Mattheus 13: 1 – 9 en 18 – 23

Skrifgedeelte: Mattheus 13: 1 – 9 en 18 – 23

Fokusvers: Mattheus 13: 23

Tema: Hoe word daar op die saad van die Evangelie gereageer?

Inleiding

Die meeste van ons is opgewonde oor die nuwe seisoen wat besig is om rondom ons aan te breek. Baie van ons kan nie wág vir die koue dae om hééltemal verby te wees en vir die pragtige Lente wat ons kan geniet nie. Veral vir ons boere beloof dit om ‘n besonderse seisoen wees. Sommige van ons wag ook opgewonde vir die geskikte tyd om weer ons groentetuine reg te kry en sien uit na die bevrediging wat nuwe lewe en groei aan ons bied.

Die gelykenis van die Saaier

Dié van ons só ingestel is, sal vanoggend se preek waardeer. Maar ‘n mens hoef egter nie ‘n goeie tuinboukundige te wees om hierdie gelykenis te verstaan nie. Die gelykenis wat Jesus Christus in Mattheus 13 gee, is só duidelik dat daar eintlik nie ‘n verklaring voor nodig is nie. En tog verklaar Jesus Christus sélf hierdie gelykenis, omdat dit wil voorkom asof sy dissipels nié sy Woorde verstaan nie. ‘n Mens sou dink dat hulle van beter moes weet – dat hulle geloof diepte moes gehad het – dat hulle geestelik volwasse moes wees sodat hulle hierdie gelykenis kon verstaan. Maar dit was nie die geval nie, geliefdes. Al spandeer hulle elke dag saam met Jesus Christus, beséf hulle nie watter voorreg dit is nie (Matt. 13: 16 en 17). Hulle het die verklaring van hierdie gelykenis nét so nodig soos die ongelowige skare.

Mattheus 13 begin deur te sê dat Jesus uit die huis uitgegaan het en by die see gaan sit het. Hy doen dit want Hy het gewéét dat Hy dáár soveel méér mense sal bereik. Nuuskierig raak die skare mense al meer en meer. Want hierdie mense wonder watter nuwe en vreemde dinge Hy nóg gaan sê. Nie álmal wat daardie dag na Jesus kom luister het, was daar vir die regte redes nie. Sommige sou deur Hom vermaak wou word, ander sou Hom wou verneder, ander, soos die Fariseërs, sou na Hom kom luister nét sodat hulle later valse aantygings teen Hom kon maak. Maar ánder mense het met die mees opregte harte kom luister. Geliefdes, hierdie mense het na Jesus kom luister omdat hulle wérklik hulp nodig gehad het. Hulle beséf dat daar niks ánders in hierdie wêreld is wat vir hulle antwoorde en troos kan gee nie. En daarom kom luister hulle in alle verwagting na Jesus Christus se Woorde, met die Hoop dat sý Woorde vir hulle betekenis het.

Ongeag van wié in die skare voor Hom is, praat ons Here, Jesus Christus, uit sy hart uit met hulle. Hy preek in die vorm van ‘n gelykenis, sodat dít wat Hy sê, vir álmal duidelik is. Dit is nou nie nét dié wat horende doof is en dié wat siende blind is, wat sal verstaan nie – álmal wat daar is, sal hierdie gelykenis verstaan. Ons Here preek juis in die vorm van gelykenisse sodat niemand kan sê dat hy/sy nie geweet het of verstaan het nie. Hy gebruik ook ‘n tydlose beeld wat byna élke mens op aarde al gesien het. Jesus praat met die mense oor ‘n saaier wat eendag uitgegaan het om saad te saai. Natuurlik het die mense in daardie tyd met die hand gesaai en nie met plant-implemente soos vandag nie. ‘n Tipiese saaier in daardie tyd sou ‘n saaisak oor sy skouer gedra het met saad binne-in die sak en dit dan met sy hand op die grond gestrooi het. Daarom is dit dus onvermydelik dat daar, in die proses, ván die saad op die grond geval het.

Soos die saaier tussen die saailande stap, het daar dus ‘n bietjie van die saad op die voetpaadjies geval. Die saad was dus sigbaar daar op die harde grond en daarom het die gulsige voëls dit vinnig kom oppik. ‘n Ander gedeelte van die saad het op klipbanke en rotsagtige gebied geval. Hierdie saad het vinnig ontkiem, want die grond was steeds klam omdat daar baie klippe in die grond se bodem was. Die klipbank vorm dus ‘n natuurlike bedding waarin die saad maklik kon groei. Maar die saad wat hier geval het, se plantjies het vinnig weer verdroog, want die grond waarin hulle gegroei het, was nie baie diep nie. Boonop het die son se hitte hierdie vlak grond vinnig uitgedroog en daarom verlép hierdie plante weer nét so vinnig soos wat hul opgekom het. Weens die omstandighede en kwaliteit van die grond het hierdie saad baie vinnig ontkiem, maar daar was nie genoegsame spasie en voedingstowwe in die grond vir die plante om volhoubaar te groei nie. En dan lees ons hoe ‘n ánder gedeelte van die saaier se saad tussen onkruid geval het en hoe die onkruid (of dorings) opgekom het en hierdie jong plantjies versmoor het. Ons sal, DV, volgende week ‘n ander gelykenis van Jesus behandel wat spesifiek oor plante en onkruid gaan. Maar hier hoor ons rééds iets daarvan. Die saad wat Jesus, as voorbeeld, gebruik, was waarskynlik ‘n graangewas wat baie stadiger as onkruid sou ontkiem en groei. Enige persoon wat al gewasse, of selfs ‘n groentetuin, geplant het, sal weet hoe ‘n mens konstant met die onkruid moet rekening hou. En dan hoor ons, laastens, van die saad wat dáár geval het waar dit hoort: in diep, ryke, voorbereide grond. In die laaste voorbeeld hoor ons van die saaier se saad wat in vrugbare grond geval het. Hierdie grond was nie uitgetrap, klipperig of reeds met ander saad bedek nie. Hierdie grond was gerééd om die saad te ontvang. Ons kan aflei dat ál die saad wat daardie dag geplant is, ontkiem het en goed gegroei het. Maar dan is dit interessant om raak te sien dat nie ál die saad dieselfde hoeveelheid vrug opgelewer het nie. Selfs al was dit dieselfde goed voorbereide grond waarin hulle geplant is, het sommige honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudige vrug gelewer.

Hoe reageer ‘n ongelowige/valse gelowige teenoor die ware gelowige op die saad van die Evangelie?

En dan, aan die einde van hierdie gelykenis, sê Jesus Christus iets wat dit vir ‘n mens duidelik maak dat hier ‘n dieper betekenis is: “Wie ore het moet luister!” Daarmee bedoel Hy dat dié mense wat nóú al die betekenis van hierdie gelykenis verstáán, goed daaroor moet gaan nadink en insien hoe dit op hul geloofslewe van toepassing is. Maar vir die ánder, wat nie hierdie gelykenis, dádelik verstaan nie, sal Hy dit selfs in sy genade verklaar. In Mattheus 13: 18 – 23 gee Jesus die betekenis/verklaring van die gelykenis van die saaier. Dit is dus nie nodig dat die skare mense hul eie sondige afleidings te maak oor wat hierdie woorde beteken nie.

In beide die Evangelies volgens Lukas én Markus verklaar Jesus Christus óók hierdie gelykenis. In Lukas se oorvertelling van Jesus se woorde hoor ons presies waarop die saad in die gelykenis dui: “Die saad is die Woord van God” sê Christus in Lukas 8:11. En in ons Teksgedeelte sê Christus dat die grond waarin die saad geplant word, op ‘n mens se hart dui. En die saaier? Wie is die saaier? Dit is alle mense wat die Evangelie van Christus verkondig. Op daardie dag teen die see, was Jesus Christus sélf die Saaier van sy Woord, maar soos ons weet, gee Hy aan alle gelowiges die opdrag om sy Evangelie te verkondig. Saam met die Kerkraad word predikante verál as saaiers van God se Woord gesien. ‘n Predikant word in die besonder deur God geroep om die Evangelie aan alle mense bekend te maak. Solank ons net onthou dat dit nie nét die predikant is wat kan saai nie – dit word van ons élkeen verwag om ‘n saaier van God se Saad te wees.

En dan Jesus begin om hierdie gelykenis te verklaar deur oor elkeen van die vier tipes grond en tipes groei te praat. Ons moet onthou dat die Saad elke keer dieselfde bly – dit is die grond wat verskil. Dus is die Evangelie-boodskap elke keer dieselfde, geliefdes – die harte wat dit aanhoor verskil egter van mekaar. Jesus praat eerstens oor die saad wat op die pad geval het, en dan sê Hy dat die Bose by elkeen kom wat die Woord van die Koninkryk hoor, maar dit nie verstaan nie. Soos die gulsige voëls die saad oppik wat op die pad gesaai is, net só vat die Bose dit weg wat in hierdie mense se harte gesaai is (vers 19). Wanneer iemand se hart só hard soos ‘n uitgetrapte voetpad is, sal die saad van die Woord net bo-op daardie harde grond bly lê – dit sal sigbaar bly en nie werklik deurdring tot binne-in nie. Vir saad om goed te ontkiem, moet die grond ontvanklik wees – dit moet sag wees. Ongelukkig is alle grond nie geskik om ‘n saailand te wees nie. Nie alle mense is ontvanklik vir God se Woord nie, geliefdes. Soms verkondig ‘n mens die Evangelie – selfs óór en óór – aan iemand, maar die Here se Woorde dring nie tot hulle deur nie. Soos die saaier die Woord aan hierdie persoon bring, só neem die Bose die Woord weer wég uit daardie persoon se hart.

Die volgende voorbeeld wat Christus gebruik, is die saad wat tussen die klipperige grond geval het. Onthou u hoe vinnig daardie saad gegroei het omdat die grond sag en klam was? Dit is mense wat die Evangelie hoor en dit dádelik aanneem, maar daar is geen diepte by hierdie mense nie. Jesus sê dat hierdie mense nie lank uithou nie. As hy/sy ter wille van die Woord verdruk en vervolg word, word hulle gou afvallig. Geliefdes, swaarkry en beproewings is deel van ‘n Christen se lewe. Die Here plaas dit op ons elkeen se pad sodat ‘n mens kan sien wie wáre gelowiges is. Daar is baie mense daar buite wat vinnig tot “bekering” kom, en dan die Christelike geloof net so vinnig los wanneer dinge moeilik gaan. Daar is baie kerke en pastore wat vir ‘n kort rukkie ywerig brand vir die Evangelie, maar sodra die lewe se son op hulle bak, verlep hulle góú! Vir ‘n paar weke of maande hou hulle hul geloofspas vol, maar sodra daar ‘n beproewing kom, sak hulle uit. Hierdie tipe geloof is nie wáre geloof nie, geliefdes. Die gemeentes wat soos paddastoele rondom ons opskiet, is nie wáre kerke nie, want sodra die klimaat verander, verdwyn hulle sommer. Hulle lidmate volhard nie in geloof nie. Want hulle het nie ‘n sterk en ‘n stewige wortelstelsel nie – hulle hou nie by die Waarheid van God se Woord nie.

En dan hoor ons van húlle in wie se harte daar nie nét die saad van die geloof is nie, maar ook die saad van wêreldse dinge. Die saad wat tussen die onkruid beland het, het nie ‘n kans gestaan tussen die oorweldigende onkruid wat saam met hulle gegroei het nie. Daar is mense wie se harte ontvanklik vir die Evangelie is, maar wat óók ‘n groot liefde vir wêreldse dinge, soos verleidelikheid en rykdom, het. Soos onkruid versmoor bekommernisse, versoekings en verslawings dan hierdie mense. ‘n Tuinier wat sê: “ag laat staan die onkruid – moet nie so gepla wees oor ‘n bietjie dorings tussen die plante nie…” is nie ‘n goeie tuinier nie. Want stadig maar seker versmóór daardie onkruid die plante. Daar kom ‘n dag wat die dorings só dig rondom die plante groei, dat ‘n mens nie die plant kan red wat jy geplant het nie. Wanneer ons toelaat dat die sonde saam met ons groei, sal ons, as gelowiges, later heeltemal versmoor. Geliefdes, sodra sonde vatplek in my lewe kry, moet dit met wortel en tak uitgeroei word!

Laastens verklaar Jesus wat die saad, wat op goeie grond geval het, beteken. Dit is mense wat gereed staan en uitsien om die Evangelie te ontvang. Figuurlik gesproke is hulle harte góéd voorbereid én vrugbaar. Dit is egter nie uit éie krag dat hierdie mense ontvanklik vir die Evangelie is nie. Die Heilige Gees berei hulle harte voor sodat hulle op die régte manier op die Saad van die Woord kan reageer. Hierdie persone hoor die Here se Woord en hulle verstaan wat dit beteken. Verder sal hulle ook vrug dra as bewys daarvan dat hulle héle menswees verander is. Hierdie mense sal van Christus se verlossing hoor, glo dat dit Hy werklik uit die dood uit opgestaan het en ook dit vir ander mense gaan oorvertel. Sodoende sal hulle die vrug van geloof dra – van liefde en geduld en vrede en selfbeheersing en soveel meer. Natuurlik dra álmal nie dieselfde maat van geloof nie. Nie álmal is ewe geduldig of getrou of sagmoedig nie. Maar die grond waarop die saad val – die harte van ware gelowiges – is álmal goed voorbereid en dra wél goeie vrugte tot eer van God.

Slot

Geliefdes, ons elkeen moet vandag na ons eie harte kyk en onsself vra: hoe reageer ék op die saad van die Evangelie? Hoe lyk my éie hart? Is my hart só verhard dat die Here se Woord nie ingang in my lewe vind nie? Dat ‘n preek my nooit wérklik raak nie? Tree ek dalk emosioneel op en ervaar ek nou ‘n geestelike hoogtepunt maar oor ‘n paar maande weer ‘n geestelike laagtepunt? Is daar ook dalk ánder saad in my hart wat, soos onkruid, die Here se Woord verhinder en selfs versmoor? Of is my hart soos goed voorbereide grond wat uiters gunstig vir optimale groei is? Kan ek – én ander mense – sien hoe my geestelike lewe vrug dra?

Ja, geliefde in die Here, hoe reageer u op die saad van die Evangelie? Amen.