Deuteronomium 7: 1 – 11

Skriflesing: Deuteronomium 7: 1 – 11

Fokusvers: Deuteronomium 7: 7

Tema: Die Here het ons in ons geringheid lief, kom ons dien Hom met opregtheid.

Inleiding

Groter, sterker, beter..” Die wêreld – verál die vermaaklikheids-wêreld – wil alle mense oorreed dat “groter” noodwendig “beter” is. Dit wil voorkom asof ‘n mens net belangrik is wanneer jy groot of sterk is. In die wêreld se oë is dié wat klein en swak is, ook dié wat gewetenloos vertrap word.

Alles gaan oor uitspattigheid en oordadigheid. Hoe bésiger ek is, hoe vóller my skedule is, hoe méér buitemuurse aktiwiteite ek by die skool bywoon, hoe belangriker is ek. Dit is hoe báie mense redeneer.    

Die Here het ons in ons geringheid lief

Weens die druk van die samelewing begeer baie van ons om ook dan só te wees. Ons werk hard in ons besighede en boerderye om een van die béstes in die bedryf te wees. Ons span onsself in om elke jaar béter te wees. Om in 2022 gróter te gaan. Om méér risiko’s te neem. Baie van ons oefen ook ons liggame om sterker en groter te raak. Ons bou áán aan ons huise. Ons neem nóg ‘n vak of twee op skool. Ons wil só graag “in” wees en selfs ‘n bietjie “uit staan”.

Maar nou lees ons in Deuteronomium 7 dat die Here ‘n ánder aanslag gehad het as die meeste mense vandag. Ons fokusvers sê dat die volk van God die kleinste van alle volke was. Tussen al die volke van daardie tyd, was die volk, Israel, die geringste. En tog het God húlle uitgekies as sy volk. Die Here kon maklik enige ánder volk gekies het om sy kinders te wees, maar nou kies Hy hierdie volk. Die geringste van álle volke. Indien óns sou moes kies, sou die meeste van ons nié hierdie klein swak groepie mense gekies het nie. Ons sou eerder een van die stérker volke kies, want hulle is tog die beter opsie nie waar nie? 

Die ingesteldheid en houding van die volk, Israel, is ook iets van ‘n weerloosheid en ‘n gevoel van broosheid. Hierdie klein groepie mense besef dat hulle nie ‘n kans staan teen die rés van die land se inwoners nie. Hulle besef dat hulle bykans “weglaatbaar klein” is. Die ander sewe volke, waarvan ons in Deuteronomium 7 lees, was egter die téénoorgestelde: Die Hetiete het vanuit die Kananiete ontstaan en die volk, Israel, het redelike kontak met hierdie mense gehad. Dit is omdat die Hetiete ‘n baie groot nasie was – mens het gereeld met hulle te doen gekry. Die Girgasiete was die nageslag van Noag se seun, Gam (Gen. 10: 16). Hulle is later deur Josua uitgewis (Jos. 24: 11). Die Amoriete kom ook uit die nageslag van Gam, en hulle het stérk figure in die Ou-Testamentiese tyd opgelewer. Die Amoriete was in konstante konflik met die kinders van die Here en hulle was ‘n krágtige nasie. Hulle het, saam met die Kananiete in die land, Kanaän, gewoon. Die Amoriete én Kananiete moes dus eers verslaan word voordat die volk, Israel, in Kanaän kon gaan bly.

Die Kananiete was ‘n gevorderde samelewing wat op baie terreine in die lewe uitgestaan het. Hulle het ‘n besondere sterk weermag gehad en hulle was een van die mees invloedrykste groepe mense van daardie tyd. Ongelukkig was die Kananiete ‘n slegte invloed vir die mense rondom hulle. Die inwoners van Kanaän het ‘n verskeidenheid afgode aanbid en was besonder geïnteresseer in die afgod, Baäl. Natuurlik was het hulle in die land, Kanaän, gewoon. Die beloofde land wat aan die volk Israel gewaarborg word. Die Here gee die land, Kanaän, aan sy geliefde kinders – ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Maar hoe is dit moontlik dat hierdie klein, geringe, volk die Kananiete sal oorwin? Dit klink amper te goed om waar te wees? Die ander drie volke waarvan ons lees, die Feresiete, Hewiete en Jebusiete was óók afstammelinge van Gam en óók deel van die Kanaänitiese volk. Al sewe hierdie volke was dus deel van een groter gemeenskap. Op hulle éie was hul reeds sterk, maar sáám was hulle uitermatig magtig. En tog maak die Here stééds die ongewilde keuse. Hy kies die kleinste nasie – nie oor hulle getalle of oor hulle vaardighede nie – maar oor sy genade. Ja, geliefdes, die Here kyk met ánder oë as ons, mense. Hy soek nie die beste of grootste of slimste of mooiste uit nie. Hy kyk na ons diep binne in ons harte. Die Vader kies nooit sy kinders op grond van wie húlle is nie, maar op grond van wie Hý is. Omdat Hy liefdevol is, ontferm Hy Hom oor dié wat weerloos is. En wanneer God dit doen, sien ons nie net sy groot liefde en barmhartigheid raak nie, ons sien ook sy almag raak.

Ja, geliefdes, ons sien juis die Here se almag die duidelikste raak wanneer ons in ‘n hopelose situasie is. Volgens getalle was die volk, Israel, die kleinste volk. In Deuteronomium 10: 22 lees ons dat daar slegs twee-en-sewentig Israeliete na Egipte toe getrek het (vgl. Gen. 46: 27). Maar juis omdat hulle min en weerloos en swak is, besef hulle dat hulle alléén op Gód kan vertrou. Dit is nie hulle eie vermoë waarop hulle staatmaak nie, maar op die Almag van hulle Verbondsgod. Hy is getrou aan sy Woord. Dit wat Hy tydens die verbondsluiting aan Abraham beloof het, geld óók vir hierdie mense. En daarom sal Hy ook in húlle tyd sy almag toon.

Dit is nie uit hul eie krag dat die Israeliete is waar hulle is nie. Dit is alleen omdat die Hére hulle met sý groot krag uit hulle noodsituasie gered het. En Hy sal dit nou weer doen, geliefdes. Wanneer Hy hier in Deuteronomium 7 vir sy volk die opdrag gee om die ander nasies in die gebied te verslaan, dan toon Hy juis sy almag vir álle mense. Dit is nie nét die kinders van God wat verstom staan oor hulle oorwinning nie. Ook die sewe ánder nasies sal verstom wees omdat so ‘n klein, geringe, volkie hulle kon oorwin. Daar sal ‘n dag kom wanneer álle mense sal besef dat dit Gód is wat die oorwinning bring, en nie die mens sélf nie.

In vers 9 gee die Here die opdrag dat ‘n mens God se Hand in jou lewe moet erken wanneer Hy die onmoontlike moontlik maak. Dit is nie maar per toeval dat iets vir ‘n gelowige uitwerk nie. Dit is nie maar ‘n sameloop van omstandighede wat gemaak het dat ek is waar ek vandag is nie. Dat ek deur hierdie beproewing of deur daardie uitdaging moes gaan nie.

Al voel ek vandag oorweldig en al sien ek geen uitkomkans nie.. Al voel ek raadop en benoud.. Al kan ek nie die lig rondom my sien nie, en al voel dit asof die water tot by my neus kom, kan ek verseker weet dat Gód almagtig is. Ék sal verseker nie sélf uit my verstikkende omstandighede kan kom nie, maar ek dien dié Getroue Verbondsgod en Hý sal uitkoms gee. Elke keer.

Ons vind hier die bekende woorde van die Tweede Gebod wat sê: “Hy betoon sy troue liefde tot aan die duisendste geslag van húlle wat God liefhet en sy gebooie gehoorsaam, maar Hy straf elkeen wat Hom haat. God laat nie ná om elkeen wat Hom haat, te straf nie” (Deut. 5: 9 en 10; 7: 9 en 10). Hierdie gedagte is nie vir ons, as gemeente, vreemd nie, geliefdes. Vanuit onlangse preke het dit vir ons duidelik geword dat God álle sonde straf. Die straf op die sonde wat ongelowiges doen, moet hulle self dra, maar die straf op gelowiges se sonde word deur Iemand ánders gedra.

Kom ons dien Hom met opregte dankbaarheid

Die uitkoms waarvan die Here se kinders hier hoor – die fisiese verlossing van wrede onderdrukking – die feit dat God die menslik onmoontlike moontlik maak – dit alles gaan met die geboorte van Jesus Christus in vervulling. Dit is deur geloof in Jesus Christus dat mense, regoor die eeue, kinders van God word. Dit is dus nie slégs die handjie vol Israeliete wat deur God uitverkies is nie, geliefdes, maar alle mense wat met ‘n ware geloof in God-Drie-Enig gló. In die Vader se groot liefde vir sy aardse kinders, stuur Hy sy Enigste Seun om klein te word en om Homself totaal en al te verneder. Regdeur Jesus Christus se aardse lewe beskou die wêreld Hom as gering – as maar net ‘n gewone Man wat eintlik nie iets beteken nie. Wanneer Jesaja oor Jesus Christus profeteer, dan sê hy: “Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n Man wat lyding en pyn geken het, Iemand vir wie die mense die gesig weggedraai het. Hy was verag en ons het Hom nie gereken nie” (Jes. 53: 3).

Johannes sê in sy Evangelie dat Jesus Christus in die wêreld was – die wêreld wat deur Christus tot stand gekom het – en tóg het die wêreld Hom nie erken nie. Sy eie mense het Hom nie aangeneem nie (Joh. 1: 10 en 11). Ja, geliefdes, ons Verlosser wys ons wat ware nederigheid, kleinheid en geringheid is. Dit is met hierdie ingesteldheid dat Hy God se kinders van hulle sonde loskoop. Al dink die wêreld dat Hy niks werd is nie – dat Hy ‘n swakkeling daar aan die kruis is, wat nie eens Homself kan verdedig nie – is daar ‘n doel met sy nederige ingesteldheid. Nie net is dit vir gelowiges ‘n voorbeeld nie, dit is óók sodat álle mense God se almag kan raaksien. Niemand sou kon dink dat hierdie nederige, stil, Man so ‘n groot magsdaad kon doen nie. Die rede waarom Hy egter die teendeel kon bewys, is omdat Hy nié maar net ‘n Man wás nie, maar die Almagtige God ís. Nie net volbring Hy versoening tussen God en gelowige aan die kruis nie, Hy oorwin ook die dood. Geliefdes, na drie dae, staan Hy uit die dood op en Lewe weer! Hý is die Gróótste, die Stérkste, die Béste die Almagtige.

Al was die sewe Kanaänitiese volke magtig het hulle nie náby aan die krag van die Here gekom nie. En daarom is hulle maklik verslaan en hulle land maklik ingeneem, want die Hére was by sy kinders. Die Here het hulle met die krag van die Heilige Gees vaardig gemaak sodat hulle maklik die land, Kanaän in besit kon neem. Die Here kies juis die swakker volk sodat sy almag duidelik sigbaar kan word. Hy het geen behae aan hoogmoedige mense nie – inteendeel Hy verlang opregte, dankbare, harte. Hy beveel dat Israel hierdie gebied van alle sonde en ‘n sondige ingesteldheid moet suiwer. Hy beveel sy kinders om hierdie sewe nasies uit die gebied te verban (vers 2). Hulle moet hierdie ongelowiges uitwis en hulle nie jammer kry nie (vers 2). Hulle moet niks met hierdie mense te doen hê nie, en hulle moet hulle afgodsbeelde stukkend breek (vers 5). Want die kinders van die Here gaan nou in die Beloofde Land bly, en die land moet suiwer wees – sonder enige versoekings wat hulle van die Here kan wegrokkel (vers 4). Die Here beveel al hierdie dinge in sy liefde vir sy kinders, want Hy het hulle vir Hom afgesonder (vers 6). As Vader wil Hy hulle náby aan Hom hê – styf teen sy bors.

En wat was die ingesteldheid van die gelowiges? ‘n Handjie vol hét gedoen wat die Here van hulle verwag het. Hulle hét op die Here se almag vertrou, selfs al was daar massas rondom hulle. Hulle het nie gesé: “Ek is te swak, te weerloos, te nietig” nie. Hulle het nie gesê: “Ek is nie dit werd om deur die Here liefgehê te word nie.” Hulle het nie gewens hulle het die krag en die getalle van die ongelowige volke gehad nie, want hulle het besef, om die Here by hulle te hê is die heel béste.

Slot

Mag ons ook hierdie nederige, maar opregte, ingesteldheid in ons lewens kweek. Mag ons nooit na die wêreld kyk en wens dat ons soos húlle kon wees nie. Die duiwel sal ons altyd wil oorreed dat ons nie goed genoeg is nie.. nie sterk genoeg.. nie mooi genoeg nie.. Maar mag ons, as gelowiges, na die Here luister wat sê dat ons dit alles en nog meer is, omdat ons sý kinders is. Ons is vir Hom afgesonder en skoongewas deur die bloed van Jesus Christus.

Gelowiges sal altyd in die minderheid wees. Ons sal altyd as die “klein kuddetjie” bekendstaan. Teenoor die goddelose wêreld sal ons altyd “lagwekkend” en “weglaatbaar klein” wees.

Maar mag ons juis ons daarin verheug, geliefdes. Want dit is dán wanneer God-Drie-Enig meer op die voorgrond tree. Mag ons met alle vrymoedigheid getrou bly aan dit wat Hy van ons elkeen verwag. En mag ons alleen op die Here vertrou. Al is ons dalk klein, en al is ons dalk deel van ‘n geringe gemeente of kerkverband, wéét ons dat die Here met ánder oë kyk as ons, mense. Hy het ons júís in ons geringheid lief. Amen.