Skrifgedeelte: Markus 2: 23 – 28
Fokusverse: Markus 2: 27 en 28
Tema: Jesus Christus is Here van die Sabbat; hoe spandeer jy dit?
Inleiding
Vóór Jesus Christus se Menswording was dinge baie ánders vir gelowiges. Vóór Jesus Christus se koms na die wêreld het gelowiges baie dinge ánders gedoen as ons, vandag. Hulle het bv. verskillende offers geoffer; hulle het nie net die Tien Gebooie gehad om te gehoorsaam nie, maar baie ander reëls; hulle moes ook verskeie feeste vier en mag nét sekere diere geëet het. By dit alles het hulle die Besnydenis in plaas van die Doop gevier en die Pasga in plaas van die Nagmaal.
Die Joodse Sabbat
Soos ons weet, is die gelowiges van daardie tyd die “Jode” genoem en ons word vandag “Christene” genoem. Die rede hiervoor is omdat God in sy alwysheid besluit het om met die volk, Israel, ‘n verbond te sluit. Geliefdes, die Joodse volk het niks in die besonder gedoen om deur God uitgekies te word nie. Hierdie Jode het nie op eie meriete hierdie unieke verhouding met God verdien nie, en daarom moet ons nie dink dat hulle op ‘n manier deur God voorgetrek is nie. Dit is Gód wat besluit met wie Hy hier op aarde in ‘n verhouding wil tree – dit hang nie van ‘n mens af nie. Dit is nie die méns wat vir God as sy/haar Vader kies nie, maar die Hére wat sy kind kies (vgl. o.a. Ef. 2: 8-10; Rom. 9: 10 – 18).
En boonop is die Here se genade nie nét tot een volk en een nasie beperk nie, geliefdes. Nie álle Ou-Testamentiese Jode was uitverkies nie, en daar was ook uitverkore kinders van God wat deel van ánder volke was. Alle mense wat hulle tot die ware geloof bekeer, is daarom deel van die ware Israel. Sommige word geestelik deelgemaak van hierdie volk, en ander word hiervan afgesny – al is hulle biologiese afstammelinge van hierdie mense. Ons kan aan ons eie situasie dink, geliefdes. Al is nie almal van ons direkte afstammelinge van die Ou Israel nie, is ons tog, deur die genade, God se kinders. Soos Ragab en Rut, maak die Here van ons kinders van Israel – en Hy doen dit uit loutere genade, geliefdes.
Ons kom dus agter dat ons baie ánders as die eerste gelowiges is. As Nuwe-Testamentiese gelowiges bring ons nie meer offer nie, ons besny nie meer ons seuntjies nie en ons vier ook nie meer die Paasfees en die Nuwemaansfeeste nie. En nóg iets waarin ons met die Ou Israel verskil, is die gebruik en die spesifieke dag van die Sabbat. Die eerste geslag gelowiges het die Sabbat op die sewende dag van die week gevier. Die Joodse Sabbat is daarom van die Vrydag teen sononder, tot die Saterdag teen sononder gevier. En soos ons weet, het die Here verskeie voorskrifte vir sy kinders op die Sabbat. Ons lees bv. in Eksodus 31 en 35 hoe spesiaal die Sabbatdag vir die Here is. Ons lees hoe die Here sy opdrag herhaal: “Onderhou die Sabbat.” “Dit moet vir julle ‘n gewyde dag wees – ‘n heilige dag wat gelowiges vir die Here afsonder. “Ses dae kan daar gewerk word, maar die sewende dag is ‘n Rusdag, ‘n Sabbat wat aan My, die Here, gewy is. En dan sê die Here: “Hy/sy wat die Sabbatdag ontheilig/ontwy moet doodgemaak word en wie op hierdie dag werk moet van My volk afgesny word.” Geliefdes, die Here kom dus uiters sterk oor wanneer Hy oor die Sabbat praat. Waarom? Want die Here het sy kinders lief, geliefdes! Hy gún hulle rus – belangriker nog Hy bevéél ons om te rus want Hy weet dat ons in ons sondige geaardheid sal aanhou werk.
Dit is egter nie al nie, geliefdes. God sê dat die Sabbat van geslag tot geslag ‘n teken tussen Hom en sy kinders sal wees sodat ons sal besef dat ons vir die Here geheilig is. Natuurlik is die Sabbat dan vir ons ‘n heenwysing na ons heiligmaking in Christus. Wanneer ons dus besef dat die Sabbat ‘n heilige dag is, dan dink ons weer aan die Here se genade nl. dat Hy ons in Christus geheilig het. Dat Hy ons van hierdie sondige wêreld afgesonder het sodat ons ánders as die wêreld kan optree – verál dan op die Rusdag. Hy sê in Eksodus 31 dat die Israeliete die Sabbat moet onderhou en dat die verbond, ook op hulle nágeslag, ‘n blywende verpligting lê om die Sabbat te onderhou (vers 16). Dus is elkeen van ons daarom verplig om ons kinders te leer waarom die Sabbat ook vir ons, as gesin, ‘n belangrike dag is. Al leef ons in ‘n ander tyd, is die Here se verbond steeds geldig, geliefdes. Die Here se verwagting vir sy kinders, rakende hoe ons die Sabbat spandeer, blý van toepassing. Ons sal veral later in die preek daarna kyk.
In Eksodus 34: 21 lees ons: “Ses dae moet jy werk, maar op die sewende dag moet jy rús. Of dit nou ploegtyd of oestyd is, jy moet rús.” Wat is die motivering vir hierdie opdrag van “rus”? Waarom wil die Here hê dat sy kinders op die Sabbat moet rus? Want Hý sélf het gerus en Hy gún dit vir sy geliefde kinders. Ons hoor dit elke Sondag tydens die Wetlesing: “Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin, en op die sewende dag het Hy gerus en dáárom het die Here dit as ‘n gereelde Rusdag geheilig.”
Die Here se bedoeling vir die Sabbatdag is dus dat ons deur die week ál ons werk sal klaarmaak, sodat ons op die Sabbatdag van ons daaglikse werk kan rus en op Hóm kan fokus. Daarom kry die volk, Israel, bv. die opdrag om op die sesde dag dubbel soveel manna in die woestyn op te tel sodat dit nie vir hulle nodig sal wees om op die Sabbat óók nog te gaan soek vir brood nie (Eks. 16: 23-30). Al sou die Israeliete op die Sabbat gaan soek het na manna sou hulle niks kry nie, want die Here het eenvoudig net nie manna op die Sabbatdag laat verskyn nie. Hierin sien ons dat die Here vir sy volk wou leer dat hulle sý opdragte moes gehoorsaam. En dat hulle teleurgestel sal word indien hulle op hulle eie vermoëns sou staatmaak. Verder sien ons raak dat die onderhouding van die Sabbat vir sy héle volk as opdrag gegee word. Nie een lid van die huishouding of jou arbeiders mag dán énige werk doen nie, hoor ons in die Wet. Selfs nie die vreemdeling wat op daardie dag by ‘n mens sou tuisgaan nie. Niemand dus word uitgesonder om, op die Rusdag van die Here, hulle eie belange te gaan soek nie. Dit is die gewyde dag aan die Here en dit sal, deur alle gelowige geslagte heen, só bly! Dit word van óns verwag om toe te sien dat hierdie dag deur almal rondom ons gerespekteer word.
Jesus Christus is Here van die Sabbat
Dit is dan teen hierdie agtergrond waarmee ons na Jesus se Woorde in Markus 2 gaan kyk. Ons lees dáár hoe Jesus Christus en sy dissipels op ‘n Sabbatdag deur die gesaaides geloop het en hoe die dissipels koringare gepluk het soos hulle daardeur gestap het. Wanneer ons probeer indink hoe hierdie dag – hierdie oomblik – moes gewees het, dan sou gedagtes van “vrede” en “harmonie” en “saligheid” by ons opkom. ‘n Rustige oomblik wat hierdie dissipels saam met hul Leermeester kon geniet. ‘n Blaaskans na ‘n oorweldigende paar dae as splinternuwe, verwarde, dissipels van Christus. Maar dan kom die Fariseërs op ‘n onsensitiewe manier en versteur hierdie vrede. Hulle probeer vir Jesus Christus omkant vang met ‘n strikvraag wat eintlik nie eers geldig is nie: “Waarom doen hierdie dissipels van U dinge wat nie op die Sabbat aanvaarbaar is nie?”
Al het hierdie groep mense daarop geroem dat hulle die Wette van Moses góéd ken en navolg, het die Here nooit dit verbied om op die Sabbat koringare te pluk nie, maar wél om dit, met inspanning, te fyn te maal (Eks. 34: 21). Die Fariseërs is dus eintlik hier besig om hare te kloof oor dít wat aanvaarbaar volgens Moses se Wette is. Hulle soek na ‘n rede om die Here aan te vat, geliefdes. Hulle is konstant op die uitkyk vir wanneer Jesus óf sy dissipels misstap. Maar waarom is hulle so foutvinderig? Wat lê dieper in hulle hart verskuil – agter hulle sg. “liefde” vir God se Wet? Hulle is omgekrap omdat Christus vroeër op die Sabbatdag ‘n onrein gees uit iemand gedryf het en óók Petrus se skoonma genees het (Mark. 1). Dus wil hulle Hom daarvan beskuldig dat Hy op die Sabbatdag gewerk het, maar wat selfs dieper as hierdie beskuldiging lê, is die feit dat hulle nie vir Christus as die Ware Messias wou aanvaar nie. Die Fariseërs kan nie insien hoe Hý die langverwagte Verlosser is wat God al van die vroegste tye af beloof het nie. In hulle ongeloof verwerp hulle dan álles wat Hy doen en álles wat Hy sê. En dit is die eintlike rede waarom die Fariseërs so foutvinderig is, geliefdes.
Maar dan antwoord ons Here, Jesus, hierdie wetgeleerdes op twee maniere: Eerstens herinner Hy hulle aan ‘n bestaande Skrifwaarheid en tweedens openbaar Hy ‘n nuwe Waarheid aan hulle. Eers herinner Jesus hulle aan die inhoud Ou-Testament waarin hulle vás glo. Jesus vertel van hulle voorvader, Dawid, wat op ‘n keer gewyde brood in die tempel geëet het. Volgens die Wet was dit nét die priester wat die voorreg gehad het om van hierdie gewyde brood te kon eet (Lev. 24: 9), maar die Jode het Dawid oorgesien toe hy daarvan eet – al was hy geen priester nie (1 Sam. 21: 1-6). Aangesien Jesus Christus baie belangriker as Dawid is, behoort die Fariseërs dit wat sy dissipels doen, ook te aanvaar.
Maar dan openbaar Jesus Christus ook iets nuuts aan hierdie mense met die woorde van ons fokusvers: “Die Sabbat is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here – óók oor die Sabbat.” Met hierdie woorde wil ons Here, Jesus, aantoon dat die Sabbatdag in die gelowige se diens is en nie anders om nie. Dit is belangrik dat gelowiges altyd God se oorspronklike doel met die Sabbat sal onthou, geliefdes. Uit die Here se liefde sonder Hy hierdie dag af dat ons kan rus én tyd in sy teenwoordigheid sal spandeer. Deur ons eenheid met Christus is die Rusdag tot óns voordeel daar, en staan óns nie in diens van die Sabbat nie. Uitverkore kinders van God is nie slawe van die wette rondom die Sabbat nie, want ons Here is Hoof oor alles – óók oor die Sabbat. Aan Hóm is alle mag en gesag in die hemel en op aarde gegee en daarom het Hy ook oor die Sabbat gesag. Ons Here, Jesus ontvang die gesag om die Sabbat in te rig soos Hý wil – tot sy eie welbehae en tot die mens se heil/verlossing.
Jesus Christus is “Here van die Sabbat” lees ons in ons fokusvers. Dus is Hy Eienaar van die Sabbat – Beskikker oor die Sabbat. En daarom mag Hy, alléén, die reëlings rondom die Sabbat inrig soos Hý wil. Jesus Christus het dus die laaste sê – óók oor die Sabbat! Daarom antwoord die Fariseërs Hom nie, want hulle kan niks vir Hom terugsê nie.
Slot
Vanaf Jesus Christus se kruisdood en opstanding uit die dood, vier Christene nie meer op ‘n Vrydagmiddag en Saterdag die Sabbat nie, maar op ‘n Sondag. Ons rus op die eerste dag van die week sodat ons ten volle uitgerus die werksweek kan ingaan. Ons doen dit omdat ons Here, Jesus Christus, op die Sondag uit die dood uit opgestaan het en omdat die apostels op die Sondag gepreek het. En óók omdat die Heilige Gees op ‘n Sondag uitgestort is.
Daarom moet elkeen van ons vandag die vraag beantwoord: “Hoe spandeer ons ons Sabbat?” Wat doen ons gewoonlik op ‘n Sondag en waarmee hou ons ons besig? Is ons gehoorsaam aan die Here se bevele rondom die Sabbat en verstaan ons dit reg? Rus ons werklik op hierdie dag, of gebruik ons dit om sekere dinge in te haal? Spandeer ons, op hierdie dag, tyd in die Here se teenwoordigheid? Soek ons Hom op en hunker ons na gemeenskap met Hom? Of is ons meer gehoorsaam aan mensgemaakte wettiese reëls oor dit wat mág en wat níé mag nie op die Sabbat?
Die Here het in sy liefde hierdie dag vir sy kinders uitgesit sodat ons werklik kan rús. Hy gun ons rus, geliefdes. Hy beveel ons om op ‘n Sondag te rus. So kom ons wees gehoorsaam aan Hom en kom ons doen wat Hy van ons álmal vra. Juis om te verhoed dat ons uitsak en uitbrand, gee die Here vir ons ‘n dag om van ons werk én van die sonde te rus. Hy sonder ‘n dag af om Hóm te kom eer en te kom dien. Hy sonder ‘n dag vir ons af waar ons mekáár ook kan kom dien en onderlinge liefde aan mekáár kan kom bewys. Doen ons dit wérklik, of dink ons allerhande verskonings uit?
Wanneer ons besef dat Hý die Here van die Sabbat is – dat Hy die Eienaar daarvan is en dat Hy bepaal wat op hierdie dag moet plaasvind, sal ons gou besef dat nie één van ons verskonings geldig is nie. Amen.