Romeine 6: 1 – 14

Skriflesing: Romeine 6: 1 – 14

Fokusvers(e): Romeine 6: 6 en 7

Heidelbergse Kategismus Sondag 16

Tema: Om, as gelowige, te sterf bring troos.

Inleiding

In Sondag 16 vra die Kategismus ‘n baie goeie vraag: “Indien Jesus Christus rééds gesterf het, waarom is dit nodig dat óns ook moet sterf?” Regdeur hierdie jaar het dit vir ons duidelik geword dat die straf op ‘n mens se sonde die ewige dood is. In verskeie preke het ons gehoor dat swaarkry, ellende en ernstige siekte nié die straf op ‘n mens se sonde is nie. Wanneer God die sonde straf, dan straf Hy dit met die dood.

Om as ongelowige te sterf

En nou hoor ons dit vandag weer. Vanuit die eerste vraag en antwoord uit Sondag 16 is dit duidelik dat God die sonde met die dood straf. Reeds in die begin van die Bybel word dit vir ons gesê. God het reeds met die Skepping die voorwaarde gestel: “Van al die bome in die Tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, stérf jy” (Gen. 2: 17). Soos ons weet het Adam en Eva daardie dag nie fisies gesterf nie, want geen mens se dood sal ooit genoeg wees om vir sy/haar sonde te betaal nie. Dit vra méér as ‘n blote mens om vir die straf op die sonde te betaal (Heidelbergse Kategismus Sondag 5). En daarom moes God, die Vader, sy eie Seun aarde toe stuur en laat Mens word. Jesus Christus word Mens – Hy word aan álles, behalwe die sonde, aan sy broers gelyk – sodat Hy vir die sonde van gelowiges kan betaal. Ja, Hy betaal slégs vir die sonde van gelowiges, geliefdes. Sy Offer aan die kruis dien nie as betaling vir álle mense op aarde nie, maar slégs vir God se kinders.

Dit is belangrik dat ons verstaan wáárom Jesus Christus se betaling aan die kruis slégs vir gelowiges geldig is. Die rede daarvoor is nié omdat sy Kruisdood nie kragtig genoeg vir alle mense is nie. Dit is nié omdat Hy nie almal kon verlos nie, geliefdes. Hy is die Almagtige en niks is vir Hom te moeilik of te veel nie. Sy volmaakte Offer aan die kruis is slegs vir gelówiges gedig omdat dit slegs húlle is wat deur God uitverkies is. Baie mense word geroep, maar min is uitverkies (Matt. 22: 14). Jesus sê self dat die poort/ingang na die ewige lewe lei, nou is, die pad daarheen is smal en die mense wat dit eindelik kry, is min (Mat. 7: 14). Hy sê dat Hy sélf die Weg en die Waarheid en die Lewe is. Niemand kan na die Vader toe gaan, behalwe deur Hom nie.

Almal wat dan, sonder twyfel, gló dat Jesus ook vir húlle sondes gesterf het, ontvang die ewige lewe. Almal wat die gawe van ‘n ware geloof het, word nié vir hulle sondes gestraf nie. Jesus Christus dra, namens hulle, die straf op hulle sondes.

Maar húlle wat van Jesus Christus hoor, maar Hom as Enigste Verlosser verwerp, moet sélf die straf op hulle sondes dra. Net voor Jesus Christus se Hemelvaart sê Hy sêlf: “Wie tot geloof gekom het, en gedoop is, sal gered word; wie nié glo nie, sal veroordeel word.” En ook: “Wie in die Seun van God glo, hét die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die (ewige) lewe nié sien nie, maar die straf van God blý op hom. Ongelowiges betaal dus sélf die straf op hul sonde.

Maar hoe werk dit? Dit lyk dan asof ongelowiges nié vir hulle sonde gestraf word nie. Inteendeel, dit lyk asof dit besonder goed gaan met baie ongelowiges. Wanneer ons na die mense rondom ons kyk lyk dit asof hulle net voorspoedig lewe, al is hulle heidene. Die rede hiervoor is omdat hulle nog nie vir die straf op hulle goddeloosheid betaal nie, geliefdes. Dit is eers met Christus se wederkoms dat alle mense hul vonnisse gaan kry. Wanneer Christus weer aarde toe kom, dan kom Hy om oor alle mense – gelowiges én ongelowiges – te oordeel. Gelowiges se vonnis is: “vrygespreek op grond van dit wat Christus namens hulle gedoen het”. En ongelowige se vonnis is: “vervloek op grond van dit wat hulle sélf gedoen het.”

In Mattheus 25 lees ons hoe dit met die oordeelsdag gaan wees: Jesus Christus gaan in alle majesteit saam met sy engele aarde toe kom. Met sy wederkoms sal alle volke, regoor die aarde, voor Hóm verskyn en Hy sal die mense van mekaar skei. Soos ‘n herder bokke en skape van mekaar skei, so sal gelowiges en ongelowiges van mekaar geskei word. Die gelowiges en die ongelowiges sal verkillende vonnisse kry. Vir die gelowiges nooi Christus om die volle koninkryk in besit te neem (vers 34), maar die ongelowiges moet dadelik voor sy aangesig verdwyn (vers 41). Hulle is die vervloektes en hulle sal gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is. Húlle sal die ewige stráf ontvang, maar gelowiges die ewige léwe (Matt. 25: 31 – 46).

2 Tessalonisense 1: 9 en 10 brei hierdie selfde gedagte uit: Daar lees ons óók hoe Jesus Christus die mense gaan oordeel en straf wat aktief die Evangelie verwerp: “Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd uitgeban uit die teenwoordigheid van God en sy wonderbare mag.” Maar ons lees óók wat met die gelowiges gaan gebeur: “hulle sal ook daar wees, en hulle sal aan Hom eer betoon.” Hulle behoort aan Jesus Christus – hulle is sy eiendom – duur gekoop met sy kosbare bloed.

Die sterfte van ons Here, Jesus Christus

Wanneer Jesus Christus daardie Vrydag aan die kruis sterf, dan dien sy dood as die volle betaling vir die sonde van alle gelowiges. Geliefdes, ons is op so ‘n wonderlike manier met Christus verenig is, dat óns dood met sý dood vervang word. Weens die sonde verdien ons dit om te sterf, maar dan kom sterf Jesus Christus in ons plek. Paulus sê dat gelowiges dood is vir die sonde – daarmee bedoel hy dat kinders van God nie deur die sonde gedryf behoort te word nie. Te danke aan die volle betaling van Christus aan die kruis, behoort die sonde geen houvas op die gelowige te hê nie. Al is sonde nog deel van ons lewe, mag ‘n ware kind van God nooit deur sonde beheer word nie – dit is alleen die Heilige Gees wat ons mag beheer.

Paulus sê ook dat ons ‘n vérdere identiteit het: Christene moet besef dat hulle “in die dood van Jesus Christus gedoop is”. Maar wat betéken dit? Dit beteken dat ons ‘n téken ontvang dat ons met Christus verenig is. Wanneer ons en ons kinders gedoop word, dan verseël die Here sy genade aan ons: die bediening van die doop is ‘n bewys – ‘n vaste versekering – dat ons één met Christus geword het. Wanneer ons in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees gedoop word, dan beteken dit dat ons in al die voorregte en weldade van God-Drie-Enig deel. Wanneer ons dan spesifiek in die “dood van Christus” gedoop word, dan beteken dit dat ons tot in sy dood één met Hom word. Op ‘n geestelike manier deel gelowiges in die dood van ons Here, Jesus Christus. Net soos ‘n mens ophou lewe wanneer jy tot sterwe kom, net so hou die straf op gelowiges se sonde ook op wanneer Christus tot sterwe kom.

Hiervoor moes sy bloed vloei. Uit al die oop wonde, regoor sy liggaam, drup daar kosbare bloed. Bloed, wat vir ons die teken word dat ons skoongewas word van ons sonde. Die doop herinner ons dat ons nie op ‘n goedkoop, kommersiële, manier God se kinders geword het nie. Ons is met die dúúrste prys denkbaar gekoop, en daarná is ons met die béste middel skoongewas. Met die bloed van ons Here, Jesus Christus. 

Die feit dat ons lees dat daar bloed gevloei het, en dat ons Verlosser sy roeping aan die kruis volbring het, impliseer tog dat Hy wérklik gesterf het. Maar iets wat hierdie afleiding aan ons bevéstig, is dat ons in vers 4 lees dat Jesus Christus begráwe is. Wanneer hier lees – én in die Kategismus bely – dat Christus begrawe is, dan kry ons die versekering dat Hy wérklik gesterf het. Wanneer ons iemand begrawe dan neem ons, op ‘n manier, finale afskeid van hulle. Maar daar is ‘n vérdere doel waarom ons ons geliefdes begrawe. Dit is ‘n geloofsdaad, geliefdes. Ons hou ‘n fisiese begrafnis – en nie ‘n verassing nie – want ons glo dat ons geliefde met daardie dieselfde liggaam uit die dood sal opstaan. Wanneer ons langs ‘n oop graf van ‘n geliefde staan, dan staan ons nie daar met ‘n troostelose hart nie, maar met die vaste sekerheid dat hy/sy in álle weldade van Christus deel – óók in Christus se opstanding uit die dood.

Om as gelowige te sterf

En dit is wat aan ons, as gelowiges, troos gee, geliefdes. Ons is die enigste geloof wat nié vir die dood vrees nie, want ons het die sekerheid van die ewige lewe. Inteendeel, wanneer ons volwasse in die geloof is, sien ons uit na die dood, want dan is ons vry van hierdie bose wêreld. Ons sien uit daarna om aan die einde van ons aardse lewe te kom, want dit is dán wat daar nie meer énige moeite of terugslae of benoudheid sal wees nie. Ons sien daarna uit om vry te wees van alle teleurstellings en chroniese siektes. Ons sien uit daarna om nie meer magteloos te voel as gevolg van dinge wat buite ons beheer is nie. Geliefdes, ons sien met alle verlange daarna uit om die ewige lewe in Christus te verkry.

Ons fokusgedeelte maak hierdie troos aan ons duidelik waar ons lees: “Ons sondige bestaan is saam met Christus gekruisig, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word.” Ons lewe van vroeër is saam met Christus aan die kruis vasgespyker. Bedoel Paulus hier dat gelowiges ‘n stadium van volmaakte heiligheid tydens ons lewe op aarde bereik? Bedoel hy dat kinders van die Here eendag, hier op aarde, sal ophou sonde doen? Nee, glad nie, geliefdes. Maar daar is tog ‘n verskil tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige se ingesteldheid oor die sonde. Uitverkore kinders van God sal altyd berou oor hul sonde hê – hulle sal moeite doen om met die sonde in hul lewens te breek. Waar ongelowiges ‘n liefde vir sonde en ‘n vreugde oor die sonde sal kry. Gelowiges sal met alles in hulle van die sonde wegvlug, waar ongelowiges konstant in hul sonde sal bly lê.

Anders as ongelowiges is ons nie slawe van die sonde nie. Ons word nie deur die sonde beheer nie. Ons word nie deur die sonde en die bose besit nie, en daarom doen ons ook nie wat die sonde van ons vra nie. Kinders van God laat hulle nie deur wêreldse magte en kragte lei nie, maar alleen deur die Heilige Gees. Dit is die Heilige Gees wat ons totaal en al besit. Dit is Hý wat beslag oor ons lewe neem en nie die sonde nie. Geliefdes, ons word opgeroep om onsself te herinner dat gelowiges ánders as die wêreld behoort te wees. Ons behoort met ons lewe én ons optrede te wýs dat ons deur die kragtige werking van die Heilige Gees beheer word. Daar waar Hý aan die werk is, is dit baie méér effektief en invloedryk as die stérkste krag denkbaar, want die Heilige Gees is nie maar net ‘n Krag nie. Hy is God sélf.

En dit is deur die werking van die Heilige Gees – en te danke aan Hom – dat ons ánders as ongelowiges leef, maar ook ánders as ongelowiges sterf. Wanneer ‘n gelowige sterf, dan is dit nie die einde van sy/haar lewe. Dit is maar net ‘n oorgang tot die ewige lewe. Vir óns wat agter bly voel dit soos die einde, maar nié vir ons geliefde nie – dáárvan kan ons verséker wees. As God se kinders kan ons sélfs tydens die dóód getroos wees, want Christus het reeds vir ons gaan plek voorberei. Wanneer ons liggame hier afsterf, dan is dit vir ons ‘n deurgang na die ewige lewe. Maar ons Kategismus troos ons selfs vérder as dit, geliefdes. Ons hoef nie hartseer te wees wanneer ons geliefdes sterf nie, want met die dood, sterf gelowiges óók hulle sónde af. Nie net gaan ons sonder pyn en hartseer, ewig leef nie. Ons gaan ook sonder sonde vir ewig leef. In die hemel, en op die Nuwe Hemel en Aarde, gaan ons nie een oomblik meer in versoeking gelei word nie. Ons gaan nie meer konstant teen die bose hoef te stry en skaam hoef te kry wanneer ons sonde gedoen het nie, want daar kóm ‘n dag dat ons die sonde heeltemal gaan afsterf. Daar kom ‘n dag wanneer sonde, en die gevolge daarvan, nie meer ‘n faktor in ons lewens sal wees nie.  

Slot

Dit is die rede waarom óns nog moet sterf, al het Jesus Christus rééds gesterf. Wanneer ons Verlosser aan die kruis vir ons sonde betaal, dan beteken dit nié dat sonde uit hierdie wêreld verdwyn nie. Ons almal word nog gerééld deur die duiwel versoek. Maar wanneer Christus sterf, dan beteken dit dat die sonde wat ons doen, deur Hom vergewe word. Met sy kruisdood word die mag van die sonde teenoor gelowiges verbreek. Dit beteken dat die sonde nie meer ‘n houvas op God se kinders het nie, maar dat die Heilige Gees ons nou beheer. Daarmee saam sien ons met verlange uit na die dag wanneer ons ons sonde finaal sal afsterf.

Om as óngelowige te sterf is verskriklik, geliefdes. Dit is sekerlik een van die mees vreesaanjaende gedagtes. Maar om as gelówige te sterf is wonderlik. Dit is sekerlik een van die mees troosryke gedagtes waarmee God-Drie-Enig ons kán seën. Amen.