Handelinge 18: 1 – 17

Skrifgedeelte: Handelinge 18: 1 – 17

Fokusverse: Handelinge 18: 9 en 10

Tema: God sorg dat sy Evangelie ál sy kinders bereik. Daarom is dit ons plig om aan te hou praat en nooit stil te bly nie.

Inleiding

Regdeur die boek, Handelinge, kry ons geurig dieselfde Boodskap; nl. “Verkondig die Evangelie!” Soos ons deur hierdie unieke Bybelboek werk, kom ons telkens agter wat God se wil vir die Nuwe Testamentiese kerk is. Dit is duidelik dat God-Drie-Enig wil hê dat sy wonderlike Woord aan alle mense verkondig moet word. Alle mense moet bereik word met die Troos en die Hoop van die Evangelie.  

God sorg dat sy Evangelie ál sy kinders bereik

En, soos ons nou al in die boek, Handelinge, gesien het, is dit presies wat die apostel, Paulus, gedoen het. Al was Paulus nie een van Jesus se dissipels nie, het hy God se wil vir ‘n mens se lewe verstáán. Al was Paulus nie dáár met Jesus se Hemelvaart óf met die uitstorting van die Heilige Gees nie – al het hy nie direk die Groot Opdrag ontvang nie – gaan hy stééds na die uithoeke van die wêreld om die Evangelie van Vrede aan alle mense te bring. En soos ons die afgelope paar weke gesien het, het Paulus verskriklike teenkanting gekry – al was hy getrou aan sy roeping. Al het Paulus totaal en al tot bekering gekom, is hy nie van teenkanting en vervolging gevrywaar nie – inteendeel. Soos alle gelowiges wat erns met hulle geloof maak, gaan Paulus óók deur ‘n moeilike tyd.

Jesus sê in Johannes 16: 33: “In die wêreld sál julle dit moeilik hê, maar hou goeie moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” En in 2 Timoteus 3: 12 lees ons: “Almal wat aan Christus, toegewy aan God wil lewe, sál vervolg word.” Paulus sê vroeër in die boek hoe hy sélf verdrukking moes ly ter wille van die Evangelie (2 Tim. 2: 9). Om jou lewe aan die Here toe te wy, vra opoffering en selfverloëning. En tog sal wáre gelowiges bereid wees om dit te doen, al het hulle nie Jesus Christus hier op aarde ontmoet nie. Die rede hiervoor is omdat die Heilige Gees aan ons die insig gee om dit te doen: om raak te sien dat dit die moeite werd is om deur ongemak en ongerief te gaan ter wille van die uitbreiding van die Evangelie. Dit is Hy wat ons oortuig dat dit vir ons beter is om deur die wêreld verwerp te word, maar deur God aanvaar te word. En dit is die Heilige Gees wat ook aan ons die waagmoed gee om die Goeie Nuus aan alle mense te versprei, selfs al is dit onsin vir die wêreld.

Dit is juis waarom ons vandag hier, in die erediens is, nie waar nie? Vir die wêreld is dit onsin dat ons hier is – ons kon baie maklik vandag ook in die winkelsentrum of by vriende gewees het – maar ons is híér om die Here te ontmoet. Ons is hier omdat die Heilige Gees ons opgeroep het om vanoggend hierheen te kom. Ons is hier omdat ons gehoorsaam aan sy roepstem is. En net soos Hy ons roep om Hom in die erediens te ontmoet, roep Hy ons op om sy Woord te verkondig. Net soos die Here sorg dat hier vanoggend genoeg mense is om ‘n erediens te laat plaasvind, sorg Hy dat sy Goeie Nuus ál sy kinders bereik.

Met elke preek wat gepreek word, met elke gesprek wat plaasvind, met elke Bybelstudie wat gehou word, word God se kinders op ‘n besondere manier bereik. God praat met sy kinders daar waar sy Woord suiwer verkondig word. Soos ons weet, verwys God se Woord na Jesus Christus. Dit is deur Hóm wat God alles tot stad gebring het. God die Vader het deur Jesus Christus die mens geskep, sodat elkeen van ons kan luister na sy stem. “Die Woord het Mens geword, en onder ons kom woon” (Joh. 1: 16). Jesus Christus het Mens geword en onder sondaars kom woon. Hy roep sondaars tot bekering. Hy roep al God se kinders tot ‘n nuwe gehoorsaamheid. Om te lewe volgens sy wil, maar óók om gehoorsaam te wees aan ons roeping.

Ja, geliefdes, ons elkeen ontvang dieselfde roeping, nl. om God in gehoorsaamheid te eer. Die beste manier waarop ons God kan eer, is wanneer ons vir die mense rondom ons vertel presies Wie Hy is. Wanneer ons God-Drie-Enig aan ons naaste bekendstel, dan maak ons Hom groot op ‘n wonderlike manier. Want ons leer daardie persoon watter eienskappe God het, en dan word ons ook daaraan herinner. Saam met die persoon wie ons bereik, staan ons verwonderd voor die grootheid van God. Ons besef ons eie nietigheid wanneer ons weer die grootheid en die almag van God bely. Ons is opreg dankbaar wanneer ons weer opnuut besef hoe die Here ons elke dag lei. Hoe Hy in beheer van ons héle lewe is – dit wat hier op aarde met ons gebeur, maar óók dit wat in die hemel vir ons wag. Ons is nederig dankbaar vir die geloof wat aan ons gegee is, om al hierdie dinge te glo. Om te glo dat Jesus Christus sélf deur sy Vader hierheen gestuur is, om in te staan vir ons sondeskuld.

Vanoggend besef ons weer opnuut wat genade beteken. Nie één van ons is goed genoeg om ewig te kan leef nie, en tog skenk die Here dit aan ons. Deur die genoegdoening van Jesus Christus aan die kruis, ontvang ons vryspraak vir al ons sondes. Te danke aan sy liefde vir God se uitverkore kinders, sterf Hy in ons plek. Betaal Hy vir alles wat óns verkeerd gedoen het. Hiermee saam besef ons egter óók dat Christus weer na die hemel toe opgeneem is. Ons herinner onsself weer aan sy totale almag nl. dat Hy ons laaste vyand, die dood, vernietig het (1 Kor. 15: 26). Ons hou vas aan die feit dat ons ook die vreugde van die ewige lewe sal kry, selfs al gaan ons deur moeilike tye – selfs al word ons vervolg en deur die wêreld verwerp.

Dit is dan nie Paulus se menswees wat so besonders was nie, maar die Heilige Gees wat aan hom die dryf gee om dit te doen. Dit is nie omdat hy Paulus was dat hy die Here kon eer met sy sending-hart nie, maar omdat die Heilige Gees aan hom die gehoorsaamheid gegee het om uit te gaan en van Christus te getuig. Geliefdes, dit is dus baie duidelik dat dit Gód is wat sy kerk, hier op aarde, laat groei. Dit is die Hére wat sorg dat die Evangelie ál sy kinders bereik. Dit is Hý wat sorg dat daar mense is wat hulle roeping gehoorsaam, en dit is ook Hý wat sorg dat daar mense is wat die oproep tot geloof, gehoorsaam. 

Ons plig om aan te hou praat/preek/getuig en nooit stil te bly nie

Verder moet ons onthou dat Paulus nie ‘n predikant of sendeling van beroep was nie. Soos dit hier in Handelinge 18 vir ons duidelik is, was hy ‘n tentmaker van beroep. Die feit dat hy óók soms die Evangelie verkondig het, was omdat hy – soos alle ander Christene – opgeroep word om dit te doen. ‘n Mens hoef nie ‘n gekwalifiseerde predikant of sendeling te wees voordat ‘n mens die Evangelie kan versprei nie. Enige opregte gelowige kan mense bereik met die inhoud van God se Woord. Want dit is nie ons, as mense, wat geloof in iemand se hart bewerk nie, maar die Heilige Gees sélf.

Paulus is steeds besig met sy Tweede Sendingreis – hy is nou in die stad, Korinte.  In daardie tyd was Korinte op die handelsroete. Dit was ‘n reuse stad met twee hawens en wél bekend vir verskeie toeriste. En dit is die rede waarom die Heilige Gees vir Paulus daarheen stuur – want daar is baie mense, van verskillende kulture en agtergronde. Indien die Evangelie hier suiwer verkondig word, sal baie méér mense gelyktydig bereik word.

Soos in al die ander stede, begin Paulus weer by die Joodse sinagoge. Soos in ál die stede wat Paulus op sy Sendingreise besoek het, ontvang hy teenkanting van die mense. Die Jode en Grieke het aanhou teëstand bied en aangehou om godslasterlike dinge te sê (vers 5 en 6). Maar hierdie keer het Paulus se geduld opgeraak. Vir die eerste keer in die boek, Handelinge, lees ons dat Paulus moedeloos en gefrustreerd met hierdie mense geraak het. Paulus voel seergemaak en raadop met die hardkoppige mense. Keer op keer kry hy die koue skouer, en hierdie keer is dit vir hom genoeg. Die apostel maak dit duidelik dat hy nie vir hulle hardkoppigheid verantwoordelik is nie, en skud die stof van sy skoene af. “As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld”, sê hy in vers 7. “Ek aanvaar nie die verantwoordelikheid daarvoor nie.”

Volgens Paulus, is hy klaar met hierdie stompsinnige mense. Hy sien nie weer kans om homself af te sloof vir mense wat nie wil hoor nie. Hy is nie bereid om weer sy lewe op die spel te plaas ter wille van mense nie. Hy wéét hoe dit voel om ondankbaar behandel te word. Hy was al genóég kere mishandel en sélfs in die tronk, vir hierdie tipe mense. Maar dan hoor Paulus die aangrypende woorde van ons fokusvers: “Moenie bang wees nie, hou aan met preek, moenie stilbly nie, want Ek is bý jou. Niemand sal jou aanval of kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.” In Paulus se menslikheid het hy dalk gedink dat hy klaar is met die hardkoppige Korintiërs, maar die Heilige Gees was nog nie klaar met hulle nie. Paulus moes nog ‘n jaar en ‘n half die mense van daardie sekulêre stad bedien, want daar was tóg mense wat die Goeie Nuus moes hoor. Uitverkore kinders van God wat Hom nog moes leer ken het deur die verkondiging van die Evangelie. Die Here maak ‘n belofte aan Paulus nl. dat Hy by Paulus is. Niemand sal hom aanval of kwaad aandoen nie. En tóg lees ons later in hierdie hoofstuk hoe al die Jode van Korinte soos een man teen Paulus in opstand gekom het en hom voor die hof gebring het.

Hoe werk dit? Is God nou onbetroubaar? Weerspreek Hy Homself? Glad nie, geliefdes! Want as ons mooi noukeurig lees, dan sien ons dat die goewerneur, Galio, nie oor hierdie Jode se interpretasie van die Ou-Testament, ‘n regter kan wees nie (vers 16). Hy jaag hulle uit die hof en sê dat hulle sélf hieroor moet besluit.

Daardie dag word Paulus nie wéér in die tronk gegooi nie. Al wou hy vroeër met die Korintiërs moed opgee, het hy volhard in sy roeping teenoor die stad. Hy vertrou op die Here en doen wat God van hom vra. Hy besef sy plig om die Woord van die Here suiwer te preek. Hy hou aan getuig van Jesus Christus se verlossing en van die belofte van die ewige lewe. Soos vroeër, dink Paulus nie aan homself en sy eie belange nie, maar aan die mense van die stad, Korinte. Mense wat duur gekoop is met die bloed van Christus. Mense wat aan die Hére behoort, selfs al besef hulle dit nóg nie. 

Slot

Wanneer ons na ons eie lewe kyk, dan kan ons onsself afvra: “Besef ek my roeping?” “Praat ek met die mense in my lewe oor die groot wonders van God?” “Getuig ek van Jesus Christus se verlossing?” “Het ek ‘n vaste sekerheid dat ek die ewige lewe gaan ontvang?”

Ons hoef nie ‘n predikant of ‘n sendeling te wees om die Here se wonderlike dade te verkondig nie. Dit word van elkeen van ons verwag om op ‘n informele manier van God-Drie-Enig te getuig. Om aan te hou praat oor die Here se goedheid en nie vir ‘n oomblik daaroor stil te bly nie. Wanneer ons besef dat die Here van mense, soos ons, gebruik maak om Homself aan ander mense bekend te maak, dan sál ons ons verantwoordelikheid besef.

Net voor Jesus Christus se Hemelvaart sê Hy vir sy dissipels: “Gaan uit, die héle wêreld in, en verkondig die Evangelie aan die héle mensdom.” Hy sê dit vir mense wat ánder beroepe as die beroep van ‘n sendeling gehad het. Hy sê dit vir vissermanne, tentmakers en boere. Hy sê dit vir gewone mense soos u en ek.

Daar waar u leef en werk is daar mense wat aan die Here behoort. Hou aan getuig. Moenie bang wees nie. Die Here is óók daar by u. Amen.