Skriflesing: Handelinge 8: 26 – 40
Fokusverse: Handelinge 8: 32 en 33 se laaste sin.
Tema: Die Paaslam is geslag – Sy lewe is beëindig; of is dit?
Inleiding
Die diaken, Filippus, is steeds besig om die Evangelie buite Jerusalem te verkondig. Ons moet onthou dat hy die eerste gelowige was wat amptelik die Goeie Nuus buite hierdie “Heilige Stad” bekendgemaak het. Nie net het hy vir groot skares mense van die Here vertel nie – hy het óók ‘n persoonlike aanslag gehad. Om oor die algemeen die Evangelie, vir ‘n onbekende groep mense, te verkondig vra toewyding, maar om een-tot-een met iemand oor God te praat, verg besóndere inspanning.
Die Paaslam is geslag
In die gedeelte wat ons sopas saam gelees het, sien ons dat Filippus ‘n persoonlike gesprek met ‘n vreemde man aanknoop. Hierdie gesprek het nie “toevallig” plaasgevind nie. Die Etiopiër het nie maar nét oor Filippus se pad gekom nie. Nee, geliefdes, hierdie gesprek is duidelik deur Gód bepaal. Buitendien bely ons, op grond van die inhoud van die Skrif, dat niks per toeval gebeur nie, maar dat álles uit God se Vaderhand kom (Heidelbergse Kategismus Sondag 10). Hierdie gesprek, tussen Filippus en die hofdienaar, is nie net deur God bepáál nie, geliefdes, maar deur God bevéél.
Waarom sê ons só? Want rééds in die eerste vers van hierdie gedeelte sien ons hoe God aan die werk is. ‘n Engel verskyn aan Filippus met ‘n Boodskap van die Hére af: “Maak jou klaar en gaan teen ‘n spesifieke tyd na ‘n spesifieke pad toe.” Sien jy die noukeurigheid van God se opdrag aan Filippus raak? Die feit dat daar ‘n éngel aan Filippus verskyn het, maak die Here se betrokkenheid rééds aan ons duidelik, maar die feit dat Filippus aan hierdie opdrag gehoorsaam was, bevéstig die werk van die Here.
Op hierdie stil pad, waarheen Filippus gegaan het, was daar ‘n ontmande Etiopiër, besig om die Ou-Testament te lees. Daar is ‘n paar belangrike sake waarvan ons moet kennis neem oor hierdie Etiopiër. Hy was ontman, want hy het nou saam met die koningin in haar tempel gewerk. Hy was waarskynlik ook ‘n geleerde man, want hy was in beheer van die koningin van Etiopië se geldsake. Hy was ook ‘n toegewyde gelowige, want hy het ál die pad van sy land – daar in die Suide – gereis om in Jerusalem te aanbid. Die laaste belangrike feit oor hierdie man is dat hy nie uit ‘n Joodse agtergrond kom nie. Sy familie is waarskynlik nie, soos die Jode in Jerusalem, al vir geslagte lank gelowiges nie – hy het waarskynlik eers láter in sy lewe die Here ontmoet.
Hierdie agtergrond is vir ons belangrik, waar ons, as lesers, nou met hierdie Etiopiër kennis maak. Terwyl hy terug van Jerusalem op pad is, is hy besig om uit die boek van Jesaja te lees. In daardie tyd het mense hardop gelees, of moontlik het iemand die Skrifgedeelte aan die Etiopiër voorgelees. Al is hy ‘n geleerde man, is dit duidelik dat hierdie hofdienaar nie verstaan wat hy lees nie, geliefdes. Soos ons verlede week gehoor het, is geloof ‘n gawe van God. Dit kom alleen van die Heilige Gees af. Al is iemand hóé intelligent;- as hy/sy nié die gawe van die Heilige Gees het nie, dan sal die Skrif se bedoeling nie vir só ‘n persoon duidelik wees nie. Wanneer ons die geheimenisse van die Skrif ontdek, dan is dit alleen omdat die Heilige Gees dit aan ons bekendmaak.
Hierdie Skrif-waarheid kom baie duidelik na vore hier in Handelinge 8. Soos ons reeds gesien het, is God aan die werk by hierdie ontmoeting tussen Filippus en die Etiopiër. Nie nét deur een van sy engele nie, maar óók deur sy Gees. Dit is die Heilige Gees wat later aan Filippus die opdrag gegee het om saam met die wa te loop om ‘n gesprek met die Etiopiër te begin. Dit was natuurlik ook die Heilige Gees wat aan Filippus die insig en wysheid gegee het om die Skrifgedeelte aan die Etiopiër te verklaar en te verduidelik. Want hierdie hofdienaar is intelligent genoeg om sy nietigheid teenoor God se Woord te erken. Hy erken teenoor die diaken, Filippus: “Hoe sou ek kon verstaan wat ek lees, as niemand dit vir my uitlê nie?”Daarna voorsien die Heilige Gees dat die Etiopiër vir Filippus uitnooi om saam met hom op die wa te klim met die doel daarmee om die Evangelie aan hom te verkondig.
Die Skrifgedeelte wat hulle bespreek het, was Jesaja 53. Omdat die boek, Jesaja, ‘n profetiese boek is, het hierdie gedeelte ‘n baie dieper betekenis as wat ‘n mens net so bólangs lees. Wanneer ons, as gelowiges, na hierdie gedeelte kyk, dan kan ons nie anders as om die dieper betekenis raak te sien nie. Jesaja 53 een van die sogenaamde “Kneg-liedere” in Jesaja (vgl. ook Jes. 42: 1 – 7; 49: 1 – 9; 50: 4 – 11 en 52: 13 – 53: 13). Die Kneg waarvan ons hier lees, verwys wél na Kores wat die volk uit Babel uitlei, maar dit verwys óók na Iemand anders. Vir ons, as Christene, is die Kneg waarvan ons in Jesaja 53 lees, óók ‘n heenwysing na Jesus Christus.
Daar word net ‘n gedeelte van Jesaja 53 in Handelinge 8 aangehaal, maar Filippus het waarskynlik die héle hoofstuk aan die Etiopiër verduidelik. Hierdie profesie in Jesaja handel grotendeels oor die bittere lyding van Jesus Christus. Dit is iets waaraan baie van óns ook hierdie naweek gedink het. Jesus Christus was die volmaakte Voorbeeld van vernedering – dít besef Filippus en die Etiopiër nou ná sy kruisdood: “Hy het geen skoonheid of prag gehad dat ons na Hóm sou kyk nie”, sê Jesaja vooruit. Daarom het die ongelowige skare daar op Golgota die snedige opmerking gemaak: “Ander het Hy gered. Laat Hy Homself red as Hy die Christus is. Hulle het Hom bespot en uitgelag: ‘As jy die Koning van die Jode is, red jouself!’” (vgl. Luk. 24: 35 en 36). “Hy was verag en deur mense verstoot”, lees ons in Jesaja 53: 2 en 3. Hy was Iemand vir wie mense hulle gesig weggedraai het. Hy was verag, in hulle onkundigheid en ongeloof, het ongelowige mense Hom nie met respek hanteer nie. “‘n Man wat pyn en lyding geken het”, profeteer Jesaja oor ons Here, Jesus Christus.
Daardie Vrydag aan die kruis is Hy mishandel, maar Hy het geduldig gebly (vers 7). Ons fokusvers sê dat Hy soos ‘n skaap is, wat gelei word om geslag te word. Hy is soos ‘n lam is wat stil is voor sy skeerders. Al is Hy die Almagtige God, het Hy nie een oomblik aan die kruis gekla nie (vers 7). Al is Hy God se Eniggebore Seun – al is Hy God sélf – trotseer Hy die vernedering en die angs van die kruis.
Waarom? Omdat nie één van ons hierdie vernedering en lyding sou kon deurmaak nie, geliefdes. Jesaja sê dat ons almal – álle gelowiges oor álle eeue – soos skape gedwaal het. Ons elkeen het ons éie pad geloop – wég van ons Herder af. Maar die Here het ons nét so innig lief dat Hy vir ons ‘n Lam gestuur wat – anders as ons – luister na sy stem. Jesus Christus word uitgekies en aangestel om te kom doen wat niémand van ons kon regkry nie. In sy groot liefde vir ons word Hy nie net Mens sodat Hy ons kan verstaan nie. Hy bind ons óók aan Hom vas deur die band van geloof. Hy maak ons een met Hom! En daarom kon Hy óns lyding op Hom geneem het (vers 4). Daarom kon Hy ons siektes gedra het. Daarom is Hý met spykers deurboor, al is dit óns wat die sonde gedoen het (vers 5). Oor ál ons sondes is Hý verbrysel. Deur sý wonde is daar vir óns genesing gebring (vers 5). Hy betaal vir al óns sondes aan die kruis. Die wáre Paaslam is daardie Vrydagmiddag vir ál jou en my sondes geslag.
Christus se lewe is beëindig; of is dit?
Dit bring ons by die tweede gedeelte waarop ons vandag fokus:- Jesaja se woorde: “Sy lewe op aarde word beëindig.” Sy lewe op áárde – ja, want Hy het fisies gesterf. Maar die dood het Hom nie oorwin nie, geliefdes! Ons Here, Jesus Christus, léwe steeds – nou nie meer op aarde nie, maar saam met sy Vader in die hémel. Daardie Sondag-oggend het Maria Magdalena by Jesus se graf aangekom en gesien dat die graf oop is! Jesus Christus het uit die dood uit opgestaan! Ons herdenk, in die besonder, vanoggend weer sy opstanding uit die dood, op hierdie Opstanding-Sondag!
Dít is wat ons Nuwe-Testamentiese Paasfees uniek maak, geliefdes. Ons vier nie maar nét die feit dat daar vir ons sondes betaal is nie. Ons vier nie maar nét die dood van die Paaslam nie. Ons vier óók die Léwe van die Lam van God!
Ons besing sy almag! Hy het die laaste vyand, namens ons, vernietig! Die dood het geen houvas op Hom nie! Ons verheerlik Jesus Christus, wat aan soveel mense bewys het dat Hy weer léwe, deur fisies aan hulle te verskyn. Ons bring alle lof en aanbidding aan Hóm, wat na die hemel toe opgevaar het en nóú nog oor alles en almal heers. Ons verheerlik Hóm, wat ook aan óns, wie in Hom glo, die ewige lewe beloof. Ons besing die wonder van sy Opstanding, want die Heilige Gees oortuig ons dat ons geliefdes se lewe op aarde dalk beëindig is, maar dat hulle wél, saam met Hom, vir éwig leef.
Dit is híérdie wonderlike Evangelie wat Filippus aan die Etiopiër daardie dag in die wa verduidelik het. Die ontmoeting tussen hierdie twee mans het nie maar toevallig plaasgevind nie, geliefdes. Deur die Here se Voorsienigheid het Hy dit só beskik dat Filippus die Evangelie daardie dag aan die Koningin van Etiopië se beampte verkondig het. Want sodoende word die Sending-opdrag van Jesus Christus gehoorsaam, geliefdes. Nou is die Goeie Nuus van Christus se kruisdood en opstanding nie nét meer in Jerusalem – of selfs Samaria nie – dit begin versprei na die “uithoeke van die aarde”.
Slot
Geliefdes, wat maak ons híérdie jaar met die Boodskap van Paasfees? Deel ons dit nét met die mense wat ná aan ons is? Of is ons bereid om die vólle boodskap óók aan ander mense te vertel? Selfs aan “vreemde” en “onbekende” mense?
Mag ons vanoggend besef dat nie één van ons gelowiges sou gewees het, indien die Evangelie nét aan een groep mense verkondig is nie. Mag ons dankbaarheid dáárvoor ons dryf om aan ons roeping gehoorsaam te blý.
Daar is nog baie mense wat nie hierdie naweek op dieselfde manier as ons deurbring nie. Daar is nog baie wat nie die Evangelie verstaan nie, geliefdes. Mag die Here óns woorde en óns optrede gebruik om Homself aan húlle bekend te maak. En mag ons fyn luister na die roepstem van die Gees. Mag ons onsself klaarmaak en met ywer gaan wanneer Hy ons na iemand toe stuur. Dieselfde Gees wat ons roep, sal ook deur ons aan die Woord kom. Daarvan kan ons séker wees. Amen.