Skrifgedeelte: Mattheus 10: 5 – 16
Fokusgedeelte: Mattheus 10: 5 – 7
Tema: Hoe lyk die lewe van ‘n dissipel van God?
Inleiding
In vandag se tyd is daar soveel gesprekke oor dissipelskap en wat dit beteken. In byna elke gemeente en kerkverband word daar oor dienende leierskap gepraat. Hierdie gesprekke is baie goed en uiters noodsaaklik, maar dan moet ‘n mens weet waarvan jy praat.
Baie mense fokus só op Jesus se opdrag, nl. dat hulle dissipels moet gaan maak, dat hulle vergeet hoe die lewe van ‘n dissipel behoort te lyk. Baie teoloë oorbeklemtoon die Groot Opdrag en plaas druk op die gemeente dat hulle moet uitgaan in die wêreld in. Maar dan rus hulle nooit die lidmate toe met vaardighede om te weet waarvoor om te soek in ‘n dissipel van Christus nie.
Want hoe kan ‘n mens iemand ánders ‘n dissipel maak as jy nie weet hoe hy/sy behoort te leef nie? Sonder om presies te weet watter eienskappe ‘n dissipel oor moet beskik, kan ons dan ook nie sélf ware dissipelskap uitleef nie. Daarom fokus hierdie preek op die eienskappe en kenmerke van ‘n ware navolger van ons Here, Jesus Christus.
Hoe lyk die lewe van ‘n dissipel?
Vanuit die ánder Bybelgedeeltes het ons al gesien wat ‘n dissipel is. Ons het selfs gehoor dat Jesus dissipels gemaak het toe Hy op aarde was, en dat ons nou die opdrag ontvang om ook dissipels te maak. Maar baie van ons is dalk nog ietwat onseker oor hoe ‘n dissipel lyk. In die oorspronklike taal, beteken die woord, “dissipel” ‘n “leerling”. Die dissipels waarvan ons dan in die Bybel lees, is leerlinge van Jesus Christus, maar hulle het óók die spesifieke opdrag om Jesus Christus na te volg. Met elke roeping van die dissipels hoor ons Jesus se opdrag aan hulle: “Volg My!” In die Nuwe Testament lees ons van verskeie eienskappe wat ‘n dissipel van Jesus Christus behoort te hê. Elke keer as Jesus iemand roep om sy dissipel te wees, dan verwag Hy ‘n sekere reaksie (én optrede) van daardie persoon. In Lukas 5 lees ons hoe die eerste amptelike dissipels gelyk het. Petrus, Jakobus en Johannes was besig om onsuksesvol vis te vang, toe Jesus saam met hulle in die bootjie klim en hulle aanbeveel om wéér die nette uit te gooi. Nadat hulle soveel visse gevang het dat die nette wou skeur, besef hulle dat die Man wat saam met hulle op die bootjie was, die Hére is (vers 8). Petrus erken sy nietigheid voor die Here en sê dat hy maar net ‘n sondaar is wat die Here se genade nie werd is nie. Maar nogstééds word hy, saam met Jakobus en Johannes, geroep om Jesus se dissipels te wees. Eerstens moet ‘n dissipel dus die Here erken as sy/haar God en geloof in Hom hê om Hom met jou léwe te vertrou (vgl. Matt. 14). Dit is belangrik dat ons hier raaksien dat ‘n dissipel van die Here nie ‘n spesifieke beroep hoef te beoefen of van ‘n spesifieke rang of familie moet wees nie. Die Here roep ‘n mens net soos jy is, net waar jy is, maar Hy los jou nie só nie. As Leermeester het Jesus sy dissipels geleer en onderrig nádat Hy hulle geroep het.
Kort daarna word Levi (of Mattheus) as dissipel geroep (Luk. 5: 27 -32). Hy was ‘n tollenaar van beroep, maar hy was bereid om van sy rykdom en status af te sien en Jesus te volg. Hierdie gedeelte leer ons dat ‘n dissipel bereid moet wees om, dit wat vir jou belangrik is, eenkant toe te skuif en slégs op jou enigste Saligmaker, Jesus Christus, te fokus. ‘n Ware dissipel sal sy/haar eie foute erken, hulle lewe verander en hulle nie steur aan wat ánder mense van hulle skielike lewensverandering dink en sê nie. Dit sluit aan by dit waarmee Petrus gesukkel het: nl. om vir Christus as Verlosser te blý erken te midde van groepsdruk (Matt. 26: 31 – 35). Al het Petrus drie keer ontken dat hy Jesus ken, blý hy een van Christus se nááste dissipels. En juis hierin sien ons God se genade raak, geliefdes. Al was sy sondige optrede deel van God se raadsplan sodat die profesie oor Christus in vervulling sou gaan, moes Petrus homself vergewe vir dit wat hy aan Christus gedoen het. ‘n Ware dissipel moet dus soms homself/haarself vergewe en aangaan met die roeping waarmee die Here hom/haar geroep het.
In Mattheus 8: 18 – 22 leer ons dat ‘n dissipel ook die Here óral en konstánt moet volg, en nie net wanneer dit vir jou gerieflik is nie. ‘n Mens behoort daarom bereid te wees om soms ongemak ter wille van die Here te ervaar en altyd vir Christus bó mense (selfs geliefdes) te kies. In Mattheus 13 leer en onderrig Jesus sy navolgers in die vorm van ‘n gelykenis, en dan vra die dissipels vir Hom in vers 10 waarom Hy gelykenisse gebruik as Hy met die mense praat. Hieruit kan ons aflei dat ‘n dissipel van die Here die vrymoedigheid kan neem om eerlik met die Here te praat. Solank ons onthou dat ons altyd met die nodige agting en respek met God praat (in die vorm van gebed). In die volgende hoofstuk leer ons vérder dat die mense wat Jesus navolg werklik moet gló dat Hy die menslik onmoontlike, moontlik kan maak (Matt. 14: 13 – 21) en dat ‘n dissipel nie moet toelaat dat énige iets ‘n mens se aandag van Jesus moet aftrek nie (v. 22 – 33).
En in Mattheus 15: 21 – 28 sien ons hoe die dissipels soms ongeduldig met die skare geraak het en nie altyd ander mense die Here se genade gegun het nie, maar dan leer hulle Leermeester hulle juis dat hulle vrygewig met sy genade moet wees en geduldig met ander gelowiges moet saamleef.
Wat verkondig ‘n dissipel?
En hierdie opdrag sluit aan by die gedeelte wat ons vanoggend saam gelees het, waar Jesus sê: “Julle het dit verniet/gratis ontvang, gee dit ook verniet.” Soos ons kan aflei, praat Christus hier van die bediening van sy Woord. Uit genade gee die Here vir ons sy kosbare Evangelie. Hy gee dit – wat vir ‘n mens die heel meeste werd is – grátis aan ons! Ons is so gewoond daaraan om slégs deur harde werk beloon te word. En soms maak ons daarmee vrede dat dit nét nie vir ons móóntlik is om sekere besittings te kry of te koop nie. Maar dan kom leer Jesus ons net weer dat sy genade nie te koop is nie. Dat die gawe, om sy Goeie Nuus met ander te deel, nie met geld aangekoop kan word nie (vgl. Hand. 8: 18 – 24).
In Mattheus 10: 5 – 16 gee Jesus vérdere voorskrifte van hoe ‘n dissipel se lewe behoort te lyk: ‘n Dissipel behoort altyd bereid te wees om die Evangelie aan énige iemand te verkondig (v. 5-7). Hy/sy behoort te besef dat énige iets moontlik is as ‘n mens dit met geloof in Christus aanpak (v. 8). ‘n Navolger van Christus vertrou altyd op die Here – ook vir fisiese versorging – en is vrygewig (maar versigtig) met hulle geestelike gawes (verse 9 en 16).
Ons Here, Jesus, se manier van sy aardse bediening was om onder die Jode te begin en dan later uit te kring na die heidene. Dit was sy strategie om sy Evangelie eers aan die mense, wat reeds gelowiges was, bekend te maaken dit is die rede waarom Hy sy navolgers beveel om ook só te begin bedien. Dit beteken egter nié dat ons nét mense wat reeds glo, aan die Here se Woord moet herinner nie. Jesus se Laaste Opdrag aan sy dissipels was dat hulle na álle nasies toe moet gaan met sy Evangelie (Matt. 28: 18 en 19). Maar reeds hier, aan die begin van sy amptelike bediening, gee Hy aan sy dissipels die volmag om van Hom te gaan getuig. Enige dissipel van Christus moet daarom besef dat hulle met Jesus se gesag na ander mense toe gaan.
En wat moet die inhoud van ‘n dissipel se bediening wees? Waaroor moet navolgers van Christus met ander mense gaan praat? Slégs dit wat hulle by hul Leermeester geleer het, geliefdes. Die oomblik as ons met ons éie woorde en slimigheid na mense toe gaan, dan is ons nie meer dissipels nie. Daarom leer Jesus ons om, soos Johannes die Doper, vir almal te sê: “Die koninkryk van die hemel het naby gekom”. Dit beteken dat sy dissipels bereid moet wees om vir sondaars van Jesus Christus se verlossing te vertel. Dit beteken om bereid te wees om te getuig dat Jesus Christus wél bestaan en dat daar, alleen in Hóm, versoening tussen ons en God moontlik is. Sonder geloof in Jesus Christus ontvang ‘n mens die ewige dood, maar dié wat in Hom glo, ontvang die ewige lewe. Wanneer ons verkondig – en self erkén – dat God se koninkryk aan die kom is, dan bely ons daarmee dat Christus die Ewige Koning is en dat die heelal sy koninkryk is. Daar is nie iets op hierdie aarde of in die heelal waaroor Hy nié regeer nie.
Verder maak Jesus dit duidelik dat sy dissipels nie hulle moet belas met onnodige goed soos geld, of ekstra klere of skoene vir die toekoms nie. ‘n Dissipel van Christus sal besef: “die Hére sal voorsien”, en ook só leef. ‘n Dissipel behoort nie aardse rykdom na te streef nie, want hy/sy sal besef: “Die Almagtige is elke dag bý my – wat méér wil ek hê?” Verder seën die Here sy dissipels met die gawe van onderskeid – en Hy doen dit deur die Heilige Gees. Omdat Christus se navolgers met die Gees vervul is, sal hulle ook Geesvervuld leef. Hulle sal kan onderskei tussen dié mense wat God se Woord sal aanneem en dié wat sy Woord verwerp. Nadat hulle bepaal het wie kinders van God is, moet hulle daardie huis seën met die Here se vrede. Dissipels van Christus moet in alle opregtheid God se Goeie Nuus aan uitverkorenes bekendmaak, want hulle wens nie net hul medegelowiges die Here se vrede toe nie, hulle bedien sy vrede. Dissipels moet rustig – en in alle vrede – die Evangelie aan mense verduidelik en sélf ook weer verstom staan voor die Here se verlossende genade.
Ongelukkig is daar egter baie mense wat hulself as vyande van die Woord beywer en daarom moet dissipels ook versigtig soos slange wees. Vir mense wat die Evangelie van vrede verwerp sal dit érger wees op God se oordeelsdag as vir die inwoners van Sodom en Gomorra, lees ons in vers 15. Hierdie twee stede is bekend vir hulle goddeloosheid en dat die Here hulle in sy toorn sal vernietig (Jud. 7) – maar mense wat aktief die Evangelie verwerp sal selfs ‘n swaarder straf as hierdie stede ontvang.
Slot
Geliefdes, natuurlik is daar nog baie te sê oor hoe ‘n dissipel van die Here behoort te lyk (vgl. o.a. Luk. 14: 25 ev.), maar laat hierdie paar punte vir ons ‘n goeie aanduiding gee. Laat ons hierdie eienskappe in ons medegelowiges soek en raaksien, en laat ons hierna stewe as dissipels van die Here. In die Here se genade gee Hy ons tyd waarin Hy ons vorm om al meer te word wat ons reeds is. In die Here se genade rus Hy ons toe sodat ons getrou en met opregtheid ons dissipelskap teenoor Hom kan uitleef.
Laat ons daarom vashou aan ons Groot Leermeester se woorde in Johannes 8: 31: “As julle aan My Woorde getrou bly, is julle wáárlik My dissipels.” Laastens is dit dus uiters belangrik vir ‘n dissipel van Christus om jou Verlosser goed te ken. Dit beteken egter nie nét dat jy wéét wie die Here is nie, maar dat jy wérlik Hom kén en daarom ook in Hom gló. Dit is om – soos Petrus – met vrymoedigheid jou geloof in God-Drie-Enig te bely omdat sy Woorde konstant in jou gedagtes en in jou hart is (Matt. 16: 15 en 16).
Geliefdes, noudat ons weet hoe ‘n dissipel se léwe behoort te lyk, nóú kan ons uitgaan om dissipels te gaan maak, maar óók ons sélf soos dissipels van God te gaan leef. Amen.