Skrifgedeelte: Psalm 104: 19 – 35
Fokusverse: Psalm 104: 27 – 29
Tema: Dit is alleen die Here wat gee en neem, daarom is die hele Skepping van God afhanklik.
Inleiding
In ‘n vorige preek uit Psalm 104 het ons weer opnuut die Here se grootheid besef. ‘n Paar weke gelede het ons by die eerste gedeelte van Psalm 104 stilgestaan – verál by die feit dat God die Skepper van álles is en dat Hy belángriker as sy Skepping is. Omdat God onsigbaar is, maar tog iets van Homself in die natuur openbaar, aanbid sommige mense eerder die skepping as die Skepper, want dit is baie makliker om iets te aanbid wat ‘n mens fisies kan sien.
Vanuit die eerste gedeelte van Psalm 104 het ons egter gesien dat ‘n gelowige se fokus altyd eerder op die Skepper moet wees, al is die Skepping vir ons so wonderlik. Die Skepping is juis daar sodat ons die Here se grootheid duidelik kan raaksien. Die Skepping wys vir ons juis hoe groot God-Drie-Enig is. Dít wat ons in die Skepping ervaar, help ons om die Enigste Skepper te loof en te prys vir sy wonderlike werk.
Dit is alleen die Here wat gee en dit is alleen Hy wat neem
Ons het óók gehoor hoe Psalm 104 dieselfde struktuur as Genesis 1 aanneem. Ons kan amper sê dat Psalm 104 ‘n kommentaar op Genesis 1 is. Want in hierdie Psalm hoor ons wéér wat God op elke Skeppingsdag gemaak het – in presies dieselfde volgorde as Genesis 1. Die eerste gedeelte van Psalm 104 handel oor die eerste drie Skeppingsdae en die tweede gedeelte handel oor dít wat die Here op die ander dae geskep het. In die gedeelte wat ons vanoggend saamgelees het, besing die digter die Here as Skepper van die son, maan en sterre, die seediere en die voëls, asook dat Hy die Skepper van die landdiere en die mens is.
Wat hierdie Psalm vir ons duidelik wil maak, is dat God almagtig is. Hy, alléén, het die vermoë om al hierdie dinge te laat bestaan. Van die mees komplekse sterrestelsel, tot die kleinste een-sellige organisme – dit álles het Hý gemaak. Alles kom van Hóm af. Hy het net ‘n Woord gesê en dit was daar. Dit is die Here wat die maan gegee het om in die nag vir ons lig te gee, maar ook sodat ons vaste tye in die natuur kan bepaal. Die vorm van die maan beïnvloed dít wat in die natuur gebeur – dit bepaal die reën en die tempo van die see se golwe. Die digter sê dat die son ook sélf weet wanneer om op en onder te gaan. Die Here sorg vir hierdie siklus van lig en donker, van dag en nag, en dit gebeur élke dag. In die Here se liefde vir sy skepping sorg Hy dat die sonlig elke dag opkom sodat plante kan fotosinteer en vir mens en dier lewensasem kan gee. Dit is die Here wat die son en die maan geskep het en dit élke dag en élke nag rondstuur. Al is hulle ook hóé indrukwekkend is hulle egter net déél van sy skeppingswerk en nie gode soos sommige ongelowige mense dink nie. Die nag het sy doel – dit is dán wat sekere roofdiere soos hiënas, jakkalse en uile hulle kos gaan soek. Die nag is ook daar sodat God se kinders rustig kan slaap na ‘n harde werksdag. En net só het die dág ook sy doel – dit is wanneer byna alle ánder diere geleentheid kry om, sonder vrees, in die veld te wei. Die helder dag is ook wanneer die gelowige mens sy werk kan doen: – ‘n Roeping en ‘n opdrag van die Here.
Die Here het ook die see gemaak – indrukwekkend en so wyd dat geen mens nie die einde van die water kan sien nie. Die see bevat soveel lewe dat navorsers nog gerééld nuwe spesies onder die see ontdek. Geliefdes, die see se dieptes is vir ons almal ‘n onbekende wêreld – selfs vir hierdie navorsing-spanne. Vers 26 sê vir ons dat die see diep genoeg is dat die Leviatan daarin kan woon – ‘n tipe mitologiese seemonster wat die mense van daardie tyd as ‘n werklikheid beskou het. Verál die ongelowige mense het ‘n vrees vir hierdie seemonster gehad en daar is geglo dat dit slégs die gode is wat hierdie Leviatan kon bedwing. Natuurlik is daar slégs Één Ware God – wat mag het oor die lewe én die dood. Hy het alle dinge gemaak en Hy is gróter en belángriker as alle dinge. Daarom dat die digter dan tereg sê dat die Leviatan se krag so gering teenoor God se almag is ,dat hierdie seemonster soos ‘n speelding voor die Here is. Selfs die sterkste, mees vreesaanjaende gedierte kan nie met God se sterkte vergelyk word nie, geliefdes. Selfs die mens se grootste vrees is nie vir die Hére ‘n bekommernis nie.
Die res van die Psalm vertel dan wat op die sesde Skeppingsdag plaasgevind het – hoe God die diere van die veld én die mens gemaak het en hoe Hy stééds vir ál hierdie dinge sorg. Saam met die digter van Psalm 104 moet ons erken dat dit alléén die Here is wat al hierdie pragtige dinge waarvan ons gehoor het, gemaak het. Ons wil vanoggend weer ons harte en ons monde oopmaak en sy grootheid en sy troue sorg besing. Want ons besef dat alle lewe van die Hére af kom. ‘n Nuwe blaartjie wat uit ‘n droeë tak uitloop – ‘n baba wat vir jong, onervare, ouers gebore word. Dit is nie mensewerk nie, geliefdes. Dit kom alléén van die Here af. Ons deel in die apostel Paulus se besef van Wíé die Here is daar in Handelinge 17: – “God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van die hemel en die aarde. Hy het nie nodig dat ménse Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hý wat aan almal lewe en asem en álles gee” (verse 23 – 25).
Dit is ook iets wat baie duidelik in ons fokusverse na vore kom, geliefdes. God skep nie net deur sy Seun, Christus, en dan onttrek Hy Hom van sy Skepping nie. Nee, Hy is élke dag daarmee besig. Hy sorg en bestuur nog élke dag alles in die heelal. Psalm 104: 28 sê dat dit Gód is wat vir mens en dier sorg – as Hy sy Hand oopmaak, dan word álles versadig met dit wat goed is. Maar net in die volgende vers lees ons dat die Here egter óók by magte is om te besluit dat Hy sy aangesig van mens en dier gaan wegdraai. Dit is dán wanneer die hele skepping angsbevange word, want gou besef hulle dat hul lewe alléén in die Here se Hand is.
Daar is heelwat mense wat dink dat hulle nié die Here nodig het nie. Dit gebeur gewoonlik wanneer iemand met iets in die lewe uitblink. Sy geld en eiendom en beleggings wil hom wysmaak dat hy ‘n sorgvrye toekoms sal hê. Met haar mooi voorkoms of geleerdheid dink sy sy kan bó uitkom – dit het dan mos nog áltyd gewerk. “Die kennis waaroor ek beskik, die invloed wat ek het, my vermoëns – dit is ál waaroor dit gaan.” Hierdie tipe dinge raak vir baie mense naderhand dié belangrikste. Baie mense dink dat hulle op hul éie kan regkom sonder énige hulp van mense; sonder die kerk; sonder geloof; sonder die Hére. En dan lyk dit soms vir hulle – en vir ons – asof dit wérklik so is. Maar daar kom ‘n dag wanneer óns én húlle verkeerd bewys sal word, geliefdes. ‘n Mens se eie vermoëns bring jou ook maar net só vêr. Lewe en dood is buite ons beheer. Ons fokusgedeelte maak dit aan ons duidelik: Dit is alleen die Here wat kan besluit wanneer om die lewensasem weg te neem – dán is dit kláár met hulle – dán vergaan hulle en word hulle weer stof.
“Dit is die Hére wat gee en dit is die Hére wat neem” – só leer ons by die gelowige Job (Job 1: 21). Alles is in die Here se Hand en Hy tree altyd met wysheid op soos ons in Psalm 104: 24 lees. Dit is die rede waarom Job steeds die Here se Naam kon prys – selfs al het Hy deur die grootste beproewing denkbaar gegaan. Die Here doen álles in sy wysheid, geliefdes. Selfs die beproewings wat oor ons pad kom, bring die Here oor ons in sy wysheid. Dit is daar om ons nader aan God-Drie-Enig te bring. Sien ons dit só of voel ons op ‘n manier verontreg deur dit wat ons in die lewe ervaar?
Geliefdes, besef ons in Wie se teenwoordigheid ons elke dag leef? Besef ons voor Wie se aangesig ons vandag kom staan hier onder die erediens? Hy is die Almagtige wat ons in ‘n oogwink kan vernietig as dit sy wil is. Hy is sterker as die magtigste vloedwater. Hy het beheer oor die planete – Hy laat alles in ‘n perfekte balans funksioneer. Wie is die mens dan om die Here se optrede te bevraagteken? Wie is die mens om te dink dat ons sonder die Here kan klaarkom? Niks vir God onmoontlik nie. En Hy kroon ons met die opdrag om oor sy skepping te heers en om elke dag daarin te werk. Kom ons ons verpligting teenoor ons Skepper na? Sorg ons wérklik vir die diere in ons sorg en doen ons moeite om die plantegroei rondom ons te beskerm? Wend ons volhoubare oplossings in die natuur aan? Besef ons dat dit die Hére se skepping is, en dat ons dit moet bewaar?
En hoe tree ons teenoor die Here in ons persoonlike geloofslewe op? Het ons die nodige ontsag en respek vir Hom? Is ons wérklik daarvan oortuig dat die Here met wysheid in ons lewens optree? Dat Hy vir ons alles ten goede sal laat meewerk – selfs die moeilike dae? Dit is alles dinge waaraan ons moet dink soos ons deur hierdie tydelike, aardse lewe gaan, geliefdes. Glo ons wérklik dat Christus se verlossing aan die kruis ál is wat ons nodig het om gered te word? Is geloof in sy dood en opstanding vir ons dié belangrikste in die lewe? Of is ons dalk meer in die Wetenskap en die vermoë van die mens geïnteresseer?
Die hele skepping is van die Here afhanklik
Iets wat baie sterk in Psalm 104 na vore kom, is dat die héle skepping van die Here afhanklik is. Selfs die mees intellektuele wetenskaplike – selfs die mees geëerde navorser is van die Hére afhanklik. Daardie navorsingstuk wat hy/sy produseer – daardie nuwe akademiese deurbraak – sou hoegenaamd nie verskyn het sónder die Here se hulp nie. Dalk erken hierdie mense nie die Here se almag in hulle lewens nie, maar óns behoort dit te erken. Die Here verwag van sy kinders om elke dag te besef én te bely dat Hy, alléén, soewerein is. Kinders, wanneer ons sê dat die Here soewerein is, dan sê ons eintlik daarmee dat alle mag en gesag aan die Hére behoort. Jesus Christus is ons Énigste Koning en Hy alleen is in beheer van alles in die heelal. Hy regeer oor alles en Hy bewaar alles. Niemand help Hom hiermee nie. Hy het ook niemand se hulp nodig nie, want Hy beskik oor álle mag (vgl. Mat. 28: 18). Hy heers alléén oor alles en oor almal.
Ja, geliefdes, die digter van Psalm 104 maak dit duidelik dat álle lewe op aarde van die Here afhanklik is. Van die mees eenvoudige en nuttelose dinge in ons oë soos die wildedonkies (vers 11), die reier (vers 17) en die dassies (vers 18) tot dinge wat vir ons léwensbelangrik is soos drinkwater en reën (verse 10 – 13), groen plante (vers 14) en vleis (verse 14, 21, 27 en 28). As gelowiges is ons egter nie nét van fisiese dinge, soos kos, van die Here afhanklik nie, maar óók van geestelike dinge soos geloof en vertroue. Ook dít gee die Here in sy wysheid aan ons. Sonder die Here se genade sal ons nie soos ‘n kind aan Christus se verlossing en aan die ewige lewe kan vashou nie. Sonder die Here se genade sal ons altyd pessimisties wees en die wonderlike troos van die Evangelie bevraagteken.
Slot
Maar nou hét ons die gawe van geloof, geliefdes! Te danke aan God-Drie-Enig is ons kinders van God wat deur Jesus Christus van ons sondes verlos is. Die Heilige Gees skenk aan ons die geloof daarin en herinner ons élke dag dat ons die kroon van die skepping is – dat ons skoongewas is met die bloed van Christus en dat ons daarom gewéldig bevoorreg is.
Mag ons daarom altyd álle eer aan die Skepper van die skepping gee, geliefdes. Terwyl ons die natuur geniet, mag ons altyd onthou dat dit nie oor die skepping of die wetenskap of selfs ons éie vermoë gaan nie, maar alléén om God. Ons mag nooit toelaat dat gevorderde tegnologie en wetenskap ons idee oor wie God is, negatief beïnvloed nie. Kom ons bly nederig voor Hóm en kom ons verbly ons in ons Skepper. Amen.