Skrifgedeelte: Johannes 15: 1 – 8
Fokusvers: Johannes 15: 5
Heidelbergse Kategismus Sondag 24
Tema: Goeie werke kan nie verlossing bewerk nie en wérk nie sonder Christus nie.
Inleiding
Soos die ander Gereformeerde Belydenisskrifte word die Heidelbergse Kategismus opgestel om standpunt in te neem in die samelewing van daardie tyd. Die Rooms-Katolieke kerk was die sg. “wêreld-kerk” van destyds. Die meeste mense op aarde het aan hierdie kerk behoort of is deur die denke en uitgangspunte van hierdie kerk beïnvloed.
Tog het daar in die 16de eeu (n.C.) ‘n wending in die Christelike geloof gekom. Toe die Bybel vanuit Latyn na o.a. in Duits vertaal is, kon meer mense die Bybel sélf lees. Die Hervormers het weer na God se Woord gaan kyk en gesien dat daar sekere punte in die Bybel is wat die Rooms-Katolieke kerk buite konteks verstaan of bloot misinterpreteer.
Goeie werke kan nie verlossing bewerk nie
Omdat baie van hierdie punte ‘n mens se saligheid beïnvloed, ag die Hervormers dit nodig om amptelike Belydenisskrifte op te stel sodat hierdie verdraaide sienings en valse leer reggestel kan word. Juis omdat die Reformatore die Here se Kerk en haar lidmate liefhet, wys hulle die lidmate op die wérklike bedoeling van God in sy Woord. Natuurlik was dit nie mensewerk nie, geliefdes. Die wysheid om ons Belydenisskrifte op te stel hang van geen mens se eie vermoëns af nie, maar alleen van die Hére wat sy Evangelie vir ‘n mens oopsluit.
Weens die ryke invloed wat die Rooms-Katolieke kerk in daardie tyd gehad het, het die opstellers van die Kategismus dus die hele tyd hierdie mense se sienings in gedagte. Daarom sal ons gereeld hoor hoe die kontras tussen die sienings van die Rooms-Katolieke kerk en die Reformatoriese kerk aangedui word in hierdie Belydenis.
In vandag se preek behandel ons Heidelbergse Kategismus Sondag 24 – dit is die Sondags-afdeling wat min of meer in die middel van die Belydenisskrif voorkom. En dan is dit interessant dat hierdie Sondags-afdeling juis ‘n baie sensitiewe saak van daardie tyd aanraak: naamlik die gelowige se “goeie werke”. ‘n Mens sou kon aflei dat die opstellers van die Kategismus hierdie punt so belangrik ag dat hulle dit in die middel daarvan plaas. Ons moet onthou dat die meeste van die sg. “kerkmense” van daardie tyd Rooms was en geglo het dat ‘n mens met jou goeie werke jou verlossing verdien. Maar nou mag iemand dalk dink en vra: “Ons leef in ‘n totale ander era as die gelowiges van die Reformasie. Waarom is dit nodig dat ons in vandag se tyd ‘n preek oor hierdie dinge moet aanhoor?” “Ons leef hier in die platteland waar almal min of meer dieselfde dink. Waarom is dit nodig dat ons juis oor hierdie sake herinner moet word?”
Geliefdes, die rede waarom ons vandag na die hele saak oor ‘n gelowige se goeie werke kyk, is omdat daar selfs in vandág se tyd baie mense is wat die rol van goeie werke verkeerd verstaan. Die natuurlike mens wil hard werk om te presteer – dit is in ons in – dit is iets waarmee ons gebore word. Ons hele samelewing is so gefokus op die beloning van harde werk en dat jy sekere dinge verdien nadat jy daarvoor gewerk het. Selfs in hierdie moderne tyd waarin ons leef dink ons só – dalk selfs nou nog méér as in die tyd van die Reformasie. Ons sê gerééld vir onsself dat ons ‘n blaaskans verdien na ‘n week of ‘n paar maande se harde werk. Van kleins af word ons kinders geleer dat hulle beloon sal word wanneer hulle hard leer vir ‘n toets of dat hulle baie beslis die wedstryd sal wen indien hulle hard genoeg geoefen het. Wanneer teleurstellings dan in ons lewens kom, dan verwyt ons onsself baie keer en sê bv.: “Dit is omdat ek nie hard genoeg probeer het nie, dat my huwelik verbrokkel het.” “As ek maar meer ure ingesit het, sou ek baie meer wins aan die einde van die maand gemaak het.” Omdat ons hele samelewing se resultate op harde werk en prestasie gebaseer is, wil ons dit dan ook in ons geloofslewe toepas.
Maar wat bely ons opgond van die inhoud van God se Woord? Soos ‘n tipiese natuurlike mens vra die Kategismus: “Maar wáárom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of ‘n deel daarvan wees nie?” Net in die vorige Sondagsafdeling van die Heidelbergse Kategismus het die gelowige bely dat hy/sy slégs deur ‘n ware geloof in Jesus Christus voor God regverdig is. Die Bybel leer ons op verskeie plekke dat ons alléén op grond van genade as kinders van God aangeneem word. Dat ons niks van óns kant af kan doen om deur God vrygespreek te word vir ons sondes nie en dat die geloof wat ons in God-Drie-Enig het, ‘n gawe/geskenk is. Maar dit is nie vir die sondaar-gelowige goed genoeg nie. Daarom dan tereg die vraag wat Sondag 24 vra: “Maar waarom kan my goeie werke nie my voor God regverdig maak nie?” Al hoor ons die genade – en al kén ons die Here se genade – wil ons baie keer iets van óns kant af doen. Voor ons ons kan kry dink ons dat ons goeie dade die Here op ‘n manier kan beïndruk.
“Ek doen dan al hierdie mooi dinge – ek gee dan so baie van my kosbare tyd vir die Here – ek skenk gereeld vir ons gemeenskap se sopkombuise – ek bel as mense siek is – ek gaan besoek mense wat eensaam voel – ek doen al hierdie baie dinge – dit moet tog seker op ‘n manier tot my eie voordeel wees?” Nee, geliefdes, kom ons erken maar weer nederig dat ons goeie werke nié bepaal hoe die Here na ons kyk nie. Anders as die wêreld, beloon God, die Vader, ons nie op grond van dit wat óns doen nie. Ons kan nie onsself, op ‘n manier, voor God bevorder nie, want selfs ons béste werke is onvolmaak en vol sonde. Jesaja 64: 6 sê dat ons béste dade soos vuil klere is. As ons die Here dan op grond van eie vermoë en prestasie moes beïndruk sodat Hy ons moet uitkies, dan sou ons heeltemal volmaak moes wees en die Here se Wet konstant en volkome moes gehoorsaam.
In die Vader se alwysheid het Hy geweet dat nie één van ons dit sou kon regkry nie, geliefdes. En daarom was dit nodig dat Hy sy geliefde Seun na hierdie wêreld toe moes stuur sodat Hý die volmaaktheid, wat God verlang, namens ons kon uitleef. Al een Wie se goeie werke enige meriete by God verdien, is ons Here, Jesus Christus s’n. Weens die gawe van geloof word ons met Christus verenig tot só ‘n mate dat sy verdienstelikheid by God ook vir óns geld. Daarom bely ons verder in hierdie Sondagsafdeling dat ons beloning vir goeie werke nie uit verdienste is nie, maar uit genade. Daarmee erken ons dat die Here wél goeie werke beloon, maar net nie óns éie werke nie, slégs dié werke wat ons in Christus doen (Ps. 19: 12).
Goeie werke bestaan nie sonder Christus nie
Ons kan eintlik só ver gaan as om te sê dat daar nie so iets soos goeie werke buite Christus is nie. Die goeie dade wat ongelowiges doen, kan dalk vir sekere ménse van waarde wees, maar dit het nie enige waarde by God nie. Selfs al voed ‘n mens ‘n hele nasie – selfs al red jy verskeie mense uit ernstige gevaar – maar jy doen dit sonder geloof in die Here, dan het daardie goeie dade wat jy doen, geen ewigheidswaarde nie. Christus maak dit ook duidelik in ons fokusvers as Hy sê: “Sonder My kan julle niks doen nie.” Dit is dus alléén omdat ons in Christus ingelyf is, dat ons dade “goed” is.
In Johannes 15 praat Christus met sy dissipels en dan verwys Hy na Homself as die ware Wingerdstok en na sy Vader as die Boer of die Landbouer. Die gelowiges word met die lote van die wingerd vergelyk. Om dit vir die dissipels – en óns – makliker te maak, maar Christus van iets alledaags gebruik om ons eenheid met Hom te verduidelik. Soos die lote deel van die wingerdstok is, so is ons – deur die genade – deel van Christus. Die lote het nie enige nut as hulle nié met die wingerdstok verenig is nie. Wat is ‘n wingerdstok se lote se nut? Hulle dra blare en vrugte. En indien hierdie lote in die wingerdstok is, maar nié vrug dra nie, dan is dit die boer se voorreg én plig om hierdie lote af te sny. Wanneer die landbouer agterkom dat van hierdie lote dalk siektes dra of onproduktief groei, dan snoei hy hulle af sodat hulle nie die hele wingerd besmet nie.
Mense wat nié ware gelowiges is nie, maar wat maak asof hulle deel van Christus is, sal deur God, die Vader, uitgeken word – ons sal dit aan hulle vrugte sien. Dit is húlle wat verdroog en verbrand word. Húlle wat dink hulle kan mense én God flous. Maar wáre gelowiges dra vrugte van geloof. Nooit uit hulself nie – dit is alleen omdat hulle in die ware Wingerdstok ingeënt is, dat hulle vrugte van geloof kan dra. Soos met enige vrugteboom is dit soms nodig dat die boer aan die boom moet snoei sodat die boom maksimale vrugte kan dra. Dan snoei Hy nie noodwendig die lote “wég” nie – hy snoei die lote “rég”. Hoe snoei God sy Wingerd se lote reg? Hy doen dit deur suiwer Woordverkondiging, geliefdes. Christus sê in vers 3: “Julle is reeds reg gesnoei deur die Woorde wat Ek vir julle gesê het.”
Christus gee aan alle gelowiges – en daarom ook aan ons – die opdrag om in Hom te bly, en dan herhaal Hy dat geen loot uit sy eie – sonder die ware Wingerdstok – vrug kan dra nie. Hierin sien ons dus presíés raak wat ons in Sondag 24 bely: sónder Christus is dit onmoontlik om die vrug van die geloof te dra. Dit is dus alleen Christus wat dit moontlik maak dat ons in Hóm vrug sal dra. En ons weet hoe hierdie vrug lyk, nie waar nie? Galasiërs 6 sê dit is “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”
Ware gelowiges sal altyd hierdie vrug uit dankbaarheid dra en nie om God te probeer beïndruk nie. Ons weet tog dat ons nie vir ons goeie werke beloon sal word omdat ons dit verdien nie, maar alleen uit genade. En daarom bely ons, laastens, dat hierdie besef van die Here se genade ons nie onverskillig maak nie. Want ons word op die régte manier gemotiveer om goeie werke te doen. Dit wat ons motiveer, is nie ‘n beloning wat ons verdien nie, maar ons dankbaarheid omdat ons, deur Christus, onverdiende genade ontvang.
Slot
Geliefdes, ons goeie dade sal nooit genoeg wees om ons verlossing te verdien nie. Selfs nie eers die Reformatore se “goeie werk” met opstel van Kategismus, en hulle waagmoed om teen die uitsprake van die Pous in te gaan, was genoeg nie. Maar laat die Here se genade ons motiveer om in Hom te bly.
Mag ons dankbaarheid teenoor God-Drie-Enig ons aktiveer om gesonde vrugte voort te bring. Want net soos die Rooms-Katolieke kerk gló ons wél in die doen van goeie werke – nié om daardeur verlos te word nie, maar juis omdat ons rééds deur Christus verlos is. Amen.