Mattheus 5: 1 – 12

Skrifgedeelte: Mattheus 5: 1 – 12

Fokusgedeelte: Mattheus 5: 10 – 12

Tema: Die vervolgde Kerk is ‘n geseënde Kerk

Inleiding

Soos baie ander dele in die Bybel, klink Jesus se woorde in Mattheus 5 ietwat onlogies. Hoe maak dit logies sin dat iemand wat treur, in werklikheid gelukkig kan wees? Hoe is dit moontlik dat iemand blý kan wees wanneer hy/sy allerhande beproewings ervaar (Jak. 1: 2). Hoe is dit moontlik dat ons dit as ‘n voorreg moet sien om, as Christene, te ly soos Petrus dit ook in sy eerste brief verkondig?

Die vervolgde Kerk

Ons Here, Jesus Christus, begin sy amptelike bediening met die Bergpreek waaruit ons sopas gelees het. Dit is opvallend dat ons in vers 1 lees dat die dissipels en ander aanhoorders na Christus toe gegaan het in plaas daarvan dat Hý na die skare toe gegaan het: “Nadat Hy (op die berg) gaan sit het, het sy dissipels na Hóm toe gekom en Hy het hulle geleer…” In hierdie vers sien ons hoe die gehoorsame gelowige honger en dors na die Here. Dit is nie vir die Here nodig om na die skare uit te reik nie, want deur die kragtige werking van die Heilige Gees beweeg die mense na Jesus toe. Die Gees aktiveer die ywerige dissipels en trek hulle aan om na God se Woord te kom luister.

En dan begin ons Here, Jesus, sy preek met die sogenaamde “saligsprekinge”. Elke keer verklaar Hy wie wérklik gelukkig/salig is: “Salig is die wat arm van gees is… Salig is die sagmoediges… geseënd is dié wat treur…”, preek Jesus Christus. Soos ons aan die begin gesê het, klink hierdie Woorde van ons Verlosser vreemd en ironies, want dit is nie dinge wat die wêreld en ons samelewing ons leer nie. Volgens die wêreld is mens gelukkig as jy selfstandig is, as jy oor ander kan loop, as jy net op jouself gefokus is. Volgens die wêreld is ‘n mens bv. ‘n swakkeling as jy sagmoedig is, jy word beskou as ‘n vreemdeling en ‘n buitestaander as jy graag die regte ding wil doen. Volgens die ongelowige samelewing is jy lagwekkend as jy wil doen wat rein van hart is of as jy ‘n vredemaker wil wees. Maar nou hoor ons dat Jesus Christus vir sy navolgers sê dat dié mense wat afhanklik is, dié wat hartseer is, dié wat sagmoedig is en dié wat vervolg word, geseënde mense is. Op die oog af klink dit na onmoontlike stellings wat Hy maak, maar by elkeen van hierdie stellings gee Hy ‘n motivering wat die ongelowige wêreld nooit sal verstaan nie.

Omdat gelowiges bv. deur die Here, sélf, vertroos gaan word, is hulle geseënd – selfs wanneer hulle treur. Omdat gelowiges die Here se nabyheid en barmhartigheid sal ervaar, is hulle geseënd – selfs al verneder hulle hulself. Omdat kinders van God die vooruitsig het om God te sien, doen hulle graag sy wil, selfs al word hulle deur die wêreld verstoot. Jesus Christus begin dus sy amptelike bediening deur nuwe perspektief vir sy navolgers te gee. Met sy Bergrede leer Hy sy kerk om nie net anders as die wêreld te lééf nie, maar ook anders as die wêreld te dínk. Deur Christus se Woorde en deur die Heilige Gees vernuwe God sy uitverkore kinders. Hy verander ons gedagtes en gee vir ons ‘n geestelike ingesteldheid dat ons al meer sal besef dat God se Woord nie ironies en onlogies is nie, maar dat dít wat die wêreld sê en dink onlogies is.

Die vraag wat ons, as Christene, onsself moet afvra is: deur wie word ons die meeste beïnvloed? Deur die Here of deur die wêreld? Na wie se stem luister ons eerder? Ons moet erken dat ons baie keer eerder na die sondige wêreld wil luister, want dit wat die wêreld aanbied, klink soveel makliker en lekkerder. Want vir watter mens klink dit aanloklik om bv. benoudheid en vervolging te beleef? Maar waarom sê Jesus dit en wat presies bedoel Hy met hierdie woorde? Dit klink dan soos ‘n vredevolle tyd waarin Hy en die dissipels geleef het? Waarom sê Hy vir die vroeë kerk dat hulle hulself as geseënd moet beskou as hulle vervolg word?

Geliefdes, ons moet verstaan dat die tyd waarin Jesus op aarde geleef en gewerk het allermins ‘n tyd van vrede en harmonie vir gelowiges was. Van Jesus se geboorte af, word sy lewe bedreig: Koning Herodus gee opdrag dat alle seuntjies van twee jaar en jonger doodgemaak moet word (Matt. 1: 16). Johannes die Doper – wat Jesus se geboorte aangekondig het – is in die tronk opgesluit oor dit wat hy oor Jesus Christus verkondig het (Matt. 4: 12) en later word hy doodgemaak (Matt. 14: 10). Gelowiges word trouens al van die vroegste tye af vervolg omdat hulle by hulle Christelike beginsels vasstaan. Net omdat hulle gelowiges was, is die Israeliete bv. in Egipte onderdruk. Die Farao het opdrag gegee om al die gelowige seuntjies dood te maak en dit vir die volwassenes ondraaglik gemaak met strawwe slawerny (Eks. 1). In verskeie Psalms lees ons hoe die digters vervolging en benoudheid beleef het. Profete, soos Jeremia en Daniël het érnstige vervolging en teenkanting weens hulle geloof ervaar (vgl. Matt. 5: 12; Jer. 17: 18; 20: 11; Dan. 7: 25). Wanneer ons aan die vervolgde kerk in die Ou-Testament dink, dan dink ons verál aan hoe Daniël en sy drie vriende vervolg is omdat hulle beginselvas was. Nét omdat hulle “anders” as die goddelose Babiloniërs was, word hulle in ‘n brandende vuuroond gesit (Dan. 3). Nét omdat Daniël eerder vir God wou aanbid as vir koning Darius word hy in ‘n leeuhok gegooi (Dan. 6).

Wat die Nuwe Testament betref: -dit is vól voorbeelde van gelowiges wat weens hulle geloof vervolg is. Ons dink aan byna ál die apostels en spesifíék aan die diaken, Stefanus, die eerste Martelaar van die Nuwe-Testamentiese kerk. Saam met sy mede-apostels het die apostel, Paulus, verál felle teenkanting en vervolging ervaar. In Handelinge 13 en 14 hoor ons hoe Paulus en Barnabas die volle Evangelie van Christus aan die Jode verkondig. Hulle preek oor Christus se koms as die Ware Messias, sy betaling aan die kruis en sy voldoening as Verlosser. Maar die Jode wou nie glo dat dít die Waarheid is nie. Veral toe die apostels Christus se opstanding uit die dood verkondig het, het die Jode se woede begin opvlam. Later lees ons hoe die apostels se lewens bedreig is – hoe die ongelowiges hulle wou stenig en hoe hulle gevange geneem is. In 2 Korintiërs 11 hoor ons in detail wat Paulus alles as gestuurde van die Here moes deurmaak.

‘n Mens sou egter dink dat dit nie die geval kan wees nie. Paulus het dan nou totaal en al tot bekering gekom. Hy het dan nou sy hele lewe verander en vir die Here begin werk. Hoe ironies is dit nie dat Paulus – van alle mense – nou vervolging beleef nie? Moes die Here hom nie eerder seën noudat hy bereid is om die Evangelie te verkondig nie? Dit klink eerder asof die Here nou vir Paulus straf – selfs al doen hy nou die regte dinge. Hoe maak dit sin!? Geliefdes, die vervolging wat Paulus en al die ander gelowiges beleef is nie God se manier om hulle – en óns – te staf nie. Hy is bloot getrou aan sy beloftes (Joh. 15:18 – 21). Want wanneer jy staan vir wat voor die Hére rég is – wanneer jy jou geloof in ‘n sondige wêreld prakties uitleef – dan is vervolging onvermydelik (2 Tim. 3: 12).

Ons moet onthou dat die Here baie anders as die wêreld werk – juis omdat Hy totaal anders as hierdie sondige wêreld is. Volgens die wêreldse mense is dit ‘n skande om verneder en vervolg te word, maar nie volgens God-Drie-Enig nie. Jesus sê in ons fokusverse: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle, ter wille van My, beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.” Dit is belangrik om raak te sien dat die Here nie veralgemeen en bedoel dat álmal wat vervolg word omdat hulle “oor die algemeen” reg doen en reg lewe, nou deur Hom geseën sal word nie. ‘n Ware geseënde lewe is nie wanneer jy maar ‘n bietjie ongerief ervaar omdat jy ‘n goeie mens is nie. ‘n Ware geseënde lewe is wanneer jy ernstige vervolging beleef omdat jy van Jesus Christus se Koningskap getuig en God se Woord prakties uitleef.

Jesus praat dus nie hier van vervolging wat ons op sosiale of politieke vlak ervaar nie – Hy praat hier van geestelike vervolging. Wanneer ek dus verstoot en verwerp word weens my persoonlike voorkeure en uitgangspunte, moet ek dit nie sien as ‘n manier waarop die Here my seën weens vervolging nie. Dit is alleen wanneer ek weens my geloofsbeginsels en geloofsbelydenis vervolg word, wat hierdie laaste Saligspreuk van Jesus van toepassing is.    

Die seën wat vervolging inhou

Die Here verwag ook nie van ons om op ‘n avontuurlustige wyse na vervolging te gaan soek nie. Net soos die profeet, Daniël, het Jesus Christus nooit vervolging aangehits of aktief teenkanting by ongelowiges aangewakker nie. Hy het bloot getuig van sy Vader en van die roeping waarmee Hy geroep is, en dan die vervolging trotseer en hanteer wanneer dit na sy kant toe kom. Tog is die ware Messias daarvoor bekend dat Hy die mééste en inténsste vervolging moes deurmaak. Regdeur sy aardse lewe – maar verál aan die einde daarvan – het Jesus Christus na liggaam én siel gely (Heidelbergse Kategismus Sondag 15). Nie nét is Hy deur mense verwerp en verstoot nie – Hy moes Godverlatenheid ly ter wille van ons. Hy is deur God vervloek en sy Vader het Hom tydelik verlaat – iets wat geen mens op aarde nog beleef het nie. En in dit alles het Hy geduldig geblý, geliefdes.

Wanneer ons dan in die Bybel en in die geskiedenis van die martelare van die kerk lees en watter wrede dinge mense alles moes deurmaak ter wille van die verspreiding van die Evangelie, dan kom dit nie náby aan dít wat ons Here, Jesus Christus, moes deurmaak nie. Aangesien Hy tot in die dood toe aan sy roeping gehoorsaam was, het God, die Vader, Hom in sy eer herstel en Christus aan sy regterhand geplaas sodat Hy oor alles en almal kan heers (Fil. 2). Te danke aan die gawe van geloof, word ons tot só ‘n mate met Christus verenig dat ons deel het aan sy vernedering – daarom ervaar ons, as kerk, vervolging – maar ons het óók deel aan sy verhoging. Die belofte van die ewige lewe en volkome hemelse harmonie is iets waarna elkeen van ons met ‘n groot sekerheid kan uitsien.

Dit is dan die rede waarom Jesus in ons laaste fokusvers kan sê dat ons ons moet verheug en bly kan wees oor die vervolging wat ons ter wille van sy Naam moet verduur, want ons loon is groot in die hemel. Paulus deel dieselfde gedagte met die gemeente van Filippi wanneer hy sê: “God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly” (Fil. 1: 29). Tydens Christus se lyding het Hy nie in sy huidige omstandighede vasgekyk nie – Hy het met geloofsoë gekyk na dít wat op Hom wag. En te danke aan die ware geloof ontvang óns óók die vermoë om dit te doen, geliefdes. Wanneer ons lyding en swaarkry ter wille van die Here ervaar, mag ons verbý die hier en die nou kyk en mag ons die hemelse heerlikheid raaksien. Mag ons werklik gló en daaraan váshou dat ons ‘n wonderlike beloning in die hemel gaan ontvang. Nooit omdat ons op grond van eie meriete daarvoor kwalifiseer nie, maar alleen op grond van die Here se onuitputlike genade. 

Slot

Mag ons vandag vir hierdie gesindheid en hierdie geloof bid – vir onsself – maar verál vir ons medegelowiges wat op hierdie oomblik wreed vervolg word. Mag ons, as kerk, nooit so deel van die wêreld word, dat ons naderhand dink dat God se Woord onlogies is nie. Mag die Heilige Gees ons ingesteldheid tot só mate verander dat ons ons hemelse perspektief blý behou.

Want “ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig (2 Kor. 4: 17 en 18). Amen.