2 Tessalonisense 1: 1 – 12

Skrifgedeelte: 2 Tessalonisense 1: 1 – 12

Fokusverse: 2 Tessalonisense 1: 9 en 10

Tema: Die hemelse Regter kom aarde toe om te kom oordeel. Voel jy verskrik of vertroos?

Heidelbergse Kategismus Sondag 19

Inleiding

Ons kyk vanoggend na die laaste van drie preke oor die oorwinning van ons Here, Jesus Christus. Twee weke gelede het ons gekyk watter nut Jesus Christus se opstanding uit die dood vir ons het. In 1 Petrus 1 het ons gehoor hoe Christus ons deel laat kry aan sy oorwinning oor die dood. Hy wek ons op tot ‘n nuwe geestelike lewe en gee aan ons die waarborg dat ons en ons geliefdes óók eendag uit die dood sal opstaan.

Verlede week het ons by die Hemelvaart van ons Here, Jesus Christus stilgestaan. Ons het gesien dat sy weggaan nie ‘n negatiewe weggaan is nie, maar dat sy Hemelvaart vir ons verskeie voordele inhou: Hy vaar na die hemel toe op met ‘n doel – Hy gaan om vir ons plek voor te berei, maar óók om namens ons by die Vader in te tree. Die feit dat Hy in die hemel is, gee aan my, as Christen, die waarborg dat ek ook daarheen op pad is. En gee Hy die Heilige Gees in sy plek aan ons. Om die Heilige Gees by ons te hê is wonderlik, want God sélf is by ons. Laastens belowe die Here dat Hy ons nie as weeskinders hier op aarde agterlaat nie, maar dat Hy weer sal kom om ons na Hom toe te neem.

Die hemelse regter kom aarde toe om te kom oordeel

En dit is presies waarby vandag se preek aansluit. Vandag kyk ons na die finale fase in die oorwinningspad van ons Here, Jesus Christus. Ons staan vanoggend stil by die wederkoms van Jesus Christus. Soos ons nou al in die vorige twee preke gehoor het, is ons, as gelowiges, saam met Jesus Christus op hierdie oorwinningstog van Hom is. In die Here se genade maak Hy gelowiges déél hiervan – Hy sluit ons in by dit waarmee Hý besig is. Geliefdes, ons moet goed verstaan dat dit besóndere genade is, want dit is Jesus Christus se oorwinning en nie óns oorwinning nie.

Al van die Ou-Testament af sien ons hoe God die Vader sy kinders laat deel kry in dit waarmee Hý besig is. In die Here se genade is dit Hý wat na ons, mense, toe afbuig en met ons ‘n bemoeienis maak. Hy bou ‘n verhouding met die mens. Hy sluit ‘n verbond met die gelowige. Alles kom van sy kant af, geliefdes. Al stel die mens Hom keer op keer op keer teleur, reik Hy steeds na ons toe uit. God maak élke keer ‘n nuwe begin met ons. Die duidelikste nuwe begin wat die Vader maak, is te sien in die eerste koms van Jesus Christus.

Die Persoon van die Vader en die Persoon van die Heilige Gees stuur vir Jesus Christus uit die hemel om hier op aarde te kom woon. Die Here het Hom lank rééds beloof aan sy verbondsvolk, en nóú is God getrou aan sy Woord. Hy stuur Jesus Christus aarde toe om tussen sondaars te kom woon. Hy verneder Homself ten volle ter wille van óns, mense. Hy word bevraagteken deur soveel mense. Hy word gewantrou. Hy word vervolg en gevange geneem, al is Hy onskuldig. Hy word tot die dood veroordeel en aan ‘n kruis opgehang – die teken van alle vervloeking. Geliefdes, ons Here, Jesus Christus hang daar sonder om te kla. Hy hang daar tot sy fisiese kragte en liggaam ingee. Hy hang daar tot die dood toe – nie vir Homself nie maar vir u en vir my.

Hy word deur God vervloek want Iemand moet betaal vir die sonde wat gelowiges doen. Omdat geen mens waardig is om dit te doen nie, stuur God Jesus Christus aarde toe om sy kinders los te koop. Jesus Christus móés dus op hierdie pad van vernedering stap, geliefdes, ter wille van óns. Omdat ons die gawe van geloof het, gaan Hy deur hierdie vernedering om ons met God te versoen. En daarom déél ons in hierdie pad van vernedering wat Jesus Christus moet stap. Dit is as gevolg van óns sonde dat Hy aarde toe moes kom. Hy kom maak ons één met Hóm en daarom deel ons nóú nog in sy vernedering, vervolging en lyding. Maar nét soos ons in Jesus Christus se lyding deel, deel ons óók in sy verhoging. Die dood aan die kruis was nie ons Here, Jesus Christus, se einde nie, geliefdes. Indien Jesus Christus dood gebly het, sou nie een van ons vanoggend hier gesit het nie – en ons sou verséker nie na hierdie spesifieke preek geluister het nie. Ons Verlosser het daardie Sondag-oggend uit die graf uitgekom! Hy het die dood oorwin en weer lewend geword! Die dood het geen mag oor Hom gehad nie, maar Hý het alle mag oor die dood. Dit was werklik Hý wat die dissipels weer gesien het. Hulle het Hom herken – hulle het die letsels aan sy hande en sy voete gesien waar die spykers van die kruis Hom deurboor het. Vir ‘n vérdere veertig dae het die dissipels die voorreg om ‘n laaste bietjie tyd by Hom te spandeer. Hulle het die geleentheid om vir oulaas deur Hom toegerus te word voordat Hy moet weggaan. 

Nét voor sy Hemelvaart troos Jesus Christus sy dissipels deur hulle te beloof dat Hy weer kom om hulle te kom haal. Hy gaan egter nie nét kom om gelowiges te kom haal nie, geliefdes. Ons Skrifgedeelte én die Belydenis is duidelik dat Hy óók kom om oor alle mense te oordeel. Daarom verwys ons ook soms na die oordeelsdag. Christus se wederkoms en die oordeelsdag dui op dieselfde gebeure. Omdat Jesus Christus die satan én die dood oorwin het, is daar niemand wat méér gesag of mag as Hy het nie. Wanneer Hy na die hemel toe opvaar, gaan sit Hy aan die regterhand van God. Hy heers, vanuit die hemel, oor alles en almal. Hy is die Koning van alle konings. Hy is die Regter van alle regters. En met sy wederkoms, kom Hy om oor alle mense te oordeel. Wanneer Hy weer aarde toe kom, dan tree Hy op as Regter oor álle mense. En Hy oordeel mense volgens hulle dade. Hy lewer uitspraak oor dít wat ‘n mens tydens jou hele aardse lewe gedoen het.

In Mattheus 25 lees ons hoe dit met die oordeelsdag gaan wees: Jesus Christus gaan in alle majesteit saam met sy engele aarde toe kom. Met sy wederkoms sal alle volke, regoor die aarde, voor Hóm verskyn en Hy sal die mense van mekaar skei. Soos ‘n herder bokke en skape van mekaar skei, so sal gelowiges en ongelowiges van mekaar geskei word. Die gelowiges en die ongelowiges sal verkillende vonnisse kry. Vir die gelowiges nooi Christus om die volle koninkryk in besit te neem (vers 34), maar die ongelowiges moet dadelik voor sy aangesig verdwyn (vers 41). Hulle is die vervloektes en hulle sal gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is. Húlle sal die ewige stráf ontvang, maar gelowiges die ewige léwe (Matt. 25: 31 – 46).

En hier, in 2 Tessalonisense 1 kry ons dieselfde duidelike boodskap, geliefdes. In ons fokusverse lees ons hoe Jesus Christus die mense gaan oordeel en straf wat aktief die Evangelie verwerp: “Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd uitgeban uit die teenwoordigheid van God en sy wonderbare mag.” Maar ons lees óók wat met die gelowiges gaan gebeur: “hulle sal ook daar wees, en hulle sal aan Hom eer betoon.” Hulle behoort aan Jesus Christus – hulle is sy eiendom – duur gekoop met sy kosbare bloed.

Die gemeente in Tessalonika was nog ‘n redelike núwe gemeente. Hulle het nog nie álles van die Christelike geloof verstaan nie. Baie van die mense in die stad het gedink dat die wederkoms van Jesus Christus baie naby is, en daarom het hulle nie die punt ingesien om énige iets te doen nie. Hulle het net leeg gelê, want “die Here is mos op pad, wat kan hulle daaraan doen?”

En dit is juis waarom Paulus hierdie brief aan die jong gemeente skryf, geliefdes, want selfs al is die Here se wederkoms náby, is dit nooit te laat om ‘n verandering te maak nie. Die Here se genade is elke dag nuut (Klaagl. 3: 21 – 23). Elke nuwe dag is ‘n geleentheid om geestelik “oor te begin”. Boonop is die presiese tyd van sy wederkoms onbekend. Dit sal so onverwags plaasvind soos ‘n dief in die nag (1 Tes. 5: 2). Daarom roep Paulus die gelowiges in Tessalonika op om rustig met hulle daaglikse roeping aan te gaan. Paulus druk dit hulle op die hart dat hulle volgens hulle roeping moet lewe. God het hulle geroep om getrou aan Hom te lewe – om Hom na te volg en om in geloof te volhard. Elke kind van God word opgeroep om in hulle geloof te volhard totdat Jesus Christus weer kom om oor die alle mense te oordeel.

Voel jy verskrik of vertroos?

Geliefdes, soos ons gehoor het, klink dit nié altyd na ‘n vredevolle gebeurtenis wanneer Christus oor sy wederkoms praat nie. Ons lees in die Bybel dat Christus se wederkoms met oordeel gepaardgaan. Ons lees dat daar ‘n groot verdrukking sal wees voor sy Tweede Koms. Ons lees hoe die mense wat dán leef, sal swaarkry en dat baie mense mekaar sal wil mislei (Matt. 24). Ons lees hoe mense in verwarring gebring sal word en hoe baie mense hulle sal voordoen as vals christusse. Maar geliefdes, wanneer ons Here weer kom, sal daar geen onduidelikheid hieroor wees nie. Alle mense, regoor die wêreld, sal van sy Koms weet. Hy gaan nie net aan een mens of ‘n groep mense verskyn nie – dit sal aan alle mense duidelik wees. Regoor die aarde sal die son verduister word, die maan sal nie meer skyn nie en die sterre sal uit die lug val (Matt. 24). Alle mense sal Jesus Christus uit die hemel sien kom, soos Hy daarheen opgeneem is. Op die wolke kom Hy weer, en dit is dieselfde Here wat hier op aarde was en aan die kruis gesterf het. ‘n Groot trompet sal weerklink en alle mense sal dit hoor en na Hom toe kom, om geoordeel te word (Matt. 24 en 25). 

Geliefde, hoe laat ál hierdie dinge jou voel? Voel jy verskik wanneer jy aan Jesus Christus se wederkoms dink of voel jy vertroos? Ons, as gelowiges, hoef nie vir een oomblik die Oordeelsdag te vrees nie, geliefdes. Want Jesus Christus het rééds ons oordeel op Hóm geneem. Aan die kruis het Hy die ergste wraak van God deurgemaak, ter wille van God se uitverkore kinders. 

Maar dit is só dat alle mense met die oordeelsdag deur God geoordeel gaan word. Jesus Christus kom om as Regter oor álle mense te oordeel. Die vonnis wat óngelowiges kry is: “vervloek, bestem vir die éwige vuur”. Maar die vonnis wat gelówiges kry is: “vrygespreek, bestem vir die ewige heerlikheid”.

Slot

En dit is hoe Jesus Christus se wederkoms, ons as gelowiges, troos. Ons kan dieselfde Here, Jesus Christus, uit die hemel verwag as waarvan ons in die Bybel lees. Presies wanneer sy wederkoms gaan plaasvind, weet ons nie, maar ons weet dat dit wél sál plaasvind. God is getrou aan élke belofte van Hom. Dit is nie ‘n dag waarvoor ons hoef te vrees nie, geliefdes, want ons oordeel is rééds verduur. En daarom sien ons met groot verlange hierna uit!

Terwyl ons daarvoor wag, het elkeen van ons ‘n roeping om uit te leef. Ons behoort die Here deur ons optrede te eer, en ons behoort sy wonderlike Evangelie met ander te deel. Ons wag nie doelloos vir God se Oordeelsdag nie, geliefdes. Want ons Here, Jesus Christus, maak ons déél van dit waarmee Hý besig is. Ons is nie maar bloot toeskouers van sy oorwinningspad nie – ons kry déél daaraan. Mag ons daarom in die geloofspad volhard waarop óns stap. Mag ons in ons kosbare geloof volhard totdat ons Koning én ons Regter weer op die wolke kom. Amen.