Handelinge 10: 1 – 48

Skrifgedeelte: Handelinge 10: 1 – 48

Fokusverse: Handelinge 10: 34 en 35

Tema: God trek niemand voor nie. Deur die Here se genade is daar gelowiges in alle volke.

Inleiding

In ons vorige preek uit, Handelinge 9, het ons gesien dat God by magte is om die menslik onmoontlike, moontlik te maak. Hy bring iemand só radikaal en bloeddorstig, soos Paulus, tot bekering. Waar Paulus eers die gelowiges wreed vervolg het, kom hy nou tot geloof nadat Hy Jesus Christus op pad na Damaskus ontmoet het. Deur die Here se wonderlike almag, word selfs die hardste hart, sag. Deur die Here se genade kan selfs óngelowiges Hom leer ken en in God begin glo. 

En vandag se Skrifgedeelte bevestig hierdie waarheid aan ons. In vanoggend se preek sien ons dit nog duideliker raak, geliefdes. Die Here is by magte om énige iets moontlik te maak. Vir Hóm is níks onmoontlik nie!

God trek niemand voor nie

Geliefdes, soos ons in ons fokusgedeelte gesien het, is God se genade nie nét tot één volk beperk nie. Dit is nie nét die Joodse volk wat vir Hom belangrik is nie. Handelinge 10 is ‘n baie belangrike oomblik in God se openbaring, geliefdes. Want in hierdie hoofstuk maak God dit aan ons duidelik dat sy genade – net soos sy alomteenwoordigheid – geen grense het nie.

Vanaf die eerste boek in die Ou-Testament, sien ons God, die Vader, se wonderlike liefde raak. Al het Adam en Eva teen sy heilige wil ingegaan, maak God ‘n nuwe begin met Noag en sy mense. Die sonde wat die mensdom van Adam en Eva geërf het, het die Here gegrief (Gen. 6: 6). In God se regverdigheid vee Hy dan alle mense van die aarde af met die reuse vloed water – almal behalwe Noag en sy gesin. In ‘n ark uit goferhout het hulle, en verskeie diere, aan die lewe gebly. Natuurlik het Noag en sy kinders ook sonde gehad, en daarom sluit God weer met Abraham ‘n verbond. God belowe aan Abraham dat Hy vir hom en sy nageslag ‘n God sal wees, maar dan vereis God dat Abraham-hulle aan die Here getrou sal bly (Gen. 12 en 15). Die volk waaraan Abraham behoort, word deur die Here uitgekies as God se kinders. Die Here verwag van hulle om ánders te wees as die ander volke van die gebied. Dit word van die volk, Israel, verwag om die Here alleen te aanbid. Al is daar baie aanloklikhede van die ander volke, word dit van die kinders van God verwag om alleen op die Hére te vertrou (Eks. 20; Deut. 5 en 6).

Die Joodse volk was dus God se verbondsvolk. Hulle manier van doen moes verskil het van die gebruike en rituele van die ander volke. Want al die ander volke het afgode aanbid, maar die volk, Israel, het die Ware God geken. Hy het Homself op ‘n besonderse manier aan hulle geopenbaar. En daarom het Hy van hierdie groep mense verwag om Hom, eksklusief, aan te hang. Die Here sê vir hierdie volk dat hulle heilig moet wees, soos Hy heilig is (vgl. o.a. Lev. 19: 2). Dit beteken dat hierdie mense hulself moet afsonder van die ander, goddelose, mense rondom hulle.

In Levitikus hoofstuk 11 en 20 hoor ons, spesifiek, wat God se opdragte vir sy volk was n.a.v. reinheid en onreinheid. In Levitikus 11 lees ons dat daar sekere kosse was, wat die volk, Israel, moes vermy. Diere soos varke, kamele, roofvoëls, spinnekoppe, vlermuise, slange en akkedisse moes gesien word as onrein. Die kinders van die Here mag nie van hierdie diere se vleis geëet het nie. Indien hulle dit geëet het, of selfs net aan hierdie vleis gevat het, is die mense beskou as “onrein”. Die Here het selfs gesê dat iemand wat aan ‘n dier, wat in die veld gevrek het, se karkas raak, onrein verklaar moet word – selfs al was daardie dier rein. Niemand mag van so ‘n rein dier, wat al ‘n ruk lank dood lê, se vleis eet nie.

Ons kan tereg wonder waarom die Here hierdie reëls neergelê het. Is dit nie onredelik van God om so sterk standpunt hieroor in te neem nie? Nee, geliefdes, glad nie. Dit is eerstens nie onredelik van God nie, want Hy – as die Almagtige – eis gehoorsaamheid van sy kinders. As Hy beveel: “Wees heilig, want Ek is heilig”, dan luister ‘n gelowige. Hierdie opdrag kom van God wat die mag het om ‘n mens in oogwink te vernietig. Ons doen wat Hy van ons vra, want ons het ontsag en respek vir Hom. Verder is hierdie opdrag van die Here is nie onredelik nie, want God gee hierdie opdrag omdat Hy sy kinders liefhet. Hierdie opdrag beskerm juis God se volk, geliefdes. Die Here verbied sekere dinge omdat Hy wéét dat dit vir hulle beter is om sekere dinge in die wêreld te vermy. Hier verbied God dit dat hulle sekere soorte vleis eet, omdat Hy wéét dat dit hulle gesondheid gaan affekteer. Hy is alwetend – Hy weet dat ‘n mens fisies siek sal word as jy ‘n slang of ‘n spinnekop of die vleis van ‘n verrotte karkas eet. In die Here se liefde wil Hy sy kinders se lewe – en hulle gesondheid – beskerm, en daarom stel Hy hierdie reëls in. Dit is so eenvoudig soos dit, geliefdes.

Dit is o.a. met hierdie reinigings-wette wat die Ou Testamentiese gelowiges grootgeword het. Van kleins af is hulle geleer dat hulle nie alle kossoorte mag eet nie, en dat hulle hulself moet weerhou van ongelowiges. Dit is met hierdie ingesteldheid waarop Jesus se apostels óók geleef het. En daarom is hierdie gesig wat Petrus sien, vir hom so verskriklik, geliefdes. Een middag om twaalfuur het Petrus, soos baie ander Jode, gaan bid. Terwyl die mense by wie hy tuisgegaan het, besig was om ‘n ete voor te berei, gaan Petrus in geestesvervoering en sien hy ‘n doek wat uit die hemel neersak. In hierdie doek/laken was daar allerhande diere – ook onrein diere. Petrus hoor toe ‘n stem uit die hemel wat sê: “Kom, Petrus, slag en eet.” Is hy dalk besig om beproef te word? Indien dit die geval is, sal Petrus hierdie toets slaag: “Nooit nie, Here!” Hoe kan die Here van Hom verwag om iets te eet wat onheilig en onrein is (vers 14)? Maar dan hoor ons God se aangrypende woorde: “Wat Ek rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.”

Petrus het nie ‘n idee gehad wat hierdie Boodskap van God kon beteken nie. Hy het ook nie geweet dat Cornelius óók ‘n visioen van die Here ontvang het nie. In hierdie gesig aan Cornelius het die Here beveel dat hy manne moet stuur om vir Petrus te gaan haal, want die Here het op hierdie Romeinse kaptein se opregtheid gelet (vers 4 en 5). Toe Petrus weer by sy sinne kom, staan Cornelius se drie manne rééds daar om hom te kom haal.Ons moet goed verstaan dat Cornelius – op hierdie stadium – nog ‘n ongelowige of ‘n heiden was. Boonop het hy ‘n hoë rang in die Romeinse weermag gehad – die weermag wat Jode, soos Petrus, onderdruk het. Cornelius was dus nie iemand waarmee Petrus vrywilliglik sou wou meng nie, geliefdes. En tog gaan Petrus na hierdie man toe en is hy selfs bereid om in hierdie man se huis tuis te gaan.

Waarom? Want deur die werking van die Heilige Gees kom Petrus tot die besef dat God niemand voortrek nie. Wie is hý om ‘n opdrag van God te weier as God hom na iemand toe stuur? Selfs al maak dit nie vir Petrus logies sin dat hy, as Jood, homself met ‘n “onrein” Romeinse kaptein moet gaan meng nie, is hy steeds aan God gehoorsaam. Hy dink weer aan die visioen wat hy maar onlangs gesien het, en besef dat God nie net sekere kós rein verklaar nie, maar ook sekere ménse. 

Deur die Here se genade is daar gelowiges in alle volke

Deur die werking van die Heilige Gees, besef Petrus dat dit nie nét die Joodse volk wat heilig en vir God afgesonder kan leef nie, maar álle mense aan wie Hy hierdie genade wil bewys. Geliefdes, hierdie is ‘n reuse deurbraak vir die koninkryk van God! Want hier sien ons – baie duidelik – God se verlossingsplan raak, geliefdes. God het sy enigste geliefde Seun na hierdie onrein wêreld toe gestuur om vir gelowiges se sonde te sterf. Nie net vir die Jode se sonde nie, maar vir álle mense wat Hy uitverkies het. En dit besef Petrus nou baie goed! Daarom bring hy onmiddellik die Evangelie van vrede aan Cornelius en sy hele huisgesin. Dit is alleen die Goeie Nuus van Jesus Christus, wat vrede tussen die Jode en die Romeine sal bring. Dit is alleen die Evangelie van Christus, wat vrede tussen énige vyande sal bring.

Die feit dat die genade van die Evangelie nie nét vir die fisiese afstammelinge van Israel geld nie, was, tot en met die koms van Christus, ‘n geheimenis. Paulus maak dit verál duidelik met die woorde: “Christus is ons Vrede, Hy wat dié twee, Jode en Nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het” (Ef. 2: 14, 15). “Deur Hom het ons almal, Jode en Nie-Jode, deur die Een Gees vrye toegang tot die Vader” (Ef. 2: 18). “Vir Moses het God gesê: ‘Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.’ Dit hang dus nie af van ‘n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is” (Rom. 9: 14-16).

Soos ons netnou, tydens die versoenings-moment in die erediens gehoor het, is mense wat weergebore is, almal voor die Here gelyk. Dan is dit nie van belang of iemand Jood of Griek is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Wanneer iemand uitverkies is, en weergebore is, dan maak ‘n mens se herkoms nie saak nie. Dan is dit nie vir die Here belangrik van watter volk of nasie jy is nie. Dan is Christus álles en in álmal (Kol. 3: 10-12).

Daarom is dit moontlik vir iemand soos Cornelius om deel van God se verbondsvolk te word. Al is Cornelius nie ‘n direkte afstammeling van Abraham nie – al is Hy nie uit die Joodse volk nie, neem God hom in sy genade aan. Die Heilige Gees skenk geloof aan hom, sodat hy Christus se kruisdood en opstanding aanvaar. Omdat alle gesag in die hemel en op aarde aan Jesus Christus behoort, kan Hý besluit aan wie almal Hy Homself wil openbaar. Hy wat volkome rein voor die Vader is, besluit wie Hy, deur sy genade, as rein wil verklaar. Want slegs Hý het die finale sê.

Geliefdes, in hierdie hoofstuk sien ons nie nét hoe groot die Here se genade oor al sy kinders is nie, ons sien ook hoe groot sy almag is. Ons sien raak dat Hy die alleen-reg op almal van ons se lewens het. Wanneer Hy iemand uitkies om sy kind te wees, dan kan geen mens Hom keer nie. Selfs wanneer dit buite óns verwysingsraamwerk is dat sekere mense gelowiges kan word, is dit steeds vir God-Drie-Enig moontlik. In Romeine 2: 10 en 11 hoor ons: “Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk God aan elkeen wat goed doen: in die eerste plek vir die Jood, maak ook vir die nie-Jood. God trek immers niemand voor nie.”  

Slot

Wanneer ons dan te doen het met iemand wat dalk van ‘n ander agtergrond as ons is, dan kan ons nie self besluit hoe daardie persoon se geloofslewe lyk nie. Wanneer God iemand tot geloof bring, wie is ons om Hom tee te gaan? Wie is ons om te dink dat daardie groep mense of iemand van daardie nasie nie gered kan word nie?

God maak nie onderskeid tussen gelowiges soos ons, mense, onderskeid maak nie. Deur die bloed van Jesus Christus word al God se kinders gelyk hanteer. In God se genade het Hy nie ‘n gunsteling volk of gunsteling persoon nie. Wanneer ons dit werklik gló, dan sal ons bereid wees om sy Evangelie aan álle mense te bring. God trek niemand voor nie. Diegene wat Gód rein verklaar het, mag óns nooit onrein ag nie. Amen.