Skrifgedeelte: Handelinge 8: 1 – 25
Fokusverse: Handelinge 8: 4, 20 en 21
Tema: Wanneer die Evangelie verkondig word, is die Heilige Gees aan die werk – ‘n Gawe wat ‘n mens nie kan koop nie.
Inleiding
Soos ons in die vorige preek uit Handelinge gehoor het, is die diaken, Stefanus, gestenig. Omdat hy die waagmoed gehad het om die waarheid van die Evangelie aan die Jode verkondig het, het hulle hom vervolg en doodgemaak. Die Jode voel direk aangespreek deur die woorde van Stefanus. Omdat dit die Heilige Gees is wat in en deur Stefanus werk, omdat dit eintlik Hy is wat hierdie Jode op hulle foute wys, is Stefanus bereid om vir sy geloof te sterf.
Die verkondiging van die Evangelie
Hierdie vervolging en moord op Stefanus is maar die begin van ‘n reuse golf van wrede vervolging. Die moord van hierdie een diaken was maar die begin van verskeie gruwelike moorde van ‘n groot deel van die Christelike kerk. Ons lees dat daar ‘n hewige vervolging teenoor hierdie gemeente ontstaan het. Die lidmate van die eerste gemeente het die keuse gehad om vir hulle geloof te veg óf te vlug. Soos goeie gelowiges, kom hulle nie teen hulle vervolgers in opstand nie, geliefdes. Rebellie is áltyd ‘n gelowige se heel laaste uitweg. Die Heilige Gees gee aan hierdie jong gelowiges die insig om te besef dat hulle nie met geweld moet terugveg nie. Met sy wysheid vlúg hulle eerder wég van hierdie wrede mense-moordenaars.
Daarom lees ons aan die begin van hoofstuk 8 dat al die gelowiges uitmekaar gejaag is – almal is verstrooi. Hulle woon nou nie nét meer in Jerusalem nie, maar vlug na ánder gebiede toe. Die kerk van die Here breek op en verstrooi oor die hele Judea en Samaria. En sodoende word die opdrag van Jesus Christus, aan die begin van Handelinge, gehoorsaam. Die Messias belowe sy dissipels in die vorm van ‘n opdrag: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea én in Samaria, en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand. 1: 8).
Nou is die Gees rééds uitgestort, maar die apostels het nóg nie uit Jerusalem uit vertrek nie. Die Evangelie kan egter nie nét aan daardie stad se inwoners verkondig word nie. Die Goeie Nuus kan nie net dáár bly nie, geliefdes. En daarom sorg die Here dat sy Woord vérder versprei. Hy gebruik dan die aggressie en vervolging om gelowiges aan te spoor om sy opdrag te gehoorsaam. Omdat hierdie lidmate nie uit hulle éie aan sy Sending-opdrag gehoorsaam was nie, dwing Hy hulle om te doen wat Hy van sy kinders verwag. Op hierdie manier versprei die Goeie Nuus van Christus se Verlossing aan die kruis en sy Opstanding uit die dood.
Al word die Nuwe Testamentiese kerk vir hulle geloof verstrooi, is die uitmekaargaan van gelowiges nie iets negatief nie – nie híérdie keer nie. Want wat het die gelowiges gedoen? Het hulle weggevlug en hulself gaan isoleer? Het hulle soos kluisenaars geleef, sonder enige impak in die samelewing? Nee, geliefdes! Kyk weer mooi wat ons in ons eerste fokusvers lees: “Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so vêr as wat hulle gegaan het, die Evangelie verkondig.”
Hoe wonderlik is dit nie? Hierdie gelowiges het nie toegelaat dat hulle omstandighede hulle moed breek nie. Hulle het nie aanhou dink aan hoe slég dit met hulle gaan, en hoeveel familie en vriende hulle moontlik verloor het nie. Nee, hulle het op die positiewe gefokus en in die Hoop van die Evangelie gegló. Hulle was vas oortuig dat die Evangelie van Jesus Christus ál troos is wat hulle in hierdie lewe het. Hierdie eerste lidmate van die kerk het verder ‘n baie hoë agting en respek vir die Boodskap van die Kruis – Dít is die rede waarom hulle dit met ál die ander mense rondom hulle wil deel. Omdat die Boodskap van Jesus Christus se lewe op aarde, sy betaling vir die sonde, en sy oorwinning oor die dood vir hierdie mense waar en seker is, – omdat hulle sonder twyfel daaraan váshou en in die Here se beloftes gló, het hulle moed en ywer – selfs al ervaar hulle vervolging en angs.
Hierdie eerste bekeerdes is dankbaar en vol vreugde, want hulle beséf dat hulle totaal en al verlóre sou wees sonder geloof in Jesus Christus. Hulle beséf dat hulle nou – te danke aan Hóm – vergewing van sondes ontvang en die ewige lewe. Daarom is hierdie gelowiges nie bang vir mense wat nét die liggaam kan doodmaak maar die siel nie kan doodmaak nie. Deur die werking van die Heilige Gees, vrees hierdie mense eerder die Hére wat die mag het om die liggaam én die siel in die hel te laat vergaan (Matt 10: 28). Ja, geliefdes, hierdie lidmate besef dat ‘n mens se aardse lewe net týdelik is, en dat ‘n mens moet fokus op die éwige lewe in Jesus Christus.
Die Gawe wat ‘n mens nie kan koop nie
Dit is met hierdie boodskap wat Filippus, waarvan ons gelees het, na ‘n nuwe gebied toe gegaan het. Filippus was en van die sewe diakens wat in die vorige hoofstuk gekies is. Hy was een van die eerste gelowiges wat die Evangelie formeel buite Jerusalem verkondig het. Die mense van daardie stad het dadelik gesien dat Filippus se Boodskap iets besonders is. Toe hulle die wonders sien wat hy doen, en gehoor het wat hy sê, het hulle dadelik respek vir hom gekry. Hulle blydskap was groot oor die wonderlike werk wat hy daar in Samaria gedoen het. Dit was nie nodig dat Filippus die inwoners moes oortuig het dat hy hulle met die waarheid bedien nie – hulle kon dit sommer duidelik raaksien.
Maar geliefdes, ons lees óók in hierdie gedeelte van ‘n ánder man – een wat waarskynlik al lánk in die stad, Samaria, gewoon het. Ons lees in vers 9 tot 11 van Simon, die towenaar, wat die mense van Samaria oor ‘n lang tydperk met sy toorkunste verstom het. Ons hoor dat hy daarop aanspraak gemaak het dat hy iemand besonders is. Ánders as die diaken, Filippus, moes hy, oor ‘n lang tyd, mense oorreed en oortuig dat hulle na hom moet luister. Geliefdes, hier sien ons maar net wéér die groot verskil tussen die Heilige Gees se werking en die Bose geeste se werking raak. Wanneer die waarheid van die Evangelie deur die Gees verkondig word, is geen kunsmatige oorreding nodig nie. Want toe Filippus begin het om die Evangelie van die Koninkryk van Christus te verkondig, het baie mense gelowig geword en verskeie mense is in die Naam van Jesus Christus gedoop. Dit is eers later, toe die apostels ook in Samaria aangekom het, dat die mense ook in die Naam van die Heilige Gees gedoop is.
In die vers nét voor ons tweede fokusgedeelte, lees ons dat die towenaar, Simon, gesien het hoe die mense die gawe van Heilige Gees ontvang het. Wanneer die apostels hulle hande op hierdie mense gelê het, het hulle die gawe van die Gees ontvang. Ons lees dan ook dat Simon die apostels geld aangebied het om dieselfde as hulle te doen. Natuurlik het hy gedink aan hoe die mense hom sou bewónder as hy, saam met sy toorkuns, ook hierdie groot wonder kon doen. Vir hom is hierdie gawe die toppunt van die mistieke wêreld. Die apostels besef egter dat Simon selfsugtig is en hierdie gawe nét vir eie gewin wil gebruik. Hierdie towenaar dink dat hy énige iets met geld kan aankoop – sélfs die gawe van die Heilige Gees.
Maar, soos ons weet, is dit egter nie hoe die gawe van die Heilige Gees werk nie, geliefdes. Die Heilige Gees word uit God se liefde aan sy uitverkore kinders gegee. Wanneer ons die Heilige Gees ontvang, dan is dit genade geliefdes. Ons almal ken die bekende Efesiërs 2: 8 wat sê: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.”
Omdat dit ‘n gawe is – ‘n groot voorreg is – wat alleen van die Here af kom, spreek die apostels vir Simon aan. Petrus antwoord hom en sê dat sy gesindheid teenoor God nie reg is nie, en dat hy homself van hierdie dwaling moet bekeer. Hy beveel hom aan om tot die Here te bid – miskien sal die Here Simon se selfsugtige sonde vergewe. Of die apostels namens Simon voorbidding vir hierdie verdraaide siening van hom gedoen het, weet ons nie. Daar word net gesê dat hulle die Evangelie bly verkondig het – waar hulle ook al gegaan het.
Wat beteken hierdie gedeelte vir ons, vandag? Wat ons vanoggend in hierdie gedeelte leer, is dat dit ‘n reuse voorreg is indien ons die Heilige Gees in ons lewens ervaar. Om geloof in God-Drie-Enig te hê is nie iets waaroor almal beskik nie. Om met die Heilige Gees vervul te word, is ‘n gawe – ‘n geskenk – wat alleen van God af kom. Uit ons eie sal ons nooit ons afhanklikheid van die Here besef nie. Sónder die Here in ons lewens sal áltyd op ons eie menslikheid en vermoë staatmaak. As ons nié die gawe van geloof van die Heilige Gees af kry nie, sal ons nie al ons vertroue in die Here stel nie. As ons nie die gawe van geloof ontvang nie, dan sal ons nie besef watter groot waarde Jesus Christus vir ons is nie. As dit nie vir die Heilige Gees was nie, sou ons nooit besef het dat ons van ons sondes vrygespreek word omdat Jesus Christus rééds daarvoor betaal het nie. Ons sou nie gegló het dat Hy die dood oorwin het en na die hemel toe opgevaar het nie.
Dit is egter alleen te danke aan die gawe van die Heilige Gees dat ons dit nou wél glo, geliefdes. Te danke aan Hom wat kragtiger in ons werk as wat ons kan bid óf dink, besef ons nou dat dit die Heilige Gees is wat van ons “kinders van God” maak (vgl. Ef. 3: 20). Ons besef dat ons deur die Here uitverkies is tot die ewige lewe en dat ons ‘n ryke erfenis het wat ons eendag ten vólle gaan ontvang. Dit alles weet ons omdat ons die gawe van geloof ontvang het – gratis!
Verder maak hierdie gedeelte dit duidelik dat ‘n mens nie dít wat die Here vir ‘n mens gee, op énige ander manier kan verkry nie. Geloof is iets wat die Here slegs aan sekere mense skenk. Dit kan nie met geld gekoop word nie. Selfs nie die grootste bedrag denkbaar, is genoeg om die gawe van geloof te koop nie. Ons kan ook nie ánder geestelike gawes – soos die bevoegdheid om iemand in die Naam van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees te doop – koop nie. Dit is iets wat óók van die Here af kom, Hy gee dit nét vir diegene wat Hy vir hierdie besondere diens geroep het.
Laastens leer hierdie gedeelte vir ons dat die Here soms moeilike omstandighede oor ons pad bring, sodat óns kan groei en sodat sý koninkryk uitgebrei kan word. Die lidmate van die vroeë kerk sou nooit Christus se Sending-opdrag voltooi het, as hulle omstandighede hulle nie daartoe geforseer het nie. Hoeveel keer is ons nie ook maar té gemaklik met waar ons tans in die lewe is nie? Selfs al wil ons nie altyd dít doen wat die Here van ons vra nie, sal Hy altyd iets laat gebeur sodat sý wil geskied.
Slot
Geliefdes, kom ons gehoorsaam daarom die opdrag wat die Here vir elkeen van ons gee, en verkondig sy Ryke Evangelie – orals waar ons gaan. Kom ons besef ons verantwoordelikheid en ons roeping om bloot te vertel hoe goed die Here vir elkeen van ons is. En kom ons besef vandag weer, opnuut, dat geloof ‘n gáwe is wat die Heilige Gees vir ‘n mens gee. Dit kan nie op énige manier gekoop word nie. Dit kan óók nie net in ons harte bly nie. Ons moet tydig en ontydig áánhou om hierdie wonderlike gawe prákties uit te leef. Amen.