Titus 2: 1 – 15

Skrifgedeelte: Titus 2: 1 – 15

Fokusgedeelte: Titus 2: 11 – 13

Tema: Die “Gesonde Leer” laat ons op die régte manier op Christus se Wederkoms wag.

Inleiding

In verlede week se preek, uit Titus 1, het ons gefokus op die lewe en optrede van die gemeente se predikant en verál die ouderlinge. Ons het gehoor hoe daar van die ouderlinge van die gemeente verwag word om op ‘n sekere manier op te tree. Die Here wil hê dat hierdie ouderlinge se lewe op ‘n sekere standaard is, want hulle is oor sy eiendom aangestel. Die ouderlinge is bestuurders van die huishouding van God. Hulle hou wag oor die lidmate se geloofslewe en sal eendag daarvan rekenskap moet gee.

Die Gesonde Leer in die gemeente

Baie van ons het dalk, in ‘n sekere sin, uitgesluit gevoel nadat ons na verlede week se preek geluister het. Die meeste van ons is nié ouderlinge in hierdie gemeente nie, en jy voel dalk daarom dat die boek, Titus, nie regtig vir jou enige waarde het nie. Indien jy op ‘n manier uitgesluit voel oor die aktualiteit van die boek, Titus, sal dit vandág verander. Want al praat Paulus weer in hierdie tweede hoofstuk met Titus, as herder en pastor van die gemeente, praat hy oor die lidmate. En in hierdie hoofstuk sluit hy niemand uit nie, geliefdes. Élke persoon in die gemeente – oud en jonk – word in Titus 2 genoem. En vir elke persoon word daar ‘n spesifieke taak gegee – daar word iets van élkeen verwag.

Aangesien die meerderheid van die inwoners van Kreta op ‘n ongesonde manier geleef het, behoort die gemeente wat Titus daar moet stig, ánders te lyk. Ons het verlede week gehoor hoe Paulus die samelewing in daardie tyd beskryf het: Hulle is mense wat gedurig in opstand kom teen gesag, wat onsin praat en mense verlei (vers 10). Hierdie mense is daaraan skuldig dat hulle verskeie huisgesinne in beroering bring. Hulle het net één doel voor oë gehad en dít was om op ‘n oneerlike manier wins te maak (vers 11). God se volk word egter opgeroep om ánders as hierdie mense te leef, en daarom stel Paulus die sg. “Gesonde Leer” aan Titus bekend.

Die Gesonde Leer is ‘n lewenswyse wat aangekweek moet word deur die gemeente, en niemand word uitgesluit by hierdie tipe leefstyl nie. En daarom deel Paulus die gemeente in ses verskillende kategorieë op, sodat elke groep hul besondere roeping in die gemeente kan verstaan. Paulus deel die lidmate op onder die “ouer mans”, die “ouer vroue”, die “jonger mans”, die “jonger vroue”, die “predikers” en die “slawe”.

Paulus begin by die ouer mans in die gemeente en dan sê hy dat Titus moet toesien dat hierdie ouer mans sal optree soos wat dit van hulle verwag word. Ons kan aflei dat die mans met wie hier gepraat word, ongeveer vyf-en-veertig jaar en ouer is. En dan sê Paulus baie spesifiek dat híérdie groep mans nugter, verstandig, eerbaar, vas in die geloof, liefdevol en volhardend moet wees. Soos mans ouer word, behoort hulle aan ‘n sekere lewensstandaard te voldoen – ongeag van hulle agtergrond of hulle beroep. Net oor die feit dat hulle gevorderd jare is, behoort hulle ‘n ander tipe leefwyse as die jonger mans te hê. Die kultuur in daardie dae was dat ouer mans as “gesiene” beskou is, en daarom is hulle deur die res van die samelewing gerespekteer. Dit sou alreeds genoeg rede vir hierdie manne gewees het om hulle lewe in orde te kry, maar wat hulle selfs nóg meer behoort te motiveer, is dat dit hulle direk by Gód hierdie opdragte kry.

Daarom vestig Paulus hulle aandag daarop dat hulle – eerstens – nugter moet wees. Jonger mense kan nog tot ‘n mate verskoon word indien hulle – uit onkunde – te veel drink, maar ouer mense is veronderstel om van beter te weet! Weens hulle lewenservaring en selfrespek sal hulle moeite daarmee maak om onder alle omstandighede nugter te wees. Ja, geliefdes, vir ouer mans wat gereeld dronk word, is daar wérklik nie ‘n verskoning nie! Verder behoort hierdie gelowiges nie nét fisies nugter te wees nie, maar ook geestelik. Dit beteken dat hierdie ouer manne hulle rol in die samelewing – en in die gemeente – behoort te verstaan sodat hulle, met wysheid, leiding kan gee. Verder behoort hulle ook nugter te wees sodat hulle oordeelsvermoë suiwer en opreg kan wees, want hulle is immers deel van die gemeente. Of hulle dit só wil hê of nie – hulle het ‘n verantwoordelikheid. Die rés van die gemeente kyk op na hulle. En daarom behoort hulle óók liefdevol te wees en telkens ‘n voorbeeld te stel oor hoe ‘n gelowige in die geloof kan volhard.

En dan verskuif Paulus se fokus na die ouer vroue in die gemeente toe. Húlle roeping verskil van die ouer mans se roeping in die gemeente, maar nie op ‘n drástiese manier nie. Óók húlle moet fisiese én emosionele selfbeheersing kan toepas en die goeie gedrag van ‘n gelowige uitleef. Maar dan voeg Paulus twee ánder eienskappe by wat gelowige ouer vroue spesifiek moet toepas. Hulle mag nie kwaadpraters wees nie, en ook nie aan drank verslaaf wees nie (vers 3). Hieruit kan ons aflei dat die meerderheid ouer vroue in Kreta wél op ‘n afbrekende manier van ander mense gepraat het, en dat dit algemeen was dat die vroue dáár deur drank beïnvloed is. Maar hierdie gelowige vroue – hierdie kinders van die Here – moes anders optree. Verder word daar óók van hulle verwag dat hulle goeie leiding aan die jonger mense van die gemeente sal gee. Net soos die ouer mans het hierdie ouer vroue lewenservaring wat hulle, in liefde, met die jonger lidmate kan deel.

Iets wat baie opvallend is, is dat hierdie jong gemeente in Kreta, op hierdie manier gebou is: nl. deur ouer lidmate wat jonger lidmate, in liefde, advies en leiding gee. Deur die regte voorbeeld te stel, het die jonger mans en vroue geweet wat van hulle verwag word. Maar ‘n gelowige sal op die regte manier leiding gee – en nie hul eie opinies op hierdie jong gelowiges afdwing of hulle probeer voorsê nie. Op ‘n liefdevolle manier en met agting kan ‘n ouer gelowige sy/haar roeping uitvoer deur die regte voorbeeld aan jong mense stel.

En dit word van die jong gelowiges verwag dat hulle hierdie leiding op die regte manier sal ontvang. Indien die hulle op ‘n nederige manier geadviseer word, sal jong mense gráág hierdie leiding ontvang. Die jonger vroue sal dan op die regte manier hulle gesinne kan hanteer en ondersteunend vir hulle mans kan wees. Op hul beurt word die jonger mans van die gemeente opgeroep om selfbeheersd te wees, en dan word daar geen verdere opdragte aan hulle gegee nie. Dit is omdat Paulus maar nét in die volgende paar verse met Titus praat en aan hom, as jong man in die gemeente, verskeie opdragte gee. Al is hy die predikant van hierdie gemeente, vorm hy deel van die “jong manne” en dit wat hulle almal sáám verwag word. Al is hy jonk, word Titus opgeroep om vir die hele gemeente ‘n voorbeeld te stel. Sy gedrag moet dus van só aard wees dat almal ook soos hý sal wil optree. Saam met sy mede-Woordbedienaars behoort sy preke se inhoud suiwer en Bybels te wees sodat geen vyand énige iets slégs van sy bediening kan sê nie.

Laastens word daar in vers 10 en 11 met die slawe/arbeiders in hierdie gemeente gepraat. As werknemers behoort hulle onderdanig aan hulle werkgewers te wees en nie in die werksplek rebelleer nie. ‘n Gelowige arbeider se werk sal altyd op standaard wees sodat dit nie vir hom/haar nodig is om deur die werkgewer aangespreek te word nie. Kinders van God mag nie, soos die goddelose wêreld, steel en aan korrupsie deelneem nie – hulle behoort te kan bewýs dat hulle betroubaar is. Hulle sal met alles in hulle God wil eer by hulle werksplek want hulle sal besef dat Hy ook dáár teenwoordig is.

Hoe daar op die Wederkoms van Jesus Christus gewag moet word

Geliefdes, soos ons kan sien word die héle gemeente in Titus 2 betrek – elke liewe lidmaat word aangespreek en daar word van élke persoon gehoorsaamheid verwag. Wat hierdie hoofstuk so besonders in die Bybel maak, is dat élke groep mense hulle eie unieke roeping in die gemeentelike lewe ontvang. Niemand word uitgesluit nie. Nadat ‘n mens Titus 2 behandel het, weet élkeen wat sy/haar gedrag teenoor hulle mede-broers en -susters behoort te wees. Maar op grond waarvan kan ‘n mens hierdie unieke opdragte uitvoer? Wat gee aan ‘n mens die motivering om dít te doen wat van jou in die gemeente verwag word?

Ons doen graag dít wat van ons in ons portuurgroep verwag word, want ons het die voorreg om die Here se besóndere genade élke dag te beleef. Ons vind hierdie rede tot ‘n gehoorsame lewe in Titus 2: 11 – 13 en daarom fokus ons op hierdie verse vandag. Paulus sê eerstens dat die genade van God, wat verlossing bring, aan alle mense verskyn het en dat hierdie Verlossingsdaad van Christus ons leer om met die sonde in ons te bréék. En hoe waar is hierdie woorde nie, geliefdes? Dit verwoord eintlik presies dít waarop die gereformeerde kerke gebou is, nie waar nie? Romeine 1: 19 – 22 maak dit duidelik dat álle mense van die Here se almag bewus is, maar baie wil Hom nie as Ewige God erken nie. Paulus sê dat daar vir hierdie mense geen verontskuldiging is nie, want hulle eer en dank God nie, al weet hulle dat Hy wél bestaan. En daarom is dit alleen te danke aan die Here se genade as ‘n mens wél in Hom glo en doen wat Hy van mens vra (vgl. Ef. 2: 8 – 10).

Dit is juis weens die feit dat ons – deur Christus – van al ons sondes verlos is, dat ons volgens God se wil wíl optree! Juis omdat ons so bitter dankbaar teenoor Hom vir ons vryspraak is, wil ons dit dóén wat God-Drie-Enig behaag. Ons leef gráág ons roeping hier op aarde uit, want, deur die genade, beséf ons dat Hy tot sy dood toe aan die kruis gehang het – en dít namens óns. Hy is deur God, die Vader, vervloek en het die lyding van die hel ondergaan – iets wat uitverkore kinders van God nooit sal ervaar nie, al verdien ons dit. In sy totale almag het Christus egter uit die dood uit opgestaan! Selfs die finaliteit wat die dood bring, het nie ‘n effek op Hom nie, want Hy léwe en regéér tot in alle ewigheid! Die dag wanneer Hy na die hemel toe opvaar, gee Christus vir sy kerk die belofte dat Hy binnekort wéér aarde toe sal kom en dat Hy gelowiges na Hom toe sal neem.

Gelei deur die Heilige Gees, sê Paulus in vers 13 dat gelowiges kan uitsien na die wederkoms van ons Here, Jesus Christus. Hy noem dit ‘n “gelukkige dag” waarop ons met alle sekerheid kan hoop. Ons mag uitsien na hierdie dag, want dit is die dag waarop ons Verlosser, Jesus Christus, in sy volle glorie aan ons elkeen sal verskyn. Dit is die dag waarop Hy oor al sy en ons vyande gaan oordeel. Die dag waarop Hy ‘n einde sal maak aan al die onreg en die korrupsie en die goddeloosheid in hierdie wêreld. Dit is die dag waarop Hy sy eiendom na Hom toe sal neem sodat ons – tot in alle ewigheid – veilig by Hom sal wees. Ons kan met alle sekerheid op hierdie dag wag, geliefdes, want dit gáán baie beslis plaasvind.

Slot

Maar daar is ‘n manier hoe ons op hierdie dag behoort te wag. Ons fokusverse leer ons dat ons in die “Gesonde Leer” moet volhard terwyl ons die Wederkoms van ons Here Jesus Christus verwag. Terwyl ons op Christus se Tweede Koms wag, moet ons onsself beywer om die goddelose leefwyse van die wêreld te vermy (vers 12). As gelowiges behoort ons ‘n konstante stryd te voer teen die wêreldse begeerlikhede wat ons aandag van God en sy wil wíl aftrek. Elkeen van ons behoort selfbeheersing toe te pas en opreg teenoor mekaar in die gemeente op te tree. Wanneer die lidmate en onderskeie groepe van ons gemeente hul roeping reg verstaan en uitleef, dan sal ons ‘n gesonde gemeente kan wees wat op die regte manier funksioneer. Amen.