Mattheus 6: 5 – 15 

Skrifgedeelte: Mattheus 6: 5 – 15 

Fokusvers: Mattheus 6: 9 – 13

Heidelbergse Kategismus Sondag 45 (Vraag en Antwoord 118 en 119)

Tema: Die Onse Vader as riglyn vir ons gebedslewe.

Inleiding

In vandag se tyd kry ons so baie verskillende sienings oor gebed. Elke mens op aarde het ‘n ander siening oor gebed en aanbidding, juis omdat dit so ‘n persoonlike saak is. Gebed is wanneer ons besef dat ons in God se heerlike teenwoordigheid is, en wanneer ons met God kommunikeer. Die meeste van ons dink moontlik min of meer dieselfde oor gebed, maar baie ander mense sien meditasie as gebed of dink bv. om in die natuur te wees, is ‘n gebed of selfs om net na musiek te luister ‘n gebed is. Baie mense dink bv. dat hulle deur iets of iemand kan bid of dat gebed net nou en dan nodig is, en so kan ons aangaan met verskillende sienings oor gebed. Maar kom ons luister wat God-Drie-Enig ons oor gebed leer, want vandag wil die Heilige Gees ons in gebed onderrig. Vanoggend hoor ons hoe Jesus Christus gebed sien.

Die Here leer ons bid

In die gedeelte wat ons saamgelees het, is Jesus Christus besig met sy bergpreek. Vandat Jesus met sy amptelike werk begin het, het groot skares mense Hom altyd gevolg. Jesus sou dan opstaan en die mense begin leer. Hier gebruik Jesus dan die berg as platvorm vir sy openbare optrede. Terwyl die groot skare mense by sy voete sit, leer Jesus hulle verskeie dinge. Vandag staan ons stil by wat Jesus sy navolgers oor gebéd geleer het. In Lukas se Evangelie noem hy dat Jesus “êrens op ‘n plek besig was om te bid. En toe Hy klaar gebid het vra een sy dissipels vir Hom: ‘Here leer ons bid…’” Vandag wil ons ook by die Here se voete kom sit en goed oplet wat Hy ons oor gebed wil leer.

Voor Jesus by die inhoud van die gebed uitkom, gee Hy eers ‘n paar riglyne van ‘n mens se motivering vir gebed. Jesus sê dat ons nie soos die skynheiliges moet wees wanneer ons bid nie. Skynheilige mense hou daarvan om te wýs dat hulle bid. Daarom sal hulle graag in die openbaar, waar alle mense hulle kan sien, wil bid. Die skynheiliges hou daarvan as ander mense hóór watter woorde hulle gebruik as hulle bid. Maar Jesus leer ons dat dit nie ons intensie moet wees wanneer ons bid nie. Jesus leer ons dat, wanneer ons bid, dit nie ons motivering moet wees om ander mense te beïndruk nie. Die Here wil aan ons die regte ingesteldheid oor gebed leer. Natuurlik is daar niks fout met openbare gebede nie – inteendeel daar is ‘n plek daarvoor (2 Kor. 6: 14 42; Neh. 9; Hand. 4: 24 – 31). Maar wanneer ons ‘n persoonlike gebed bid, is dit ‘n gesprek tussen my en die Here. Wanneer ek bid, dan is dit ‘n intieme oomblik waar ek voor God kan verskyn. Wanneer ek, met opregtheid, bid, word ek gestroop van alles wat ek probeer wegsteek. Die Heilige Gees neem elke laag van my af weg sodat God álles van my kan sien. My sondes, my intensies, my begeertes, my vreugdes, my bekommernisse, my hartseer…

Daarom beveel Jesus ons om na ons binnekamer toe te gaan, die deur agter ons toe te maak, en te bid. Want wanneer ek bid dan is dit net ek en die Here. Wanneer Jesus sê dat ons in ons binnekamer moet bid, dan kan ons dit met ‘n private vertrek, soos ‘n mens se slaapkamer, vergelyk. ‘n Mens se slaapkamer is die mees intieme kamer in jou huis. Niemand, behalwe jou eie gesin, weet hoe jou slaapkamer lyk nie. Dit is ‘n private vertrek – ‘n vertrek waar ‘n mens alleen kan wees. Jesus Christus beveel ons om vir ‘n oomblik onsself van die wêreld af te sonder en ‘n private gesprek met God-Drie-Enig te hê.

Wanneer ons tot ons Vader bid, dan hoef ons nie ‘n stortvloed van woorde te gebruik nie, sê Jesus. Want dit is hoe die heidene bid. Hulle dink hulle gebede sal verhoor word as hulle baie woorde gebruik. Hulle dink hulle kan God beïndruk met hoë woorde. Hulle dink hulle kan God ompraat deur iets oor en oor te herhaal. Jesus leer egter sy navolgers dat die hoeveelheid woorde in ‘n gebed nie van belang is nie. Jesus leer hulle ook dat ingewikkelde taal in ‘n gebed ook nie van belang is nie. Dit wat saak maak wanneer ‘n mens bid, is die bedoeling en jou intensie waarmee ‘n mens bid.

Die Onse Vader as riglyn vir al ons gebede

En daarom leer Jesus Christus dan die Onse Vader vir sy navolgers. ‘n Gebed wat in eenvoudige taal gebid word. ‘n Gebed waarin niks onnodig herhaal word nie. Jesus leer ons hierdie gebed juis omdat dit maklik aangeleer kan word. Die Onse Vader is ‘n kort, eenvoudige gebed wat in alle opregtheid gebid kan word. Die Onse Vader is ‘n samevatting van al ons geestelike en fisiese behoeftes. Daarom bely ons in Sondag 45 dat die Onse Vader eintlik die “model-gebed” is, waarop ons ál ons gebede kan grond.

So moet julle bid, sê Jesus, en dan leer Hy vir ons ses bedes: Hy begin met: “Ons Vader wat in die hemel is.” Hiermee erken ons dat God ons Vader is, en dat ons sy kinders is. Wanneer ons God as “Ons Vader” aanroep, dan erken ons dat ons eerbied en respek vir Hom het, maar óók dat ons Hom op dieselfde tyd persoonlik ken. Ons begin ook ons gebede deur te erken dat God in die hemel is. Ons doen dit sodat ons nie aards en wêrelds van Hom dink nie. Al ken ons Hom persoonlik, bly God Iemand Wie letterlik en figuurlik hoër as ons, mense, is (vgl. HK Sondag 46).

Nadat ons Hom aangeroep het, smeek ons die Here: “Laat u Naam geheilig word.” Hiermee vra ons die Here dat Hy sal toelaat dat ons Hom reg sal leer ken. Deur hierdie bede vra ons dat ons, en ander mense, God se Naam sal heilig en nie ontheilig nie. Ons vra dus hiermee dat die Heilige Gees kragtig in ons kom werk sodat ons God se Naam beskerm en groot maak. Ons vra hiermee dat die Here ons sal help om te reageer wanneer iemand sy Naam laster. Want dit is ons wéns dat ons Vader se Naam heilig sal bly (vgl. HK Sondag 47).

Daarna smeek ons die Here dat “sy koninkryk sal kom”. Dit is vir enige kind van die Here ‘n groot begeerte dat God oor ons sal regeer. Dit is ons wéns dat álle mense vir Jesus Christus as die Koning van hulle lewe sal erken. Wanneer ons vra dat die Here se koninkryk mag kom, dan vra ons dat die Here ook oor sy kerk sal bly heers. Dit is ons wens dat die Here ons persoonlike optrede, maar ook ons gemeente se optrede, in lyn sal hou. Met hierdie bede smeek ons die Here dat Hy die werke van die duiwel totaal en al sal vernietig. Dat Hy ‘n einde sal maak aan ál die boosheid in die wêreld. Met hierdie bede herinner ons die Here – maar eintlik onsself – dat Hy oor alles en almal beheer het. Met hierdie bede hunker ons na Christus se wederkoms waar Hy alles in almal sal wees (vgl. 1 Kor. 15: 28 en HK Sondag 48).

Jesus Christus leer ons verder om, in elke gebed, te vra: “Laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” Om hierdie wens uit te spreek verg wysheid, want ons, mense, is self gesentreerd. Ons wil gewoonlik ons éie wil laat geskied. Ons wil ons eie begeertes laat waar word. Ons fokus nie van nature op die Here se wil nie. En daarom léér Jesus dit vir ons aan om, aktief, op die Here se wil te fokus. Wanneer ons bid: “Laat U wil geskied”, dan erken ons daarmee dat God se wil die beste vir ons is. Ons besef dat die Here van béter weet en ons is bereid om ons eie wil prys te gee. Die Heilige Gees gee, met hierdie bede, aan ons die wysheid om ons eie begeertes na God se wil te buig.

En dan skuif die Onse Vader se fokus. Die eerste drie bedes het op God se heiligheid, sy koninkryk en sy wil gefokus. En die laaste drie bedes fokus op die gelowige se behoeftes. Wanneer ons dan nederig vra: “Gee ons vandag ons daaglikse brood”, dan erken ons daarmee dat God ons Enigste Bron van versorging is. Ons besef ons afhanklikheid van die Here en erken dat Hy ons fisies en liggaamlik onderhou. Met hierdie bede wil ons slegs van die Here afhanklik wees, en nie van ons eie vermoëns of ander mense se gunste nie. Jesus Christus leer ons ook om vir ons “daaglikse brood” te vra, sodat ons by die Here kan kry wat op daardie dag vir ons nodig is. Wanneer ons vra: “gee ons vandág ons daaglikse brood”, dan wys dit ook dat ons, élke dag van die Here se hulp en sorg afhanklik is. Môre bid ons weer vir daardie dag se versorging. Op hierdie manier bly ons in gesprek met God, want ons het Hom nie net elke nou en dan nodig nie, maar élke dag.

Maar die Here beveel ons ook om vir ons geestelike behoeftes te bid. Daarom leer Hy ons: “Vergeef ons ons skulde soos ons ook dié vergewe wat teenoor ons skuldig staan.” Dit is een van ons, as gelowiges, se grootste begeertes en ook iets waarvoor ons elke dag veronderstel is om te bid. Wanneer ons ons sonde besef, smeek ons ons Vader dat Hy Jesus Christus sal raaksien wanneer Hy na ons kyk. Te danke aan Jesus Christus se kruisdood en opstanding uit die dood is gelowiges se sonde reeds vergewe. En omdat ons juis dankbaar vir hierdie wonderlike genade is, wil ons ander mense vergewe soos ons vergewe is. Hoe kan ons van die Here verwag om vergewensgesind teenoor ons te wees as ons nie ander mense kan vergewe nie?

Daarom leer Jesus Christus ons, laastens, om te vra “dat die Here ons op die regte paaie sal lei en, elke dag, sal beskerm teen die Bose”. Die wêreld en ons eie swakheid kan gelowiges só maklik mislei, want ons gees is gewillig maar ons vlees is soms baie swak (Matt. 26: 41). Daarom het ons, élke dag, die leiding van die Heilige Gees nodig. Dit is, elke dag, ons wens dat die Here ons geestelik en emosioneel sal versterk sodat ons kan weerstand bied teen die aanslae van die duiwel.

En waarom kan ons die Onse Vader bid? Op grond waarvan bid ons hierdie Model-Gebed? Ons bid die Onse Vader met vrymoedigheid, want ons geloof laat ons besef: “aan God-Drie-Enig behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid – tot in alle ewigheid.” Die Onse Vader begin en eindig dus met lof aan God. Die Onse Vader is ‘n gebed wat op God se grootheid, sy heiligheid, sy koninklikheid, sy absolute alleen-gesag, sy sorg vir ons en sy verlossende genade fokus.

Slot

Die Onse Vader is ‘n gebed waarop ons al ons ander gebede kan grond, want die Onse Vader verwoord ál ons fisiese en geestelike behoeftes. Die Onse Vader is ‘n kort, eenvoudige gebed, en tog sê dit alles.

Mag ons daarom die Onse Vader aanleer en, elke dag, as riglyn vir ons gebede gebruik. Mag ons, iewers in ‘n dag, tyd maak om onsself van die wêreld te onttrek. En mag ons in eenvoud en privaatheid tot ons Vader bid. Want dit is hoe Jesus Christus, sélf, ons leer bid het. Amen.