Handelinge 28: 16 – 31

Skrifgedeelte: Handelinge 28: 16 – 31

Fokusvers: Handelinge 28: 31

Tema: Wat dit behels om die koninkryk van God te verkondig

Inleiding

Die apostel, Paulus, is nou in die laaste fase van se aardse lewe. Hy is nou in die stad, Rome, waar hy voor die belangrikste Jode gaan verskyn. Ons lees al bykans deur die hele boek, Handelinge, van dit wat Paulus gedoen en gesê het. Dit is waarom die boek “die Handelinge van die Apostels” genoem word. Saam met die ander apostels word Paulus se doen en late in die fynste besonderhede beskryf. In hierdie Bybelboek, leer ons Paulus se héle lewensverhaal ken. Van vóór sy bekering tot nou – met sy laaste dae.

Wat dit behels om die koninkryk van God te verkondig

Vandat Paulus tot sy radikale bekering gekom het, het hy die Evangelie verkondig. Sy “Damaskus-ervaring” was vir hom só lewens-veranderend dat hy élke dag aan hierdie roeping gehoorsaam was. Hy het die erns van sy roeping besef: Jesus Christus het Sélf vir Paulus die opdrag gegee om die Evangelie te versprei, en nou doen hy dit – élke dag – órals waar hy gaan.

Wanneer ons terugkyk na dit wat ons die afgelope jaar in die boek, Handelinge, geleer het, dan is dit amper te veel om op te noem. Maar wanneer ons onsself vinnig aan die hoof-gebeure in die boek herinner, dan sal ons hierdie laaste hoofstuk baie béter verstaan. Van die belangrike gebeure in die boek sluit die volgende in: Die Heilige Gees word oor die kerk uitgestort – tot só ‘n mate dat elkeen in sy eie moedertaal gepraat het. Dit is ‘n groot openbarings-oomblik in die kerk se geskiedenis, geliefdes. Want nou is dit nie net die Jóde wat profeteer nie, maar gelowiges van verskillende kulture, nasies en agtergronde (Hand. 2). Daarna preek Petrus verál oor Jesus as die Gekruisigde en Opgestane Christus, wat Here is oor álmal (Hand. 4). Dit is vir hulle onmoontlik om nié te getuig van dít wat hulle gehoor en gesien het nie. Dieselfde geld vir die diaken, Stefanus. Hy getuig bloot van dit wat hy gesien het: die hemel is oop en hy sien ons Here, Jesus, aan die regterhand van sy Vader staan (Hand. 7). Hy skroom nie om van Christus se oorwinning oor die dood voor die Jode te getuig nie – al kos dit hom sy lewe.

Tydens Petrus se besoek aan die kaptein, Kornelius, sien ons hierdie groot tema in die boek, Handelinge, seker die duidelikste raak: Petrus sien ‘n gesig van ‘n doek wat uit die hemel neersak met verskeie onrein diere in. “Kom, Petrus, slag en eet”, roep ‘n Stem uit die hemel uit. “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.” Later in die hoofstuk lees ons dan hoe Petrus na Kornelius se huis gegaan het, en selfs saam met hom geëet het. Al is Kornelius onrein in die oë van behoudende Jode, soos Petrus, besef die apostel dat dit Gód is wat aan hom bewys het dat hy géén mens as onheilig of onrein mag beskou nie. Indien die Vader hom/haar begenadig het nie, wie is hy om te oordeel? Hiervoor is Petrus, net soos die ander apostels, wreed behandel. Hy word twee keer in die tronk gegooi, en twee keer lei die Here hom daaruit om sy Woord vérder te versprei. 

Die res van die boek, Handelinge, vertel dan van Paulus se bekering en sendingreise. Wéér kom die tema sterk na vore van God wat die skynbaar onmoontlike moontlik maak. Alleen Hý het die mag om iemand tot radikale bekering te bring. Nie net was Paulus ‘n Jood, wat nou tot die Christelike geloof bekeer is nie – hy was ‘n fanatiese vervolger van Jesus Christus en sy dissipels. En nou kom die Here in sy volle glorie en toon sy heerlikheid aan Paulus – tot só ‘n mate dat hy nie nét aan Jesus se Woord gehoorsaam word nie, maar sélfs hierdie  Woord met ander mense deel. Paulus word deur die gemeente in Antiogië verkies om die Evangelie na die Jode én die Heidene toe te neem.

Orals waar Paulus kom, vertel hy vir die mense dat Jesus Christus die Wáre Verlosser is. Mense dink dat dit hulle onderhouding van die Tien Gebooie, of hulle suiwer herkoms, of hulle verskeie afgode is wat hulle gaan red (vgl. ook Hand. 17). Maar dan wys Paulus hierdie mense daarop dat ‘n mens se geloof in Jesus Christus, ál waarborg vir die ewige lewe is. Maar dit is nodig dat ons op die régte manier in Hom glo, geliefdes. Wanneer ‘n mens dink dat die Jesus Christus waarvan ons in die Evangelies lees, nie die wáre Messias is nie, dan is ons niks beter as die Jode nie. Dan is ons ook onder húlle wat nog wag vir die Here se koms na die wêreld. En wanneer ons dalk dink dat Jesus maar net ‘n Goeie Voorbeeld, of maar net een van vele gode is, dan is ons soos die Grieke, wat dink dat hulle baie wysheid het, maar in werklikheid het hulle nie die wáre kennis nie (Hand. 17).

Jesus Christus is die Énigste Verlosser, geliefdes. Buiten Hóm het ons niks en niemand nodig om gered te word nie. Buiten Hóm is daar geen verlossing te soek óf te vind nie. Alleen Hý is die Almagtige, wat nie maar net namens ons sondes die volle skuld kon dra nie, maar óók die dood oorwin het. En juis omdat Hy uit die dood uit opgestaan het, kan Hy die ewige lewe skenk aan wie Hy wil. Ongeag van ‘n mens se herkoms of jou moontlike sondige siening van vroeër in jou lewe. Wanneer die Heilige Gees jou kliphard hart verander, en jy kom tot ‘n konstante besef dat jy deur Hom geestelik nuutgemaak is, dan ontvang ‘n mens besondere insig. Dit is dán wat ‘n mens sal glo dat dié Jesus Christus waarvan ons in die Bybel lees – saam met die Vader en die Heilige Gees – die Enigste Wáre God is. Hy moet nie nog na hierdie stukkende wêreld toe kom nie – Hy was reeds hier, geliefdes. Sy kruisdood dien as betaling vir alle uitverkore kinders van God se sonde. Sy opstanding uit die dood, waarborg ook óns opstanding uit die dood. Omdat ons deur die geloof met Hom verenig is, ontvang óns ook die ewige lewe.

Wanneer ons nou na die hoofstuk wat ons vanoggend saamgelees het terugkeer – na die laaste vers in die boek, Handelinge – dan het ons gehoor hoedat Paulus die koninkryk van God aan alle mense verkondig het. Wat beteken dit om die koninkryk van God te verkondig? Presies dít wat ons tot op hede in die preek bespreek het, geliefdes. Presies dít waaroor die hele boek, Handelinge, handel! God se koninkryk is álles wat ons sien en nie sien nie. Alles wat bestaan, is deel van God se koninkryk: van die kleinste molekule tot die grootste sterrestelsel. En Hy wat oor al hierdie dinge regeer, is ons Here, Jesus Christus (Ps. 110; 1 Kor. 15: 25). Wanneer ons dan die koninkryk van God verkondig, dan maak ons God-Drie-Enig só bekend soos Hy Homself in die Woord aan ons openbaar. En die hoogtepunt van die koninkryk van God is te vind in die Kruisdood en Opstandig van ons Here, Jesus Christus. 

Ons het sopas na al die hoof-gebeure in die boek, Handelinge, gelyk, om raak te sien hoekom die boek juis met hierdie unieke vers afsluit. ‘n Vers wat getuig van God se koninkryk en die Hoop wat dit inhou. Maar wanneer ons na die éérste paar verse van die boek, Handelinge, teruggaan, dan verstaan ons hierdie lááste vers nóg beter. Die boek het begin met Jesus se laaste woorde aan sy dissipels. Net voor sy Hemelvaart sê Hy vir die elf: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Hy gee hierdie belofte in die vorm van ‘n opdrag aan hulle nadat die dissipels Hom gevra het of dit nóú die tyd is wat Hy die koninkryk vir Israel gaan oprig (Hand. 1: 6). En hier, aan die einde van Handelinge kry ons weer die gedagte van die “koninkryk van God”.

Maar iets wat ons moet verstaan is die verskil tussen die dissipels se begrip van die term “koninkryk” en ons begrip daarvan. Die dissipels was Jode en praat van die koninkryk van Israel. Al ken hulle Jesus Christus só goed, sien hulle Hom steeds slegs as ‘n politieke verlosser – ‘n aardse koning wat hulle volk teen die Romeine kan beskerm en bewaar. Paulus was ook ‘n Jood en al het hy nooit Jesus Christus fisies ontmoet nie, besef hy egter dat God se koninkryk soveel méér as een volk of een kerk behels. Deur die insig van die Heilige Gees besef hy – net soos ons – dat alles in die heelal deel uitmaak van God se koninkryk. Jesus Christus is Here oor alles en almal – oor die Jood, maar óók oor die Nie-Jood.

Met volle vrymoedigheid en sonder verhindering

Met Christus se Opstanding en Hemelvaart, breek God se koninkryk op ‘n sigbare manier aan! Die dissipels kon nou self sien wat sy woorde aan hulle beteken. Dat sy Oorwinning oor die dood nie daarop dui dat Hy nét oor die stad, Israel, sal regeer nie, maar oor álles wat sy Vader, deur Hom, geskep het. Ja, geliefdes, vanuit die hemel, heers Hy oor álle sigbare en onsigbare dinge. Ook oor sy kerk.

Soos ons in die boek, Handelinge, duidelik raakgesien het, gee Jesus Christus aan sy kerk die opdrag om sy koninkryk hier op aarde uit te brei. Ware gelowiges sal dit egter nie as ‘n las en ‘n opoffering sien nie, maar as ‘n voorreg om sy koninkryk hier op aarde uit te brei. Die gehoorsame Christelike kerk is die voertuig waarmee Christus sy koninkryk hier op aarde verkondig. In sy almag sorg Hy dat alle mense sy Woord aanhoor – selfs hulle wat hardnekkig is, en nié wil luister nie. Die Here vertel vir die profeet, Jesaja, van hierdie mense (Jes. 6)(vgl. Hand. 28: 255-28). Van hulle wat kyk en kyk en tog niks sien nie. Hulle wat hoor en hoor, en tog niks verstaan nie. Daar sal altyd húlle wees wat horende-doof is, en siende-blind – Paulus het ook met hulle te doen gehad – regdeur sy bediening.

Maar selfs al is daar húlle wat wil keer dat Christus se koninkryk uitbrei – selfs al is daar húlle wat God se koninkryk wil afbreek – sal hulle nie dit nie regkry nie, geliefdes. Want God se koninkryk kan nie vernietig word nie! Hy het die een wat dit wil beskadig, reeds oorwin! Dit is ons troos, geliefdes, want ook óns is deel van God se koninkryk. Selfs al wil die Bose ons teëstaan, kan ons stééds aan ons roeping gehoorsaam wees, want ons Koning is almagtig.

Daarom kan ons, soos Paulus, die Woord van God met alle vrymoedigheid en sonder enige verhindering verkondig. Dit beteken egter nié dat alles sal maklik wees nie, geliefdes. Paulus was onder huisarres daar in Rome – daar was ‘n permanente soldaat wat hom dag en nag opgepas het (Hand 28: 16). Hy was nie in die guns by die Jode óf die Romeine nie. En tog het hy vryheid en vrymoedigheid in sy gemoed ervaar. Hy het verby die fisiese uitdagings gekyk en gefokus op dít wat werklik saak maak: op sy Here, Jesus Christus en op die realisering van die koninkryk van God.   

Slot

Mag ons, as kerk, altyd die erns ons roeping besef. Mag ons besef dat élkeen van ons die voorreg én die verantwoordelikheid het om God se koninkryk uit te brei. Verál noudat waar ons aan die einde van die boek, Handelinge gekom het. Regdeur hierdie boek sien ons die Here se doel met sy kerk, hier op aarde raak. Die boek begin met die verkondiging van die koninkryk van God én sluit daarmee af. Hierdie tema omarm al die hoof-gebeure in die boek.

Noudat ons deur die boek, Handelinge, toegerus is, het ons geen verskonings om nié van God-Drie-Enig te getuig nie. Die Here roep élkeen van ons op om dit te doen, geliefdes. Mag ons die Handelinge van die Apostels bly voortsit en besef dat elkeen van ons geroep word om, daar waar ons is, van die Here se verlossing en oorwinning te vertel. Met álle vrymoedigheid en sonder énige verhindering. En mag ons ons hoop bly vestig op die sekerheid van sy wederkoms, geliefdes. Daar waar sy koninkryk volkóme sal wees, en ten vólle sal kom. Amen.