Skrifgedeelte: Handelinge 9: 1 – 27
Fokusverse: Handelinge 9: 5, 10 en 15
Tema: Wat is jou reaksie wanneer God beloof om die onmoontlike moontlik te maak?
Inleiding
Ons het tot dusver nou al ‘n paar keer van Saulus in die boek, Handelinge, gehoor. Lukas maak sy lesers stadig maar seker gewoond aan hierdie kontroversiële man. Alles wat ons tot dusver van Saulus af weet, is négatief. As jongman, het nie net toegekyk hoe hulle die diaken, Stefanus stenig nie – hy het die moord ook goedgekeur. Later lees ons dat hy alles in sy vermoë probeer het om die Nuwe-Testamentiese kerk uit te roei. Hy het mans en vrouens in uit hulle huise laat sleep en in die tronk laat gooi. En in vanoggend se gedeelte lees ons dat hy “soos ‘n besetene” die volgelinge van Christus met die dood gedreig het. Saulus – of dan Paulus, soos hy beter bekend is – het réúse skade aan die eerste gemeentes van die Nuwe-Testamentiese kerk gedoen.
Die reaksie van Paulus
Ons, as Christelike lesers van die boek, Handelinge, het reeds vir Saulus opgesom as ‘n wrede mensemoordenaar – iemand wat onregverdig en bloeddorstig is. Ons het alreeds dít gedoen waarin ons “goed” is, geliefdes:- Ons het rééds vir Paulus veroordeel. Vanuit ons selfgemaakte en self-verklaarde regterstoelle is ons vinnig om te sê dat daar geen hoop vir iemand soos hý is nie. Verál nie Paulus nie – want volgens óns verwysingsraamwerk, is hy seker een van die mees radikale vervolgers van die Christelike Kerk.
Maar dan lees ons in hierdie hoofstuk van Paulus se bekering. Ons dink by onnself: “Hoe is so iets móóntlik?” “Hoe is dit móóntlik dat iemand wat só téén iets was, nou skielik vír dit is?” Ons dink dat ‘n totale omkeer in iemand se gedrag onmoontlik is, want ons vergeet só maklik waartoe die Here in staat is. Omdat óns beperkte vermoëns het, dink ons dat God se mag óók beperk is. Omdat óns nie iemand soos Paulus se hart sou kon verander nie, dink ons dat die Here óók nie sal kan nie. Hoe ironies is dit nie, geliefdes? Ons ken al vir járe lank die Here – ons sien sy almag op élke bladsy in die Bybel raak – en stééds is ons baie keer wantrouig. Al bewys die Here só gereeld sy getrouheid aan ons, twyfel ons steeds só maklik daarin. Sodra dit moeilik met ons gaan, sodra daar ‘n uitdaging oor ons pad kom, dan vergeet ons baie keer van die Here en probeer sélf die dinge hanteer. Die Here se ingrypings in ons lewe bly ons nie altyd bý nie, en daarom is dit nodig dat ons soms moet leer om die Here opnuut te vertrou.
Vanoggend lees ons egter van iemand wat nié maar weer maklik die Here se ingryping in sy lewe vergeet het nie. Dit wat met Paulus daardie dag op pad na Damaskus toe gebeur het, was vir hom só aangrypend dat hy láter in sy lewe ‘n héle paar keer daaroor gepraat het (vgl. Hand. 22 en 26). Hy getuig nie net twee keer van sy bekering nie, geliefdes. Hy haal hierdie gebeure, op pad na Damaskus, vier keer in sy briewe aan (1 Kor. 15: 8 ev.; Gal. 1: 12-17; Fil. 3: 4-7 en 1 Tim. 1: 12-17). Voor sy bekering, het Paulus alles in plek gekry om die al die gelowiges wat in Christus se kruisdood en opstanding geglo het, dood te maak. Ons lees in vers 1 dat hy by die Joodse hoëpriester toestemming gekry het om al die Christene in Damaskus gevange te neem. Min het hy egter geweet wat op die pad na Damaskus gaan gebeur.
Paulus het homself voorberei om gelowiges omkant te vang daar in Damaskus, maar in tussen tyd word hý omkant gevang met dít wat hy ervaar. ‘n Baie helder Lig skyn ewe skielik bo-op en rondom Paulus. Hierdie Lig was só skerp, dat dit hom hééltemal verblind het. Hy is so oorweldig met dít wat hy sien, dat hy op die grond neergeval het. Nie net sien hy iets geweldig daar buite Damaskus nie, hy hoor ook iets. Paulus hoor daardie dag die stem van Jesus Christus en hy sien die heerlikheid van God! Soos ons al in vorige preke gehoor het, kan niemand God self sien en bly leef nie (Eks. 33: 20). In die Bybel sien gelowiges altyd slégs die Here se heerlikheid raak, maar dit is genoeg. Die heerlikheid van die Here is só geweldig dat geen mens dit kan sien, en nié daarop reageer nie. Paulus reageer op die heerlikheid van die Here deur soos ‘n dooie op die grond te val, en op die stem van die Here, reageer Paulus in totale onkunde: “Wie is U, Here?” Dit is duidelik dat Paulus nie geweet het wie met hom praat nie, geliefdes. Paulus is, op hierdie stadium, ‘n navolger van die Joodse geloof. Om deur Jesus Christus aangespreek te word, is dus nie deel van sy verwysingsraamwerk nie. Soos die ander Jode glo hy dat die Messias nog, iewers in die toekoms, gebore sal word. En daarom weet Paulus nie Wie met hom praat nie. Al ken hy die Ou-Testamentiese Wette en Geskrifte, ken Hy nie die stém van die Here nie.
“Ek is Jesus, dit is Mý wat jy vervolg.” Geliefdes, hierdie woorde het só ‘n groot impak op Paulus gemaak dat hy vir drie dae niks geëet of gedrink het nie. Die Heilige Gees het van daardie dag af, stadig maar seker in Paulus begin werk. Terwyl hy geen sig gehad het nie, en homself van kos en water weerhou het, het hy sy optrede begin bevraagteken. Waarskynlik het Jesus se woorde oor-en-oor in sy kop gemaal: “Ek is die Verlosser, dit is Mý wat jy vervolg.” Met die kragtige werking van die Heilige Gees beséf Paulus dat hy nie net mense vervolg en vermoor het nie, maar Jesus Christus sélf. Ons Here sê immers vir sy navolgers dat Hy en die uitverkore gelowiges só nou aan mekaar verbind is, dat indien hulle vir iemand kos gegee het om te eet, of iemand gehuisves het, of aan iemand klere gegee het, dan is dit nét so goed hulle het dit aan Jesus Christus sélf gedoen het (Matt. 25: 31 – 46). Hy sê vir hulle: “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan Mý gedoen” (Matt. 25: 40). Daarom is dit moontlik vir Jesus om hierdie aangrypende woorde, van ons eerste fokusvers, vir Paulus te sê.
Die reaksie van Ananias
In ons tweede fokusvers lees ons wat Ananias se reaksie op die woorde van die Here was. Jesus Christus het nie in sy volle heerlikheid aan Ananias verskyn, soos Hy aan Paulus verskyn het nie. Die Here het bloot in ‘n gesig of in ‘n visioen met Ananias gepraat, want Ananias het rééds die Here geken. Dit is ook baie duidelik in Ananias se antwoord wanneer God sy naam roep: “Hier is ek, Here,” is Ananias se antwoord. Hy het nie vir één oomblik getwyfel Wie hom roep nie – anders as Paulus, het hy het die stem van die Here dádelik herken.
Die Here vra van hom om na Reguitstraat toe te gaan, dáár sal hy vir Paulus ontmoet. Die Here gee aan Ananias die gerusstelling dat Paulus wéét dat hy op pad is. Paulus verwág hierdie dissipel van die Here, maar hoe reageer Ananias op hierdie opdrag van God? Hy probeer hierdie moeilike roeping ontduik deur vir die Here te verduidelik presies wie Paulus is en waartoe hy in staat is, so ál asof die alwetende God nié weet nie. Ananias het by verskeie mense gehoor hoe wreed Paulus die mense in Jerusalem vervolg en dat hy nou na Damáskus toe op pad is om al die gelowiges van hierdie stad gevange te neem. Boonop het hy die goedkeuring en die ondersteuning van die Joodse Priesters om dit te doen.
Ananias het egter nie geweet dat die Here rééds sy wonderlike heerlikheid aan Paulus getoon het nie. Ananias het nié geweet van die Here spesifiek vir Paulus gekies het om die Evangelie aan soveel mense te verkondig nie. Dit is buite Ananias se verwysingsraamwerk dat Paulus, van alle mense, deur die Here tot bekering kan kom.
Hoe ironies is dit nie, geliefdes? Die man wat nié Jesus Christus se stem herken het nie, kom dádelik tot bekering. Die impak van die Here se almagtige stem bring hom hééltemal tot stilstand. Maar hý wat die Here se stem wél geken het, twýfel in die Here se woorde.
Geliefdes, waarom twyfel ons, as gelowiges, so maklik in die Here, selfs al kén ons Hom? Want, soos Ananias, sien ons nét ten déle, terwyl God ten vólle sien, en oor álles beheer het. Hy sal nooit iets van ons verwag wat onredelik teenoor sy kinders is nie. Omdat ons beperkte vermoëns en verstande het, dink ons baie keer dat iets net eenvoudig onmoontlik is. In ons verwysingsraamwerk is dit bv. onmoontlik vir iemand, wat terminaal siek is, om gesond te word. Volgens óns is dit onmoontlik dat iemand se lewe en omstandighede handomkeer kan verander. Maar dit is nié vir God onmoontlik nie, geliefdes – en dít vergeet ons baie keer só gou.
Deur die werking van die Heilige Gees is Paulus totaal en al, van sy verdraaide siening oor God, bekeer. Die Here het sy lewe en optrede handomkeer verander, geliefdes! Noudat hy die gawe van die Heilige Gees ontvang het, verstaan hy vir die eerste keer Wie Jesus Christus is. Deur die leiding van die Heilige Gees besef hy dat die Messias nie nóg moet aarde toe kom nie, maar dat Hy rééds hier was! Want dit is Hý wat sy heerlikheid en almagtige stem aan Paulus bekendgemaak het! Dit is Hý wat aan die kruis betaal het vir ál die sonde wat gelowiges doen – sélfs vir Paulus se sonde van aktiewe moord op gelowiges. Dit is ook Hý wat op die derde dag uit die dood opgewek is. Dit is Hý wat die menslik-onmoontlike reggekry het, en uit die graf opgestaan het nadat Hy vir ons sondes gesterf het – Dit alles besef Paulus noudat hy deur die Here se genade totaal en al nuutgemaak is (vgl. 1 Kor. 15: 10).
Die mense na wie Paulus gegaan het om die Evangelie te verkondig, kon hulle oë nie glo nie: “Is dit nie die man wat die mense wat hierdie Naam aanroep, wou uitroei nie?” (Hand. 9: 21). “Dit is totaal en al ónmoontlik dat hý nou die Goeie Nuus versprei”, sou baie mense se reaksie wees. Maar ons kan die hand van die Here in Paulus se lewe en in sy bediening raaksien, geliefdes (vgl. o.a. vers 25). Later in die boek, Handelinge, sal ons sien hoe geseënd sy en Barnabas, waarvan ons gelees het, se Sendingreise was.
Paulus is dankbaar teenoor die Here en hy besef dat die Here vir hom ‘n tweede kans op die lewe gegee het. In Filippense 3 sien Paulus homself as ‘n voorbeeld van iemand wat handomkeer verander het deur die genade van God. Hy besef dat die Here hom, as instrument, gebruik om aan ánder mense te wys dat dit nooit te laat is om te verander nie. En dat geen sonde té groot is om deur die Here vergewe te word nie. Deur Paulus se radikale omkeer, besef ons dat God by magte is om enige iemand op só ‘n manier tot geloof te bring. Ons besef dat letterlik níks vir ons God onmoontlik is nie.
Slot
Vanoggend het ons gehoor wat twee mans se verskillende reaksie op die Here se roepstem was. Paulus was eers verhard, maar toe hy die Here se stem hoor, het hy dádelik aan die Here gehoorsaam geword – tot sy dóód toe. Ananias het die stem van die Here dadelik herken, maar het die opdrag wat die Here aan hom gegee het, probeer ontvlug. Al wéét hy wie die Here is, het hy in die almag en in die getrouheid van die Here getwyfel.
Noudat ons gehoor het hoe daar verskillend gereageer is, kan ons nie anders as om onsself te vra: “Hoe reageer ék op die stem van die Here” nie? Gló ek wérklik dat God almagtig is, en dat niks vir Hom onmoontlik is nie?
Geliefdes, mag elkeen van ons vanoggend weer opnúút besef dat daar níks is wat vir God-Drie-Enig onmoontlik is nie. Mag ons die Here vertrou wanneer Hy aan ons beloof dat Hy die ónmoontlike móóntlik sal maak – sélfs al sien ons nou nog nét ten dele. Amen.