Romeine 3: 9 – 22

Skrifgedeelte: Romeine 3: 9 – 22

Fokusverse: Romeine 3: 19 en 20

Tema: God gee sy Wet tot gelowiges se voordeel. Het ons die regte ingesteldheid teenoor die Wet?

Inleiding

So baie mense het ‘n negatiewe konnektasie met God se Wet. Baie ongelowiges meen dat God te stréng in sy Wet is. Hulle meen dat Hy onrédelik is wanneer Hy hierdie tipe gehoorsaamheid van mense verwag.

Sommige gelowiges voel selfs ook só. Hulle oorbeklemtoon God se liefde, en vergeet dat God ook oor ánder eienskappe beskik. Selfs kinders van die Here voel soms dat God té hoë verwagtings in sy Wet vir hulle het. Bykomend hierby voel hulle baie keer dat dit sg. “Ou Wette” is wat nie meer vir moderne gelowiges iets beteken nie. Dit veroorsaak dat daar sommige gelowiges is wat negtief teenoor die Tien Gebooie voel. “Waarom moet ons nog dit lees?” “Hoekom is dit nodig dat ons élke Sondag daarna moet luister?”

God se Wet leer ons wat sonde is

Paulus se brief aan die Romeine handel grootendeels oor ‘n probleem, ‘n oplossing en ‘n gevolg. Die probleem is duidelik: die mens is vol sonde. Die oplossing is verstommend: die mens word van sy/haar sonde verlos. En die gevolg is onafwentbaar: die gelowige se dankbaarheid kan nie gekeer word nie.Net vir intressantheids onthalwe: die Heidelbergse Kategismus word óók volgens hierdie drie temas ingedeel.

Hier, in Romeine 3, is Paulus besig om die eerste tema te behandel:- Alle mense het sonde – sélfs die geloiwges. Reeds van hoofstuk 1 maak Paulus dit aan sy lesers duidelik dat daar mense is wat so ver gaan as om aktief God se bestaan te verwerp. Al wéét hulle van God, en al kén hulle sy wil, leef hulle so al asof Hy net nie dáár is nie (verse 20-32). Paulus sê tereg dat daar vir hierdie mense geen verontskuldiging is nie – hulle het God se Woord gehoor en stééds besluit hulle om dit te verwerp. In God se liefde roep Hy ‘n mens op tot bekering, lees ons in Romeiene 2, maar dan is daar stééds sommige mense wat hulle teen God se genade verhard (Rom. 2: 4 en 5).

Daarna begin Paulus oor die Here se Wet praat. Hy lig die belangrikheid van die Tien Gebooie uit. Hy vertel aan sy lesers hoe ‘n groot vreugde die Wet vir gelowiges bring. Die mense wat die Here se Wet en Woord liefhet, sal dit nie as ‘n las beskou nie, maar as ‘n bate. Tog maak Paulus dit baie duidelik dat alle mense in die mag van die sonde is. Selfs al besef ‘n mens die waarde van God se Wet, beteken dit nié dat jy beter as iemand anders is nie. Alle mense is sondaars – gelyk voor God se oë. Niemand kan daarop roem dat hy/sy konstánt die Wet ten volle nakom nie. Hy sê dit veral vir die Jode, wat die volk is waarvoor hierdie Wet aanvanklik bedoel is. Al is die Jode die volk aan wie God gekies het om Homself in die besóner bekend te maak, kan hulle nie nou hooghartig wees nie. Net soos alle ánder mense sukkel húlle ook om aan God se voorskrifte te voldoen (vgl. Rom. 2: 17 – 24).

En daarom herinner die Heilige Gees die lesers van die boek, Romeine, dat geen mens méér van homself/haarself moet dink as wat hulle behoort te dink nie (Rom. 12: 3). Die gelowiges behoort eerder beskeie te wees, en hulle eie tekortkominge te besef. Ons hoor in vers 9 dat álle mense in die mag van die sonde is – gelowiges én ongelowiges. Die apostel, Paulus, haal verskeie Skrifgedeeltes uit die Bybel aan om sy argument te staaf. Dit is dus nie hy, as mens, wat dit sê nie, maar God. Regdeur God se Woord is dit duidelik dat álle mense in die mag van die sonde is.

Paulus begin in vers 10 om Prediker 7: 20 aan te haal: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie.” En hoe waar is hierdie wyse woorde nie? Geen mens is op sy/haar eie in die regte verhouding met God nie. Niemand kan deur dit wat hy/sy doen, regverdig verklaar word nie. Nie een van ons kan vir God bewys dat ons onskuldig is nie. Van al die gedeeltes wat Paulus aanhaal, word daar die meeste na Psalm 14 verwys: “Daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een mens wat goed doen nie, selfs nie een nie.” Soos ‘n blom wat verlep het, of soos vrugte wat verrot het, so het álle mense “sleg” geraak. Eens op ‘n tyd was hulle geestelik pragtig en waardevol, maar nou het nie een van hulle meer waarde nie. Oor die gedrag van hierdie mense word Psalm 5, Psalm 10, en Psalm 140 aangehaal. Dit wat hierdie mense teenoor God en hul mendemens sê, word met bitterheid, gif en selfs die dood vergelyk. Dit is nie net hierdie mense se woorde wat skade veroorsaak nie – hulle doen ook fisies dinge om hul naaste leed aan te doen. Hulle is daarop uit om alles rondom hulle te verwoes. Jesaja 59 word aangehaal om te wys hoe hierdie mense hoegenaamd nie in vrede optree nie. Hulle voete brand om bloed te gaan vergiet. Hulle het geen vrede in hulle harte meer oor nie, en die ontsag wat hulle vir God gehad het, het al lankal uit hulle lewens verdwyn. Ja, geliefdes, hierdie mense wil met hulle hele menswees God en hul mendemens onderkry. Hulle gebruik hulle hele liggaam – letterlik van hulle kop/mond tot hulle voete – om onreg te pleeg. Hierdie mense laat hulle totaal en al deur die sonde beheer. Dit is die sónde wat hulle in ‘n sekere rigting stuur – en hulle doen niks om dit te keer nie.

Geliefdes, dit is hoe die natuurlike mens altyd sal wil lewe. Altyd gedryf deur die sonde. Alyd daarop uit om ‘n spoor van verwoesting en ellende agter te laat. Altyd op die eie ek gefokus, met absoluut geen respek vir God en sy wil nie. Elkeen van ons sal ook só lewe, indien ons onsself nie gereeld herinner aan God se wil vir ons lewens nie. Indien ons nie moeite doen om te gaan kyk wat God in sy Woord sê nie, dan sal ons ook afdwaal en soos ‘n verotte vrug raak. Want ons besef ons élkeen het sonde. Ons erken dat die mag van die sonde stérk is, en ons soms totaal en al wil oorneem. Maar in die Here se groot genade laat Hy nie toe dat dit met sy geliefde kinders gebeur nie. Hy bewaar sy kerk en stuur ons gereeld in die regte rigting. As ons dink dat die sónde mag oor ons het – soveel te méér die Heilige Gees. Hy is Almagtig en neem heeltemal beslag oor ons. Hy draai ons altyd terug na God se Woord toe, sodat ons sélf kan sien wat Hy van ons, as sy kinders, verwag.

Ja, geliefdes, dáárom rig God ons harte én ons gedagtes weer op sy Wet. Hy herinner ons keer op keer daaraan dat Hy ‘n sekere standaard het waaraan ons behoort te voldoen. Wanneer ons die Wet lees, dan besef ons ons sonde. Ons besef hoe vêr ons te kort skiet, en dit is só nodig. Die Wet maak jou dus nederig en laat jou besef dat jy nie op jou eie sal regkom om volgens God se wil te leef nie. Dit is só nodig dat ons aan ons eie sonde en ellende herinner moet word, geliefdes, want ons vergeet ons eie tekortkominge – so gou. In ‘n wereld waar ons letterlik énige iets kan doen, wys God vir ons dat daar iéts is wat buite ons beheer is. Iets is waarin ons nooit volmaak sal wees nie. Iets is waar ons Hóm nodig het.

God se Wet leer ons wat genade is

Natuurlik weet ons dat ons Ewige Lewe nie afhang van ons gehoorsaamheid aan die Wet nie. Ons het dit vanoggend weer hier in Romeine 3 gehoor (Rom. 3: 21 – 22). En juis hierin sien ons God se genade so duidelik raak. Daarom is die Here se Wet nie maar net soos ‘n spieël vir ons lewe nie: ons sien nie maar net ons eie sonde in die Here se Wet raak nie, God se Wet leer ons óók wat God se genade vir ons beteken. Want wanneer ons na die Wet luister, dan besef ons dat ons nie aan God se standaarde voldoen nie, en daarom behoort ons gestraf te word. Soos ons al in vorige preke gehoor het, straf God nie die sonde met swaakry en lyding nie, maar met die ewige dood (Gen. 2: 16, 17; Rom. 5: 12 en Jak. 13-15). Ekeen van ons verdien dus om onmiddelik te sterf, want elkeen van ons is vol sonde.

Maar, in God se genade, straf Hy nie sy kinders wanneer hulle die Wet oortree nie. Want een van sy Ander Kinders was bereid om in te staan vir álle uitverkorenes se sonde. Ons Here, Jesus Christus, betaal vir die straf op die sonde deur vervloek te word en aan ‘n kruishout te sterf. Ons gaan veral volgende week tydens Nagmaal dit opnuut weer besef. Wanneer Hy daar aan die vloekhout hang, wanneer Hy sy laaste asem uitblaas, dan geld dit vir alle gelowiges. Dit is nie nodig dat God meer sy kinders straf wanneer hulle sy Heilige Wet ootree nie, want die straf is rééds ten volle betaal. Jesus Christus het dit rééds volbring. ‘n Wonderwerk vir u en vir my! Sy almag word nie nét op hierdie manier getoon nie, maar óók wanneer Hy sonder moeite uit die dood opstaan. Vir hierdie verlossingsdaad verhoog God weer sy eniggebore Seun – nie net uit die graf uit nie, maar tot lángs Hom in die hemel. Gelowiges wat ‘n liefde vir God se Wet en Woorde het – gelowiges wat volhard in hulle kosbare geloof – ontvang nie nét vryspraak nie, maar óók die sekerheid van die ewige lewe. Alles te danke aan hulle geloof in Hom wat rééds die Wet namens hulle gehoorsaam het (vers 21 en 22). 

Het ons die regte ingesteldheid teenoor God se Wet?

Geliefdes, soos ons duidelik kan raaksien, is God se Wet nie veronderstel om vir ons ‘n las te wees nie, maar ‘n bate. Maar hoe voel ons oor die Tien Gebooie? Sien ons die waarde van God se Wet raak? Of beskou ons dit as vervelig en waardeloos? Sien ons dit as ‘n onpersoonlike, koue, stel reëls wat ons buitendien nie kan nakom nie? Of sien ons raak dat God dit tot ons voordeel vir ons gee?

God se Wet behoort nie vir gelowiges iets te wees waaroor hulle negatief voel nie. In God se Wet sien ons juis sy onbeskryflike liefde vir ons raak. God se Wet vorm deel van God se Woord – waarom wil ons nie daarna luister nie? Wanneer ons wil sug wanneer die Tien Gebooie in die kerk gelees word, lê die fout nie dan dalk by óns nie? Lê die fout nie by ons wat nie aan ons sondes herinner wil word nie? Geliefdes, ons kan nie God se Woord selektief lees nie. Ons kan nie maar net luister na die gedeeltes wat ons pas nie. Immers spreek God se Wet nie van oordeel en verwerping vir ‘n gelowige nie, maar van vryspraak en genade.

Slot

Broer en suster, hoe voel jy, persoonlik oor die Tien Gebooie? Is jy dalk van mening dat dit net ‘n spul “Ou Wette” is wat nie meer vir moderne gelowiges iets beteken nie? Meen jy dalk dat God te stréng in sy Wet is? Dat Hy onrédelik is wanneer Hy hierdie tipe gehoorsaamheid van mense verwag? Dink jy ook dalk dat God té hoë verwagtings in sy Wet vir jou het?

Geliefdes, kom ons erken ons foute, en kom ons erken dat ons sonde het. Dit is nodig dat ons gereeld na God se Wet moet luister, want ons vergeet ons eie sondes só gou. Ons is só goed daarmee om onsself te oorreed dat ons “goeie mense” is en dat ons mos weet hoe om te leef.

Nie één van ons is uit ons eie goed nie, geliefdes. Kom ons erken dit. Al waarom ons nou sonder God se oordeel en straf leef, is omdat Jesus Christus die Wet namens ons voltooi het. En daarom sien ons so uit om weer volgene week Nagmaal te vier, want ons besef ons het dringend hulp nodig. Uit ons eie sal ons deur die sonde beheer word, maar nou word ons deur die Gees beheer. In God-Die-Enig se genade gee Hy vir ons sy Wet. Ons grootste bate en ligstste las. Amen.