Klaagliedere 5: 1 – 22

Skrifgedeelte: Klaagliedere 5: 1 – 22

Fokusverse: Klaagliedere 5: 21

Tema: Regdeur die eeue bekeer God sy kerk. Begeer ons stééds om bekeer te word.

Inleiding

Die boek, Klaagliedere, is vir baie mense ‘n negatiewe en vervelige boek. Bloot die naam van hierdie boek, sit baie mense af en veroorsaak dat baie gelowiges nie die moeite doen om dit te lees nie. Want wie wil nou iemand anders se gekla en gesanik luister? Maar wanneer ons hierdie boek rustig deurwerk, en die omstandighede probeer verstaan, dan bring Klaagliedere vir ons perspektief en sélfs hoop.

Regdeur die eeue bekeer God sy kerk

Ons weet nie presies wie die skrywer van die boek, Klaagliedere, was nie. Baie mense meen dat die profeet, Jeremia, dit geskryf het – maar ons is nie heeltemal seker daaroor nie. Tog is daar baie ooreenkomste in skryfstyl en temas tussen Klaagliedere en die boek, Jeremia, maar daar is ook nét soveel verskille. Wie ook al die skrywer was, ons wéét dat Klaagliedere in die tyd van die Babiloniese Ballingskap geskryf is. Die volk, Israel, het in duie gestort. Hierdie volk van God was nou nie meer die magtige volk van vroeër nie. Die stad, Israel, is lank reeds verwoes: ons lees van die jakkalse wat al in hierdie stad en in die tempel rondloop. Daar is geen teken van mense meer oor nie. Selfs die heilige tempel, waar die Israeliete gaan aanbid het, is vernietig. Die volk van die Here is verslae en beleef besóndere ellende.

Die rede – so lyk dit vir ons – is omdat die volk, Israel, deur die wrede Babiloniërs in ballingskap weggevoer is. Téén hulle wil is hulle uit hul land verban en na ‘n vreemde land toe geneem. Die kinders van God blý vreemdelinge in hierdie nuwe land. Hulle blý die verwerptes; die uitgestotes; die eensames. Dit wat met die volk, Israel, gebeur is vir hulle ‘n groot ontnugtering. Wie sou ooit kon dink dat die Almagtige God se éie kinders soveel ellende sou beleef? Hulle is nou totaal en al van die bekende ontwortel. Hierdie mense se besittings is gevat en vir vreemdes gegee (vers 2). Hulle moes hulle gerieflike huise verruil vir ‘n plek waar hulle nié wou wees nie (vers 2). Hierdie gelowiges se gesinne is verbreek – ouers en kinders is nie meer bymekaar nie. Hierdie groep mense – wat eens op ‘n tyd vir hulle gesonde huisgesinne bekend was – staan nou as “weeskinders” en “weduwees” bekend (vers 3).

Wat hulle nog altyd as vanselfsprekend aanvaar het, is nou ‘n luuksheid:- vir die mees basiese dinge, soos water en vuurmaak-hout, moet hulle nou skielik betaal (vers 4). Hulle was vry in Israel, maar nou is hulle slawe in Babel. Hulle word geen rus gegun nie. Niemand wil hulle bystaan en help nie. Die volk, Israel, is selfs genoodsaak om by hul výande vir kos te smeek. Mense wat eens op ‘n tyd hulle slawe was, regeer nou oor húlle (vers 8).

Hulle ervaar elke dag angs daar in Babel. Moord en verkragting is aan die orde van die dag (vers 9 – 11). Ons lees hoe hulle leiers agtervolg en gevange geneem is (vers 12). Ons lees hoe wreed hierdie mense mishandel is. Selfs die godsdienstige leiers is aan pale opgehang – ja juis hulle, want die inwoners van Babel was ongelowig. Hulle wou niks weet van God se kinders en hulle vertroue in die Verbondsgod nie. Die mense van Babel was nie oop vir die Evangelie nie. Die Waarheid is verwerp en versmoor.

Tydens die Babiloniese Ballingskap is daar aan die volk, Israel, géén respek betoon nie. Niemand word geëer nie – nie die mans nie, nie die vrouens nie en sélfs nie die bejaardes nie (vers 12 – 14). Ons lees hoe mense van aansien tot in die grond toe verneder is. Maak nie saak in watter hoedanigheid jy vroeër gestaan het nie – jou titel – jou geslag – selfs jou ouderdom beteken nóú niks meer nie. Die kinders van die Here ken nou net een emosie, en dit is bedruktheid. Die hele volk ervaar hartseer en ellende. Daar is geen teken van wysheid in die stad oor nie – die stad se poorte, waar die ou mense en die geleerde mense eens op ‘n tyd gereeld geredeneer het, is verlate. ‘n Mens hoor nie meer die vrolike klanke van die jong mense se musiek in die strate nie (verse 13 en 14). “Vrolikheid het uit ons lewens verdwyn, ons koordanse het plek gemaak vir rou”, lees ons in vers 15.  

Waarom ervaar die volk, Israel, hierdie diepe droefheid? Hoekom beleef God se kinders hierdie depressiewe gevoel van ellende? In vers 16 gee die skrywer van Klaagliedere vir ons die antwoord: “Ons het ons aansien verloor, daar het ellende oor ons gekom, want ons het sonde gedoen.” Deur die kragtige werking van die Heilige Gees ontvang hy die insig om ‘n réde vir Israel se mismoedige situasie in te sien. Dit is nie soseer omdat die volk in Ballingskap is, dat hulle kla nie. Natuurlik dra hulle veranderde omstandighede by dat hulle nou meer mismoedig is. Maar die éintlike rede vir hierdie Klaaglied, is weens die volk, Israel, se sonde.

Want dít wat met hulle sou gebeur nádat hulle in die sonde volhard, was nie aan hierdie gelowiges onbekend nie, geliefdes. Rééds in die tyd van Moses het die volk, Israel, presies geweet wat met hulle sou gebeur indien hulle hulself teen God blý verset. Daarna het Here in sy genade verskeie profete na hulle toe gestuur: “Bekeer julle tot God!” “Hou vas aan sy Woord!” “Stel julle vertroue alléén in Hom!” “Gryp met alles wat julle het aan Hom vas, want alleen in Hóm is daar ware berusting!” “Draai weer terug na God toe, anders is daar konsekwensies!” Die Ballingskap was dus nie veronderstel om vir die verbondsvolk ‘n verassing te wees nie, geliefdes. Die feit dat hierdie kinders van God nou na ‘n vreemde, goddelose, land weggevoer is, was lánk reeds aan hulle bekend. Daarom besef die skrywer dat hy en sy volk teen die Here gesondig het. Hulle het lynreg téén God se heilige wil ingegaan – hulle het God se opdragte geminag – dít besef die skrywer baie goed. “Dit is die rede vir ons droefheid, Here, dit is die rede vir die swart kringe om ons oë” (vers 17).

Nie net ontvang die skrywer van Klaagliedere die insig om die probleem te identifiseer nie; hy vind ook die oplossing. In vers 19 bely hy: “Maar U, Here, heers vir altyd, U troon staan vas van geslag tot geslag.” Die oomblik wat hy tot sondebesef kom, kom hy óók tot ‘n besef van hóóp! Die Klaagliedere-skrywer sit nie in sak en as soos sy volksgenote nie. Hy fokus nie op die ellende en die droefheid en die stukkende geboue en stukkende harte nie. Hy vestig opnúút sy Hoop op die Hére. Op die Here wat geslag vir geslag dieselfde bly. Op die Here wat geslag vir geslag blý heers en blý regeer.

Die skrywer van Klaagliedere vestig óók sy Hoop op die Here wat, regdeur die eeue, sy kerk bekeer. God-Drie-Enig is regverdig – Hy straf die volk se sonde met die Ballingskap – maar Hy is óók genadig – Hy red sy uitverkore kinders weer daaruit. ‘n Handjie vol gelowiges word uitgelei en teruggelei nadat hulle hulself bekeer het. Hierdie optrede van God sien ons regdeur die eeue, geliefdes. Ons sien gedurig hoe God sy kerk na die Waarheid toe teruglei. Die Heilige Gees werk kragtig in gelowiges totdat hulle hul sonde besef en hulle dan van hierdie sondige lewenswyse bekeer. Die Here vergeet nooit van sy kinders nie. Hy hou nie aan om hulle te verstoot nie (vers 20). In sy troue liefde red Hy ons áltyd uit as die beproewing sy doel gedien het. Sodra die gelowige met sy/haar sonde wil breek, dan bring God uitkoms.

Soos ons weet moet ons onderskei tussen wortel-bekering en daaglikse-bekering. Wanneer ek ‘n kind van God word – wanneer ek tot geloof kom – dan ondergaan ek wortel-bekering. Maar dit beteken egter nié dat ek nou konstant heilig lewe nie. Ek moet daagliks bekeer omdat sonde nog so deel van my lewe is en bly. Ek kan mysélf nie tot bekering bring nie – dit is iets wat nét God deur die Heilige Gees kan doen. En daarom smeek die skrywer in ons fokusvers dat God hulle sal bekeer sodat hulle bekeer kan wees. Net soos die gawe van geloof, kom bekering alléén van God af. Dit is alleen die Hére wat ‘n mens tot inkeer laat kom en jou laat omkeer om weer op sy paaie te wandel. Sonder die Here se genade is bekering glad nie vir ons moontlik nie. Die oomblik wat ek met my ou, sondige, lewe wil breek, kan ek séker wees dat ek God se kind is. Géén ongelowige het die behoefte om sy/haar lewe te verander nie.      

Begeer ons steeds om bekeer te word?

In ons behoefte tot bekering sien ons dus God se genade raak. Wanneer ons geestelik óór wil begin – wanneer ons, met alles in ons, rein en gehoorsaam aan God wil lewe – dan sál God ons verander. Selfs al ervaar ons ellende en selfs al is ons omstandighede ‘n Klaaglied, is daar áltyd Hoop in die Here. Hierdie Hoop is die duidelikste sigbaar in die lewe en sterwe van ons Here, Jesus Christus. Wanneer Jesus Christus aarde toe kom, dan kom Hy vir die algemene Christelike kerk – sy kosbare bruid. Hy kom om haar tot bekering te roep en óók om haar tot bekering te bring. Maar Hy kom veral om haar te verlos uit haar ellende en droefheid. Hy betaal met sy eie liggaam en bloed om haar los te koop van die sonde waarin sy só gereeld in val. Jesus Christus oorwin ook die dood en word tot die ewige lewe opgewek om haar óók op te wek tot ‘n nuwe gehoorsame lewe. 

Geliefdes, die Here bewaar sy kerk, regdeur die eeue. Hy bring beproewings oor ons pad om ons geloof te suiwer. Hy plaas ons soms in moeilike omstandighede sodat ons weer opnuut ons sonde sal besef en na Hom terugverlang. Hy laat ons besef dat ons, net soos alle gemeentes vóór ons, gereeld bekering nodig het. Deur sy genade besef ons dat ons, elke nou en dan, weer omvorm moet word om ons lewe volgens sý wil in te rig.  En daarom herdenk ons in hierdie tyd die gebeure van die Hervorming of Reformasie. Net soos in die tyd van Luther en Calvyn wil óns ook kyk waar ons, as kerk, van die Here se wil afgedwaal het. Ons wil in die voetspore van ons medegelowiges stap en gedurig opsoek wees na verdraaide opvattings en sonde waarvan ons moet bekeer. Ons wil selfs vêrder as dit teruggaan en in die voetspore van die gelowiges van Klaagliedere se tyd stap. Die Here roep ons, as gemeente, op om gerééld introspeksie te doen en te kyk waar ons nog tot bekering moet kom. Die vraag is net of ons ons wél deur die Here wil láát bekeer?

Slot

Ons leef in ‘n ánder tyd as die Ou-Testamentiese Israeliete. Ons leef selfs in ‘n ánder tyd as die Reformatore. Maar ons word stééds met versoekings en verskeie uitdagings gekonfronteer. Ons sukkel dalk nie met dinge soos ‘n fisiese verwoeste stad, of Ballingskap of die vervolging deur die Rooms Katolieke Kerk nie, maar ons sukkel wél met verskeie ánder sake. In óns tyd word ons gekonfronteer met intellektuele en wetenskaplike vrae soos: “Hoe kan ‘n liefdevolle God soveel lyding toelaat?” “Hoe kan álles in die Bybel die Waarheid wees?” Ons word gekonfronteer met mense wat skepties oor God se bestaan en sy betrokkenheid in ons lewens is. Ons word gekonfronteer met soveel mense wat nie meer die punt insien om fisies meer saam te kom in die erediens nie. 

Deur die Here se genade gaan sit ons nie in sak en as hieroor nie, geliefdes. Die Here bring élke Sondag vir ons perspektief vanuit sy Woord hieroor. Ál hoe ons die skeptiese vraagstukke van vandag kan hanteer, is om in die erediens toegerus te word vir die wêreld daar buite.

Die vraag is, wíl ons nog ons deur die Here laat bekeer, of wil ons in ons sonde en ellende bly lê?

Mag die boek, Klaagliedere, en die gebeure rondom die Reformasie, ons gedúrig herinner om áltyd na God se Woord terug te draai. Mag ons gemeente se bede áltyd bly: “Here, bekeer ons tot U, sodat ons bekeer kan wees.” Amen.