Skrifgedeelte: Handelinge 13: 1 – 14: 20
Fokusverse: Handelinge 13: 32(a) en 51
Tema: Ten spyte van teenkanting en vervolging sorg God dat sy Woord blý verkondig word
Inleiding
Hoe maak ‘n mens as jy teenkanting – selfs vervolging ervaar? Hoe maak ‘n mens as daar ewe skielik iemand is wat met jou manier van doen verskil? Hou jy aan met dít waarmee jy besig is, of stop jy eerder daarmee?
Dit is ‘n vraag waarmee elkeen van ons nou en dan gekonfronteer word. Elke liewe mens wonder een of ander tyd in sy/haar lewe: “hou ek aan terugveg, of gooi ek liewer handdoek in?”
Die Boodskap van Christus in sy volheid
Die apostels is ook – gerééld – met hierdie vraag gekonfronteer. Hier in Handelinge 13 en 14 lees ons die verhaal van Paulus se eerste sendingreis: Hy en Barnabas word deur die Heilige Gees uitgekies om op hierdie relatief kort sendingreis te gaan. Die Heilige Gees sonder hulle af om spesifiek na die hierdie heidense mense toe te gaan, want die Jode het hulle beurt gehad (Hand. 13: 46). Vir elke groep wat nié aan die Here se stem gehoor gee nie, kom daar ‘n tyd wat Hy stil word. En daarom word Paulus en Barnabas gestuur om die nie-Jode te bereik. Die Here rus sy bekwame dienaars toe om die Goeie Nuus na diegene toe te vat wat dit nog moet hoor. Nadat almal voor die Here stil geword het, het die apostels én die gemeente die sekerheid gekry het dat hierdie twee manne na Pamfilië en Pisidië toe moet gaan. Die hande word hulle opgelê om simbolies daarmee aan te toon dat hulle bekwaam gemaak is vir hierdie besondere diens.
Amper onmiddellik kry die apostels met verskeie uitdagings te doen: op die eiland, Pafos, kry hulle hulle eerste opdraande van hierdie sendingreis. Hulle ontmoet ‘n towenaar met die Hebreeuse naam, Barjesus, en die Griekse naam, Elimas. Al beteken die naam, Barjesus, “Seun van Jesus” in Hebreeus, is hierdie towenaar nie ‘n letterlike kind van Jesus Christus nie. Die naam, Jesus, was ‘n baie algemene Joodse naam en dit was dus nie slégs Jesus Christus wat hierdie naam gehad het nie (vgl. Kol. 4: 11). Hierdie towenaar is ‘n valse profeet wat beteken dat hy net gemaak het asof hy in die Here se diens staan, maar in wérklikheid is hy in diens van die Satan. Vandag kry ons steeds hierdie wolwe wat hulself in skaapklere vermom. Van buite af lyk dit asof ‘n mens hulle kan vertrou, maar hulle is uiters gevaarlik – veral vir die kerk van die Here. Soos Elimas, probeer hierdie valse profete om alles wat verdienstelik in die gemeente is, tot niet maak. Valse profete verdraai ook baie keer die Woord van God dat dit húlle pas. Hulle sal sekere Bybelverse uit konteks aanhaal en waninterpreteer totdat dit hulsélf, op ‘n manier, bevorder.
Hierdie towenaar doen presies dit, geliefdes: hy probeer die goewerneur oorreed om nié God se Woord aan te hoor nie, al was dit die goewerneur se behoefte. En daarom spreek Paulus hom skerp aan deur die krag van die Heilige Gees, want hierdie man staan letterlik in die pad van die Woordverkondiging. Hy verhinder iemand om die Goeie Nuus te ontvang – Elimas ontneem die goewerneur om die Evangelie van Jesus Christus te hoor. Hierdie towenaar van die eiland, Pafos, is dan die eerste een van véle wat sake vir die apostels bemoeilik.
Daarna reis Paulus, Barnabas en hulle helper, Johannes, na die vasteland om méér mense te bereik. Hier sien ons duidelik raak hoe die Heilige Gees hulle uiters strategies hierheen lei, geliefdes, want Antiogië is ‘n hawestad. Dit is ‘n handelstad waar baie mense kom en gaan. Baie toeriste én permanente inwoners kom hier bymekaar om besigheid te doen. Op die Sabbatdag woon die apostels ‘n erediens by en luister uit die Wet en die Ou Testament. Die apostels kry selfs die geleentheid om sélf ‘n woord van bemoediging te bring indien hulle sou wou (Hand. 13: 15).
Alles klink so rustig en vreedsaam, nie waar nie? Amper soos ‘n tipiese erediens wat ons op ‘n Sondag sou bywoon. Maar geliefdes, daar waar God se Woord suiwer verkondig word, daar is reaksie en optrede! God se Woord is ‘n skerp swaard met twee snykante: dit sny óf tot die ewige lewe óf tot die ewige dood (Hebr. 4: 12). Álle mense sal op die verkondiging van die Woord reageer: óf positief óf negatief. En dit sien ons baie duidelik in hierdie gedeelte asook in enige Godvresende gemeente raak.
Paulus gryp die geleentheid, om Christus aan hierdie mense bekend te stel, met albei hande aan. Hy begin by God die Vader wat ‘n verbond met die volk, Israel, gesluit het. Die Israeliete is uitgekies as sý kinders en daarom red Hy hulle uit die mag van die wrede Egiptenaars. Paulus preek oor die veertig jaar in die Woestyn, die Rigter-tydperk, waar elkeen gedoen het soos hy/sy goedgedink het en hoe die volk daarna op ‘n koning aangedring het. Die apostel wys hierdie mense óók daarop dat Jesus Christus uit die nageslag van koning Dawid gebore is. En hoe God se belofte aan sy geliefde volk gaan in vervulling gegaan het – ook die profesieë oor hoe die mense Jesus Christus se Godheid ontken het (vgl. o.a. Jes. 53). Daarom verkondig Paulus aan hierdie mense dat Jesus Christus die Seun van God is, wat al Een is wat die sondes van alle gelowiges op Hom kon neem. Hiervoor het Hy nie nét teenkanting en verwerping en vervolging ervaar nie, maar selfs die benoudheid van Godverlatenheid en uiteindelik die dood (vgl. o.a. Ps. 18; Ps. 116; Hand. 13: 28 en 29).
As goed toegeruste apostels verkondig Paulus en Barnabas die vólle Evangelie aan die mense in die hawestad. Hulle stop nie by die feit dat Jesus Christus versoening tussen God en die gelowige gebring het nie, hulle herhaal vier keer dat Jesus Christus ook uit die dood opgestaan het (Hand. 13: 30, 33, 34 en 37). Dit het die gevolg dat geen mens in God se almag kan twyfel nie, geliefdes. Hy is die Enigste wat die dood kon oorwin. En sy oorwinning oor die dood is vir alle gelowiges geldig. Dit is waarom die Evangelie-verkondiging so wonderlik vir ons is om aan te hoor, geliefdes. Want dié wat glo dat die inhoud van God se Woord die waarheid is – dié wat glo dat Jesus Christus wél God is, en dat daar geen verlossing buiten deur Hóm moontlik is nie – ontvang die ewige lewe. Maar hulle wat die Boodskap van die Kruis en die leë graf ontken en verwerp, ontvang die ewige dood. Die Woord van God en die suiwer uitleg daarvan is ‘n tweesnydende swaard: dit sny óf tot die lewe óf tot die dood.
Dit is kristal helder in die paar verse wat op ons fokusgedeelte volg: Soos ons in ons fokusverse sien, het die apostels maar slégs met één boodskap hierdie eerste sendingreis. Aan álle mense wat hulle teëkom, vertel hulle hoe God se Belofte van verlossing in vervulling gegaan het. Hulle gee bewyse uit die Skrif dat Jesus Christus die dood oorwin het en dat die ewige lewe alleen moontlik is deur dit heelhartig te glo. Ons lees in vers 39 dat slegs diegene wat gló van hulle sonde vrygespreek word.
Natuurlik was daar baie mense wat hierdie Boodskap dadelik aanvaar het. Ons lees van verskeie mense wat vir Paulus en Barnabas gesmeek het om die volgende Sabbat meer hieroor uit te brei (Hand. 13: 42). Omdat die Heilige Gees kragtig aan die werk is deur die verkondiging van die Woord, kom verskeie mense tot geloof. Ongelowige mense kom tot bekering – nie omdat die apostels goeie oorredingsvermoë en charisma gehad het nie – maar omdat die Heilige Gees hierdie mense tot geloof bring (1 Kor. 3: 6 en 7).
Die verkondiging van die Woord ten spyte van teenkanting en vervolging
Die volgende Sabbat was byna die héle stad se inwoners by die sinagoge, gereed om die Goeie Nuus te ontvang. Hierdie groot opkoms het die Jode jaloers gemaak op die apostels. Hoe is dit moontlik dat hierdie twee vreemdelinge soveel mense trek? Die Jode werk nou al vir járe in hierdie groot hawestad en daar is nooit soveel mense wat na húlle kom luister nie? Weereens is dit nie Paulus en Barnabas wat die mense trek nie, maar die Heilige Gees. Die mense kom luister want die Woord word suiwer verkondig en die Woord word in sy volheid verkondig. Jesus Christus móét nie nog na hierdie aarde toe kom, soos die Jode verkondig nie. Hy was rééds hier en Hy sal beslis wéér kom om die uitverkorenes te kom haal.
Maar die meeste van die Jode en sommige heidene wou nie hierdie waarheid aanvaar nie. En daarom vervolg hulle hierdie twee gesante van God en verdryf hulle uit die stad, Antiogië. En tog sluit hoofstuk 13 af op ‘n positiewe noot: “Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.”
In die volgende stad, Ikonium, het min of meer dieselfde gebeur: weer het die apostels gepreek en wéér het sommige mense gelowig geword terwyl ander in hul ongeloof volhard het. Hier sien ons wéér die verskillende reaksies op die aanhoor van God se Woord raak. Toe die ongelowiges die apostels gedreig en vervolg het, het hulle egter nie dadelik weggevlug nie. Hulle het die sekerheid gehad om, ten spyte van die vervolging wat hulle beleef het, nóg ‘n ruk in die stad te bly (Hand. 15: 3). Dit was eers ‘n hele ruk daarná, eers toe die ongelowiges die apostels wou aanrand en stenig, dat die apostels na die volgende stad, Listra, toe gevlug om dáár die Evangelie te verkondig (Hand. 14: 6).
Afgesien van die verlamde man wat tot bekering gekom het, was die meeste van Listra se inwoners heidene. Dit is baie duidelik uit die mense se reaksie op die genesing van hierdie man deur die apostels. Hierdie mense is deur die Griekse mitologie beïnvloed maar hulle het géén kennis van die Wáre God nie. Dit is waarom ons hoor dat hulle vir Paulus en Barnabas beskou as Griekse afgode. Natuurlik ontstel hierdie opmerkings die apostels, maar hulle vermy nie hierdie mense met hulle verdraaide sienings nie. Paulus en Barnabas maak die Enigste God van hemel en aarde aan hulle bekend en sê vir hulle dat ‘n mens nooit ander mense moet verafgod nie (Hand. 14: 15). Soos by al die ander stede en eilande op hierdie eerste Sendingreis, roep hulle die mense van Listra op tot bekering en geloof. Hierdie keer is Paulus fisies met klippe gegooi en het hulle hom soos ‘n dooie uit die stad gesleep (Hand. 14: 19).
Geliefdes, sien u telkens die verskillende reaksies op die verkondiging van God se Woord raak? Die hele tyd sien ons die afwisseling van geloof en ongeloof raak. Telkens sien ons aanvaarding, maar óók teenkanting raak. Die apostels het eerstehands die soet én die suur van Woordverkondiging ervaar. Maar hulle troos én ons troos vanoggend – is dat God se Woord áltyd verkondig sal word – sélfs al kom daar teenkanting en vervolging.
Wat kan ons by hierdie twee gestuurdes van God leer? Geliefdes, ons sien vanoggend raak hoedat gelowiges áltyd in afhanklikheid van God moet reageer. Omdat hierdie twee manne, vóór hul sendingreis, deur die Heilige Gees toegerus is, word hulle deur Hóm gelei. Wanneer hulle teenkanting ervaar het, het hulle sóms bloot weggevlug. Ánder kere het hulle die sekerheid gekry om die mense skerp te vermaan. Ánder kere het hulle in ‘n stad gebly, al het dit beteken dat hulle letterlik gely het. Hulle het soms die sekerheid gekry om vas te byt – te midde van teenkanting en vervolging. Om bloot aan te hou om die Evangelie te verkondig – al voel dit tevergeefs.
Slot
Hoe maak ‘n mens as jy teenkanting – selfs vervolging ervaar? Hoe maak ‘n mens as daar ewe skielik iemand is wat met jou manier van doen, verskil? Hou jy aan met dit waarmee jy besig is, of stop jy eerder daarmee?
Om hierdie vrae te beantwoord is dit nodig dat ons fyn moet luister na die stem van die Here, geliefdes. ‘n Mens se optrede sal élke keer van ‘n mens se omstandighede afhang. Soms móét ‘n mens terugveg en ánder kere moet ‘n mens eerder handdoek ingooi. Wanneer mense teenoor ons venynig is, wanneer ons die afguns van mense aan ons eie lywe voel, dan is tyd vir stil word en bid.
Mag elkeen van ons, in tye soos hierdie, voor die Hére verskyn en alleen by Hóm sekerheid kry oor hoe ‘n mens dán moet optree. Amen.