! ‘n Voltydse werk, wat baie tyd en studie, bepeinsing, gebed en inspanning verg. Sinvolle, getroue, Woordverkondiging is nie iets wat ‘n mens kan afskeep nie, geliefdes. Dit kan nie gesien word as maar nóg een van die predikant se vele “pos omskrywings” nie. Dit is dié belángrikste aspek van die bediening.

Daar, onder die lidmate van die eerste gemeente, was daar ook húllle wat, heel gemaksugtig, van die kantlyn af die apostels gekritiseer het omdat hulle nie genoeg in die gemeente doen nie. Dit is nie goed genoeg dat die apostels vir die hele gemeente bid, hulle toerus en hulle met die suiwerste interpretasie van die Woord bedien nie – “want wat van die arme weduwees wat eensaam is?” Gelukkig laat die apostels hulle nie deur die snedige opmerkings van oningeligte mense onderkry nie, en sê vir mekaar dat hulle hulp moet inroep. As hulle álles doen wat die mense van hulle verwag, dan gaan hulle iewers iets afskeep. Hulle hoof-roeping is om vir die gemeente te bid en aan hulle die Evangelie te verkondig, en nie om die behoeftige lidmate te versorg nie (Hand. 6: 4). Daarom beveel die apostels dat daar ‘n paar gelowiges uit die gemeente gekies moet word wat hierdie spesifieke taak kan verrig. Die eienskappe waarna hulle opsoek is, is mense wat van goeie, eerbare, getuienis is, mense wat vol van die Heilige Gees is, en oor besonderse wysheid beskik.

En dan hoor ons die name van húlle wat gekies is om ander te bedien – die diakens, soos ons hulle vandag noem – maar Stefanus word uitgesonder. In Handelinge 6: 5 hoor ons dat hy gelowig en vol van die Heilige Gees was. Later in die hoofstuk, en ook in Handelinge 7, hoor ons wéér dat Stefanus met die Heilige Gees vervul was. Dit is ‘n refrein wat vier keer in hierdie gedeelte herhaal word (Hand. 6: 3, 5, 10; 7: 55). Telkens word daar genoem met hoeveel wysheid hy te werk gegaan het – die mees geleerde mense van alle kultuurgroepe het gekom om met Stefanus te geredeneer, maar nie een van hulle was teen hom opgewasse nie. Geliefdes, soos ons weet praat Lukas nie hier van Stefanus se eie vermoëns en talente nie, maar van dít waarmee die Heilige Gees Stefanus toegerus het.

Om Christus te kan raaksien en van sy heerlikheid te getuig

Dit is alleen die Heilige Gees vir Stefanus die genade gegee het om nie nét die behoeftige lidmate te bedien nie, maar óók die Woord van God met vrymoedigheid te verkondig. Dit is alleen die Heilige Gees wat aan hom die krag gegee het om sy roeping getrou uit te oefen (Hand. 6: 8). Wat aan hom die wysheid gegee het om tydens sy kort bedieningstydperk sy woorde reg te kies (Hand. 6: 10). Dit is die Heilige Gees wat sy gesig soos dié van ‘n engel laat skyn het (Hand. 6: 15). Dit is die Gees wat hom toerus om nie nét die sensitiewe, dienende eienskappe van ‘n diaken te hê nie, maar eintlik óók die werk van die apóstels te doen.

Want dit is presies wat Stefanus doen in die gedeelte wat ons níé vanoggend saam gelees het nie: Hy verkondig die Woord van God aan die Joodse Raad. Hy gee ‘n uiteensetting van die héle Ou-Testament vir hierdie hoogste hof van die Jode. En dan wýs hy die Jode daarop dat hulle – soos hulle voorouers – dié vervolg en doodgemaak wat Jesus Christus se koms na die wêreld toe verkondig het. Al die Ou-Testamentiese profete is vervolg omdat hulle die waagmoed gehad het om die Waarheid te verkondig. Hulle is ongewild omdat die wêreld nié Christus as Koning en Heerser wil erken nie, en nooit onder sy gesag wil buig nie. Omdat die Joodse Raad aangespreek voel deur Stefanus se woorde, begin hulle woede teen hom opvlam. Ook hý word ongewild onder die Jode, want Stefanus wys vir hierdie einste Jode dat hulle Christus verwerp en doodgemaak het. Omdat hulle nie wou erken dat Hy die Almagtige is nie, hou hulle áán om vir Christus te beledig en te verneder. In hulle ongeloof hou die wêreld áán om Hom af te maak as Iemand wat geen impak in die samelewing het nie. En hulle rus nie tótdat hulle Hom aan die kruis sien hang, en séker maak Hy is dood nie (Joh. 19: 34).

Maar gelowiges beséf dat die bose se skynbare oorwinning oor Christus van baie korte duur is. Die sonde het nie Hóm wat sondeloos is, met die dood oorwin nie, maar Hý oorwin die sonde én die dood. Na drie dae in die graf staan Jesus Christus uit die dood uit op. Veertig dae later vaar Hy na die hemel toe op – iets waarvan Stefanus ‘n getuie is, geliefdes. Want wat sê hy daar in ons laaste fokusvers? “Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.” Geliefdes, al is hierdie Jode só woedend kwaad vir Stefanus dat hulle hom wil doodmaak, bly Stefanus kalm want die Heilige Gees beheer sy hele lewe! Stefanus fokus nie op húlle wat van woede op hulle tande kners nie, maar op Hóm wat langs sy Vader staan.

Ja, vir die énigste keer in die Bybel hoor ons dat Jesus Christus aan die Regterkant van die Vader stáán – al die ander kere sit Hy, as Regter, op die troon. Maar hierdie keer stáán Hy. Waarom is dit so? Geliefdes, Jesus Christus stáán daar in die hemel, want Hy tree op as Stefanus se Advokaat. Al word Stefanus deur ‘n wêreldse hof, sonder enige verteenwoordiger, veroordeel, tree Jesus Christus in die hémel vir hom in. Omdat hy met die Heilige Gees vervul is, beséf Stefanus dat die uitspraak van die ‘n wêreldse hof nie dít is wat saak maak nie, maar die uitspraak van God-Drie-Enig. Daarom ervaar Stefanus kalmte en rustigheid te midde van soveel woede en haat, want Hy beséf dat Christus vir hom intree by Hom Wie die mag het om ‘n mens tot die éwige dood toe, te veroordeel.

Dit is nét die Gees wat hierdie hemelse visioen aan Stefanus kan bekendmaak. Dit is net die Heilige Gees wat aan Stefanus kan wys hoe Christus daar staan en vir hom intree. Dit is óók net die Heilige Gees wat aan Stefanus en ál die apostels gedryf het om van Christus se oorwinning oor die dood te getuig. Al is Stefanus óp die punt om gestnéig te word, getuig hy van die heerlikheid wat hy in die hemel sien. “Al wil julle my stenig omdat die waarheid van my woorde julle seermaak, sê ek nogtans vir julle: ‘Kyk, ek sien Jesus Christus aan die Regterhand van God staan!’” “Dit is Hý vir Wie julle ontsag moet hê, want dit is Hý Wie ons álmal eendag gaan oordeel.”“Glo in Hom en in sy almag, vertrou Hom in sy liefde!” “Erken Hom as jou Enigste Verlosser, voordat dit dalk te laat is.”

Slot

Geliefdes, die Vader rus ons ten volle met die Heilige Gees toe, sodat ons óók Jesus Christus kan raaksien. Met elke preek wat ons hoor, met elke Bybelstudie, elke keer as ons sélf die Bybel lees, dan word ons toegerus om raak te sien hoe God-Drie-Enig werk. Deur die genade sien ons Hom, daagliks raak, maar getuig ons van dit wat ons in die geloof raaksien? Ons kán met vrymoedigheid van Christus se verlossing gaan getuig, sélfs al ontvang ons teenkanting. Want ook vir óns word daar in die hemel ingetree. Jesus Christus spreek ook óns vry, op grond van dít wat Hý namens óns gedoen het.

Gaan getuig daarom, met álle vrymoedigheid, van Hom! Die Heilige Gees sal ook jóú vervul en aan jou die régte woorde daarvoor gee. Amen.