2 Korintiërs 13: 1 – 13

Teksgedeelte: 2 Korintiërs 13: 1 – 13

Fokusvers: 2 Korintiërs 13: 11

Tema: Omdat Christus ons met Hom verenig het, gaan ons Kerstyd met die regte gesindheid in.

Inleiding

Kerstyd is, gewoonlik, ‘n tyd van vreugde, vrede en geluk. Beide die Christelike wêreld én die heidense wêreld vier fees. Ongelowiges vier fees, al weet hulle nie presies waarom nie, maar gelowiges vier met ‘n réde fees! Dit is hierdie tyd van die jaar wat gelowiges reg oor die wêreld ons Here, Jesus, se geboorte herdenk. Selfs al besef ons dat Hy waarskynlik in ‘n ander maand van die jaar gebore is, is dit in hierdie tyd van die jaar wat ons weer daaraan dink dat daar wérklik vir ons ‘n Verlosser gebore is. Gelowiges se fokus is nie so seer op die dag en datum van sy geboorte nie, maar eerder op die feit dat Jesus Christus wél, as Mens, gebore is. En daarom is ons besonders blý hierdie tyd van die jaar – daarom vier ons fees.

Nie álmal van ons voel egter nie vol vreugde hierdie tyd van die jaar nie. Vir party van ons was hierdie ‘n uiters moeilike jaar en daarom voel sommige van ons dalk moeg en moedeloos hierdie tyd van die jaar. Vir baie van ons was hierdie jaar besónder uitdagend. En nou, met Kerstyd wat hier is, raak dinge amper meer uitdagend, want dit is ’n tyd waaraan ons baie sentiment en emosie koppel. Baie van ons sukkel dalk om, hierdié Kerstyd, brééd saam met ons geliefdes te glimlag.

Christus verenig Homself met ons

Om soms negatief teenoor ander mense te voel, is menslik. Wanneer ons die eerste paar verse van 2 Korintiërs 13 lees, dan kan ons hoor dat Paulus ook maar soms gefrustreerd teenoor sy medegelowiges gevoel het. Hy sê dat dit is nou al die dérde keer is dat hy dieselfde groep mense gaan besoek. Paulus hét al, verskeie kere, by die gemeente gepleit dat hulle moet ophou sonde doen en tog hou hulle aan en aan.

Daarom is Paulus op pad om die Korintiërs wéér te gaan besoek: om hulle aan te spoor om aan God gehoorsaam te wees. Paulus waarsku hulle nou vóóraf in sy brief dat dit die rede is waarom hy na hulle toe kom. Die Korintiërs kan dus hulself voorberei vir Paulus se gesprek. Hulle kan solank aan maniere dink hoe hulle hulself kan verdedig, want Paulus is só teleurgesteld in hulle dat Hy niks en niemand sal ontsien nie (vers 2). Wanneer Paulus weer die Korintiërs gaan besoek, gaan Hy definitief nie vriendelik wees met die mense wat in hulle sonde bly lê nie (Bybel vir Almal). Omdat Paulus moedeloos is, gaan hy niemand spaar nie (’53), want hulle is reeds drie keer gewaarsku. Hulle is reeds drie keer na die waarheid toe gelei.

Wat is hierdie “waarheid” waarheen die Korintiërs gelei is? Die “waarheid” waarheen Paulus die Korintiërs lei, is die feit dat gelowiges met Christus verenig word. Deur God se groot genade stuur Hy sy enigste Seun om in hierdie vervalle samelewing te kom leef. Want weens die sondeval is die mensdom besig om stadig maar seker uit te rafel. Sommige kinders het nie meer die nodige respek vir ouer mense nie. Party mans en vrouens weet nie meer wat hulle onderskeie rolle in hul huise is nie. Verskeie families doen nie meer soveel moeite om by mekaar uit te kom nie. En om alles te kroon, verwaarloos baie Christene hulle verhouding met die Here. Kerkbywoning, vertroue en opregte gebede raak al minder. Omdat Adam en Eva in hulle lewensdoel misluk het, en sukkel alle mense ná hulle om hul doel volkome te bereik.  Maar juis daarom, juis omdat die samelewing soms aan ‘n stukkie garing hang, word daar vir ons ‘n Baba gebore – dit is die Boodskap van die Evangelie! Maar hoekom juis ‘n Baba? Hoe kan ‘n klein Kindjie vir ons van enige waarde wees? Die wêreld se probleme is te groot vir ‘n weerlose Baba om op te los. Geliefdes, die Baba waarvan ons praat is nie ‘n gewone baba nie. Ons praat hier van die lewende God: Jesus Christus! Jesus Christus se geboorte is nie maar net deel van God se verlossingsplan nie. Christus se geboorte en optrede op hierdie aarde ís God se Verlossingsplan. Ons Here, Jesus Christus, is nie ‘n swakkeling of ‘n hulpelose figuur nie. Hy het nie beperkte mag soos wat die wêreld dink nie. Selfs toe Hy as Baba gebore is, is Hy ten volle almagtig!

Dit is waarom volwasse, geleerde, mense hulde aan hierdie Baba wou bewys toe hulle van sy geboorte gehoor het (Matt. 2: 1 – 12). Indien Jesus Christus ‘n hulpelose figuur was, sou almal nie later verbaas gewees het oor die twaalf-jarige se antwoorde en insig in die Joodse tempel nie (Luk. 2: 41 – 52). Wanneer Jesus Christus later sy dissipels en navolgers God se wil leer, dan doen Hy dit met die grootse gesag denkbaar. Almal wat Jesus leer ken het, en besef het wie Hy wérklik is, het die grootste respek vir Hom gehad. Nederig sou hulle erken: “U is die Christus, die Seun van die Lewende God!” (Matt. 16: 15, 16). Net omdat ons Koning en Verlosser nie teen die Romeinse soldate geveg het toe hulle Hom gevange wou neem nie, beteken nié dat Hy hulpeloos was nie. Inteendeel – juis omdat Christus Homself oorgelewer het om gekruisig te word, toon juis sy onwrikbare geloofsvertroue aan. Ja, geliefdes, Jesus Christus tree anders as wêreldse helde op. Hy lê sy eie lewe vir sy skape af (Joh. 10: 11). Deur dit te doen oorwin Hy die mag van die dood en vernietig Hy die ewigdurende effek van die dood. Want, wanneer Jesus Christus aan die vloekhout sterf, dan word die vólle prys vir ons sondes betaal.

Dit is waarom Paulus sê dat Jesus Christus krágtig in gelowiges aan die werk is. Want Jesus Christus het nie net namens gelowiges gesterf nie. Hy het ook, drie dae later, namens ons uit die dood opgestaan. Jesus Christus se status verander dus onmiddellik van die sogenaamde “Swakkeling aan die kruis”, na ware “Oorwinnaar op die troon”.

Daarom kan Paulus met die vasste sekerheid in vers 4 bely: “Al is Christus in die swakheid van ‘n mens gekruisig, leef Hy uit die krag van God.” Ja, geliefdes, ons Here en Verlosser leef vandág nog. Die dood kon Hom nie vashou nie, want ons Vader het immers alle mag en gesag, in die hemel en op die aarde, aan Hóm gegee (Matt. 28: 18). Wat doen Jesus Christus met hierdie mag wat aan Hom gegee is? Hy maak van ons kinders van God, geliefdes! Hy verenig ons met Hom! Hoe wonderlik is dit nie?

In vers 5 vra Paulus vir die gelowiges in Korinte: “Besef julle dan nie dat Christus Jesus in julle is nie?” Na Christus se Hemelvaart word die Heilige Gees oor die gelowiges uitgestort om ons één met Christus te maak. Deur die gawe van ware geloof word ons aan Christus vasgebind!

Iemand wat aan Christus vasgebind is, ontvang die voorreg om saam met Christus in álles te deel. ‘n Ware gelowige deel dus soms in Christus se swakheid: soms voel ons swak – veral so aan die einde van die jaar. Soms voel ons asof ons woorde en moeite geen effek op die mense rondom ons het nie. Maar juis dan moet ons die Here se woorde onthou: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (2 Kor. 12: 9). Daarom hoef ons nie moedeloos te word wanneer ons fisies of emosioneel swak voel nie, want die Here se krag word juis sigbaar wanneer ons eie vermoë al minder word. Maar juis omdat ons, op ‘n besondere manier, aan Christus verbind is, deel ons óók in sy groot krag. Paulus sê in vers 4: “… saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe. Dit sal julle sien.” Dit is hoe die Heilige Gees ons, so aan die einde van die jaar, wil troos, geliefdes.

Daarom kan ons, in hierdie Kerstyd, reg optree

Aangesien ons, as gelowiges, nou weet dat ons met Christus verenig is, het ons ‘n roeping om uit te leef. Omdat ons één met Christus is, kan ons al die voorskrifte van hierdie gedeelte nakom. Watter opdragte kry ons alles in 2 Korintiërs 13? Ons word eerstens opgeroep om onsself te herinner dat ons met Christus verenig is – dit het ons reeds bespreek. Omdat ons met Christus verenig is, word in vers 7 opgeroep om, oor die algemeen, niks verkeerd te doen nie. Verder word ons in ons fokusvers opgeroep om bly te wees, om na geestelike volwassenheid te streef, om vermaning te aanvaar, om eensgesind te wees en om in vrede te leef. Ons sal netnou elke opdrag kortliks bespreek.

Dit is opmerklik om te sien hoe die Heilige Gees met Paulus aan die werk is in hierdie gedeelte. Aan die begin van hoofstuk 13 het hy gesê dat hy niks en niemand sal ontsien as hy die Korintiërs weer sien nie. Maar soos die Paulus oor ons eenheid met Christus praat, werk die Heilige Gees in Paulus se hart. Aan die einde van hoofstuk 13 besef Paulus dat hy met die gesag wat die Here vir hom gee ander mense moet opbou en nie afbreek nie. So sien ons dat die skrywer se éie woorde vir homsélf van waardevolle betekenis is. Paulus luister ook na sy eie preek, want dit is nie sy eie woorde nie maar die Here wat deur Paulus praat. 

Paulus besef dat hy óók met Christus verenig is en dat hy daarom nie met menslike woede teenoor die Korintiërs mag optree nie. Al stel die gemeente hom gerééld teleur, kan hy eerder poog om rég teenoor hulle op te tree. Mag hierdie gedeelte ook op só ‘n manier in ons harte werk. Mag ons ons eie menswees eenkant toe skuif hierdie Kerstyd en eerder rég teenoor ons medemens optree. Mag ons in hierdie tyd van harte blý wees om mekaar weer te sien. Mag ons regtig blý wees dat ons, weer vanjaar, Jesus Christus se geboorte kan herdenk. Kom ons fokus daarop om vir die regte redes vol vreugde te wees in hierdie Kerstyd (vgl. Fil. 4: 4). Maar kom ons streef óók na geestelike volwassenheid, soos vers 11 van ons verwag. Dit beteken dat ons ons sekuriteit in die Hére sal vind en nie in mense of besittings nie. Deel van geestelike volwassenheid is om vermanings te aanvaar. Wanneer iemand ons na die regte pad wil lei, dan word dit van ons verwag om die vermaning te aanvaar. Kom ons erken dit as ons foute het en as ons soms verkeerd optree. Dit is wat geestelike volwasse mense doen.

Laastens word ons opgeroep om eensgesind te wees en in vrede met ons geliefdes saam te leef. Die tyd wat ons in hierdie paar dae met ons geliefdes gaan spandeer, is so kosbaar. Kom ons maak die beste van hierdie tyd. Kom ons soek mekaar se voordeel en kom ons leef soos een liggaam saam met ons geliefdes. Mag almal in ons familie hierdie Kerstyd na dieselfde einddoel streef. En mag ons dit nie nét in ons families doen nie, maar ook in ons gemeente.

Indien ons aan hierdie opdragte van die Here gehoorsaam is, dan sal die God van liefde en vrede by ons wees! Dan sal ons die liefde van God elke dag beleef en ook die vrede wat Christus se geboorte in hierdie tyd van die jaar aan ons bring. Dit is wat die Here vir ons in ons fokusvers belowe.

Slot

Geliefdes, miskien het ons rééds hierdie vrede in ons harte. Dalk ervaar ons altyd Kerstyd as ‘n tyd van vrede, vreugde en geluk.

Of dalk is dit vir ons moeilik om hierdie Kersfees vreugde te ervaar. Miskien voel jy soos Paulus: asof niemand na jou wil luister nie. Dalk voel dit vir jou asof jou familie of jou lewe besig is om uit te rafel.

Al is ons hóé moeg en moedeloos hierdie tyd van die jaar, mag ons onthou dat daar ‘n Baba vir ons gebore is! Mag ons onthou dat Jesus Christus van ewigheid tot in alle ewigheid almagtig is. Mag ons altyd onthou dat ons Enigste Verlosser Homself met ons verenig het.

Kom ons tree daarom hierdie Kerstyd op die régte manier teenoor mekaar op. Te danke aan Christus, kan vanjaar se Kersfees, vir ons en ons geliefdes, ‘n wónderlike Kersfees wees. Ja, dit is die manier waarop die Vader ons met sy Seun se geboorte wil troos. Amen.