Titus 3: 1 – 15

Skrifgedeelte: Titus 3: 1 – 15

Fokusvers: Titus 3: 5

Tema: Uit liefde en genade verlos God ons van ons sonde. Wees daarom dankbaar vir die Heilige Gees.

Inleiding

Ons almal is redelik ontnugter na verlede week se preek vanuit Titus 2. Dit gebeur min dat één Teksgedeelte op élke lidmaat van die gemeente van toepassing is. Dit gebeur min dat God só direk met ons élkeen deur sy Woord praat. Eers was dit die kerkraad in Titus 1 en verlede week die gemeente as geheel (Titus 2). Tot dusver het ons élkeen verskeie opdragte vanuit die boek, Titus ontvang. As gemeente verstaan ons ons roeping elke week al béter.

Ja, geliefdes, die Here het élke week ‘n dúídelike Boodskap vir ons. Dit is egter ons, as gemeente, se verantwoordelikheid om op die régte manier op hierdie Boodskap van Hom reageer. Elkeen behoort dus sélf te weet of hy/sy gehoorsaam is aan hierdie opdragte van God. Elkeen behoort sélf te kan sê of hy/sy nou dit dóén wat God van ons verwag.  

Uit liefde en genade verlos God ons van die sonde

Nadat Paulus presies vir Titus verduidelik het hoe die lidmate van die gemeente se lewe moet lyk, verskuif sy aandag hier in die derde hoofstuk. Hy praat nie nou meer met spesifieke groepe in die gemeente nie, maar met almal saam. Die opdragte wat die Here deur Paulus aan die mense gee, geld nie nou nie meer nét vir die ouer mense of die jonger mense nie, maar vir élke lidmaat van hierdie gemeente.

In hierdie laaste hoofstuk gee Paulus dan vir Titus die opdrag dat hy die gemeente aan drie sake moet herinner: Titus moes die gelowiges in Kreta herinner dat hulle aan die owerheid onderdanig moet wees, dat hulle van niemand kwaadpraat nie, en dat hulle inskiklik en bedagsaam moet wees. Dit mag dalk vir ons na onsamehangende opdragte van Paulus klink – amper ‘n paar laaste los gedagtes wat nie werklik sin maak om saam te noem nie. Maar Paulus noem hierdie drie laaste sake met ‘n réde, geliefdes.

Ons moet onthou waar hierdie gemeente gestig is en waar hierdie gelowiges woon: Kreta was glad nie ‘n dorp met ‘n gelowige karakter nie. Reeds in Titus 1 leer ken ons die mense dáár as rebels, opstandig en as rusiemakers. Die Kretensers was bekend daarvoor dat hulle mekaar opgesweep het om in opstand te kom. Indien die inwoners van hierdie dorp se gedrag só gelyk het, kan ons net dínk hoe die owerheid moes lyk. ‘n Regering wat hierdie tipe gedrag duld en toelaat, is waarskynlik sélf skuldig aan hierdie tipe gedrag. Ons kan met groot sekerheid aflei dat die plaaslike regering in Kreta nié Christelike waardes gehad het nie en tóg word daar van die gelowiges verwag om aan hulle gehoorsaam te wees. Titus ontvang die opdrag dat hy die lidmate gerééld daaraan moet herinner dat hulle hulself aan die owerheid se gesag moet onderwerp en hulself altyd soos goeie burgers moet gedra. Soos ons weet, is hierdie geen maklike opdrag nie, geliefdes. Ons, as Suid-Afrikaners, sal weet dat dit nie maklik is om onderdanig te wees aan ‘n regering wat selde hulle éie wette toepas. En tóg is dit ons opdrag – tóg verwag die Here dit van ons. Ons kry hierdie opdrag van God op ‘n héle paar plekke in die Bybel. Ons gaan kortliks na Romeine 13: 1 – 7 kyk om dít wat ons in Titus 3 lees, toe te lig:

In Romeine 13 maak God dit duidelik dat dit Hý is wat die verhouding daarstel tussen Homself, die regering, en die onderdane. Dit is sy wil dat alle mense deur ‘n owerheid regeer word, want Hy gee aan gelowiges ‘n groot troos daarmee. Hierdie tipe regering troos ons want “daar is geen gesag wat nié van God af kom nie”, lees ons in vers 1. God blý in beheer van alles in die hemel en op aarde. Hy sien raak wat hierdie amptenare van die land se regering doen en Hy het die laaste sê. En daarom sê Romeine 13: 2: “Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God.” Elke plaaslike regering staan dus in diens van God – hulle het ‘n geweldige verantwoordelikheid want hulle bedien sý gesag – selfs al besef hulle dit nie altyd nie. En daarom word gelowiges – op ‘n héle paar plekke in die Skrif – opgeroep om aan die regering se wette gehoorsaam te wees. Ons behoort hulle te respekteer omdat Gód hulle daar geplaas het en omdat Hý hulle bo ons aangestel het. En aangesien dit nie altyd maklik vir ons is nie, moet ons ook – soos die gelowiges van Kreta – gerééld daaraan herinner te word om wél onsself onder die gesag van ons owerheid te buig. Wanneer hulle egter totaal goddeloos is, en onchristelike dinge op ons afdwing, dan is dit iets heel anders (vgl. Hand. 4: 18-20).

In aansluiting hierby behoort die gelowiges van Kreta ook die volgende twee opdragte uit te voer. Hulle behoort nie van enige iemand kwaadpraat nie en hulle behoort altyd bedagsaam teenoor almal te wees. Selfs al verskil ‘n kind van die Here van iets of iemand, behoort hy/sy nie ‘n kwaadprater te wees en rusie uit te lok nie. Dit word van gelowiges verwag om vol selfbeheersing te wees en eerder die vrede te bewaar. Een van ons ander Afrikaanse Vertalings vertaal dit en sê dat gelowiges nie strydlustig mag wees nie maar eerder vriendelik en sagmoedig teenoor alle mense.

As ons daarvoor bekend is om gedurig lús te wees vir stryd en op ‘n harde manier mense se ondergang soek, hoe verskil ons dan van die ongelowige wêreld? Wat maak ons ánders as hulle? Mag ons daarom die woorde van ons Here, Jesus, altyd in gedagte hou waar Hy sê: “Ek sê vir julle: julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe” (Matt. 5: 39). Mag ons sý gesindheid aankweek waar Hy áltyd bedagsaam was, nóóit van iemand anders kwaadgepraat het nie en nooit rusie veroorsaak het nie. Selfs toe hulle Hom geváng het, het Hy die vrede tussen sy dissipels en sy vyande bewaar (Luk. 22: 47 – 54). Toe Hy onregverdig verhoor is, en op ‘n disrespekvolle, wréde, manier aan die kruis gehang is, het Hy niks gedoen nie. Hy was soos ‘n skaap wat stil is voor sy skeerders (Jes. 53: 7). Toe Hy daar aan die kruis gehang het – toe Hy deur mense bespot en mishandel is – het Hy nié in opstand gekom nie. Hy het ook nie vir één oomblik sy Vader verwyt oor dít wat Hy moes deurmaak nie, want Hy het sy Vader lief. Hy vertrou sy Vader – ongeag wat met Hom gebeur.

Hy sterf die vloekdood aan die kruis omdat Hy ook sy Vader se ánder kinders liefhet. In sy alwysheid besef Hy dat dit die énigste manier is hoe gelowiges van hulle sonde verlos kan word. Met alle geduld sien Hy in dat dit alleen Hý is wat verlossing kan bring. En daarom doen Hy wat van Hom verwag word – al is dit nie maklik nie. Al is Hy die Ewige Koning is Hy bereid om onder mense se gesag te buig sodat sy Vader se wil kan geskied. Daarom sê Paulus in Titus 3: 4 dat die “goedheid van God” en ons Verlosser se “liefde vir die mense” deur Christus se kruisdood aan ons verskyn het. Want nie een van ons verdien hierdie vryspraak nie, geliefdes. Ons fokusvers maak dit duidelik! Christus het ons nié verlos op grond van énige iets wat óns gedoen het nie, maar op grond van sý liefde en op grond van sý ontferming. 

Wees daarom dankbaar vir die Heilige Gees

Dit was vir Jesus Christus nódig om God se kinders van hulle sonde te verlos, want ons lewe van vroeër het ánders gelyk as nou. Deur die werking van die Heilige Gees maak Paulus dit duidelik dat gelowiges vroeër ‘n skándelike lewe gelei het. Vóórdat ons tot bekering gekom het, was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, aan allerhande sondige dinge verslaaf, kwaadwillig, jaloers en haatlik (vers 3). Ja, geliefdes, ons lewe van vroeër het maar nét soos die goddelose mense in Kreta gelyk.

Maar dan lees ons van die geweldige troos wat ons fokusvers verwoord. In vers 5 hoor ons dat God die Vader ons van al ons sonde en ongeregtigheid verlos het deur Jesus Christus. Ons Vader het aan ons die wedergeboorte geskenk deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Hoor u hoe wonderlik God-Drie-Enig aan ons verkondig word deur hierdie énkele vers? Elke Persoon in die Drie-Eenheid word in hierdie een vers genoem en dit is vir ons duidelik dat élke Persoon ‘n ‘n ander, unieke, funksie verrig. Die Vader roep ons – Hy kies ons uit om sy kinders te wees. Die Seun verlos ons – nie op grond van iets goeds wat óns gedoen het nie, maar op grond van sý liefde en genade. Want geen mens kan ooit sy/haar verlossing deur goeie werke verdien nie. Deur die Heilige Gees word ons weergebore sodat ons kan lewe soos daar van ons verwag word.

Wanneer die Heilige Gees ons weer gebore laat word, is dit nie weer ‘n fisiese geboorte soos wanneer ‘n baba gebore word nie. Wanneer die Gees ons weer gebore laat word, is dit ‘n geestelike geboorte. Dit is wanneer die Heilige Gees van ons nuwe mense maak en ons sondige bestaan verander, sodat ons al meer streef na God se wil. Wanneer ek geestelik weer gebore is, dan wil ek wegbreek van my ou, sondige, lewe. Wanneer die Heilige Gees my totaal en al nuut maak en my tot geloof in God bring, dan wil ek gráág my hele lewe aan die Here toewy. Ek wil gráág Hom vertróú en dit gló wat in die Bybel opgeteken is. Ek wil graag dié dinge doen wat Hy van my vra.

Baie keer oorbeklemtoon ons die werk van Christus. Ons fokus baie keer op Hóm as ons Verlosser. Ons dink baie keer aan dit wat Hý aan die kruis moes deurmaak en hoe Hý oorwinnend uit die dood uit opgestaan het. Dit is geweldig belangrike sake, maar iets wat éwe belangrik is, is dít wat God die Vader en die Heilige Gees doen. Daarom lees ons óók in Titus 3: 6 hoe God-Drie-Enig aan die werk is. “God (die Vader) het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser.” Ons het nou die voorreg om die Heilige Gees konstánt in ons harte te hê. Dit is Hý wat ons totaal en al verander het van die mense wie ons vroeër was. Dit is Hý wat ons tot bekering bring en wat aan ons ‘n geestelike nuwe lewe gee. Dit is ook die Heilige Gees wat aan ons die gawe van geloof skenk. Te danke aan sý werking in ons harte en in ons gedagtes lei die Heilige Gees ons dat ons wél in God-drie-Enig kan gló.

En daarom kan ons vanoggend uiters dankbaar wees vir die Heilige Gees, geliefdes. Dit is te danke aan Hóm dat ons die ontferming van Christus mag ervaar. Dit is te danke aan Hóm dat ons óók die Vader se liefde mag ervaar. En daarom het ons vanoggend ons geloof vanuit die Geloofsbelydenis van Athanasius bely. Want hierdie Belydenis toon juis die eenheid tussen die Vader, Seun en Heilige Gees duidelik aan.

Slot

Te danke aan die Heilige Gees het ons ook mekaar in die gemeente lief, selfs al verskil ons soms van mekaar. Te danke aan die Heilige Gees doen ons ook dit wat God van ons in hierdie gemeente vra. Ons leef graag ons roeping in hierdie gemeente uit, want dit is die Heilige Gees wat ons aan God se Woord herinner (Joh. 14: 26). Dit is Hý wat ons leer wat God van ons elkeen in sy/haar amp of portuurgroep in hierdie gemeente eis.

Mag ons gedurig hieraan dink terwyl ons onsself vir 2023 voorberei. Kom ons gaan die volgende jaar in met ‘n sekerheid oor dit wat van ons elkeen verwag word. Want in die boek, Titus, rus die Here ons met sy Woord en Gees toe. Mag ons daarom in die jaar (en jare) wat kom, ‘n gesonde gemeente wees wat op die régte manier bly funksioneer. Amen.