Skrifgedeelte: 1 Samuel 1: 1-23; Eksodus 1: 8-2: 10; Rut 1: 1-17
Fokusverse: 1 Samuel 1: 11 en Rut 1: 16 en 17
Tema: Die Heilige Gees sorg dat ‘n gelowige ma haar verpligting teenoor haar kinders gehoorsaam uitleef
Inleiding
“Dit is my Má wat my die meeste van die Here vertel het.” “Dit is my Má wat my geleer het wié die Here is en hoe lief Hy ons het.” Vir hoeveel van ons is hierdie stellings nie waar nie? Hoeveel van ons het ook nie die eerste keer by ons ma’s, spesifiek, die inhoud van die Bybel gehoor nie?
Ons begin juis vandág se preek met hierdie stellings en vrae aangesien ons in verlede week se preek na die rol van die gelowige pa gekyk het. Ons het daar gehoor dat dit die pá se plig is om sy kinders na die Here toe te wys, maar omdat dit nie altyd die geval is nie, vervul ma’s hierdie leemte wat pa’s laat. In vandag se tyd is pa’s baie keer so besig en beroepsgerig dat hulle nie altyd tyd vir die kinders het nie. En daarom is dit dikwels die ma van die huis wat ‘n sekere geborgenheid en sekuriteit aan die kinders kan bied.
Voorbeelde van gelowige ma’s vanuit die Bybel
Vanoggend kyk ons wéér na drie verskillende gedeeltes om ‘n oorsig te kry oor wat God se opdrag aan ma’s, spesifiek, is. Maar, geliefdes, soos ons gehoor het, bevat nie één van hierdie drie gedeeltes ‘n direkte opdrag van God nie. Ons lees nie in een van hierdie Skrifgedeeltes dat die Here ‘n sekere bevel aan een van hierdie vroue gee rakende hulle kinders nie. Iets wat egter baie duidelik is, is die werking van die Heilige Gees in ál drie hierdie verhale. Stilweg is die Here besig om op ‘n besonderse manier met elkeen van hierdie vroue en hulle kinders te werk deur sy Heilige Gees. Op ‘n rustige, kalm, manier sien ons hoe hierdie drie ma’s séker is in wat hulle doen en in wat hulle sê. Selfs al is die omstandighede waarbinne hulle is, verskriklik onstuimig, doen hulle nét waartoe die Heilige Gees hulle lei. Die eerste gedeelte wat ons gelees het, sluit aan by verlede week se Skrifgedeelte. Ons lees weer van Hofni en Phineas en ook van die priester, Eli. Hanna was Elkana se liefling-vrou. Sy het ‘n besonderse bekoorlikheid aan haar gehad, soos haar naam ook beteken, maar sy kon nie kinders kry nie. Om vir ‘n nageslag te sorg het Elkana óók Peninna as vrou vir hom geneem. Al het Peninna het seuns en dogters gehad, het Elkana haar nie liewer gekry nie. Sy eerste, en grootste liefde blý Hanna – al is sy kinderloos. Natuurlik is Peninna jaloers op Hanna, en sy kyk dit mis waarmee die Here haar seën. Sy bly verbitterd teenoor Hanna en bly haar spot en terg oor iets waaroor Hanna géén beheer het nie.
As sterk gelowige vrou staan Hanna uit haar seer en haar vernedering op om ‘n gelofte aan die Here te doen. Hanna gaan na die tempel om voor die Here se aangesig haar hart voor die Here leeg te maak. Sy tree in gebed tot die Here, want sy besef dat Hý in staat is om énige iets moontlik te maak. In ons fokusvers erken sy die Here as haar persoonlike God; die Almagtige wat aan sy Verbond getrou bly (JHWH). Dít is met wie sy nou in gesprek is, en sy besef dit góéd. Daarom herhaal sy dieselfde gedagte in drie sinonieme: “As u tog op my wou let, en aan my wou dink en my nie vergeet nie…” Geliefdes, met hierdie drievoudige herhaling sien ons haar nederigheid en beskeidenheid teenoor die Here raak. Sy besef dat haar diepste begeerte alléén in Gód se hand is. Sy besef dat haar hartewens alléén deur die Hére moontlik gemaak kan word.
Maar ons sien ook haar dringendheid raak wanneer sy haar wens aan die Here herhaal. Sy smag so daarna om ‘n seun te kry dat sy bereid is om hom aan die Here te wy nadat sy hom gespeen het. En dit is presies wat ‘n gelofte aan God behels, geliefdes. Dit is wanneer ‘n gelowige iets van die Here afsmeek, en in reaksie daarop iets vir die Here terug sal gee. Sal opoffer. Indien die Here aan Hanna sal dink en haar in haar eer herstel, deur vir haar ‘n seun te gee, belowe Hanna dat sy hierdie seun aan die Hére sal toewy. Sy sal hierdie seun van haar in die Here se Naam grootmaak en hom in die Here se diens plaas. Sy sal sorg dat hy, al die dae van sy lewe, in die tempel spandeer sodat God hom kan gebruik – as profeet en later ook as rigter van die volk, Israel.
Later in die boek lees ons dat die Here wél aan haar gedink het. Hy het op haar smeekgebed gelet en haar nie vergeet nie. Want vir God is niks onmoontlik nie, geliefdes! ‘n Seun word vir haar gebore! In haar groot dankbaarheid teenoor die Here leer sy hierdie seun van haar presies Wie die Here is. Sy berei hom voor vir die opleiding wat hy in die tempel sal ontvang. Vir die kort rukkie wat hy voltyds by haar gebly het, het sy hom ongetwyfeld élke dag van die Here se groot liefde vertel. Sy het gedurig God se beloftes by hom ingeskerp, want sy moes sélf ook weer hierdie beloftes van God hoor. Sy het sekerlik vir Samuel vertel hoe sy hom van die Here afgebid het – en dat dít die betekenis van sy naam is. Dat hy – hoe klein hy ook is – rééds aan die Here behoort. Sy moes vir klein Samuel – én haarself – gereed gekry het dat hulle paaie binnekort van mekaar sou skei. Hanna se vaste geloof in die Here moes, op ‘n manier, na haar seun, Samuel, oorgespoel het.
In die volgende gedeelte wat ons saamgelees het, het iets soortgelyks gebeur. Die ma van Moses het ook, net vir ‘n rukkie, die voorreg gehad om hom by haar te hê. Dit is eintlik wonderlike genade dat hy énigsins by haar was, geliefdes, want ons het die verskriklike verhaal van die wrede Farao gehoor. Omdat hierdie leier van Egipte vir die Israeliete bang was toe hy sien hoe hulle vermeerder, het hy beveel dat alle Israelitiese seuntjies dóódgemaak moes word. Daar was egter ‘n gelowige vrou, Jogebed, wat besonderse wysheid van die Heilige Gees ontvang het. Sy het ‘n seuntjie gekry en dadelik agtergekom dat hy mooi en besonders is. Daarom het sy hom vir drie maande lank van die mense weggesteek. Toe sy hom nie meer ‘n geheim kon hou nie – en toe hy stérk genoeg was – het sy hom egter in ‘n verseëlde mandjie in die Nylrivier gesit. Sy het gehoop dat hy net ‘n bietjie langer as die ander seuntjies sal lewe; dat iemand hom dalk sou ontdek en hom sou inneem in hulle huis.
Nie lank daarna nie, sien ons die Here se voorsienigheid raak, geliefdes. Hy sorg nie net dat die Farao se dogter op die baba seuntjie afkom nie, Hy beskik dit só dat sy besef dat hierdie seuntjie nog moedersmelk moet inkry. Deur die Heilige Gees se kragtige werking en deur die Almagtige se wonderlike leiding laat die Farao se dogter ‘n Hebreeuse vrou haal om vir hierdie seuntjie te sorg. Dit is nét die Here wat dit kon moontlik maak dat die seuntjie se éie ma gekies word vir hierdie spesifieke taak. Jogebed kry die voorreg om weer haar eie seuntjie – vir ‘n kort rukkie – by haar te hê voordat sy hom vir die Farao se dogter moes gee. In hierdie tydperk kon sy, nét soos Samuel se ma, haar seun van die Here se wonderlike genade leer. Hierdie seuntjie kon vir kort tydjie in ‘n gelowige huis grootword. Daarom kon sy ma kon hom met ‘n geruste hart aan ‘n ongelowige vrou gee om verder op te voed, want sy het rééds ‘n stérk gelowige fondasie vir hom gegee.
Geliefdes, die Here beskik dit só dat hierdie seuntjie in die Egiptiese paleis moes grootword. Dit is híér waar hy sy geloof kon uitleef tussen die ongelowige Egiptenaars. Die Here het ‘n doel met dit alles gehad! Moses moes dáár sy roeping, as gelowige, uitleef, want dit is dáár, in Egipte, waar hy vérder toegerus kon word om Israel se leier te word. Álles wat met ons, en ons kinders, gebeur, is in God se hand, geliefdes.
Dít is ook baie duidelik in Rut se geloofslewe. Rut kom nie uit ‘n gelowige huis nie. Die Moabiete was daarvoor bekend dat hulle afgode aanbid het en nie hulle vertroue op die Ware God gestel het nie. Maar met Rut was dit anders, geliefdes. Nadat haar gelowige man gesterf het, het sy die geleentheid gehad om terug te gaan na haar éie mense toe. Maar ons fokusverse maak dit duidelik dat Rut nie wil teruggaan na die ou, Moabitiese, gebruike nie. Die invloed wat haar man en skoonma op haar gemaak het, het haar tot gelóóf gebring, geliefdes! Sy bely teenoor Naomi: “…waar u gaan sal ek gaan; waar u bly sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God.”
As skoonma het Naomi nie net goed oor die weg gekom met haar skoondogter nie, sy het haar óók tot só ‘n mate beïnvloed dat Rut in dieselfde God as sy geglo het. Die Heilige Gees werk kragtig in Rut en oortuig haar dat die God van Israel die wáre God is. Natuurlik is dit nie Naomi wat van Rut ‘n gelowige maak nie, maar haar voorbeeld en haar woorde aan Rut het ‘n groot invloed op Rut se bekering gehad, geliefdes. Hier sien ons maar net wéér ‘n voorbeeld van ‘n gelowige vrou wat in gehoorsaamheid aan die Here geleef het. Net omdat Naomi aan die ware God vashou en lééf volgens sy heilige wil, spoel haar onwrikbare geloof oor na die mense rondom haar. Sodoende word Rut deel van die verbondsvolk en word selfs Jesus Christus uit haar familie gebore. Sien u die hand van die Here in elk van hierdie verhale raak, geliefdes? Sien ons raak hoe Hy in totale beheer van sy kinders se lewens is?
Die Heilige Gees se inspirasie en leiding vir gehoorsame ma’s
Wat het hierdie drie verhale met mekaar in gemeen, geliefdes? Élke keer hoor ons van ‘n vrou wat haar roeping as gelowige ma uitgeleef het. Élke keer sien ons raak hoe ‘n ma haar verpligting teenoor haar kinders nagekom het. Die Here roep ma’s spesifiek op om, op ‘n liefdevolle manier, hulle kinders aan die Here bekend te stel. ‘n Gelowige ma se primêre rol is om haar kinders te versorg en in die Here se Naam op te voed. En elkeen van hierdie ma’s het dit gedoen, geliefdes. Elkeen het hulle kinders en skoon-kinders gewys hoe ‘n mens Gód respekteer en in hoe ‘n mate ‘n mens op Hóm moet vertrou.
Natuurlik het sommige moderne ma’s ook ‘n beroep wat hulle beoefen, maar hulle eerste prioriteit sal altyd by hulle kinders wees. Wanneer ek, as gelowige ma, náby aan die Here leef, dan sal dit nie vir my moeilik wees om tyd vir my gesin te maak nie. ‘n Gelowige ma sal met ánder oë na haar kinders kyk as baie ander ma’s daar buite. Sy sal besef dat hulle deur die Here aan haar gegee is met ‘n baie spesifieke doel. Sy sal haar roeping, as ma, beséf en gelei word om haar kinders bó haar beroep of haar eie belange te kies, want sy het ‘n verpligting teenoor hulle.
Deur die werking van die Heilige Gees besef gelowige ma’s dat hulle hulle kinders na die Hére toe moet lei – elke dag. As ons nie ons kinders na die wére God toe lei nie, dan sal iemand ánders hulle moontlik na wêreldse leuens en verdraaide siening oor God toe lei. Mag die gelowige ma’s van ons gemeente dan hulle groot verantwoordelikheid teenoor hulle kinders besef. Mag julle élke dag met julle kinders en kleinkinders oor die Here praat, geliefdes. Mag julle ook deur julle voorbeeld vir hulle wys hoe ‘n gelowige leef en hoe iemand optree wat ‘n vaste vertroue in die Here het.
Mag jy óók besef dat jou kinders net vir ‘n paar jaar aan jou geleen is. Hulle is net ‘n tyd lank onder jou sorg. Dit is net in daardie, kort tydjie, wat jy hulle kan vorm en positief beïnvloed sodat hulle, regdeur hulle lewens, hulle geloof kan uitleef. En wanneer jou kinders reeds in die skoolkoshuis of op universiteit of oorsee is, vind troos daarin dat hulle eintlik aan die Hére behoort en dat hulle die eintlik Hére se kinders is. Wees bereid om hulle vir die Here “terug te gee” nadat jy jou plig as ma – as versorger en opvoeder – voltooi het. En wanneer jy hulle in die wêreld instuur, wees getroos dat hulle stééds aan die Here sal behoort. Al is julle nie nou meer elke oomblik van die dag bymekaar nie, wees versekerd dat die Here dáár bý hulle is. Dat Hy, deur sy Gees, in hulle woon en elke dag by hulle én by jou, as ma, is. Wees gerus dat jy jou kant gebring het wat hulle opvoeding aanbetref. Al wat ‘n mens dán kan doen is om hulle aan die Here op te dra in gebed en met opgewondenheid te wag om te sien hoe Hy – elke dag – in hulle werk.
Slot
Mag elkeen van ons met geloofsvertroue ons roeping teenoor ons kinders nakom. Kom ons sien raak hoe ‘n groot verantwoordelikheid, ons as ouers, het. Maar kom ons besef ook wat ‘n voorreg die Here aan ons gee! Kom ons as ouers – en dan ma’s spesifiek – wys ons kinders gedurig op die sorg van die Here. Soos ons gesien het – Hý is in beheer van ons kinders se lewens, geliefdes. Hý laat dinge in plek val wanneer ons voel hoe ons hande afgekap is.
Wanneer jy bekommerd oor jou kinders se omstandighede is, onthou van Hanna, Jogabed en Naomi. Dink weer daaraan hoe wonderlik God gesorg het vir Samuel, Moses en Rut. Elkeen van hulle het ‘n reuse roeping gehad om uit te leef, en as dit nie vir hulle ma’s se gehoorsaamheid aan die Here was nie, sou nie één van hulle hul opdrag kon voltooi nie. Elkeen van jou kinders het óók ‘n roeping. Elkeen van hulle het ‘n besondere doel in die lewe. Mag julle, as gelowige ma’s, hulle hierin bystaan en lei om hulle gawes te ontdek. En mag julle – bo alles – hulle van hulle verlossing in Christus vertel. Mag julle nié stilbly oor dit wat Jesus Christus vir hulle gedoen het nie. Mag julle met woord en daad julle kinders aanhou leer wat die Here van ‘n mens verwag. Amen.