Psalm 2: 1 – 12

Skrifgedeelte: Psalm 2: 1 – 12

Fokusverse: Psalm 2: 7 en 8

Heidelbergse Kategismus Sondag 48

Tema: Ons het ‘n Ewige Koning Wie se koninkryk ons moet verkondig.

Inleiding

Van ons mag redeneer en sê dat die Tweede Bede van die Onse Vader vir ons die minste sin maak van ál die bedes. Vir óns sou dit sou geldig wees wanneer iemand sê dat hulle hierdie deel van Christus se gebed nié verstaan nie. Wat sou egter die rede hiervoor wees? Hoe is dit moontlik dat iemand mag sê dat hulle nie hierdie deel van die Onse Vader- gebed verstaan nie?

Geliefdes, al géldige rede vir iemand om só te sê, is omdat ons in ‘n land woon waar daar nié ‘n koning is wat oor ons regeer nie. Konings en koninginne en paleise en koninkryke is vir ons, as Suid-Afrikaners, vreemde konsepte. Ons is nie gewoond daaraan nie – ons is gewoond aan ‘n president en ministers en politieke partye en nie aan ‘n koning en sy onderdane nie. Maar die Here se Woord bly egter, oor geslagte heen, van toepassing. God-Drie-Enig maak van verstaanbare beelde in die Bybel gebruik wat gelowiges van alle kulture en lande en ouderdomme góéd kan verstaan. 

Ons het ‘n Ewige Koning

So wat presies doen ‘n koning? Wat is sy funksie? ‘n Koning is iemand wat alléén oor ‘n koninkryk regeer. ‘n Koning word deur sy onderdane aangehang – amper aanbid – en hulle is bereid om te doen wát hy ook al van hulle verlang. Die land se inwoners het juis hóm aangewys as die belángrikste, stérkste, wýsste persoon van die monargie. Die idee van ‘n demokrasie het eers heelwat later (in die tyd van die Grieke) gekom.

Die gebied waaroor ‘n koning regeer, noem ‘n mens die koning se koninkryk. Die koninkryk is soms net ‘n stad – ander kere is dit ‘n groter gebied, soos ‘n provinsie – maar sommige konings streef daarna om voortdurend hulle koninkryke te vergroot. Keiser Augustus het bv. oor meer as ‘n vyfde van die hele wêreld se bevolking regeer – nagenoeg vyftig miljoen mense. Al is ’n  koning se koninkryk net so sterk soos sy leer of weermag, dink baie konings dat hulle bomenslik – byna gode – is.  

Hoe werk die verhouding tussen ‘n koning en sy onderdane? Geliefdes, vir ons, wat nie ‘n koninkryk verstaan nie, is dit ‘n belangrike vraag. ‘n Koning bied sekuriteit en veiligheid vir sy onderdane – ‘n fisiese gebied waarin hulle veilig kan woon en rustig kan voortleef. En dan bied die onderdane toewyding en lojaliteit en natuurlik ‘n gedeelte van hulle inkomste of besittings vir die koning aan.

En dan is dit baie interessant dat die Kategismus die Koninkryk van God ook só beskryf, geliefdes. Ons bely in Sondag 48 dat ons Koning óók oor ‘n Koninkryk regeer en dat Hy óók sy onderdane bewaar en dat dit ook Hý is wat ons vyande vernietig. En dieselfde gedagte vind ons in Psalm 2. Hierdie Koningspsalm skets een van die duidelikste beelde van hoe dit tussen koninkryke gaan. Ons lees van ‘n Koninkryk wat ánders as die ander koninkryke lyk en van ‘n Koning wat ánders as die omliggende konings optree. Regdeur hierdie Psalm lees ons van die ánder nasies en die ánder volke wat teen hierdie Een Koning in opstand kom. Al is oorlogvoering tussen twee koninkryke nie iets wat ongewoon is nie, is die omstandighede waarvan ons in Psalm 2 lees, totaal anders. In Psalm 2 hoor ons nie net van twee koninkryke wat met mekaar kompeteer nie – dit is duidelik dat verskeie konings teen hierdie Een Koning oorlog voer. In vers 2 lees ons hoe die konings van die aarde gereed staan en hoe die nasies saamspan om hierdie Een Koning te vernietig.

Maar wie is hierdie “konings van die aarde” en Wie is die ander Koning wat alleen staan? Vanuit die oorspronklike Taal is dit duidelik dat die digter “ongelowige/heidense volke” in gedagte het as hy van hierdie nasies skryf wat so woel en teen die Koning in opstand kom. En wie is die Koning waarteen hulle al hulle goddelose planne beraam? Vir die eerste lesers van hierdie Psalm het dit op ‘n gelowige koning gedui – iemand uit die nageslag van koning Dawid – iemand wat in diens van die Here staan. Want dit is duidelik dat hierdie “eensame koning” deur die Here sélf aangestel is. Hy het die hulp en die beskerming van die Almagtige – die Here sélf maak sy hande sterk en hierdie koning kan wondere verrig omdat die Here deur Hom werk. Presies soos sy voorvader, Dawid, sou hierdie enkel Koning vir sy heidense vyand kon sê: “Jy kom na my toe met ‘n swaard en ‘n spies en ‘n lans, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here van die leërskare – die God van Israel wat jý uitgedaag het (1 Sam. 17: 45).

Maar geliefdes, ons kan nie anders as om ook ‘n ánder Koning in Psalm 2 raak te lees nie. Hierdie “ander Koning” – hierdie “eensame Koning” wat deur die meerderheid gehaat word, dui op Iemand méér. Hierdie Koning dui op óns Koning, Jesus Christus. Die profesie en beloftes van Psalm 2 gaan in Hóm in vervulling. Dit is Hý wat, uit Dawid se nageslag, Koning geword het (2 Sam. 7 en Matt. 1). Maar Hy is egter nie nét die Jode se Koning nie, geliefdes, maar die Koning van die heelal. Dit is Hý wat deur God aangewys is – gesalf is – as Ewige Koning (Heidelbergse Kategismus Sondag 12). En daarom word Hy, alléén, Christus genoem – want alleen Hý is deur sy Vader met die Heilige Gees gesalf en geen ander (aardse) koning nie. Die Koning van Psalm 2 is ook al Een Wie waarlik God se Seun is (vgl. ook Hebr. 1: 5; 5: 5) – al wil aardse konings hulle onderdane wysmaak dat húlle soos seuns van God aanbid moet word.

Geliefdes, dit is teen Jesus Christus wat die ongelowige volke en konings so raas – dit is teen Hóm en die gesag van sý Woord wat die wilde heidendom so dring en dryf. Omdat hulle nie sy alleen-gesag wil aanvaar nie – omdat hulle Hom as hulle Koning verwerp – beplan hulle sy en sy bruid se ondergang. Hulle sal álles in hulle vermoë doen om toe te sien dat sy kerk en sy Koninkryk vernietig word, want húlle wil sélf vereer en aanbid en verafgod word.

Maar hulle beséf nie sy almag nie, geliefdes. Hulle hou nie rekening met Wié Hy is nie. En daarom sê die digter in vers 1 dat hulle planne teen Hom nietig is. Want dit is Jesus Christus wat hierdie opstandige nasies met ‘n ysterstaf regeer. Nadat Hy God se uitverkore kinders losgekoop het met sy dood aan die kruis, vaar Hy na die hemel toe op om sy plek as Ewige Koning te gaan inneem. Vanuit die hemel heers Hy oor óns, maar ook oor húlle wat vyandig teen Hom optree. Openbaring 2: 27 maak dit aan ons duidelik dat dit Hý is wat hulle met ‘n ystersepter regeer en wat hierdie nasies stukkend slaan asof hulle nietige kleipotte is.

In Openbaring 19: 11 – 16 hoor ons wéér van Hom waar ons lees: “ Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was ‘n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was ‘n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self. Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die Woord van God.” Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. Uit sy mond het daar ‘n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met ‘n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige. Op sy klere, by sy heupe, was daar ‘n Naam geskrywe: “Die Koning van die konings en die Here van die heersers.”

Jesus Christus is dus ‘n Koning wat ons maklik van wêreldse konings kan onderskei, geliefdes, want Hy is in werklikheid die Enigste Koning wat regeer. Selfs al voel dit nie altyd vir ons só nie, word alle volke en tale en nasies én hulle regeerders deur Hóm regeer. Hy is ook húlle Koning – eendag sal hulle dit moet erken en bely (Fil. 2: 9 – 11). Verder kan ons ook vir Christus van aardse konings onderskei omdat sy Koninkryk ook totaal ánders lyk. Hy regeer nie maar nét oor ‘n sekere gebied nie – die ganse heelal is sy Koninkryk. Alles wat bestaan, is in sy mag. Daarom lees ons in Psalm 2: 8 – maar óók in Mattheus 28: 18 – dat God die Vader juis aan Hóm alle mag in die hemel en op aarde gegee het – dat die héle aarde aan Hóm behoort.

Gaan verkondig sy koninkryk

Daarom verwoord die Kategismus ook die mens se totale nietigheid voor hierdie Ewige Koning. In vergelyking met Hom klink asof die mens niks kan vermag nie. Dit wil vir ons voorkom asof sélfs die gelowiges nie regtig iets in God se Koninkryk kan doen nie, en dat Hy álles moet doen, maar dit is nie hoe ons dit moet sien nie, geliefdes. Want wanneer ons ons bid: “Laat U Koninkryk kom”, dan vra ons daarmee dat God oor ons sal regeer deur sy Woord en sy Gees, ons smeek die Here dat Hy ons van die bose sal bewaar en dat Hy die bose planne van die duiwel moet vernietig totdat sy Koninkryk ten volle kom.

Wat betref ons éie sonde en weerstand teen die duiwel en die versoekings, is dit waar – teen hierdie aanslae is ons te swak. Hiervoor het ons die regering, beskerming en oorwinning van ons almagtige Koning nodig. Maar daar is baie wat ons kán doen, geliefdes. Daar is baie wat ons MOET doen! As ons vra dat Christus die Enigste Koning in ons lewens moet wees, dan herinner ons daarmee saam onsself dat ons onsself hoe langer hoe meer aan Hóm moet onderwerp. Ons behoort onsself én ons medegelowiges elke dag daaraan te herinner dat ons nederig moet buig onder Christus se Koningskap.

Tesame hiermee besef ons dat dit van óns verwag word om God se Koninkryk te verkondig. Dat ons, soos Johannes die doper, konstant moet uitroep: “Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemel het naby gekom!” (Matt. 3: 2). Ja, geliefdes, dit word van élkeen van ons verwag om van God se Koningskap te gaan getuig – ook teenoor die ongelowiges. God-Drie-Enig gee aan sy Kerk die opdrag om van Hom te getuig, want die Kerk is middel waardeur Hy sy Koninkryk aankondig.

Mag elkeen van ons gehoorsaam wees aan hierdie roeping, geliefdes. Mag ons bereid wees om te gaan getuig aan die magte wat teen die Here in opstand kom sodat alle mense die Here met die nodige ontsag en respek sal eer. Hiervoor het ons wysheid nodig, geliefdes, want dit is nie áltyd die effektiefste om hierdie heidense maghebbers te konfronteer nie – soms moet ons eenvoudig net bid: “Laat U Koninkryk kom.”

En vir hoe lank moet ons hierdie bede bid? Wanneer kan ons ophou om die Ons Vader-gebed te bid? Eers wanneer God se Koninkryk ten volle aangebreek het, geliefdes. Ons, as Kerk, moet in die gebed volhard en aanhou bid totdat die geestelike oorlog verby is. Totdat ons Oorwinnaar-Koning weer op die wolke kom om, finaal, oor alles en almal te oordeel. Ons moet God aanhou smeek dat sy Koninkryk spoedig sal kom sodat Hy alles en in almal kan wees (vgl. 1 Kor. 15: 28).

Slot

Die Here leer ons presies wat ‘n koning is, en hoe ‘n tipe Koning sy Seun, Jesus Christus, is. En daarom het ons geen verskoning om te sê dat ons nié die Tweede Bede van die Onse Vader verstaan nie. Ons het ook geen verskoning om nie, gerééld, hierdie bede te bid nie.

Mag ons ywerig en sonder ophou bid: “Laat U Koninkryk kom!” En mag ons getrou ons roeping in God se Koninkryk uitleef. Want noudat ons weet wat sy Koninkryk behels, kan ons dit aan ander gaan bekend maak. Want, deur die genade, besef ons dat daar maar Een Koning is wat oor alles en almal heers. Niemand se sondige planne of vermoëns het enige effek op Hom en sy regering nie.

Moet daarom nie moed verloor in hierdie deurmekaar wêreld nie, geliefdes. Moet jou nie onnodig ontstel oor aardse regeerders wat God se Koningskap verwerp nie. God lag vir hulle nietige pogings om Hom te oorwin, want deur Christus, is Hy die alleen-Oorwinnaar. Kom ons hou maar net aan om in ons Koning se koninkryk te skuil – kom ons onderwerp ons aan sý regering oor ons lewens en kom ons onthou altyd dat Jesus Christus in totale beheer van alles is en Dat Hy vir éwig ons Enigste Koning is. Amen.