Josua 24: 1 – 15

Skrifgedeelte: Josua 24: 1 – 15

Fokusverse: Josua 24: 14 en 15

Tema: God eis onverdeelde trou aan Hom; die besluit om Hom te dien, lê egter by die mens.

Inleiding

In Josua hoofstuk 24 is Josua aan die einde van sy lewe. Hy is besig om sy laaste woorde van wysheid aan die volk, Israel, te sê. Hy kén hierdie volk van die Here, want hy was vir jare lank hulle leier. Hy wéét waarmee hulle sukkel en hy wéét waarin hulle goed is. Josua ken ook hierdie volk se geskiedenis. Hy weet waar hulle vandaan kom en hy weet waarheen hulle op pad is. Josua het gedoen waarvoor hy geroep is. Hy het die betekenis van sy naam ten volle uitgeleef – hy het die Here se volk uit alle angs en benoudheid verlos.

God eis onverdeelde trou aan Hom

Maar, geliefdes, dit is nie ál wat Josua gedoen het nie. Net soos sy voorganger, Moses, het hy die volk telkens herinner wié die Here is en wát sy wil is. Net soos met Moses, het die Here verskeie kere met Josua gepraat en, deur hom, ‘n Boodskap aan die volk oorgedra.

Hier aan die einde van die boek, het die Here wéér ‘n Boodskap vir sy kinders. ‘n Baie eenvoudige maar uiters belangrike Boodskap. Hiervoor roep Josua al die leiers van die verskillende stamme bymekaar in Sigem. Sigem was ‘n baie ou aanbiddingsplek wat, deur die mense, as heilig beskou is. Daarom is dit nie vreemd dat dit juis by Sigem is waar die Here weer sy Verbond bevestig het nie. Ja, die Here bevestig weer sy Verbond met sy kinders deur weer hulle aan sy wonderlike beloftes te herinner. Maar God herinner ook sy kinders aan hulle verpligtinge rakende die verbond. Soos enige ooreenkoms moet albei partye húlle deel nakom.

By die Verbond tussen God en sy kinders, kom die inisiatief áltyd van God se kant af. Hý bepaal wanneer om ‘n Verbond met gelowiges aan te gaan, en Hý bepaal ook wat die Verbondseise en Verbondsbeloftes sal behels. Dit is ook Hý wat, in sy wysheid, weet wanneer om sy kinders op te skerp deur hulle weer te wys op die bepalings van die Verbond. En dit is presies wat die Here by monde van Josua doen, geliefdes. Josua het die volk van die Here nou voor die aangesig van die Here gestel. Dáár in Sigem is al die gelowiges nou in die heilige teenwoordigheid van God. In sy volmaaktheid praat die Almagtige nou met sy kinders. Hy gee vir sy volk ‘n kort oorsig oor wie presies hulle, as volk is, en waar hulle vandaan kom.

God begin by die een met wie Hy aanvanklik die Verbond gesluit het. Die Here herinner hulle aan hoeveel genade Hy aan Abraham en sy nageslag bewys het. Want al het Abraham se voorgeslag afgode gedien, maak God ‘n nuwe begin met Abraham. God belowe dat Hy, vir ewig, sy getrouheid, sorg en liefde aan Abraham en sy nageslag sal bewys, maar dan moet Abraham en sy mense aan die Here gehoorsaam wees. Dít is die belángrike van die Verbond, geliefdes: God eis van sy kinders om Hom, alléén, as God te aanbid. Hy wéét hoe maklik ‘n mens daartoe neig om ‘n afgod te aanbid. Hy wéét hoe gou ons ons vertroue op onsself of iemand anders stel. Hy wéét hoe maklik ons rondkyk, opsoek na iets ánders om aan te hang. En daarom is dit die één belangrike opdrag wat Hy vir ons in sy liefde gee.

Ons hoor hierdie selfde gedagte week na week wanneer ons die Tien Gebooie lees, geliefdes: “Ek die Here, jou God, eis onverdeelde trou aan My.” Wat beteken hierdie woorde? Dit beteken dat die Here sy verhouding met ons só heilig ag, dat Hy dit met niks en niemand anders wil deel nie. Die liefdesband tussen Skepper en gelowige is só besonders en intiem, dat geen afgod dit mag beïnvloed nie. Die verhouding tussen ‘n gelowige en God die Vader is so uniek en besonders dat Hy geen afgode voor sy aangesig kan verdra nie, geliefdes. En daarom leer ons ook die Here ken as die “jaloerse God” wat dit nie duld as ons ons vertroue in enige iets, behalwe in Hóm, stel nie.

Ons Verbondsgod verwag dus van ons om Hom alléén te vertrou met álles in die lewe. Sodra ons ons vertroue opdeel tussen God en énige iets anders, dan is daar gróót fout. Sodra ek óók op my eie vermoë, of my besigheid, of my boerdery, of my huweliksmaat staatmaak – en nie alleen op God nie, dan oortree ek die eerste gebod. Dan kom ek nie mý kant van die aanvanklike Verbond tussen God en álle gelowiges na nie. En daarom herinner die Here ons vandág weer in die besonder wat Hy van ons verwag. Ja, geliefdes, die Here herinner ons só gereeld daaraan dat ons alleen op Hóm moet staatmaak, want ons vergeet dit so maklik, nie waar nie? Wanneer ons egter die Here weer opnuut leer ken in sy Woord, dan kom ons weer agter watter gedrag vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Rom. 12: 2).

Wanneer ons God se Woord en sy wil respekteer, dan sal ons ook ‘n al sterker vertroue in Hom hê, geliefdes, want ons sal besef dat ons met ons volle gewig op Hom kan steun. Hy sal ons nooit teleurstel nie. Ons kan, met álle vrymoedigheid, álle goeie dinge van ons Verbondsgod verwag – na liggaam en siel. Alles wat ek het, my geld, my kos, my werk, my besittings kom alléén van die Here af. Deur die werking van die Heilige Gees besef ek óók dat dit Hý is wat aan my geloof, vertroue en alle geestelike gawes skenk. Hy rus my elke dag verder toe om my roeping, as gelowige, hier op aarde uit te leef.

Hy sal aan my die woorde gee wanneer iemand my vra om vir hulle te bid. Wanneer iemand só stukkend is dat hulle nie sélf kan bid nie, dan kom die Heilige Gees deur my aan die woord. Wanneer iemand op die punt is om alle moed te verloor na ‘n egskeiding, dan is dit die Heilige Gees wat aan my die woorde gee om daardie persoon te gaan troos. Wanneer ek sélf in die Here se genade oor my lewe twyfel – wanneer ek die leuen glo dat ek nie “goed genoeg” is nie – dan is dit die Heilige Gees wat my herinner aan die manier waarop God na my kyk. Daarvoor kan ons Hom ten vólle vertrou, geliefdes (vgl. Heidelbergse Kategismus Sondag 34).

Dít is wat die Here weer aan sy geliefde volk wil meedeel daardie dag by Sigem. Daarom gaan God-Drie-Enig verder en herinner hulle ook daaraan dat dit Hý is wat hulle uit die mag van die wrede Egiptenaars gered het en dat dit ook Hý was wat hulle vir veertig jaar in die woestyn versorg het. Dit wat Moses begin het, het Josua nou voltooi. Die volk van die Here hét die beloofde land gekry! Die Here wás getrou aan sy beloftes! En Hy sal áltyd getrou aan sy beloftes wees!   

Omdat God se volk die skynbaar onmoontlike reggekry het, was die ander volke bang vir hulle. Die volk, Israel, oorwin verskeie volke en neem verskeie stede in besit. Alle leiers en konings was bang vir die volk, Israel, want “hoe is dit moontlik dat hierdie volk soveel mag het?” Min het hulle geweet dat dit nie die mense is wat so sterk en braaf was nie, maar dat dit die Almagtige Verbondsgod is, wat hulle in staat stel om dit te doen. Dit is ook God-Drie-Enig wat van koning Balak se slinkse planne geweet het; nl. dat hy vir Bileam wou gebruik om die volk Israel te vervloek. Die Here is egter ten volle in beheer, en Hy stuur sy Engel om vir Bileam te keer nadat hy op reis is na Balak toe. Elke keer swaai Bileam se donkie vir die Engel van die Here uit, en elke keer is Bileam blind vir dít waarvoor die donkie uitswaai. Dit is eers nadat die Here Bileam se donkie laat praat, dat Bileam die Engel van die Here raaksien (Num. 22). Daarna het die Here dit so beskik dat Bileam eerder die volk van die Here geseën het in plaas daarvan om hulle te vervloek. Dit was niemand anders as die Heilige Verbondsgod wat sy kinders uit die mag van koning Balak gered het.

Die stad, Jerigo, word ook deur die Israeliete verower – haar mure val om nadat die ramshorings geblaas is – dit gee vir die kinders van God die geleentheid om in te hardloop en die stad in te neem. Geliefdes, dit álles is alleen moontlik omdat God dit moontlik maak, en nie omdat die volk, Israel, so besonders vaardig was nie. Dit is duidelik dat Gód aan die werk is – dat Hý alles in plek sit vir sy kinders om sekere dinge te bereik. Hy sê in vers 13: “Ek het vir julle ‘n land gegee wat julle nié bewerk het nie, stede wat julle nié gebou het nie, maar waar julle kon gaan woon; julle eet van wingerde en olyfboorde wat julle nié geplant het nie.” Die Here bewys soveel keer sy wonderlike genade vir hierdie mense. Hy bewys keer op keer hoe Hy sý kant van die Verbond nakom. Hoe Hy sekere dinge in sy liefde vir sy kinders gee, nog vóórdat Hy iets van hulle vra.

En hoe waar is dit nie, geliefdes, óók in óns lewens? Hoeveel genade ervaar ons nie ook vandág van die Here nie? Ons ontvang soveel wonderlike dinge uit die Here se hand – dinge waarvoor ons nie gewerk het nie – dinge wat ons nie verdien nie. Die hoogtepunt van hierdie onverdiende genade is ons verlossing – nie deur ‘n aardse leier uit die mag van wrede volke nie – maar deur Jesus Christus wat ons van alle sonde en selfs die ewige dóód verlos. Hý is die ware Jesua wat ons uit die angs van die ons lewens-woestyn uitlei, na die heerlike Beloofde Land – die Ewige Lewe saam met God sélf. In sy Woord gee Hy genoeg bewyse aan ons dat Hy dit wél sal doen, geliefdes. Hy belowe keer op keer dat Hy ons van alle vrees en bekommernis sal verlos – al wat Hy van ons vra, is dat ons Hom, alléén, hiervoor sal vertrou.

Die besluit lê egter by die mens

Waarom is dit vir Hom só belangrik dat ons nie ons vertroue in enige iets anders, behalwe in Hom, sal stel nie? Waarom eis Hy dat ons Hóm eksklusief moet dien en aanhang? Waarom is die Here ‘n jaloerse God? Want Hy het ons rééds van elke moontlike negatiewe ding op aarde verlos, geliefdes! En Hy het die duurste prys denkbaar vir hierdie verlossing betaal! Jesus Christus stérf aan die kruis. Hy word, in ons plek, deur God vervloek. Hy is bereid is om vir sondaar-mense soos u en ek met sy léwe te betaal. God die Vader offer sy Enigste Geliefde Seun op – ter wille van óns. Dáárom is God jaloers, geliefdes. Dáárom eis Hy dat ons Hom alléén moet aanhang, liefhê en vertrou.

Net soos Israel, word elkeen van ons vanoggend gekonfronteer met die vraag: “hoe reageer ons op hierdie opdrag van God?” God vra van elkeen van ons om Hom alléén te vertrou. Hy vra van elkeen van ons dat ons alleen op Hom moet staatmaak – vir alles in ons lewe. Die Here verwag van ons om na niks en niemand anders met ons behoeftes te gaan nie, behálwe na Hom.

Josua kan nie namens die ander families van die volk besluit nie. Hy antwoord egter op hierdie opdrag van God deur te sê dat hy en sy huis die Hére sal dien. As leier van sy huisgesin neem hy sterk standpunt hieroor in en sê voor al die volksleiers en familiehoofde – ja voor die Almagtige sélf – dat hy en sý familie die Hére sal dien en op die Hére sal vertrou. Hy maak ‘n aktiewe besluit namens sy hele huis – óók namens sy werknemers – dat húlle, as eenheid, hulle vertroue alleen in die getroue Verbondsgod sal stel.

Slot

Geliefdes, mag elkeen van ons eerlik en opreg op hierdie opdrag van God antwoord.  Verál waar ons onsself vir volgende week se Nagmaal voorberei. Die Here eis van my dat ek en my gesin ál ons vertroue op Hom sal stel. Die Heilige God vra van ons dat ons alleen op Hóm moet staatmaak. Hy vra dit van ons nadat Hy soveel dinge uit sy wonderlike genade vir ons gee. Hy gee vir elkeen van ons ook dinge waarvoor ons nié gewerk het nie – huise wat ons nié gebou het nie – verlossing waarvoor ons nié betaal het nie. En al wat Hy van ons vra is dat ons alléén aan Hóm moet vashou. My liewe broer en suster, hoe reageer jy en jóú gesin op hierdie opdrag van God? Amen.