Psalm 35: 1 – 28

Skrifgedeelte: Psalm 35: 1 – 28

Fokusvers: Psalm 35: 17

Tema: Om in alle eerlikheid te bid

Inleiding

Psalm 35 is ‘n uiters eerlike Psalm. Ons hoor telkens hoe die digter eerlik met die Here praat. Hy noem dit wat hom pla, by die naam. Soms wil dit selfs voorkom asof die digter vir die Here sekere opdragte gee. Dit klink asof die digter van hierdie Psalm vir God wil voorskryf oor dit wat God moet doen. Maar mag ons so bid, geliefdes? Is dit aanvaarbaar om só eerlik met God te wees? Ons behoort dan vir die Here respék hê – is Psalm 35 nie ‘n voorbeeld van ‘n disrespekvolle gebed nie?

Om in alle eerlikheid te bid

Psalm 35 is deur Dawid geskryf in ‘n tyd wat hy geweldige vervolging ervaar het. Hy het waarskynlik hierdie Psalm gedig in die tyd wat Saul of Absalom sy ondergang gesoek het (1 Sam. 24 en 2 Sam. 15.) Koning Saul het vir Dawid agtervolg omdat hy jaloers was op die gewildheid wat Dawid onder die mense verwerf het. Saul het die leun geglo dat Dawid vir Saul wou vernietig sodat hy koning kon word, maar 1 Samuel 24 maak dit vir ons duidelik hoeveel respek Dawid vir Saul gehad het en hoe Dawid koning Saul se lewe gespaar het. En in 2 Samuel 15 lees ons hoe Absalom homself op ‘n sondige manier in die koninklike posisie ingewurm het en hoe hy sy eie pa weggedryf en agtervolg het.

Al het Dawid niks teen hierdie manne gedoen nie, het hulle hom stééds vervolg. En die ergste van alles is dat hulle was sy éie mense was – selfs sy eie seun soek sy ondergang. En dit is teen hierdie agtergrond dat Dawid hierdie Psalm skryf, geliefdes. Groot dele van Psalm 35 handel oor hoe mense sonder rede die digter vervolg. Verál verse 1 – 8 handel oor hoe die psalmdigter voel teenoor húlle wat nie rede gehad het om vir hom ‘n strik te stel nie. Maar regdeur hierdie Psalm hoor ons hoe Dawid onregverdige vyandigheid ervaar: “Dit is kwaadwillige getuienis wat teen my optree. Hulle beskuldig my van dinge waarvan ek niks weet nie. Hulle vergeld kwaad met goed… (vers 11 en 12).” “Sonder dat ek weet waaroor, skeur hierdie skoorsoekers my uitmekaar en hulle kry nie end nie (Vers 15). En in vers 19 hoor ons die bede: “Moenie dat húlle – wat sonder rede my vyande is – hulle in my leed verlustig nie.” Hulle wil nie vrede hê nie, hulle kom met vals beskuldigings teen vredeliewende mense (vers 20)”. “Hulle sê: ‘ja ons het dit self gesien’ Maar U het gesien dat dit nie so is nie, Here!” (vers 21 en 22)

Dít is die rede waarom Dawid so eerlik in hierdie Psalm bid. Ja, dit is die rede waarom hy so doodeerlik met die Here is en dit vir ons amper klink asof hy die Here voorsê wat om te doen. Sy sterk gevoel van verontregting laat dit vir ‘n mens voorkom asof hy byna té familiêr met sy Skepper is. Hy gebruik stérk woorde in die bedes van sy gebed: O.a. sê hy: “Laat ek U hoor sê: ‘Ek red jou!’; Laat die Engel van die Here hulle jaag soos kaf voor die wind”; “Laat almal wat bly is oor my ellende, teleurgestel word in hulle verwagting en sélf in die ellende beland”.

Soms kom ‘n mens op ‘n plek in jou geloofslewe waar jy doodeerlik met die Here wil wees. Soms wil ‘n mens presies verwoord hoe ‘n mens voel en al jou gedagtes voor die Here uitstort. En die wonderlike nuus is dat ons dit soms mág doen, geliefdes! Daar ís geleentheid vir ‘n eerlike, rou, gebed wat ons tot die Here mag bid. Die Psalms maak dit duidelik dat hierdie tipe gebede soms noodsaaklik en selfs aanvaarbaar is. Want die Here wil ons stemme hoor, geliefdes. Hy wil hê dat ons dit, wat diep in ons hart aangaan, met Hóm deel. Solank ons altyd net onthou dat hierdie tipe gebedstyl altyd die uitsondering op die reël behoort te wees.

Gelowiges behoort die balans te vind tussen ‘n opregte gebed wat met die nodige respek gebid word. Ons mág dus eerlik tydens ons gebed wees, maar ons moet altyd onthou met Wie ons in gesprek is. Wanneer ons bid, praat ons met die Almagtige Skepper van hemel en aarde. Ons tree in gesprek met Hóm wat die heelal beheer – wat mense in ‘n enkele oogwink kan vernietig. Hy het mag oor lewe en dood en daarom behoort ons ook ons woorde te tel wanneer ons bid. Want Hy is die Enigste Wese wat aanbid mag word. God-Drie-Enig is die Belangrikste in ons lewens, en daarom behoort ons ontsag vir Hom te hê. Ons behoort altyd Hom te respekteer wanneer ons aan Hom dink, óór Hom praat of mét Hom praat. En indien ons nou en dan voel dat ons woorde teenoor Hom uiters eerlik en rou behoort te wees, sal sy genade ook dán vir ons genoeg wees.   

Eerlike gebedsversoek

Ons sien dus dat ‘n gelowige in alle eerlikheid mag bid, geliefdes – verál as dit oor ons geestelike lewe gaan. Regdeur hierdie Psalm wens Dawid dat die Here binnekort teenoor sy vyande sal optree. Die Psalmdigter smeek die Here dat Hy sy fisiese lewe sal bewaar van gevaar, maar dan bid Dawid ook baie spesifiek vir sy geestelike lewe. Ons fokusvers kan gesien word as die hoogtepunt van hierdie lys “eerlike gebedsversoeke” want dit handel oor sy geestelike lewe. Vir die eerste keer in hierdie Psalm doen die Psalmdigter voorbidding vir sy siel. Hy sê in vers 17: “Red my kosbare lewe van die aanslag van hierdie mense.” ‘n Ander vertaling vertaal hierdie vers met: “Red my lewe uit hulle vernietiging; my énigste lewe van hierdie jong leeus.”

Die Psalmdigter openbaar dus twee dinge rakende ‘n mens se lewe: sy lewe is vir hom kosbaar en hy besef dat dit sy énigste lewe is. En daarom is dit vir ons duidelik dat Dawid hier oor sy geestelike lewe praat. Soos hy tot God bid, kom Dawid tot die besef dat dit nié om die fisiese lewe gaan nie. Dit is vir hom belangrik dat die Here moet ingryp omdat hy verontreg is. Dat die Almagtige moet opstaan teen hulle wat hom sonder rede haat en selfs wil doodmaak. Maar wat egter nou belangriker vir hom geword het, is dat God sy siel sal bewaar. Want sy geestelike lewe is vir hom dierbaar – dit is vir hom baie belangriker as énige iets anders – selfs belangriker as die fisiese gevaar wat hom so bedreig. 

Hierdie gebed van Dawid in Psalm 35 word deur God verhoor, selfs al was dit ook eeue láter. Te danke aan ons Here, Jesus Christus, wat baie jare later kom Mens word het en sy lewe vir gelowiges gegee het, verhoor God die Vader hierdie gebed. Want u sien, geliefdes, hierdie hele Psalm word in Jesus Christus se aardse én geestelike lewe vervul. Die digter bid in ons foksuvers dat God sy kosbare lewe sal red van die goddelose mense wat hom soos jong leeus bedreig, wat ‘n heenwysing na Christus se aardse lewe is. Hy moes fisies sterf sodat God se uitverkore kinders se kosbare lewens gered kon word.

Jesus Christus is die Een Wie wáre vervolging beleef het, al het Hy absoluut niks verkeerd teenoor sy vyande gedoen nie (v. 11). Dit is teen Hóm wat hulle kwaad vir goed vergeld en elke geleentheid gebruik om Hom by te kom (v. 12). Want in die Here se liefde, het Hy altyd goed opgetree teenoor álmal rondom Hom. Hy het selfs sy vyande liefgehad en dinge vir hulle gesê wat tot hul eie beswil was. Toe ánder mense rondom Hom siek was, het Hy werklik getreur soos wanneer iemand oor sy/haar geliefde treur (v. 13). Hy het waarlik voorbidding vir hulle gedoen en in alle opregtheid hulle aan sy Vader opgedra (v. 13). In sy almag het Jesus Christus hulle selfs genees van dodelike siektes, maar toe Hý weerloos was, span hulle saam teen Hom en vang Hom en beskuldig hulle Hom valslik van Godslastering (v. 15, 16). Hulle hang Hom op aan ‘n kruis en kyk toe hoe ander Hom martel terwyl Hy bid: “Vader, vergeef hulle tog want hulle weet nie wat hul doen nie” (Luk. 24: 34). 

Dit alles het Christus egter vooraf geweet, geliefdes. Want in Johannes 15: 25 sê Hy dat die woorde wat in die Skrif geskryf staan, vervul moet word, nl.: “Hulle het My sonder rede gehaat.” En dan verwys Hy na Psalm 35: 19! En dít is die rede waarom Hy nie sy vyande teëgaan as hulle Hom valslik beskuldig, gevange neem en kruisig nie, want Hy wéét dit is sy roeping om fisies vir gelowiges te sterf. Hy doen dit met ‘n vaste geloof in sy Vader Wie Hy ten vólle vertrou. Anders as die digter in Psalm 35 vra Hy nie ongeduldig: “Tot wanneer gaan hulle My vervolg?”, nie. Hy vra nie telkens: “Wanneer gaan U ‘n einde aan hierdie goddelose mense maak?” nie. Want Hy wéét dat sy Vader op ‘n Dag teenoor hulle gáán optree wat Hom én God se uitverkore kinders só – sonder rede – beskuldig, veroordeel en vervolg. Ja, Hý is die Engel van die Here wat hierdie mense soos kaf in die wind sal wegjaag (vers 5). Hý gaan met sy wederkoms hierdie onredelike mense se pad donker en glibberig maak (verse 6, 23 – 28).

Omdat ons met alle sekerheid op hierdie regverdige oordeel van God hoop, hoef ons nie op ‘n ongeduldige manier tot God te bid nie. Hoe beter ons God in sy Woord leer ken, hoe sterker sal ons vertroue in Hom raak. As ons onsself, gereeld, aan die Here se beloftes vanuit sy Woord herinner, sal ons baie meer vrede in hierdie lewe ervaar. Dan sal ons wél aanhou om eerlik tot God bid, maar met die vaste wete dat Hy wél – op sy tyd – uitkoms aan ons sal gee.

Dit veroorsaak dat ons geloof in die Here sterk sal blý selfs al word ons deur ons vyande valslik beskuldig. Want ons ervaar gerééld hoe die Here ons staande laat bly, in ‘n wêreld vol valsheid, deur die krag van sy opstanding uit die dood. Te danke aan die werking van die Heilige Gees, behou God se kinders perspektief – selfs in die moeilikste tye. Deur die genade besef ons dat dit válse beskuldigings is – mense wat áktief ons ondergang soek. Gou besef ons egter weer dat dít níé die manier is waarop ons Vader na ons kyk nie. Hy sien ons raak deur die bloed van sy Seun – totaal skoongewas – en daarom behoort ons nie ‘n skuldige gewete te hê nie. As gelowiges moet ons ‘n punt bereik wat ons só spyt kry ons ons sondes dat dit ons walg, maar daarmee saam moet ons ook onsself vergewe. Ons behoort nie na onsself en ons eie lewe te kyk en óók kwaad vir goed te vergeld nie – die goddelose wêreld doen dit rééds vir ons.

Slot                                                                                                      

Wanneer ons voel asof ons onredelik behandel word en asof ons vals beskuldig word, mag ons terugdink aan Dawid se gebed in Psalm 35. Mag ons in hierdie dae besef dat ons met alle vrymoedigheid na Gód toe kan gaan en ons hele hart voor Hóm kan leegmaak.

Maar kom ons besef daarmee saam dat die Here nie vêr van ons bly staan nie. Hy sien al die onreg raak wat ons soms hier moet ly. Hy is bewus van die kere wat mense ons valslik beskuldig, want Hy was dáár toe dit oorspronklik gebeur het. En Hy sal optree – Hy sal met hierdie mense afreken want hulle het nóg erger dinge aan sy Enigste Seun gedoen.

Ons elkeen se lewe is vir die Here kosbaar, geliefdes, want dit is ons énisgte lewe. Kom ons vertrou Hóm – wat hierdie lewe aan ons gegee het – dat Hy ons van die ewige dood sál bewaar. Ja, want selfs al word ons liggame hier op aarde afgetakel, het ons nóú rééds die geestelike, lewe wat tot in alle ewigheid sal duur. Amen.