Lukas 7: 1 – 10

Skriflesing: Lukas 7: 1 – 10

Fokusvers: Lukas 7: 9

Tema: Geloof wat Jesus Christus verwonder

Inleiding

Vanoggend se gedeelte vanuit Lukas 7 beskryf die begin van Jesus se dienswerk op aarde. Ons Verlosser het hierdie slaaf, waarvan ons gelees het, direk ná sy Bergpreek gaan genees. Dus het hierdie wonderbaarlike genesing maar kort ná Jesus se eerste amptelike preek plaasgevind. Iets wat egter opvallend is, is dat hierdie slaaf nie die eerste persoon is wat deur Christus genees is nie.

Geloof wat Jesus Christus verwonder

Vanaf die oomblik dat Jesus uit sy geboortedorp, Nasaret, verjaag is, het Hy verskeie mense genees. Die apostel, Lukas, vertel vir ons dat Christus heel eerste ‘n man gaan genees het wat met ‘n bose gees oorgeneem is. (Luk. 4: 35). Daarna genees Jesus Simon se skoonma van haar geweldige koors (Luk. 4: 39) asook ‘n héle aantal siek mense en mense wat met demone oorheers is (Luk. 4: 40, 41). En toe Jesus in Kapernaum aankom, het Hy ‘n melaatse man van sy melaatsheid gereinig (Luk. 5). Die nuus oor Jesus se genesings het soos ‘n veldbrand versprei. Almal in die omgewing het Jesus leer ken as die Groot Geneesheer – die Een Wie wonderwerke kan doen. Natuurlik was daar ook mense wie op Jesus se almag jaloers was. En dan doen Jesus Christus iets kontroversieël – iets wat groot opslae gemaak het: Hy genees iemand met ‘n gebreklike hand op die Joodse Sabbatdag (Luk. 6: 1 – 11).

U sal opmerk dat die Evangelie volgens Lukas baie meer klem plaas op die verskillende episodes wat Jesus Christus mense genees het. Ons lees nie in die ánder Evangelies van al die kere wat Jesus mense gesondgemaak het nie, en daar is ‘n rede hiervoor, geliefdes. Die apostel, Lukas, was ‘n mediese dokter – hy het dus vanuit ‘n genesings-oogpunt sy Evangelie geskryf. Maar Lukas was ook ‘n gelowige – hy was ‘n volgeling van Jesus Christus wat in God se almag geglo het en op God se beloftes vertrou het. Daarom vind ons telkens by hom hierdie pragtige geballanseerde oorvertelling van Jesus Christus se lewe en werk op aarde.

Soos ons reeds gesê het, was Jesus bekénd vir sy genesings in die gebied van Galiliea. Alle mense van die omgewing het nou al gesien hoedat hierdie “Jesus van Nasaret” die mense wonderbaarlik genees. Sy Naam loop Hom vooruit – tot só ’n mate dat selfs die ongelowige Romeine van sy dienste wil gebruik maak. In hoofstuk 7 van sy Evangelie vertel Lukas van die Romeinse Centurion wat óók van Jesus Christus se genesings-mag gehoor het, en wat dan mense stuur om vir Jesus te laat haal. Want hierdie centurion het ’n slaaf gehad wat dodelik siek was, lees ons in vers 3. Natuurlik glo hierdie ongelowige centurion dan Jesus sy slaaf kan genees. Maar dit is nodig om raak te sien dat die centurion aanvanklik nie in Christus se almag geglo het nie, maar dat hy eerder op Jesus se diagnose en mediese kennis staatgemaak het. Hy het maar by die ander mense gehoor dat Jesus ’n buitengewoon goeie geneesheer is, en dáárom wil hy Jesus laat haal.

Geliefdes, hierdie centurion, waarvan ons gelees het, was ’n Romeinse offesier wat ’n honderd troepe onder sy gesag gehad het. In ander Afrikaanse Bybelvertalings sal ons van hierdie man lees as ’n “hoofman oor honderd”. In die militêre hiërargie was hy egter nie bó aan die ranglys nie. Hy het verskeie mense, soos die kollonel en die generaal, gehad wat bó hom aangestel is. En, soos ons gehoor het, was hy vir minstens een honderd soldate verantwoordelik. Hierdie centurion het dus gesag verstaan, geliefdes.

Maar iets wat hierdie hoofman oor ‘n honderd uniek gemaak het, was sy verhouding met die Jode. Soos ons weet het die Romeine en die Jode van die Nuwe Testament nie altyd die beste verhouding gehad nie. Maar hierdie Romeinse offisier was geliefd deur die Jode. Ons lees in die teks dat hy vriendelik en tegemoedkomend teenoor die Jode was. Daarom is dit vir hom moontlik om die Joodse familiehoofde na Jesus toe te stuur met die versoek dat Jesus sy slaaf sal kom genees. Die deurnsee Romeinse offisier sou sy van sy éie onderdane met hierdie opdrag stuur, maar met hiérdie offesier is dit anders. Weens sy goeie verhouding met hulle stuur hy van die belangrikste Jode na Jesus toe met die hoop dat hulle ‘n groter invloed op hierdie wonderbaarlike Geneesheer sal hê – Hy was immers ook ‘n Jood, nét soos hulle.

Wanneer hierdie Joodse leiers dan by Jesus Christus aankom, dan gee hulle ‘n pragtige getuienis van hom wie hulle gestuur het. Hierdie Jode stel ‘n dringende versoek aan Jesus: hulle sê in verse 4 en 5: “Hy verdien dit dat U dit vir hom doen”, (naamlik om sy slaaf te genees) want, sê hulle, “hy gee om vir ons volk en hy het uit sy eie vir ons volk ‘n sinagoge gebou.” In die Jode se oë was hierdie centurion dus kragtig, waardig en vol welfaart. Almal wat hom geken het, het hierdie hoofman gerespekteer. Hy was verál onder die Jode gewild omdat hy – uit sy eie sak – vir hulle ‘n sinagoge/kerk in Kapernaum gebou het. En dit is veral oor hierdie laaste rede waarom die Jode dink dat hy waardig is. “Hy is ‘n goeie mens, daarom behoort Jesus sy slaaf te kom genees”, sou hulle redeneer. “Hy gee óm vir ons – hy het selfs ‘n kerk vir ons gebou – daarom verdíén hy dit dat die Here vir hierdie offisier sal gee waarna hy ook al verlang.

Om alles te kroon was hierdie centurion nog ook lief vir sy slaaf (vers 2). Selfs daardie persoon wie die minste geag is in die samelewing, word deur hierdie offisier hóóg geag. Weereens sien ons die groot kontras tussen hierdie Romeinse offesier en ander offesiere van sy tyd. Hy is nie onbillik en wreed en onregverdig teenoor sy onderdane nie. Hierdie centurion het ’n diepe besorgdheid teenoor sy mindere gehad – selfs teenoor hierdie slaaf wat in sy huis gewerk het. Hy was dus een van daardie min bestuurders wat ’n mens kry wat vriendelik, respekvol en ondersteunend teenoor werknemers is. Wanneer ons van al hierdie goeie eienskappe van hierdie centurion hoor, dan wonder ’n mens of die Jode nie tóg ’n punt beet het nie? Mens wonder of hierdie man nie tóg die Here se volle aandag verdien nie?

Maar dan kom die wending, geliefdes. Want nog voordat Jesus Christus by die hoofman se huis aankom, stuur hy ’n tweede boodskap na Jesus toe wat sê dat dit nie meer nodig is dat Christus na sy huis toe hoef te kom nie. Dit klink vir ons vreemd, nie waar nie? Eers sméék hierdie centurion dat Jesus spóédig moet kom om sy slaaf gesond te maak, en nou wil hy skielik nie meer Jesus ontvang nie? Hoe maak dit sin? Wat het veroorsaak dat hierdie offesier skielik van plan verander het?

Geliefdes, dit is alleen die werk van die Heilige Gees wat hierdie centurion van plan laat verander het. Selfs al het sy vriende en sy volksgenote gemeen dat hy waardig is en dit verdien dat Jesus Christus hom en sy slaaf fisies te kom besoek, is hy van ’n ánder mening. Hy sê in vers 6 en 7 dat hy dit nie werd is dat Jesus onder sy dak kan inkom nie en dat hy ook nie homself waardig geag het om self na Jesus toe te gaan nie. Want hierdie Romeinse offesier verstáán gesag en hy weet wat dit beteken. Hy het soldate onder sy bevel wat presies dit doen wat hy hulle beveel, maar hy staan ook onder ánder se gesag. Die Heilige Gees laat hom dus sy onwaardigheid voor Jesus Christus besef, geliefdes. Wie is hy om vir Jesus Christus só ’n opdrag te gee? Hy besef sy onwaardigheid voor Hóm aan Wie alle mag en gesag in die hemel en op aarde gegee is.

Hierdie centurion het egter ook iets van Jesus Christus se almag en alomteenwoordigheid verstaan. Daarom sê hy in 7: “…ek het my nie waardig geag om self na U toe gaan nie; maar sê maar net ’n woord en my slaaf sal gesond word.” Met hierdie woorde verklaar die offesier dat hy wérklik glo én verstaan dat Christus die hoogste gesag het. Al is Hy nie fisies dáár nie, kan Jesus Christus maar net ’n Woord sê en hierdie slaaf sal gesond raak. Die hoofman oor ’n honderd besef dus dat daar gesag in Jesus Christus se Woorde lê en dat Hy nie altyd noodwendig fisies teenwoordig hoef te wees vir ’n wonderwerk om plaas te vind nie. Anders as Martha en Maria neem hierdie offesier nie vir Jesus kwalik en sê: “Here, as U maar hier was, sou dit of dat nie gebeur het nie” (Joh. 11: 21). Ook in die Persoon, Jesus Christus, is God alomteenwooridg, geliefdes, want na sy Godheid is Hy orals teenwoordig.

Selfs al is Hy na sy Mensheid nie op dieselfde tyd óral op aarde nie, is Hy na sy Godheid terselfde tyd óral teenwoordig. Nadat Hy aan die kruis gesterf het en uit die dood uit opgestaan het, heers Hy aan God se regterhand in die hemel, maar Hy is ook vanoggend hier by ons, in die erediens, teenwoordig. Na sy Mensheid is Hy in die hemel, maar na sy Godheid is Hy daar by jou wanneer jy eensaam is of wanneer jy ’n geliefde aan die dood afgestaan het of wanneer jy langs jou geliefde se siekbed sit. Deur sy Woord is Hy altyd dáár om jou te troos en te bemoedig en aan jou perspektief te gee.

Wat behels hierdie geloof en hoe leef ek dit uit?

Ons lees in ons fokusvers dat Jesus Christus verwonderd was oor die geloof van hierdie hoofman oor ‘n honderd. Hy het die die insig gehad om te besef dat Christus by magte is om énige iets te doen. Hy het die kennis gehad om te weet dat Jesus Christus die hoogste gesag geniet, maar hierdie offesier het ook die vertroue gehad om te glo dat Christus maar net ‘n Woord kan sê en dan sal sy slaaf gesond raak.

Geliefdes, soos ons weet, kan ‘n mens niks uit jou eie doen om hierdie tipe geloof te ontvang nie. Mens kan dit nie koop of op ‘n manier verdien nie. Hierdie geloof is ‘n gawe van die Heilige Gees. Wanneer ‘n mens die genade-voorreg het om wél in God-Drie-Enig te glo, dan sal ‘n mens altyd jou nietigheid voor die Here erken. Net soos hierdie hoofman oor ‘n honderd sal ‘n mens voor God bely: “Ek is dit nie werd dat U na my gebede luister nie.” “Ek ag myself nie waardig om met U in gebed te praat nie, want my sonde is te veel. Die manier waarop ek my onderdane hanteer getuig nie altyd van respek en liefde en verdraagsaamheid nie.” Ja, geliefdes, wanneer ‘n mens die genade ontvang om wél in God-drie-Enig te glo, dan sal ‘n mens ook besef dat letterlik énige iets vir God moontlik is. Al is Jesus Christus nie meer fisies by ons op aarde nie, kan Hy steeds net ‘n Woord sê en dit sal gebeur. Vanuit die hemel regeer Hy en heers Hy oor alles in die heelal.

Glo ons dit wérklik? Is ons daarvan oortuig dat God ons in ons persoonlike omstandighede kan raaksien, al is Hy nie fisies hier teenwoordig nie? Glo ons wérklik dat Hy ‘n verandering in ons en ons geliefdes se omstandighede kan bring en op sy tyd uitkoms sal gee?      

Slot

Mag elkeen van ons die Here aanhou smeek vir hierdie tipe geloof, geliefdes. Mag ons ons kleinheid voor die Here besef en dit teenoor Hom erken – selfs al beklee ons hoë poste. Want teenoor ons Koning, Jesus Christus, is selfs die “belangrikste” persoon klein en nietig.

Mag ons die Here aanhou vertrou dat Hy altyd dáár is wanneer ons na Hom roep. Dat Hy, op sy tyd, fisiese én geestelike genesing sal bring waar dit nodig is. En mag ons, daarmee saam, aanhoudend dankbaar wees dat Hy aan ons sy kosbare Woord gegee het. Sy kosbare Woord wat áltyd die hoogste gesag sal geniet. Amen.