Skrifgedeelte: Lukas 7: 11 – 17
Fokusverse: Lukas 7: 13 en 14
Tema: Jesus Christus kry sondaars innig jammer en toon sy almag aan hulle
Inleiding
Was jy ook al in geweldige nood, maar stoksielalleen? Het jy ook al gehunker na hulp en bystand van jou naaste, maar daar was net niemand náby nie? Die meeste van ons weet hoe dit voel om geen ondersteuning te kry wanneer ’n mens trauma ervaar nie.
Of daar het sopas ’n ingrypende ding in jou dag of lewe gebeur, maar die mense rondom jou gaan bloot aan met hulle lewe – asof daar niks gebeur het nie. Dit is net vir jou, persoonlik, wat dit raak. Daar is niemand wat jou bystaan nie. Daar is niemand wat jou help nie. Dit is dán wanneer dit vir ’n mens voel asof niemand wérklik vir jou omgee nie.
Jesus Christus kry sondaars innig jammer
In vanoggend se gedeelte vanuit Lukas 7 vind ons ‘n weerlose vrou in geweldige nood. Hierdie gedeelte volg direk op die gedeelte wat ons verlede week gelees het oor die hoofman oor ‘n honderd met die siek slaaf in Kapernaum. Die meeste van u sal onthou hoedat hierdie hoofman gewéns het dat die Here sy siek slaaf sal genees, maar dat hy nie homself waardig geag het om deur Jesus Christus besoek te word nie. Daarom het hierdie offisier vir die Here gesê dat hy weet dat Jesus – van ‘n afstand af – maar net ‘n woord kan sê en dan sal sy slaaf gesond raak. Vol verwondering antwoord Jesus op sy beurt en sê dat Hy selfs in Israel nie só groot geloof gesien het nie.
In vandág se teksgedeelte, reis Jesus selfs vérder – uit die stad, Kapernaum, na die dorp, Nain. Nain was ‘n klein dorpie net Suid van Kapernaum, tussen die Dooie See en die See van Galilea. En daar naby aan die dorpie, Nain, was daar ‘n ánder dorp met die naam, Suném – ons sal later in die preek hoor waarom die plasings van hierdie dorpe belangrik is. Vir nou fokus ons eers op die feit dat Jesus Christus, saam met sy navolgers, op pad is en wat daar in Nain gebeur het. Ons lees in die Teks dat daar ’n hele skare mense was wat saam met Jesus beweeg het soos Hy na die verskillende dorpe gereis het. Ook op hierdie tog na Nain, was daar ’n hele aantal mense saam met Hom. Afgesien van die dissipels wat Hy geroep het, volg baie ander mense Hom ná. En toe hulle in Nain aankom, is daar ook ’n groot menigte mense by die die dorp se ingang. Hierdie groot groepe mense is weens verskillende redes bymekaar, geliefdes. Die groep wat Jesus nagevolg het tot in Nain, is saam met Hom omdat hulle Hom, as Goeie Leermeester bewonder. Hulle is nuuskierig en opgewonde oor dít wat Hy volgende gaan sê of doen. En die mense wat uit die dorp beweeg het, is daar vir die sensasie. Nét soos in vandag se tyd, drom ’n hele skare mense in die stad, Nain, saam want daar is sopas iemand dood.
Dus het die Gees dit só beskik dat daar besonder baie mense mekaar daar in Nain ontmoet, want wat volgende sou gebeur beloof om besonders te wees. In God-Drie-Enig se absolute wysheid sorg Hy dat daar genoeg ooggetuies is om hierdie wonderwerk van Jesus te beleef. Die Heilige Gees sorg dat daar genoeg mense is om saam te getuig dat dít wat Jesus Christus gedoen het, die wáárheid is. En wat presies is dit wat ons Here, Jesus Christus, daar by die stadspoort van Nain doen? Hy doen iets aangryplik, geliefdes. Hy wek ‘n dooie op uit die dood!
In hierdie hoofstuk is die apostel, Lukas, besig om vir gelowiges iets “nuut” van Jesus Christus bekend te maak. Jesus Christus is nie maar nét die Groot Geneesheer, soos ons in die eerste tien verse van hierdie hoofstuk gehoor het nie. Die langverwagte Messias het nie nét die vermoë om iemand, van ‘n afstand af, te genees nie. Ons Here Jesus het selfs die vermoë om iemand wat dood was, weer lewend te maak! Hy het die vermoë om ‘n dooie terug te bring na die lewe toe!
Hy is waarlik die Almagtige wat lewe uit die dood kan roep. Dit is alléén Jesus Christus wat die gesag het om dit te doen, geliefdes. Geen vermoënde mens – geen wetenskaplike – geen teoloog sal dit ooit kan doen nie. Dit is nét ons Here, Jesus Christus, wat nuwe lewe uit die dood kan bewerk. Maar wat gee aan Jesus Christus aanleiding om só ‘n ingrypende wonderwerk te doen? Waarom wek Hy juis hierdie jong seun uit die dood uit op? Wat maak hom of sy situasie so uniek? Geliefdes, soos met so baie ander plekke in die Bybel is die Here nie hier besig om iemand spesifiek voor te trek nie. Hy wek nie hierdie seun uit die dood uit op omdat hy so ’n goeie mens is of iemand van belang is nie. Ons moet dieper kyk – die volle prentjie probeer raaksien.
Ons lees in vers 12 en 13 dat Jesus Christus se fokus meer op hierdie seun se ma was as wat sy fokus op die seun was. Lukas beskryf – in detail – wie hierdie ma was en hoe haar situasie gelyk het. Die seun, wie die mense op die draagbaar uitdra, was haar énigste seun – moontlik haar enigste kind. Sy is nou saam met hierdie hele groep mense op pad om haar enigste seun buite die stad te gaan begrawe. En sy dra nie eens die draagbaar waarop haar seun se liggaam lê nie. Haar eie seun is in die hande van vreemde mense – ’n skare mense wat haar wegstoot en wat maar net daar saamdrom omdat ’n ongewone gebeurtenis plaasgevind het. Ons kan ons net indink hoe magteloos hierdie ma moes voel, nie waar nie? En dan lees ons dat hierdie vrou nog boonop óók ’n weduwee was. Sy het vroeër haar man verloor, en nou ook haar enigste seun.
Soos baie van ons weet, was vroue in die Bybel se tyd geminag. Die kultuur van daardie tyd was dat mans dominant was en dat vroue byna as besittings beskou is (vgl. Rut 2: 5). Vroue is vir hulle skoonheid bewonder en omdat hulle kon kinders kry, maar hulle is bv. nooit opgelei om oorlog te gaan voer nie. Hulle is nooit die geleentheid gegee om status en eer te verwerf nie. Verder het die vroue – van die Ou-Testament verál – nooit akademiese opleiding ontvang nie. Vroue se rol in die samelewing was om onderdanig te wees en dit was so – ook in die tyd toe Jesus op aarde geleef het. Daarom het Christus goed geweet hoe die samelewing hierdie arme vrou sou hanteer, geliefdes. Hy het geweet dat sy en haar behoeftes nie regtig deur iemand raakgesien sal word nie. Die mense om haar is fisies dáár maar emosioneel staan hulle haar nie by nie.
Hierdie vrou het in haar grootste nood stoksiel alleen gevoel, maar genadiglik was dit nie daardie dag die geval nie. Want ons lees in vers 13 die volgende merkwaardige woorde: “Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: ‘moenie huil nie!’” Ons Here, Jesus, sien hierdie vrou se onbeskryflike hartseer en verslaenheid raak. Al het Hy ten volle Mens geword en onder sondaars kom woon, tree Hy nie soos hulle op nie. Want, soos Hy daar by die hartverskeurde ma en haar dooie seun staan, bly Hy óók ten volle God. En daarom tree Hy nié soos ‘n tipiese Joodse man van sy tyd teenoor hierdie weerlose weduwee op nie. In alle liefde kry Hy haar innig jammer want daar het sopas ‘n ingrypende ding in haar lewe gebeur. Haar énigste seun is dood! As liefdevolle God reik Hy háár uit, al het sy nooit Hóm genader nie. Jesus Christus sélf troos en bemoedig hierdie vrou met sy woorde én met sy teenwoordigheid.
Jesus Christus toon sy almag aan sondaars
Maar geliefdes, Jesus Christus troos en bemoedig nie net hierdie vrou nie, Hy toon ook sy almag aan alle mense teenwoordig. Hierdie menigte mense het nog nie geweet Wie Hy is nie – hulle het nie geweet dat Hy die Messias is nie. En daarom bewys Christus aan hulle dat Hy waarlik die Hére is. Deur net te praat, wek Hy die jong seun uit die dood uit op. Net soos in verlede week se preek, wys Lukas vir ons dat daar krág in Jesus se Woorde lê. Dat sy Woord die hoogste gesag dra, want die oomblik toe Jesus Christus hierdie seun beveel om uit die dood uit op te staan, gebéur dit. Hierdie seun se lewende siel verenig weer met sy dooie liggaam op die Hére se bevel.
Ja, geliefdes, Jesus Christus wys vir die hele skare mense dat Hy alleen mag oor die lewe en die dood het. Almal wat daardie dag in die dorp, Nain, teenwoordig was, sou moes erken dat Jesus Christus die Almagtige is. Want nuwe lewe het dádelik die seun binnegekom. Hy het onmiddellik regop gesit en begin gesels. Jesus Christus het dus gedoen wat Hy moes – Hy het vir sondaars gewys dat Hy oor alle mag en gesag in die hemel en op aarde beskik. En daarom lees ons aan die einde van hierdie verhaal dat vrees al die mense van Nain beetgepak het en dat hulle God begin loof het deur te bely dat ‘n Groot Profeet onder hulle opgestaan het (ver 16). Die mense van Nain begin die Here te respekteer omdat hierdie gebeure hulle aan iets in hulle geskiedenis herinner. Want in ‘n dorpie daar naby het ‘n Sunemitiese vrou gewoon wie se seun ook skielik dood is. Sy het die profeet, Elisa, laat kom en hy het die seun uit die dood teruggebring – ‘n wonderwerk in die dorp Sunem, want nou in Nain in vervulling gaan. Gaan lees gerus maar die geskiedenis in 2 Konings 4 (8 – 37). Omdat die inwoners van Nain besef dat méér as Elisa nou in hulle midde is, het die nuus oor Jesus Christus as Enigste Here deur die hele gebeid, soos ‘n veldbrand, versprei.
Hierdie wonderwerk by Nain is egter nie nét ‘n terugwysing op die verlede nie, maar ook ‘n heenwys na die toekoms. Want Hy Wie hierdie seun opgewek het, is ook die Enigste Seun Wie uit sy Vader gebore is. En ook Hy moes op ‘n Vrydag-middag sterf. In alle eensaamheid het Hy daar aan die kruis gehang – met ‘n skare mense rondom Hom maar niemand wat régtig omgee nie. Hy het wáárlik alleen deur dit alles gegaan, geliefdes, want selfs sy Vader het Hom verlaat. Hy hang daar eensaam en ly – Hy ervaar die érgste trauma dénkbaar – maar dit wil voorkom asof niemand werklik omgee nie. Die oomblik toe Hy sy laaste asem uitblaas loop een vir een weg en gaan bloot aan met hulle dag en met hulle lewens.
Maar geliefdes, die ooreenkomste stop egter nie hier nie. Want ons Here Jesus Christus staan óp uit die dood! Hy word deur sy Almagtige Vader opgewek sodat Hy éwig kan lewe! Hy oorwin die mag van die dood, want Hy is ten vólle God! Alleen Hy is die opstanding en die lewe!
Geliefdes, dit is belangrik om te besef dat die paar mense in die Bybel, wat deur God lewend gemaak is nadat hulle gesterf het, wéér later sou sterf. Die seun van Sunem, die seun van Nain, die dogtertjie van Jairus, Lasarus – hulle almal het wéér hier op aarde gesterf. Dit is nét Jesus Christus wat, met ‘n verheerlikte liggaam, aanhou leef nadat Hy uit die dood uit opgestaan het. Alle gelowiges wag nog vir die opstanding uit die dood – ook húlle wat reeds gesterf het. Ook húlle wat eens op ‘n tyd deur God-Drie-Enig uit die dood opgewek is. Hulle is maar bloot as voorbeelde gebruik sodat God sy almag aan die mense rondom hulle kan bewys. Hulle is nie op ‘n manier deur die Here voorgetrek nie – hulle is maar net gebruik sodat mense tot geloof in God kan kom. Sodat alle mense ontsag vir die Here sal kry en Hom, alleen, sal loof en eer en aanbid.
Slot
Geliefde in die Here, was jy ook al in geweldige nood, maar stoksielalleen? Het jy ook al gehunker na hulp en bystand van jou naaste, maar daar was net niemand naby nie? Het dit vir jou ook al gevoel asof die mense rondom jou maar bloot aangaan met hulle lewe – asof niemand wérklik vir jou omgee nie?
Deur die Here se genade hoef nie één van ons óóit weer só te voel nie, geliefdes. Want ons het ‘n Here wat ons nood verstáán. Ons het ‘n Almagtige God wat ons in ons alleenheid raaksien. Te danke aan Christus sal God ons nooit verlaat nie, want Hy is rééds deur sy Vader verlaat. Ons is nooit eensaam of alleen nie – selfs wanneer ons so voel – want deur die Heilige Gees is God elke dag by ons en ín ons. Ons het niks om voor te vrees nie, geliefdes, want ons Here is Almagtig. Ons behoort aan Hóm! Aan Hóm wat selfs die dóód oorwin het. Amen.