Eksodus 3: 1 – 15

Skrifgedeelte: Eksodus 3: 1 – 15; Mattheus 1: 20 en 21 asook Johannes 16: 5 – 7 en 13

Fokusvers: Eksodus 3: 15

Heidelbergse Kategismus Sondag 47

Tema: God-Drie-Enig openbaar Homself aan ons sodat ons Hom kan ken en sy Naam kan heilig.

Inleiding

Wanneer ons name vir ons kinders gee, dan doen die meeste van ons moeite met die keuse van ‘n naam. Saam met ons huweliksmaat sal rustig sit en dink aan ‘n gepaste naam vir die baba wat verwag word. Sommige van ons hou van familiename en daarom betrek ons nie nét ons huweliksmaat nie, maar óók die breë familie. Baie keer sal ons ons kinders na iemand in die familie vernoem omdat ons eienskappe van ons geliefde in ons kind raaksien of dan hoop dat ons nuutgebore kind dit sal aanleer en uitleef.

Wanneer ons aan ons kinders name gee, dan is dit méér as om net hulle te identifiseer. Elke naam wat ons gee bevat ook eienskappe van iets/iemand. Iemand se naam definieer dus baie keer wie hy/sy is, en ‘n naam is permanént – daarom kies ons ons kinders se name baie versigtig.

God-Drie-Enig openbaar Homself aan ons

Maar, geliefdes, al hierdie dinge is soveel te méér waar oor die Here se Naam. Wanneer ons opnuut besef wat die Here se Naam wérklik beteken, dan sal ons meer respék vir Hom hê. Wanneer ons sê dat iemand ‘n goeie naam in die gemeenskap het, dan bedoel ons daarmee dat daardie persoon ‘n gesiene persoon in die omgewing is. ‘n Mens se reputasie word direk aan jou naam gekoppel – dit kan goed of sleg wees. Soveel te méér is die Here se Naam ‘n aanduiding van Wie Hy is. Ons leer die Here in sy Woord ken waar Hy Homself aan ons bekendmaak deur verskillende Name te gebruik.

In die Ou-Testament leer ons God, die Vader, ken as JHWH of Elohim en dan ook as Adonai. In al die Name waarmee God Homself aan ons bekendstel, leer ons verskillende eienskappe van Hom ken. Die Hebreeuse Naam, JHWH beteken “Here” en dan het dit baie spesifiek die Verbondsgod in gedagte. Elke keer waar ons die Naam “Here” of JHWH in die Ou-Testament lees, dan kan ons aan die Getroue Verbondsgod dink. Hierdie Naam is as só heilig deur die Jode beskou dat hulle dit nie hardop wou sê nie. Die rede hiervoor is omdat God in sy Wet beveel dat niemand sy Naam ydellik mag gebruik nie. Geliefdes, die mense van daardie tyd het wérklik respek vir die Here se Naam gehad. Dit is ook waarom die Here se Naam in sommige Bybel-vertalings vollédig in hoofletters geskryf is. In die Nuwe Testament word die Naam, JHWH met die Griekse woord “Kurios” vertaal wat ook “Here” beteken. Wanneer ons die Naam, “Here”, in die Nuwe Testament lees, dan dink ons aan die Here as ons Eienaar of ons Besitter – ons behoort aan Hom.

”Elohim” is die ander Naam waarmee God Homself aan ons bekendmaak. Trouens, dit is die eerste Naam van God wat ons in die Bybel teëkom (Gen. 1:1). Gewoonlik word hierdie Naam van God saam met ‘n ander beskrywende woord gebruik sodat ons dan God kan leer ken as bv. die Almagtige God (Gen. 17: 1), die God wat ons sien (Gen. 16: 13) of die Allerhoogste God (Gen. 14: 18-20).

‘n Ander Naam vir God is “Adonai” wat as alternatief vir JHWH gebruik word. Die betekenis van die Naam, Adonai,  is “my Here” of “my Meester” – dit is dus ‘n meer persoonlike Naam en lê klem op ons persoonlike verhouding met die Here.

Geliefdes, in Eksodus 3: 1 – 15 maak God Homself met al drie hierdie Name aan Moses bekend. God maak Hom eerstens in vers 6 aan Moses bekend as die Ewige God. Hy is ook Moses se voorvaders – Abraham, Isak, en Jakob – se God. Hy is dus die Getroue Verbondsgod wat van ewigheid al vir sy kinders sorg – Moses kan op Hom en sy Woorde staatmaak. Moses moet egter besef dat Hy die Almagtige is en dat Moses daarom vir Hom én sy opdragte aan Moses respek moet hê. En tog stribbel Moses tee – tog probeer hy sy roeping ontvlug en op ‘n manier los kom van die verantwoordelikheid wat die Here nou op sy skouers plaas.

In antwoord op Moses se vraag in vers 13: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur’, en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dán vir hulle sê?” sê God dat Hy is wat Hy is. “Jy moet vir die Israeliete sê: “’Ek is’ het my na julle toe gestuur.” Geliefdes, juis in hierdie benaming van God – juis in hierdie verduideliking van Wie God is, leer ons Hom die béste ken. Die God wat Homself aan ons en aan Moses hier, in Eksodus 3, openbaar is Wie Hy is – en dit sê alles! Hiermee sê God dat Hy wérklik bestaan – van alle ewigheid af is Hy al dáár. Daarmee saam bedoel Hy dat Hy dié belangrikste in die heelal is. Omdat Hy die Skepper is, is alle dinge in die heelal minder as Hy, geliefdes. Wanneer die Here sê dat Hy is wat Hy is, dan toon Hy ook aan dat Hy onveranderlik is. Hy ís dieselfde God van geslag tot geslag. Hy is die lewende God wat altyd vir sy Verbondsvolk dáár is. Wanneer hulle deur ondraaglike omstandighede moet gaan, dan is dit Hý wat dit vir hulle draaglik maak. Wanneer God se eiendom angs en trauma beleef, dan is dit Hy wat hulle daaruit red en verlos. Geliefdes, God is dus aktief en léwend en nie maar bloot ‘n passiewe Wese wat vêr van ons verwyder is nie.

God bewys sy nabyheid en betrokkenheid regdeur die gelowiges se geskiedenis, maar verál deur sy Seun, Jesus Christus. Met sy geboorte kom leef God fisies tussen gelowiges en Hy doen dit deur die Tweede Persoon in die Drie-Eenheid. Die ware Immanuel – wat so lank reeds aan God se kinders beloof is – word eindelik gebore! En oor die betekenis van Jesus Christus se Naam, hoef ‘n mens nie ‘n kenner van die Antieke Tale te wees nie, geliefdes. Met die geboorte-aankondiging van ons Here, Jesus Christus, hoor ons presíés wat sy Naam beteken. God se boodskapper sê aan Josef dat hy nie huiwerig moet wees om met Maria te trou nie, “want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Jy moet die Seun ‘Jesus’ noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Die Naam, Jesus, dui dus nie net aan Wie Christus is nie, maar ook Wat Hy is. Die karakter van Jesus is dat Hy God se uitverkore kinders van hulle sondes verlos. Jesus Christus is nie maar net ons Verlosser se noemnaam nie – dit is sy hele Wese, geliefdes. Sy roeping was om ons van al ons sondes te verlos en Hy doen dit volledig. Met Christus se sterfte op die berg, Golgota, word ons ten volle van al ons sondes verlos. Te danke aan sy liggaamlike dood word ons van ál ons skuld voor God vrygespreek.

Dit is alleen in die Naam van ons Here, Jesus Christus, waarin daar verlossing te soek en te vind is, want Hy het ook die dood oorwin. As die Almagtige het die dood geen mag oor Hom nie, geliefdes. En daarom ook nie oor ons nie, want – deur die genade – het ons deel aan sy oorwinning oor die dood. Vir ons, wie met volharding in Hom glo, wag daar die sekerheid van die Ewige Lewe sonder enige hartseer of terugslae of trauma of dood.

Nadat Jesus sy roeping op aarde voltooi het – nadat Hy verlossing vir God se eiendom verwerf het – word die Heilige Gees op aarde uitgestort. Ook die Persoon van die Heilige Gees het ‘n baie spesifieke benaming, geliefdes. Hy is nie maar bloot ‘n onsigbare Gees wat doelloos rondswerf nie. Die Heilige Gees is ook nie maar net die Krag waarmee God werk nie. Ons Here, Jesus, noem Hom die Voorspraak die “Parakleet” wat vir ons intree by die Vader. Dit is Hý wat ons gebede voltooi wanneer ons woorde teenoor God op raak en Hy pleit vir ons met versugtinge wat nie verwoord kan word nie (Rom. 8: 26 en 27). Die Heilige Gees is ook ons Trooster – die énigste Een by wie ons die wáre troos mag vind – selfs in die hártseerste tye. Want die Heilige Gees herinner my aan die Here se Woord en aan al die beloftes van God wat vir my geld. Dit is Hý wat aan my die gawe van geloof skenk om in God-Drie-Enig te gló. Dit is Hy wat my laat deel kry aan al die weldade van Christus – ook van die Ewige Lewe en dit is Hý wat my oortuig dat daar iets méér as die hier en die nou is – dat daar ‘n heerlikheid vir my wag en dat ek, daarom, nou maar geduldig die ellende en die gebrokenheid maar net moet verduur. Daarom noem Christus ook die Heilige Gees die “Gees van die Waarheid” want Hy sal ons nooit mislei nie, geliefdes. Alles wat die Here in sy Woord en deur sy Gees vir ons sê is die absolute Waarheid. Daarin hoef ons nooit te twyfel nie.

Daarom kan ons Hom reg ken, sy Naam heilig en optree wanneer iemand sy Naam ontheilig

Wanneer ons die Here op die regte manier kén, dan sal ons Hom kan vertrou. En daarom openbaar God Homself aan ons – juis sodat ons Hom kan leer kén (soos ons in Sondag 47 van die Kategismus bely). Vir dieselfde rede het God Homself aan Moses in die brandende bos geopenbaar – die Here het sélf met Moses gepraat en Hom presies geleer Wie Hy is en waartoe Hy in staat is. Die Here bevéstig aan Moses dat Hy dieselfde God is wat ook bý en mét Moses se voorouers was. Dat Hy die Ewige God van die Verbond is wat getrou bly tot in die duisendste geslag van dié wat Hom liefhet. Die Here belowe aan Moses dat Hy met Moses sal wees as hy die Here se Boodskap na die volk toe neem (vers 12), maar stééds lees ons hoe Moses twee keer hierdie roeping van hom probeer ontvlug. Hoe hy verskonings uitdink om nié te gaan doen wat die Here van Hom vra nie – klink dit dalk vir ván ons bekend?

Tog het Moses tot ‘n mate besef Wie die Here is, geliefdes. Hy het iets van die Here se heiligheid besef. Daarom trek hy sy skoene uit by die brandende bos waarin die heerlikheid van die Here verskyn het (vers 5). Om in die Here se heilige teenwoordigheid te wees vra van ons om rein te wees – sonder die besmetting van die wêreld. En daarom maak Moses óók sy gesig toe (vers 6) – want hy besef niemand kan vir God sien en bly lewe nie. Die Here is net té heilig, geliefdes. Sy teenwoordigheid is helderder as die son – verterend soos ‘n vuur wat aanhou brand sonder om ooit uit te brand (vers 2).

In die Here se onbeskryflike liefde is Moses – en óns – egter begenadig, geliefdes. Selfs al is ons met sonde besmet en totaal en al onrein voor God reinig Hy ons met die bloed van sy Seun en Hy doen dit deur die Heilige Gees. God die Vader, Seun én Heilige Gees is dus al Drie heilig, geliefdes – totaal en al rein – en tog wil Hy van óns, nietige mense, gebruik maak. Ja, geliefdes, die Here het ‘n roeping vir élkeen van ons en ons word aan hierdie roeping herinner élke keer wat ons die Onse Vader-gebed bid. Die Here roep élkeen van ons op om sy Naam te heilig. Letterlik beteken dit om sy Naam groot te maak – Hom te eer en te verheerlik.

Ons heilig die Here se Naam wanneer ons Hom érken in ons lewens. Wanneer ons die Here se Hand raaksien in dit wat elke dag met ons gebeur en wanneer ons aan Hóm, alleen, alle roem en eer en lof en aanbidding daarvoor gee. Ons heilig die Here se Naam wanneer ons van Hom teenoor ander mense getuig en hulle vertel wat die Here vir ons beteken en hoe Hy aktief in ons lewens betrokke is. Ons heilig ook die Here se Naam deur onsself en ons naaste daaraan te herinner dat ons maar net op die Here kan vertrou in die onbekende toekoms. Dit is eers wanneer ons Hom rég ken, dat sal ons sy Naam kan heilig, geliefdes, want dan vertrou ons Hom om ten volle.

Laastens, sluit ons af deur te bely dat “ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat die Here se Naam nie gelaster word nie, maar eerder geheilig word.” Ons sal in ‘n volgende preek in meer detail kyk hoe ons behoort op te tree wanneer iemand die Here se Naam laster. Maar wanneer ons bely dat ons gerig moet wees op die eer van God, dan kan ons dink aan die beeld van ‘n skut wat na ‘n teiken toe skiet. Hierdie persoon rig sy/haar wapen op die teiken en span homself/haarself in om dit raak te skiet. Om so na as moontlik aan die kolhou te skiet. 

Slot

Só behoort ons geloofslewens te wees, geliefdes. Gerig – gemik – gefokus op één ding en dít is die eer van God. Ons hele ménswees moet daaroor gaan om God se eer te soek en sy goeie Naam te verdedig. Om bereid te wees om te reageer en op te staan vir wanneer iemand God se Naam ydellik gebruik, want hierdie Naam het vir ons, as gelowiges, besóndere betekenis. Hierdie Naam beskryf presies Wie God-Drie-enig is. Hierdie Naam is heilig en óns is geroep om hierdie Naam te beskerm en met álles in ons te eer. Amen.