Handelinge 17: 16 – 34

Skrifgedeelte: Handelinge 17: 16 – 34

Fokusverse: Handelinge 17: 23(b) en 24

Heidelbergse Kategismus Sondag 46

Tema: Deur Christus mag ons vir God “ons Vader” noem

Inleiding

Het jy al ooit gewonder waarom ons vir God as “ons Vader” in gebed aanspreek? Beteken dit iets besonders vir jou of bid jy dalk só sonder om werklik dit op te let? Baie gelowiges bid uit gewoonte en sê ‘n klomp woorde sonder om werklik te fokus met Wie hulle praat en wat hulle bid. Wanneer iemand in ‘n mens se huisgesin in die gewoonte is om élke liewe keer dieselfde gebed bv. tydens ete te bid, dan let ons naderhand nie meer na die inhoud en woorde van die gebed nie. In baie gesinne is dit maar bloot ‘n formaliteit wat afgehandel moet word – ‘n paar onverstaanbare woorde wat vinnig afgerammel word.  

Deur Christus is God “ons Vader”

In die Here se genade wil Hy egter sy kinders leer Wie Hy is, en daarom herinner Hy ons aan die waarde van ons verhouding met Hom. So waarom noem ons God “ons Vader”? Waarom spreek ons Hom juis só aan? Omdat Hy Homself só aan ons bekendmaak in die Skrif – so eenvoudig soos dit. Vanaf die vroegste boeke in die Bybel leer ons God nie nét as ons Skepper ken nie, maar óók as ons Vader. Reeds met die verbondsluiting tussen God en Abraham, beloof God dat Hy vir Abraham en sy héle nageslag ‘n God sal wees en dan beveel Hy alle gelowiges om aan God gehoorsaam te wees. Geliefdes, reeds hier sien ons die eienskappe van ‘n pa by God die Vader raak. God beloof dat Hy alle gelowiges in die Verbond sal beskerm en bewaar. Hy beloof dat Hy vir hulle ‘n land sal gee waarin hulle kan gaan woon – Hy voorsien dus aan hulle basiese behoeftes en Hy sorg vir hulle – in alle liefde (Gen. 17).

Later in die Ou-Testament hoor ons hoe daar op etlike plekke na God as “ons Vader” verwys word. In Deuteronomium 32: 6 word daar bv. vir die verbondsvolk gevra: “Is die Here nie jou Vader wat jou geskep het nie?” In verskeie Psalms sal die digter na die Here as sy Vader verwys – veral in die sg. Messiaanse/Konings-Psalms (vgl. o.a. Ps. 2; 89 en 110). Die Ou-Testamentiese profete het ook die Here as hul Vader erken (vgl. Jer. 3: 4; Jes. 9: 5). In Jesaja hoor ons bv. hoe die volk, Israel, God se kinders genoem word en dat Hy hulle Vader is (Jes. 63: 8 en 16). En in Jesaja 64: 8 lees ons hoe die gelowiges sê: “U is ons Vader, Here, ons is klei en U het ons gevorm. Ons is almal die werk van U hande.” In Maleagi 1 verwys God na Homself as die Verbondsvolk se Vader, wanneer Hy vra waar die eer is wat Hóm moet toekom (v. 6). En in die volgende hoofstuk erken die Here se uitverkore volk: “Ons het tog almal een Vader, ons is tog deur een God geskep” (Mal. 2: 10).

Maar geliefdes, soos ons weet, is dit in die Nuwe-Testament waar ons die duidelikste agterkom dat die Ewige God ons Váder is. Regdeur Jesus Christus se aardse lewe, spreek Hy God as sy “Vader” aan. Elke keer as Hy met die dissipels oor die Here praat, dan praat Hy van die Vader. Die Vader wat Hom na hierdie gebroke wêreld toe gestuur het sodat God se kinders nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh. 3: 16 en 17; 7: 28 en 29). Jesus Christus praat gereeld met die mense oor sy hemelse Vader en leer selfs die dissipels om Hom ook só aan te spreek wanneer hulle die Onse Vader-gebed bid. Jesus Christus getuig dus gedurig van sy Vader se almag en verlossende genade en Hy doen maar net wat sy Vader Hom beveel (Joh. 5: 19 ev.). En daarom is Hy bereid om deur die mees vreesaanjaendste tydperk denkbaar te gaan – ter wille van God se uitverkore kinders. As Seun van God, is ons Here, Jesus Christus is volkome gehoorsaam aan sy Vader – selfs tot in die dood in. Hy word deur God vervloek en Hy word verneder deur kaal aan die kruis te hang terwyl die laaste ding wat Hy, as Mens, sou drink asyn is. Geliefdes, God se Eniggebore Seun moet ‘n vloekdood sterf sodat ons God se kinders kan word.

Maar hoe werk dit?”, sou iemand kon vra. “Jesus Christus is dan God se énigste Seun?Hoe is dit dat ons sê dat ons óók as God se kinders gereken kan word?” Geliefdes, juis deur God-Drie-Enig se groot liefde vir ons, maak God van ons sy kinders. Alleen te danke aan Christus se offer aan die kruis en sy oorwinning oor die dood word ons God se kinders. In Johannes 1: 12 lees ons: “… aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy (Christus) die reg gegee om kinders van God te word.” Dit is die rede waarom ons in Heidelbergse Kategismus Sondag 46 kan bely dat Christus ons beveel om God as “ons Vader” aan te spreek. Ja, geliefdes, want alleen Christus is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Niemand kan tot by die Vader kom, behalwe deur Christus nie (Joh. 14: 6). Dit is dus absoluut duidelik dat God, deur Christus, ons Vader geword het. Sonder Christus se kruisiging en opstanding uit die dood sou ons totaal verlore gewees het. Maar te danke aan Hom ontvang ons nie nét vergifnis van ons sondes nie, maar ook ‘n hemelse Vader wat ons bitter lief het en wat ons elke dag beskerm en versorg.

Maar God se Woord en God se Gees werk nooit los van mekaar nie, geliefdes. Daarom lees ons die trooswoorde van Romeine 8: 15 en 16: “Julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.” Wanneer ons dus in ons kindskap twyfel en dink dat ons sonde veroorsaak dat God ons sal verwerp, dan is dit die Heilige Gees wat ons daaraan herinner dat die Ware God ons nooit sal teleurstel nie. Dat God se uitverkore kinders nooit uit sy greep van genade weggeruk sal word nie.

God woon in die hemel en nie op aarde nie

Wanneer ons hierdie genade van ons Vader wérklik besef, dan sal ons ook die Here op die régte manier wil aanbid. Uit respek en ontsag vir Hom spreek ons Hom as ons Vader aan en nie bloot as “Pappa” nie. Want, anders as die godsdienstige mense van Atene, wéét ons met Wie ons praat. Deur die genade van geloof beséf ons dat Hy ons hemelse Vader is wat ons baie béter versorg as wat ons aardse pa’s ooit sal kan. Hy is die Almagtige God van hemel en aarde wat tot in ewigheid regeer. Daar is nie iéts wat buite sy beheer plaasvind nie en daar is nie iemand wat belangriker as Hy is nie. Aan Hom, alleen, behoort alle eer en lof en aanbidding omdat Hy die Begin en die Einde is. 

Met die woorde van ons fokusverse uit Handelinge 17 werk die Heilige Gees krágtig deur Paulus. God-Drie-Enig maak Homself aan hierdie sg. “wyse” Grieke bekend. Die “onbekende God” wat hierdie mense, onder andere, aanbid, hoef nie langer aan hulle onbekend te wees nie. En juis hierin – in hierdie altaar vir die “onbekende God” – is daar ‘n punt van kontak tussen Paulus en die ongelowige nasie. “Wat julle aanbid, sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek nou aan julle.” Want hoe kan ‘n mens Iets aanbid, sonder dat jy weet wat Dit is? Hoe kan jy jou hoop in Iets stel, sonder dat jy Dit in diepte ken? Dit is eers wanneer jy die Ware God kén en in Hom gló dat jy Hom sal kan vertrou (vgl. o.a. Ps. 119: 66). Die feit dat hierdie mense lof en eer en aanbidding aan ‘n “onbekende God” bring, toon juis hulle naïwiteit en oningeligtheid aan, en nié die wysheid waarop hulle roem nie. En daarom leer Paulus hulle presies Wie God-Drie-Enig is.

Hy maak Niemand anders as die Wáre God aan hierdie mense bekend nie. Paulus vertel, daar in die openbaar, daar voor al die wêreld-wyses, Wie God wérklik is. Hy is die Skepper van hemel en aarde. God die Vader het alle dinge in die hemel en op die aarde en in die water onder die aarde geskep. Alles wat bestaan, het deur Hóm tot stand gekom. Dit is Hý wat alles, vanuit niks gemaak het. Deur sý toedoen het alles ontstaan. God die Vader het net gepraat, en dit was daar. Hy het dus deur sy Woord, sy Seun, Jesus Christus, geskep. Aan die mens het God besónderse aandag geskenk, want toe Hy die mens geskep het, het Hy aan die mens ‘n lewende siel gegee sodat sy uitverkore kinders ewig kan leef (Gen. 2: 7). God-Drie-Enig (al drie Persone) was dus betrokke by die skepping van alle dinge (vgl. Gen. 1: 26).

Die Here onderhou en regeer steeds álles wat ons kan sien, én nie kan sien nie (NGB Artikel 12). In sy ewige voorsienigheid sorg Hy nie nét vir alles wat ék na liggaam en siel benodig nie, Hy sorg en voorsien ook vir die héle skepping. Elke reëndruppel wat val; elke sonstraal wat skyn; elke wind wat waai, kom van Hóm af. Hy is in beheer daarvan. Omdat God in totale beheer van die skepping en die natuur is, weet ek dat niks buite sý vermoë kán wees nie (Heidelbergse Kategismus Sondag 9 en 10). As ons Vader die vermoë het om die ganse heelal te beheer, hoeveel te meer vir my, wat so nietig is?

Verder is die Ware God ook Uniek in sy soort. Hy kán nie met afgode vergelyk word nie. Hy is totaal en al ánders as enige iets in die heelal. Ons mág Hom ook nie met afgode vergelyk nie – dit is teen die Eerste en die Tweede Gebod. In ‘n ware gelowige se verwysingsraamwerk sal afgode nie eens bestaan nie, geliefdes. Vir ons is daar maar net Een, Ware, Almagtige en Ewige God. Deur die werking van die Heilige Gees wys Paulus die mense daarop dat die Ware God nié soos hierdie afbeeldings en afgode in Atene is nie. Net soos sy almag, kan sy teenwoordigheid nie deur ons menslike verstande begryp word nie. Die Ware God woon nie in heiligdomme of tempels soos wat hierdie mense dink nie. God-Drie-Enig het ook nie nodig dat mense vir Hom ‘n woonplek hier op aarde maak nie. Niks en niemand kan sy heilige teenwoordigheid inperk nie, geliefdes. God die Vader wíl ook nie in ‘n mensgemaakte huis of tempel woon nie – gaan lees gerus weer 2 Samuel 7. Die wyse Salomo het iets van God se alomteenwoordigheid verstaan: “Sou God wérklik op aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ék gebou het?” (1 Kon. 8: 27).

En daarom bely ons in Sondag 46 dat Hy ons Vader in die hémel is. Ons erken dat Hy nie, soos ons, op aarde woon nie, maar in die hemel. Die oomblik wanneer ons daaraan dink dat God in die hemel is, dan sal ons gebede ook meer opreg wees. Want ons besef dat ons met die Almagtige in gesprek is, en dat ons, daarom, mooi moet konsentreer hoe ons met Hom praat. 

Slot

Mag ons daarom al ons gebede begin met “Ons Vader wat in die hemel is”. Nooit uit gewoonte nie, maar áltyd omdat ons wérklik besef met wie ons in gesprek tree. En ook omdat die Here dit van ons verwag om Hom só te aanbid.

Mag ons gebede nooit net ‘n paar onverstaanbare woorde wees nie, maar mag ons in alle opregtheid tot ons hemelse Vader bid. Want alleen Hý is die Enigste, Ware, Onvergelykbare en Ewige God. Amen.