Skriflesing: Jesaja 60: 1 – 12
Fokusvers: Jesaja 60: 1 – 3
Tema: God bring Lig in duisternis sodat al sy kinders verlig word
Inleiding
Iets wat, buiten die familie en die geskenke en die lekker etes, tydens Kerstyd opvallend is, is die liggies. Rondom die kersboom en in die tuine en teen die huise se mure is daar kersliggies. In die meeste dorpe se strate en by baie geboue en huise sien ons kersliggies in die vorm van ‘n engel, ‘n takbok, ‘n sleë of ‘n Kersvader. Wanneer ons kinders of kleinkinders het, dan sien ons hoe opgewonde hierdie kersliggies hulle maak. Selfs al is ons volwassenes maak hierdie liggies ons blý – die verskillende kleure en ontwerpe is indrukwekkend. Opgewonde roep ons die res van ons gesin: “Wow, kyk daai een!” “Het jy ook daardie een gesien?”
God bring Lig in duisternis
Hierdie liggies is vir ons spesiaal want hulle word nie heel jaar vertoon nie. Dit is nét tydens Kerstyd wat ons die voorreg het om die liggies te sien en om daardeur betower te word. Deur die dag sien mens ook nie die liggies nie – dit word eers in die aande aangeskakel. Want dit is eers wanneer dit donker word dat ‘n mens die liggies se vorms en kleure die duidelikste raaksien.
Daar is dus iets van ‘n afwagting vir hierdie liggies, nie waar nie? ‘n Mens wag die hele dág lank – die hele jáár lank – vir hierdie liggies om aangeskakel te word. Iets van hierdie afwagting – iets van hierdie opgewondenheid en verwondering – vind ons in Jesaja 60. Jesaja 60 is deel van die laaste gedeelte van die profeet se boek. Die bannelinge is besig om terug te keer uit hul Babiloniese ballingskap – wat wonderlik is – maar tóg is daar ook negatiewe. Soos die kinders van God terugkeer na hulle land van herkoms, sien hulle hoe géweldig baie dinge verander het. Die Juda waarheen hul terugkeer is nie dieselfde Juda as wat hulle ongeveer sewentig jaar gelede verlaat het nie. Dit was nou ongelowiges wat in beheer van sake was. Die Heilige stad, Jerusalem – en dan verál die tempel – is verlate en verwoes. Daar is dus verskeie fisiese veranderings – maar verál geestelike veranderings gebring. En natuurlik het dit spanning tussen God se volk en die Persiese koninkryk veroorsaak. Al was die Israeliete weer in hul tuisland, het hulle nie werklik tuis gevoel nie.
Hulle het heel ander – hoër – verwagtings vir hul terugkoms gehad. Hulle het gedink dat die mense van Juda hulle gaan toejuig soos hulle terugkeer. Hulle het hulself op wonderlike feesvieringe gereedgemaak. Hulle het uitgesien om weer fisies en geestelike lig te ervaar na die swaar, donker, ballingskap – maar wat kry hulle daar in die stad, Jerusalem? Vérdere donkerte, onbekende, sonde. In die vorige hoofstuk uit Jesaja lees ons dat die gelowiges se verwagting ná die Babiloniese Ballingskap heel ánders as die realiteit is: “Ons wag op die Lig, maar dit blý donker, ons wag op ‘n straaltjie Lig, maar ons pad blý pikdonker. Ons wag op reg, maar daar is géén reg nie; op redding, maar dit bly vêr van ons af weg. Ons oortredings teen U is baie; ons sondes kla ons aan” (Jes. 59: 9, 11 en 12).
Geliefdes, hierdie mense het gedink dat alles in plek sal val ná die Ballingskap – dat hulle mos rééds die prys vir hulle sonde betaal het – maar stééds voel dinge nog redelik dieselfde. Die Ballingskap is klaar, maar stééds is daar nog gevolge. Deur die genade is hulle reeds van wrede dwangarbeid verlos, maar die Persiese Ryk het nog nie geval nie. Hulle is reeds terug in hul tuisland, maar dinge is nog nie soos dit moet wees nie. En die rede daarvoor is omdat die finale verlossing nog nie ten volle gebring is nie. Die volk van God ervaar dalk nou reeds fisiese verlossing van ongelowige mense, maar tóg nog nie volledige geestelike verlossing uit die mag van die Bose nie.
Maar dan lees ons van die wonderlike uitkoms hier in Jesaja 60. Uiteindelik breek daar vir hierdie volk verligting aan soos die son wat opkom na ‘n angsvolle nag. Almal van ons weet hoeveel gemoedsrus die dagbreek bring. Wanneer dit lig word rondom ons, dan is die onbekende van die nag verby. ‘n Mens kan weer rondom jou sien. Die vrees dat ‘n rower iewers in die donker skuil, is verby. Die kans dat iemand jou onverwags sal aanval is soveel skraler wanneer dit lig word, want nou kan ‘n mens die gevaar duidelik raaksien. Wanneer dit lig word, dan ervaar ‘n mens opnuut rustigheid en kalmte. ‘n Mens ervaar vrede want die onbekende nag is verby. ‘n Mens se gemoed verander wanneer dit lig word – dankbaarheid straal uit jou uit.
Soveel te meer was die gelowiges in Jesaja 60 se gevoel van dankbaarheid, geliefdes. Want hulle het nie ‘n fisiese lig of ‘n sonsopkoms in hulle lewens ervaar nie – hulle is geestelik verlig. In ons tweede fokusvers lees ons dat daar vir hulle ‘n Lig gekom het en dat hierdie Lig die magtige teenwoordigheid van die Here was. Ons moet onthou dat hierdie gelowiges bannelinge was wat sopas na Jerusalem toe terug gekom het. Hulle was dus uitgeput – nie net van die lang reis nie – maar óók van die goddeloosheid en slegte invloede wat hulle daar in Babel ervaar het. Maar nou ontvang hulle die wonderlike troos om weer die Here se kragtige teenwoordigheid op ‘n baie besonderse manier te beleef. Om die Here se heerlike teenwoordigheid te ervaar is wonderlik, geliefdes. Dit is om die Here fisies by jou te hê, sonder om Hom fisies raak te sien. Dit is wanneer jy wéét dat die Here wérklik daar is in jou lewe – al kan jy Hom nie fisies sien nie. Want ons weet tog dat geen mens vir God kan sien en daarna bly lewe nie (Eks. 33: 20).
Dit wat die Israeliete met hul terugkeer uit Babel ervaar het was iets soortgelyks aan dít wat Moses op die berg Sinai ervaar het. Al het Moses nie die Here fisies gesien nie, het die Here se heerlike teenwoordigheid hom fisies én geestelik verander. Vir die res van die volk het die Here se magtige teenwoordigheid soos ‘n gloeiende vuur op die berg gelyk (Eks. 24: 17). Nadat hy tyd saam met die Here spandeer het, het Moses se gesig bly blink. Hy het iets van die Here se heerlikheid aan die res van die volk uitgestraal (2 Kor. 3). Dit is dus duidelik dat dit ‘n eksklusiewe voorreg is om die Here se heerlikheid te ervaar, geliefdes. In die Vader se liefde toon Hy sy heerlikheid slégs aan sy kinders. Dit is waarom ons in vers 2 lees dat God aan sy kinders sy Lig gee al heers daar donkerte regoor die aarde. Dit is juis wanneer dit dónker is, dat ‘n mens die Lig die meeste waardeer.
Dit wat die gelowiges in Jesaja se tyd ervaar is iets van die begin van ‘n herskepping, geliefdes. In die begin was alles woes en leeg. Die hele aarde was onbewoonbaar en daar het ‘n diep donkerte oor die aarde geheers – maar toe het God beveel: “Laat daar lig wees!” en daar was lig. In Jesaja se tyd beleef die bevryde bannelinge wéér ‘n donkerte wat die héle aarde vul. Maar dan gee sy Lig aan sy uitverkore verbondsvolk! Vir húlle gaan daar ‘n Lig op! Die Here sélf verlig hulle met die Belofte van sy Ewige Lig.
Soos ons vroeër in die preek gehoor het, ervaar die gelowiges nog nie totale vrede en gemoedsrus nie – selfs al is die Ballingskap klaar. En die rede daarvoor is omdat hierdie gedeelte van Jesaja 60 ‘n profesie is wat eers láter in vervulling gaan. Die “Lig” waarna Jesaja verwys is niemand anders nie, as ons Here, Jesus Christus. Sy koms na die wêreld – sy geboorte – is die vervulling van hierdie wonderlike profesie. Die apostel Johannes skryf in sy Evangelie dat daar lewe in Jesus Christus was en dié lewe was die Lig vir die mense. Hierdie Lig skyn in die duisternis en die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Na die profeet, Jesaja, ontvang Johannes die doper die opdrag om van hierdie Lig getuig. Sy boodskap was eenvoudig en duidelik: “Die ware Lig, wat elke mens verlig, was aan die kom na hierdie wêreld toe.”
Kort daarna word ons Here, Jesus Christus, as Baba, gebore. Uit die maagd Maria en deur die werking van die Heilige Gees word Jesus Christus Mens. Met sy geboorte – wat ons vandag herdenk – het daar sterrekykers uit die Ooste na Jerusalem toe gekom om aan Hom hulde te bewys. Hulle het sy ster sien opkom en hulle is deur hierdie ster gelei totdat dit gaan stilstaan het bokant die krip waar Jesus Christus in doeke toegedraai is (Matt. 2: 1 – 12). Geliefdes, sien u raak hoe Jesaja se woorde in vervulling gaan? Soos die Here se magtige teenwoordigheid soos ‘n lig op die volk, Israel, afgestraal het, net só skyn die ster se lig op die pasgebore Verlosser se krip. Hy is sélf die helder Môrester wat sy heerlikheid en glans teenoor ál God se kinders uitstraal (Openb. 22: 16).
Ons sien vérder hoe Jesaja se profesie in vervulling gaan: die verligting en dankbaarheid wat die volk, Israel, na hul ballingskap ervaar het, word oortref met die blydskap wat die sterrekykers ervaar het toe hulle die Helder Môrester sien (Jes. 60: 5 en Matt. 2: 10). Maar, geliefdes, hierdie profesie gaan selfs in fýner besonderheid in vervulling. Ons lees in Jesaja 60: 6 dat die nasies wat na Jerusalem toe kom, hulde aan God se kinders bring. “Hulle bring goud en wierook en hulle verkondig die lof van die Here.” Met die geboorte van ons Here, Jesus Christus, bring die sterrekykers niks anders as goud, wierook en mirre aan die Lig vir die Wêreld nie. ‘n Menigte engele verkondig die lof van die Here met die woorde: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hý ‘n welbehae het” (Luk. 2: 14).
Word verlig deur God se Lig
Later in sy lewe sê Jesus Christus vir die mense: “Ek is die Lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die Lig hê wat lewe gee” (Joh. 8: 12; Joh. 9: 5). Wáre gelowiges sal konstánt besef dat Jesus Christus die wáre Lig in hul lewens is. Deur die werking van die Heilige Gees is ons nie opsoek na uitkoms en verligting en redding op énige ander plek nie, want ons besef dat dit op geen ander plek te vind is nie. Deur die genade besef ons dat alle wêreldse lig – ook die liggies tydens Kerstyd – net týdelike geluk verskaf. Te danke aan die insig wat die Heilige Gees ons gee, smeek ons die Here dat Hy ons geestelik verlig. Ons pleit by die Here: “Verlig ons tog deur U Lig” want ons is opsoek na verligting vir ons gees en ons gemoed. Ons wil opnuut die ewige vreugde van Jesus Christus se geboorte ervaar. Dít is wat ons tydens Kerstyd besef, geliefdes. Ons besef dat dit wérklik nodig is dat ons verlig moet word deur God se Lig.
Maar iets wat ons laaste fokusvers vir ons duidelik maak is dat dit nie net óns is wat die behoefte ontvang om geestelik verlig te word nie. In vers 3 lees ons dat alle nasies na die Lig toe stroom wat aan gelowiges geopenbaar word. Selfs wêreldse konings kom na die glans toe waarmee God se kinders verlig is. Al is Jesus Christus sélf die Lig vir die nasies, rus Hy sy uitverkore kinders toe om sy lig na die wêreld toe uit te straal (Jes. 49: 6). In Mattheus 5: 14 lees ons die merkwaardige woorde: “Julle is die lig vir die wêreld.” In die Here se genade beskou Hy ons as bekwaam genoeg om diégene wat opsoek is na die Lig na die Lig toe te lei. Ons sal in môre se preek verder hierna kyk.
Slot
Elke jaar tydens Kerstyd ervaar ons groot opgewondenheid en verwondering wanneer ons na die verskillende kersliggies kyk. Ons sien heel jaar daarna uit, want hierdie liggies word nét aan die einde van die jaar aangeskakel. Verder moet dit eers donker word voordat hierdie liggies se verskillende ontwerpe en kleure vir ons duidelik word. Opgewonde roep ons die mense waarvoor ons lief is om ook deel te kry aan die prag van hierdie Kersliggies.
Maar hoe reageer ons teenoor die verskyning van God se Éwige Lig? Ervaar ons dieselfde opgewondenheid en vreugde? Eintlik ‘n groter vreugde wat by hierdie groter Verskynsel pas? Is ons werklik verlig en dankbaar vir die koms van God se Lig, of was dit dalk nog nie donker genoeg rondom ons om die Lig te waardeer nie? Is ons bereid om van hierdie Lig te getuig wanneer ons sien hoe mense na ons toe stroom opsoek na die Lig? Of is ons dalk suinig met hierdie Lig en probeer ons dalk om hierdie Lig net vir onsself te hou? Amen.