Skrifgedeelte: Mattheus 1: 1 – 25
Fokusverse: Mattheus 1: 20
Heidelbergse Kategismus Sondag 14
Tema: Hoe reageer ek op een van die grootste, mees onverstaanbare, wonderwerke?
Inleiding
Dit is weer daardie tyd van die jaar wat ons onsself op Kersfees voorberei. Ons dink weer aan die geskenke en aan watter lekker geregte ons gaan maak om te eet. Ons berei vir die familie voor en ons kry alles in plek vir een van die kosbaarste tye van die jaar.
Wanneer ons gelowiges is, dan dink ons ook weer aan die Kersboodskap. Ons herinner onsself weer aan die geboorte van Jesus Christus. Dit is weer, in hierdie tyd, dat ons dink aan die éintlike rede waarom ons Kersfees vier. Ongelukkig is dit vir baie van ons ál tyd wanneer ons daaraan dink. Ons is so besig met ons éie dinge dat die wonderwerke rondom Kersfees vir ons ietwat vergete raak. Dit is slegs voor Kersfees wat ons vinnig daaraan dink, en dan beweeg ons ook maar weer aan met ons lewens.
Christus se Menswording en my reaksie op die Wonderwerk van die Heilige Gees
En daarom luister ons elke jaar – iewers tydens Kerstyd – ten minste een maal na die oorspronklike Kersverhaal. En élke keer is dit vir ons besonders, al hét ons dit al gehoor. Vanoggend het ons na Mattheus se weergawe van die geboorte van Jesus Christus geluister. En wat Mattheus se vertelling van Jesus Christus se geboorte uniek maak, is die feit dat hy na ‘n geslagsregister verwys. Op ‘n noukeurige wyse dui hy aan wat ons sopas in Heidelbergse Kategismus Sondag 14 bely het het: Jesus Christus kom wérklik uit die nageslag van Dawid. Hy trek die lyn deur vanaf Abraham tot by Jesus. Waarom is dit belangrik? Dit is belangrik, want op hierdie manier bewys God dat Hy geloofwaardig is. Dat Hy hóú by dít wat Hy vroeër gesê het.
In ‘n sekere sin is dit in vandag se tyd amper nóg belangriker, aangesien soveel mense God se Woord wantrou. Die Here wys ons egter dat Hy dit dóén wat Hy beloof het. Reeds in 2 Samuel 7 lees ons dat God vir Dawid sê dat hý nie die Joodse Tempel sal bou nie, maar dat iemand uit sy nageslag hierdie voorreg sal ontvang: “Wanneer jy te sterwe kom en by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom ‘n bestendige koningskap gee. Hy sal vir My Naam ‘n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan. Ek sal vir h(H)om ‘n Vader wees en h(H)y sal vir My ‘n s(S)eun wees” (verse 12 en 13). Natuurlik verwys God eerstens hier na Samuel, wat ná Dawid koning geword het, en die tempel gebou het (1 Kon. 5 en 6) maar die Here verwys éintlik hier na Jesus Christus.
Dieselfde geld vir die woorde in Jesaja 7: 14: “Die Here self sal vir julle ‘n teken gee: ‘n jong vrou sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring sy sal Hom Immanuel noem.” Reeds in die Ou Testament belowe die Vader dat Jesus Christus in die toekoms gebore sal word, en nou gaan sy belofte in vervulling. Die Takkie uit die stomp van Isai – en tóg die Almagtige, Ewige, Koning (vgl. 2 Sam. 23; Jes. 11; Ps. 110; Rom. 1: 3). Geïnspireer deur die Heilige Gees toon Matteus aan dat Jesus Christus wérklik uit die nageslag van Dawid kom, soos die Here belowe het. Tot in die fynste besonderheid sorg die Here dat sy verbondsbeloftes realiseer. ‘n Verlosser word al van die vroegste tye af deur die Here beloof, en nou gee die Here Hom aan sy kinders.
Jesus Christus word uit die maagd Maria gebore. En tóg is dit nie Josef, haar verloofde, wat die pa is nie. “Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom”, lees ons in vers 18. Net soos vandag het die gelowiges van daardie tyd tot ná die huwelik gewag voordat hulle gemeenskap gehad het. Omdat God se wil oor die huwelik duidelik is, voel Josef om sy verlowing met Maria te verbreek. Hy is beslis nie die pa van die Kind wat sy verwag nie, en daarom besluit hy om alle kontak met Maria te verbreek en sy verpligting teenoor haar te beëindig (vers 19). Maar in ons fokusvers kom Josef egter tot ánder insigte. ‘n Engel van die Here verskyn in ‘n droom aan hom met die doel om Josef gerus te stel. Die engel het ‘n Boodskap van God: “Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees.”
Heel eerste herinner God vir Josef aan sy herkoms:- hy het die voorreg om uit die nageslag van koning Dawid te kom. Die direkte familie met wie God oorspronklik sy verbond gesluit het. Al is daar, weens God se genade, ánder mense by hierdie wonderlike verbond gevoeg, het dit vir Josef en sy familie besóndere betekenis. Die Here herinner Josef daaraan dat Hy dus trots op sy agtergrond kan wees. Maar in dieselfde asem moet Josef sy verantwoordelikheid besef. Hy het die plig om die goeie naam van hierdie bloedlyn in stand te hou. Die manier waarop hy nou Maria gaan behandel, sal óf negatief óf positief wees. Josef moet dus versigtig wees hoe hy nou gaan optree. Is dit wérklik die regte ding om te doen om sy verlowing met Maria te breek?
Deur die engel as boodskapper stel God vir Josef gerus met die woorde: “moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees.” Josef hoef dus nie vir Maria kwaad te wees nie. Hy hoef nie in sy verloofde teleurgestel te wees nie, want daar was nie ‘n ander man by haar nie. Met hierdie woorde gee God eintlik aan Josef die opdrag om steeds met Maria te trou. Die Here stel Josef gerus dat hy en Maria nie vir die gemeenskap se reaksie bang hoef te wees nie. Indien daar mense is wat vir hom en Maria wil oordeel en verwerp, omdat sy swanger is, is dit omdat hulle kortsigtig en oningelig is. Wie is die méns buitendien om te oordeel? Die Ware God sê dan nou vir Josef dat hy vir Maria én die Kindjie moet aanvaar, en God het tog dit finale sê nie waar nie? Dit wat Hý van gelowiges dink, is tog baie belángriker as dit wat ander ménse van ons dink?
Met hierdie boodskap van God kom Josef tot die besef dat Maria nooit ontrou aan hom was soos hy vermoed het nie. Maar tóg moet hy hoor dat dit deur die Heilige Gees is dat Maria swanger geword het. Hoe is so iets ooit moontlik? Vir baie mense klink dit amper soos ‘n feeverhaal. Dit is onverstaanbaar. Wetenskaplik en fisiologies maak dit nie sin dat só ‘n geboorte moontlik is nie, en daarom hanteer baie mense die verhaal van Christus se geboorte bloot as fiksie.
Maar hoe het Jósef op al hierdie dinge reageer? Omdat hy reeds sy siening oor Maria verander het, en haar en haar swangerskap aanvaar het, aanvaar hy ook dit wat God vérder vir hom sê. Dit is opmerklik dat Josef nie net ‘n gedeelte van die engel se boodskap aanvaar nie, maar die héle boodskap. Hy is nie selektief in wat hy wil glo nie – Hy glo álles wat God vir Hom sê, want dit is God se Woord – so eenvoudig soos dit. Josef besef dat sy verloofde se swangerskap dalk nie ménslik sin maak nie – maar daarmee saam besef hy egter dat absoluut níks vir God onmoontlik is nie (Mark. 10: 27). Want dit is dieselfde God wat sy voorgeslagte uit menigte nood- en dood-situasies gered het. Dit is dieselfde God wat met al Josef se voorgeslagte gepraat het, wat ook nou met hóm praat. Josef besef dat dit dieselfde God is wat aan al sy voorvaders uitkoms gegee het toe daar geen uitkoms te sien was nie, wat ook nou aan hom en Maria uitkoms gaan gee.
Geliefdes, Josef twyfel nie een oomblik in God se almag nie. Al maak dit nie vir hom logies sin nie, al is dit onverstaanbaar en al weet hy nie presies wat aangaan nie, luister hy na dít wat God vir hom deur die engel sê. Deur die Here se genade is hy bereid om vir Maria én die Baba te aanvaar. Kort daarna gebeur een van die grootste, maar mees onverstaanbare Wonderwerke in die geskiedenis: Maria gee geboorte aan ‘n Baba – maar Een só uniek en besonders dat daar nog nooit só Een was of ooit sal wees nie. Ons Here, Jesus Christus, word gebore as 100% Mens maar óók 100% God. Dit is omdat Hy uit die maagd, Maria, gebore is, deur die werking van die Heilige Gees. En die rede waarom Hy ten volle mens maar ter selfde tyd óók God is, is omdat dit slegs Iemand sonder sonde is, wat die sonde kan wegneem. Dit is slegs Hy wat rein is, wat die onreinheid kan wegneem. Slegs Hy wat volmaak is, wat vir onvolmaaktes kan betaal.
En daarom was dit nodig dat Hý aarde toe moes kom – en fisies Méns word – geliefdes. Ons word nie van ons sonde verlos deur Iemand wat van ‘n vêr afstand af staan nie en net toekyk nie, maar deur Iemand wat uiters náby kom. Wat fisies deel kry aan die volle ervaring en wat wérklik die troon van God aan sy liggaam vóél. Jesus Christus moes werklik Mens word. Hy moes in alles aan sy broers gelyk word, sodat sy verlossings-daad aan die kruis aanvaar word. Ja, in alles, behalwe die sonde, is Hy Méns en daarom bewerk sy dood versoening tussen God en gelowige (Hebr. 4: 15). Omdat Jesus Christus egter ware God is én bly, is niks vir Hom onmoontlik nie. Hy oorwin die mag van die dood en staan op uit die dood. Al het Hy Mens geword het Hy nie opgehou om God te wees nie – selfs nie tydens sy liggaamlike dood nie. Ons bely dat Hy God ís en dat Hy – tot in alle ewigheid – God blý. Mattheus se weergawe van die geboorte van Jesus Christus eindig met Josef se reaksie op God se Woord: “Toe Josef uit sy slaap wakker word, het Hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het, en met Maria getrou.” Geliefdes, hoe reageer elkeen van óns op hierdie Boodskap? Ons vra onsself dit nóú af, want vir baie van ons is dit ál tyd van die jaar wanneer ons aan Christus se geboorte dink. Beskou ons dit as te goed om waar te wees? As niks anders as ‘n blote feeverhaal nie? Of gló ons dit wat die Here vir ons hierdie tyd van die jaar sê, al maak dit nie logies sin nie?
Slot
Kerstyd is die tyd van die jaar wat ons vir ‘n oomblik voor God se grootheid stil word. Sommige van ons bewonder God se grootheid en almag, maar ánder van ons bevraagteken dit. Vanoggend bevestig die Here sy Woord aan ons deur vir ons te wýs dat sy beloftes in vervulling gaan – tot in die fynste besonderheid. Deur die kragtige werking van die Heilige Gees sorg God dan dat sy Seun, Jesus Christus, uit die nageslag van hóm kom met wie Hy sy verbond oorspronklik gesluit het. Uit ‘n maagd en deur die Gees word ons Verlosser gebore sodat óns ook deel van hierdie wonderlike verbond kan word. Dieselfde Heilige Gees wat Jesus Christus laat voortbring het, werk ook nou geloof in ons harte sodat ons séker kan wees van ons eie verlossing en ewige lewe.
Die Here gee vir sy kinders onverstaanbare wonderwerk op onverstaanbare wonderwerk. Maar hoe reageer ek persóónlik daarop? Verwerp ek dit hééltemal omdat dit menslik onmoontlik is? Aanvaar ek dalk net ‘n gedéélte daarvan soos dit mý pas? Of glo ek dat álles wat God vir my sê wérklik die waarheid is? Amen.