Psalm 144: 1 – 15

Skrifgedeelte: Psalm 144: 1 – 15

Fokusvers: Psalm 144: 11 en 12

Tema: God red ons van valsheid en leuens omdat Hy ‘n toekoms vir sy Kerk het

Inleiding

Soos met élke volgende geslag, dink nuwe ouers dat hulle hul kinders in ván die moeilikste tye grootmaak. “Hoe kan ‘n mens kinders kry in ‘n tyd soos hierdie?”, sal ons soms iemand pessimisties hoor vra. “Watter toekoms het hulle hier?”

Dit ís so dat sommige eras moeiliker as ander is, en dat ons land se omstandighede soms meer onseker as in ander tye is, maar dit behoort nie ‘n mens mismoedig te maak nie – verál nie as jy ‘n gelowige is nie.

Van die vroegste tye af, het élke geslag ánder uitdagings om te hanteer. En om ‘n mens se kinders groot te maak in hierdie tye kan soms baie moeilik en byna onmoontlik voel. Maar juis wanneer ouers oorweldig voel, kan hulle na hul Vader gaan om te luister na wat sy beloftes vir hulle én hul kinders is.

God red sy Kerk van valsheid en leuens

Mag almal van ons wat ouers is, die Hére se stem vanoggend, uit Psalm 144, hoor. Eerstens is dit belangrik om raak te sien dat Psalm 144 tydens baie unieke omstandighede geskryf is. Die feit dat die psalmdigter praat van die Here wat sy hande leer om te veg en sy vingers hoe om oorlog te maak, maak dit vir ons duidelik dat hierdie Psalm in ‘n tyd van oorlog geskryf is. Nóg ‘n rede vir hierdie argument, is omdat ons in vers 2 hoor dat God volke (letterlik) aan die koning onderdanig maak. In daardie tyd was dit die gebruik dat die volk wat in ‘n oorlog verslaan is, aan oorwinnaar-koning gehoorsaam moes wees. Indien hierdie verslaande mense nie die nuwe koning se gebruike en godsdiens wil navolg nie, word hulle doodgemaak. ‘n Vérdere rede waarom ons sê dat Psalm 144 tydens oorlog geskryf is, is omdat ons in vers 10 lees dat dit alleen Gód is wat aan konings die oorwinning gee en hulle van hulle vyande red.

Tydens ‘n oorlog is dit vir niemand maklik nie. Selfs die volk wat oorwin, kry swaar en moet hárd veg om oorwinning te bereik. Selfs die stérkste soldate word moeg. Selfs die brááfste konings word beleef angs, want ‘n mens is broos en teer. En dit is waarom die psalmdigter sy hulp in die Here, alléén, bely. Want hy besef dat die mens nietig is. In vers 3 en 4 word Psalm 8 en Psalm 102 (vgl. ook Pred. 6: 12) word amper woordeliks aangehaal. Ja, want wat is die mens dat God aan hom/haar wil dink? Ons lewe gaan so vinnig soos ‘n skaduwee verby.

Natuurlik gaan hierdie Psalm nie nét oor ‘n magtige koning wat oorlog voer nie, maar ook oor ‘n gelowige wat sy afhanklikheid van sy Skepper besef en erken. En dáárom bely die digter sy geloof in God-Drie-Enig.In Psalm 144 noem die digter die Here sy “Skuilplek” of sy “Toevlug”. Die woord wat hier gebruik word, beteken letterlik: “’n veilige plek waarheen iemand na toe kan vlug as daar gevaar is”. In die konteks van Psalm 144 se agtergrond, maak dit dan sin dat die digter die Here as sy Toevlug beskryf. Want dít is waar gelowiges wil wees wanneer hulle in gevaar is of wanneer hulle groot kommer beleef – styf in God se arms. Kinders van die Here vlug létterlik na God toe die oomblik wat onsekerheid hulle oorval. Hier, onder God se vleuels van beskerming, vind gelowiges dan troos. En dit is ook heeltemal rég van gelowiges om na God toe te vlug vir beskerming – eintlik word dit van ons verwag om, in die eerste plek, nooit onder God se beskerming uit te beweeg nie.

Die digter van Psalm 144 is opsoek na die Here se hulp in álle die aspekte van sy lewe. Hy roep nie nét God aan in tye van fisiese gevaar nie – hy soek óók die Here se hulp vir die toekoms. Hy stel alleen sy vertroue in die Enigste Ware God want Hy besef dat dit wérklik slégs die Here is wat Almagtig is. Hy het dit eerstehands in sy lewe beleef – waarskynlik al ‘n héle paar keer. En dit is die rede waarom die digter die Verbondsgod loof en prys vir sy wonderlike nabyheid en vir sy Hand van bewaring én sy leiding.

Psalm 144 het sterk ooreenkomste met Psalm 18 (wat ons netnou gesing het). Afgesien daarvan dat die digter van Psalm 18 óók na die Here as sy Rots en Bergvesting verwys, loof die digter van Psalm 18 die Here met soortgelyke woorde van Psalm 144.

Die digter van Psalm 144 wil egter ‘n nuwe lied met nuwe klank tot eer van God sing  Waarom? Want hy besef dat dit slégs die Here is, wat nie nét gelowiges bewaar nie, maar dat hulle ook réd. Waarvan red die Here sy kinders? Eerstens van fisiese gevaar – van die gelowige se vyande, van pyle en swaarde en aanvalle – maar die Here bevry ook die gelowige van bekommernisse en leuens en bedrieglikhede. Maar bo dit alles réd die Here sy kinders van die Bose. Met die koms van Jesus Christus kom verlos Hy ál God se uitverkore kinders van die sonde. Dit is iets waarop die mense van Psalm 144 nog moes wag, maar dit is iets waarop ons kan terugkyk. Die belofte van die koms en die verlossing van die Ware Messias het in vervulling gegaan. Aan die kruis betaal Christus vir álle uitverkorenes se sondes – ook vir klein … s’n. Ook sý word rein gewas met sy kosbare bloed wat daardie Vrydag-middag van die kruis af gedrup het. Julle, as ouers, ontvang vandag ‘n sigbare teken van hierdie belofte van God. Om van jou sondes gered te word, is die grootste troos waarvoor énige mens kan vra. Want dan word jy nie nét deur Christus vrygespreek nie, jy ontvang óók die ewige lewe. Omdat Christus die dood oorwin het, ontvang ons en ons gelowige kinders die sekerheid van ‘n hemelse lewe wat nóóit sal ophou nie.

Maar uit die Here se genade is Christus se redding selfs meer omvangryk. Ons fokusverse sê dat die Here ons bevry en red uit die hand van vreemdes wie se regterhande bedrieglik is. In ‘n hof steek ‘n mens jou regterhand op as jy sweer dat jy die waarheid praat, maar hier lees ons van húlle wie se regterhand ‘n regterhand van bedrog is. Ons lees van ongelowige mense – “vreemdes” – wie se monde vol leuens en bedrog is. Maar die Here sal sy kinders van hierdie mense bevrý, geliefdes. As Christus ons van uit die mag van die ewige dóód kon red, dan sal Hy ons verséker uit die mag van nietige mense kan red.

Wat is, volgens die digter van Psalm 144, die rede waarom God-Drie-Enig ons van hierdie mense moet red? Ons tweede fokusvers gee vir ons die antwoord: “Sodat ons seuns soos volgroeide plante in hul jeug kan wees, en ons dogters soos hoekpilare – uitgekerf, geskik vir ‘n paleis.” Die Here bewaar dus sy uitverkore volk en red hulle van die aanslae van die wêreld, sodat daar vir Hom ‘n volgende geslag gebore kan word, wat léwe tot sy eer. Deur die kragtige werking van die Heilige Gees beveilig God sy kinders sodat hulle in Hóm mag opgroei. Geliefdes, hoor u die gerusstelling van ons fokusverse? Die Here bewaar nie net ons en ons kinders van die wêreld se invloede nie – Hy réd hulle daarvan.

Daarom is dit ons, as ouers, se plig om toe te sien dat ons kinders nie in die wêreld nie, maar in die Hére gewortel bly. Julle word opgeroep om altyd toe te sien dat julle kinders in die veiligheid van die Here se teenwoordigheid sal grootword. Vir ons getroue Verbondsgod is seuns en dogters éwe belangrik. Deur sy genade gebruik Hy verkillende gawes en funksies in sy gemeente. Waar seuns se fisiese krag en standvastigheid in die gemeente, met volgroeide bome vergelyk word, vergelyk die digter dogters met die pilare van ‘n paleis. Soos ons weet, het pilare die funksie om die gebou staande te hou. Pilare is noodsaaklik om die gebou se dak bo te hou, en dit verbind die hele gebou aan mekaar. Soos julle kan raaksien het julle dogters ‘n baie belangrike funksie in die gemeente. Die Here het hulle gemaak met ‘n baie spesifieke doel. En boonop seën die Here dogters met uiterlike skoonheid – net soos die mooiste gevormde hoekpilare van ‘n koninklike paleis.

God se toekoms vir sy Kerk

Maar ons, as gemeente word óók opgeroep om moeite met ons gemeente se kinders te maak. Mag ons ons woorde tél as ons by hulle is, en mag ons op ons gedrag lét. Want al beséf ons dit nie altyd nie, sien ons kinders ons as ‘n voorbeeld van hoe ‘n gelowige behoort te lyk. Mag ons hulle altyd hulle positief inspireer en mag ons hulle erken in die gemeente. Geliefdes, ons kinders is die toekoms van ons gemeente. Ons behoort alles in ons vermoë te doen om hulle in die Here se Waarheid te lei.

Soms voel ons oorweldig en sien nie ‘n toekoms vir ons land en ons kerk nie. Soms sien ons nie énige lig aan die einde van die tonnel nie. “Hoe gaan ek hierdie kinders van my groot kry?” “Wat gaan van hulle word?”, vra ons soms bekommerd. Maar mag ons vandag daaraan herinner word dat die Hére in beheer van hulle toekoms is. Ons almagtige God het sy Verbond met hulle gesluit en aan hulle belowe dat hulle sý kinders is. Hulle is maar net in ons sorg toevertrou, maar hulle behoort in werklikheid aan die Here. En Hy het ‘n plan met elkeen van hulle, want Hy het ‘n toekoms vir sy Kerk hier op aarde. Dit is húlle wat, in die toekom, van God se verlossing moet getuig. Dit is  húlle wat God se Woord verder moet versprei – in die unieke tyd wat hulle dán gaan leef (vgl. Ps. 78 en Hand. 2: 17). So sal dit vir geslagte aangaan tot en met die wederkoms van ons Here, Jesus Christus. Dit is eers dán wat ons die volkome vrede en rustigheid sal ervaar. Volkome harmonie in die volle teenwoordigheid van die Here. Voordat daardie dag aanbreek, sal élke geslag tot ‘n mate onseker en bekommerd oor die toekoms voel – verál oor hulle kinders. Maar mag álle gelowiges dan juis aan die Here se beloftes vashou. Hy belowe dat Hy ons en ons kinders bewaar en verlos van álle ongelowiges – van alle bedrog en geestelike verval en verdraaide sienings en leuens – wat selfs soms dreig om die Kerk binne te stroom.

Slot

Geliefdes, mag ons daarom gelówig op die Here se uitkoms wag. Deur sy genade is ons en ons kinders rééds van die straf op ons sonde verlos. En vandag ontvang ons weer die belofte dat Hy ons van soveel aardse moeilikhede sal red. Wie is óns dan om soms pessimisties en mismoedig te wees?

Selfs al lyk dit nie vir ons altyd so nie, is die Here in totale beheer van alles wat rondom ons gebeur. Hy is in beheer van sy kerk en óók van jou huisgesin.

Mag ons daarom onsself gereeld daaraan herinner om ons fokus te verskuif en ons roeping as ouers na te kom. Mag ons, op ‘n eenvoudige manier, ons kinders na die Here lei sodat Hý altyd die Bron sal wees waaruit hulle sal opgroei. Dán alleen sal hulle hul roeping as gelowige seuns en dogters in sy gemeente kan uitleef. Amen.