Handelinge 26: 1 – 32

Skrifgedeelte: Handelinge 26: 1 – 32

Fokusgedeelte: Handelinge 26: 22 en 23

Tema: Christus is die Eerste wat uit die dood opgestaan het. Getuig ons wérklik van sy oorwinning?

Inleiding

In ons vorige preek, uit Handelinge 20, het Paulus sy Derde Sendingreis voltooi. En nadat hy sy formele ampswerk voltooi het, word Paulus amper onmiddellik gevange geneem. Die Jode wou hom, met alle mag, voor hulle oë wegvee, omdat Hy Jesus as die Christus verkondig het (Handelinge 21). Baie van die Jode wou nie erken dat Christus hulle o.a. van die Joodse Wet vrygemaak het nie. Hulle wou nie erken het dat Hy rééds vir hulle vir sondes betaal het nie. Bo dit alles wou hierdie Jode nie glo dat Jesus Christus ook uit die dood opgewek is nie.  

Christus is die Eerste wat uit die dood opgestaan het

Ses hoofstukke in Handelinge handel dan oor hoe Paulus homself verdedig het. Eers voor die Romeinse weermag (Hand. 21 en 22), toe voor die Joodse Raad (Hand. 23), daarna voor die Romeinse goewerneur, Feliks, (Hand. 24), daarna voor die Romeinse Keiser (Hand. 25), en soos ons hier in Handelinge 26 lees, selfs óók voor koning Agrippa. Elke keer kry Paulus die geleentheid om Niemand anders as ons Here, Jesus Christus, aan hierdie mense bekend te maak nie. Deur die werking van die Heilige Gees word die Evangelie aan die hoogste en belangrikste mense gebring. Al hierdie mense moes die Goeie Nuus hoor, want hulle almal is invloedryk. Indien húlle van die Waarheid oortuig word, kan hulle baie ánder bereik.

Op die oog af lyk dit dus asof Paulus uiters swaar kry in hierdie ses hoofstukke. Dit wil voorkom asof hy onregverdig veroordeel word, maar die Heilige Gees is hier aan die werk. Deur al hierdie verhore en ondervragings, word die Saad van die Evangelie diep geplant. Paulus is nóú besig om met die laaste – die belangrikste – persoon te praat. Koning Agrippa was ‘n Jood maar ‘n Romeinse burger. Hy sou dus die situasie waarin Paulus tans is, goed verstaan en ook goed daaroor kon oordeel. Paulus vra hom dan om geduldig na sý kant van die saak te luister. Hy word deur die Jode daarvan beskuldig dat hy ‘n vreemde leer verkondig en dat toelaat dat “onheilige” Grieke die tempel binnekom en dit sodoende ontheilig (Hand. 21: 28).

Paulus maak dit egter aan Agrippa duidelik dat hy nie sommer vir géén rede hierdie uitlatings maak en só optrede nie. Vir Paulus om nou Christelike beginsels en uitgangspunte te hê, kom nie sommer maklik nie. Hy verduidelik sy agtergrond aan die koning en dui aan dat hy – net soos koning Agrippa – ook ernstig oor sy geloof is. Net soos hierdie koning het Paulus aan die Joodse gebruike vasgehou – eintlik nóg meer. Paulus was ‘n fanatiese Fariseër. Die Joodse gebruike en Wette was vir hom amper té belangrik. Hy het so ver gegaan deur te sê dat iemand wat nié aan hierdie Joodse Wette voldoen nie, moet doodgemaak word (vers 10 en 11). Hy het al sy energie ingespan om téén Jesus Christus en sy navolgers te wees (vers 9).

Maar dan vertel Paulus van sy bekering. Hy vertel vir koning Agrippa van dít wat hy op pad na Damaskus gesien het: ‘n helder lig – skerper as die son – het hom verblind. En hy het ‘n Stem gehoor wat in Hebreeus vir hom sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” Die opgestane Christus praat sélf met Paulus. Hy kommunikeer in Paulus se moedertaal, om daarmee aan te toon dat daar nié so groot gaping tussen hulle is nie. Inteendeel, dit is in Christus wat die hele Ou-Testament vervul word. Dít waaraan Paulus so vasklou – dít waaroor hy so fanaties voel – juis dít word in Jesus Christus vervul.

Niemand anders as Jesus Christus sélf, gee vir Paulus die opdrag om uit te gaan en van Hom te getuig nie. Hy moet na die Jode én die heidene toe gaan en álle mense tot geloof oproep. Deurdat Paulus Jesus Christus aan hierdie mense bekend maak, sal hulle geloofsoë oopgemaak word, sodat hulle van die duisternis tot die lig kan beweeg. Die Heilige Gees sal sorg dat hierdie mense van die Satan af wegvlug en hulle na God-Drie-Enig toe draai. Presies dieselfde gedagte kry ons in Kolossense 1: 12 – 15 wat as volg lui: “Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons verlossing verkry; die vergewing van ons sondes.” Hier in Handelinge 26: 18 sê Christus ook aan Paulus: “Deur in my te glo sal hulle sondes vergewe word, en sal hulle deel word van die volk van God.

Dít is die rede waarom Paulus nou ánders as vroeër in sy lewe is. Deur die werking van die Heilige Gees het hy ‘n totale omkeer in sy lewe ondergaan. Paulus het tot bekering gekom, en daarom tree hy nou ánders op. Daarom getuig hy van dit wat hy op pad na Damaskus ervaar het. Daarom verkondig Paulus die Evangelie van Jesus Christus wat nie net vir gelowiges se sondes gestérf het nie, maar ook uit die dood uit ópgestaan het. Want hoe kon Jesus Christus sy heerlikheid aan Paulus toon as Hy steeds dood was? Dit wat met Paulus op pad na Damaskus gebeur het – die helder Lig wat vir Paulus, uit die duisternis, na Hom toe trek – was ná Jesus Christus se kruisiging. Indien die Verlosser dood was, sou só iets tog onmoontlik gewees het.

Maar dit is nié onmoontlik vir Christus om ná sy dood met Paulus te praat nie. Dit is nié vir Hom onmoontlik om dán vir Paulus tot ‘n radikale bekering op te roep nie, geliefdes. Niks is immers vir Hom onmoontlik nie, want net soos die Vader en die Gees, is Hy almagtig. Jesus Christus het nie ewig gesterf daar op Golgota nie. Sy lewe het nie opgehou toe Hy uitgeroep het: “Dit is volbring” nie. Dit is omdat Jesus Christus die Eerste is wat uit die dood uit opgestaan het, soos ons in ons fokusvers hoor. Hy het nie net die mag van die sonde en die Bose oorwin nie. Is sy almag het Hy die laaste vyand, die dood, oorwin. Hy is die Eerste wat uit die dood uit opgestaan het.

Maar wat van die drie mense wat Jesus uit die dood opgewek het, nl. die seun van die weduwee van Naïn (Luk. 7: 15), die dogtertjie van Jaïrus (Luk. 8: 55) en Lasarus (Joh. 11: 44)? Geliefdes, al is hierdie drie mense uit die greep van die dood teruggetrek, was dit net tydelik. Hulle het later weer, soos alle ander mense, gesterf. Maar wanneer Jesus Christus daardie Sondag-oggend uit die dood opstaan, dan sterf Hy nie weer nie. Daarom maak Paulus Hom bekend as “die Eerste wat uit die dood uit opgestaan het”.  Die Heilige Gees het Paulus daarvan oortuig dat Jesus Christus totaal anders as ‘n blote mens is. Hy is wérklik God se Seun – die Ware Verlosser – die Enigste Oorwinnaar oor die dood.

Die Heilige Gees verander Paulus se siening oor Christus: Hy is nie Iemand wat Paulus moet vervolg nie, maar eerder moet návolg. Paulus wil graag hê dat álle mense in hierdie oortuiging van hom moet deel. Net soos hy nou ‘n ander siening oor Jesus Christus het, so wil hy hê ander mense moet ook tot nuwe insigte kom. Onder leiding van die Heilige Gees is dit Paulus se hartewens dat koning Agrippa – net soos hy – tot geloof kan kom. Want Paulus besef die waarde van die Christelike geloof. Die Jode kan die beste raaksien hoe al die beloftes van die Messias in vervulling gaan. Want hulle kén die Ou-Testament, en hulle het óók die Nuwe-Testament in die koms van Christus beleef. Niks het in die hoekie gebeur nie – niks wat na Christus heenwys en in Hom vervul word, het in die geheim plaasgevind nie. Dit was in die lig want Hy sélf is die Lig. Niemand het ‘n verskoning dat hy/sy nié van Christus se wonderlike verlossing en opstanding uit die dood weet nie – veral nie koning Agrippa nie.

Maar selfs al is die Evangelie van Christus vir almal verstaanbaar, is daar dié mense wat aktief besluit om hulle gedagtes en harte te verduister. Al wat ons kan doen is om, soos Paulus, vir hulle te bid. “Ek bid dat nie net u nie, maar álmal wat vandag na my luister, sal word wat ek is” (Hand. 26: 29). En hoe was Paulus? Hy was ‘n persoon wat – net soos u en ek – buitengewone genade ontvang het. Hy het ‘n radikale omkeer in sy lewe ondergaan en raakgesien dat ‘n mens nie sonder Christus kan leef nie. Ja, jy sal dalk, sonder Hom, tydelik kan leef maar beslis nie ewig nie.  

Getuig ons wérklik van sy oorwinning oor die dood?

Jesus Christus sê self dat niemand na die Vader toe kan gaan, behalwe deur Hom nie (Joh. 14: 7). Hy het eerste uit die dood uit opgestaan en na sy Vader in die hemel toe opgevaar. Wanneer ons dit sê – wanneer ons saam met Paulus in ons fokusvers erken dat Christus die Eerste is wat uit die dood uit opgestaan het – dan het dit tog die betekenis dat daar ná Hom nog sal wees wat uit die dood opstaan. Hy is die Eerste van véle wat hierdie voorreg het, nie waar nie? Wat vir Hom, as Eersteling, geld, geld óók vir dié wat op Hom volg. En dit is juis ons troos, geliefdes! Ook vir óns wag die opstanding uit die dood! Daarom lees ons in 1 Tessalonisense 4: 14: “Ons glo immers dat Jesus gesterf het, maar ook opgestaan het. Net so glo ons ons ook dat God, saam met Jesus, die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.

Hierin sien ons die Lig, geliefdes. Wanneer dit donker in ons gemoed is, en dit vir ons voel asof ons geen hoop het nie, dan vind ons hoop in Christus se opstanding uit die dood. Want weens sý opstanding uit die dood, ontvang óns die sekerheid van ons eie ewige lewe. Selfs nie die slegste ding wat hier op aarde met my gebeur, kan my van hierdie sekerheid ontneem nie. Selfs nie die dood van my geliefde laat my álle moed verloor nie. Al is dit ook hóé tragies, is my trane tydelik, want ek leef met ‘n sekerheid in my dat my geliefde eendag weer uit die dood sal opstaan. My geliefde sal Hóm volg wat eerste uit die dood uit opgestaan het.

Het ons hierdie troos in ons harte? Ervaar ons hoop wanneer ons van Christus se oorwinning oor die dood hoor? Kry ek berusting wanneer ek van sy opstanding uit die dood uit lees? Of kies ek aktief om vandag nie getroos te word nie? Hou ek aan om my hart en my gemoed met donkerte te vul wanneer dit by die dood van my geliefde kom?

Geliefdes, mag die Lig van die Evangelie ons elkeen vanoggend verlig. Ons het ‘n Ewige Verlosser wat rééds uit die dood opgestaan het. Hy moet nie nog gebore word nie. Hy was rééds hier. Hy het rééds sy roeping voltooi en ons en ons medegelowiges rééds van ons sondes vrygespreek. Hy het rééds na die hemel toe opgevaar nadat Hy alles hier volbring het. En Hy sál weer terugkeer om ons almal – met liggaam en siel – na Hom toe te neem – ja, ook daardie geliefde van my wat my vooruitgegaan het.

Waar staan ek in my geloofslewe? Kies ek aktief om deur die Evangelie verlig te word, of kruip ek weg in ‘n donker hoekie? Besef ek die waarde van die Jesus Christus se opstanding uit die dood? Beteken dit iets vir my? Ontvang ek hoop wanneer ek na hierdie preek luister? Ervaar ek hoe die Heilige Gees my troos oor hulle wat nie meer by my is nie?

Slot

Indien dit die geval is, dan sal ons – soos Paulus – kan getuig van ons lewende Verlosser. Dan sal ons ook voor groot en klein – belangrik en onbelangrik – kan staan en die Waarheid verkondig. Dit is dán wat vreemdelinge se verlossing vir ons belangriker sal word as ons eie gemak. Waarom? Want die Here het aan my onverdiende genade bewys. Hy het my tot inkeer laat kom en my laat besef dat híérdie genade vir álle mense moontlik is.

Geliefde in ons Here, getuig jou lewe van ‘n sekerheid op die ewige lewe? Volg jy ook Hóm na wat Eerste uit die dood opgestaan het? Is jy oortuig dat jóú opstanding op Sýne sal volg? Amen.