Skrifgedeelte: Lukas 7: 36 – 50 (1983 Vertaling)
Fokusverse: Lukas 7: 47 – 49 (1983 Vertaling)
Tema: Wanneer jy die Here ken, sal jy jou sonde ken maar óók jou dankbaarheid ken.
Inleiding
Vir baie mense is die volgende stelling waar: “Hoe groter jou sonde, hoe groter jou dankbaarheid”. Dit is baie keer eers nadat jy oordentlik droog gemaak het in die lewe, dat jy beter verstaan Wié die Here is. Natuurlik is hierdie stelling nie op álle mense van toepassing nie. Dit is nie álmal wat eers iets verskrikliks moet verkeerd doen voordat hulle besef Wie die Here is nie.
Maar élke gelowige kom weer diep onder die induk van hoe groot die Here se genade is wanneer hulle wérklik besef waaruit hulle gered is. Daarom is dit dus nodig dat ‘n mens jou éie sonde ken, dit is nodig dat jy die Hére ken maar dit is óók nodig dat jy jou dankbaarheid teenoor die Here ken.
Ken jy die Here?
Die eerste vraag wat ons dus onsself moet afvra is: “Ken ek die Here?” En dan praat ons nie daarvan om maar net van die Here te wéét nie, dit is om die Here werklik te kén. Kennis van die Here is nie maar net om te weet dat Hy bestaan nie. Dit is nie goed genoeg om te sê dat ‘n mens weet dat God iewers daarbuite is nie. Nee, dit word van ons verwag om die Here intiem te kén. Om Hom deur en deur te ken. Dit is om God te leer ken soos Hy Homself in sy Woord aan ons bekend maak.
Soveel mense sê hulle ken God, maar eintlik bedoel hulle dat hulle maar net van die Here se bestaan weet. Ander mense sê ook dat hulle die Here ken, maar dan praat hulle van die manier hoe húlle dink die Here is. Hulle ken die Here op húlle voorwaardes. Hulle ken bv. die Here slégs as ‘n liefdevolle God of slégs ‘n wrede God of hoe ook al hulle, in hulle eie gedagtes, dink Hy is. Soos ons weet kan dit gevaarlik wees, geliefdes. Want ons éie gedagtes en aannames oor iets of iemand is gewoonlik verkeerd. Daarom is dit vir elkeen van ons belangrik om eerder die Here te leer ken soos Hy Homself in die Bybel aan ons openbaar.
In die laaste paar verse van Lukas 7, vertel die apostel vir ons van twee mense wat vir Jesus Christus geken het. Die eerste persoon waarvan ons lees, was ‘n Fariseer, wat die Here na ‘n ete by sy huis genooi het. En die ander persoon waarvan Lukas praat, is ‘n vrou van die dorp wat ‘n sondige lewe gelei het. Sy is nie, soos Jesus, na die ete toe genooi nie. Sy hóór maar net van die ete by die Fariseer se huis. Op hierdie stadium wil dit voorkom asof die Fariseer vir Jesus die béste ken – Hy nooi immers vir Jesus na ‘n ete by sy huis. Verder kan ons redeneer en sê dat hierdie Fariseer ook die Here vanuit die Bybel kon leer ken, want die Fariseers was daarvoor bekend dat hulle kenners van die Ou-Testament – en verál die Wette was. Dus was hierdie man veronderstel om goed te besef Wie Jesus wérlik is – dat Hy die langverwagte Messias is – die Almagtige God se eniggebore Seun. Vanuit sy Bybelkennis moes hierdie Fariseer besef het dat Jesus Christus – wat nou in sy huis gekom het – sélf God is.
Maar, soos ons die afgelope twee weke gesien het, wys die apostel, Lukas, vir ons hoe God Homself selfs op ‘n dieper vlak aan ons openbaar. Deur hierdie hele hoofstuk 7 van Lukas se Evangelie leer ons Jesus Christus ken deur sy goddelike almag en sy simpatie en liefde vir húlle wat deur die samelewing verwerp word. Eers het ons gehoor hoe Jesus die persoon met die laagste status – die slaaf van ‘n ongelowige – genees het. Van ‘n afstand af sê Jesus maar net ‘n Woord en die slaaf word wonderbaarlik gesond. Daarna wek Jesus ‘n weduwee se seun uit die dood uit op. Almal sien sy almag raak! Hy is nie maar net ‘n gewone Mens nie, dit lyk maar net só. Anders as die manlike Jode van sy tyd, is Jesus bereid om met die weduwee van Nain te praat. In sy deernis en liefde vir sondaars kry Jesus hierdie vrou innig jammer en troos Hy haar met sy woorde en sy teenwoordigheid.
In vandag se Teksgedeelte besef die mense maar wéér dat hierdie Jesus ánders as die gewone mense is. Vol verbasing vra dié, wat saam met Hom aan tafel was, vir mekaar: “Wie is hierdie Man dat Hy selfs sondes kan vergewe?” Net soos die gasheer kén hulle nog nie Jesus Christus nie, selfs al wéét hulle van sy bestaan. Hulle sien nie ín dat Hy die Ware Messias is nie. Hulle dink God se Seun móét nog gebore word en hulle besef nie dat Hy rééds saam met hulle aan tafel sit nie.
Ken jy jou sonde?
God-Drie-Enig openbaar Homself egter aan mense sodat alle mense, deur alle tye, Hom kan leer ken. Die hoofrede waarom God Homself aan ons openbaar, is sodat ons ons afhanklikheid teenoor Hom kan besef. Die Here leer ons Wie Hy is, sodat ons kan besef dat ons Hom vir letterlik alles in die lewe nodig het – veral dan vir die vryspraak van ons sondes. Maar die Here stel Homself óók aan ons bekend sodat ons ons eie tekortkominge – en verál ons eie sonde – kan leer ken.
In die Bybel leer die Here o.a. vir ons dat Hy heilig is en dat Hy van gelowiges verwag om ook heilig te leef (Lev. 11: 44). Deur die werking van die Heilige Gees herinner Hy ons weekliks aan die Riglyn wat Hy vir ons gegee het in die vorm van sy Wet. Dit is nie maar net ‘n koue stel reëls wat ons moet nakom nie, geliefdes – die Here gee dit in sy liefde vir ons sodat ons mag wéét hoe ons teenoor Hom en ons naaste behoort op te tree. Die Tien Gebooie is daar vir óns sodat ons kan weet hoe om in wederliefde te reageer op Gód se liefde vir ons. Mag ons ingesteldheid teenoor hierdie Riglyn van die Here verander, geliefdes. Mag ons dankbaar wees dat die Here ons op ons sonde wys, sodat ons daarmee kan breek voordat dit te laat is. Want dit is juis in die Here se Wet waar ons raaksien hoe groot ons sonde en elende is. Die Here se Wet behoort vir élkeen van ons van onskatbare waarde te wees, want wanneer ons ons lewe vergelyk met dít wat God van ons verwag in sy Woord, dan besef ons dat ons élkeen vêr tekort skiet.
Die apostel, Lukas, wys ons in vers 37 op die vrou, waarvan ons gelees het, se sonde. Die manier waarop sy deur Lukas aan ons bekendgestel word, is dat sy die sg. “sondige vrou” van die dorp was. Ons kan dus aflei dat die mense haar aan haar sondige lewenswyse geken het. Sy het waarskynlik onlang van Jesus se genesings en van sy almag gehoor, en daarom daag sy ongenooid by die ete op. Ons kan onsself net indink hoe ongemaklik hierdie situasie moes wees. Hier is ‘n sondaar wat op ‘n opdringeringe manier daar by Jesus kom staan en huil. Almal aan tafel weet waarskynlik van haar sonde, maar dit keer haar nie om na Jesus toe te kom nie, geliefdes.
Want hierdie vrou kén haar eie sonde, maar sy kén ook vir Jesus Christus. Sy is diep bewus van hoeveel skandelike dinge sy al in haar lewe gedoen het, máár sy is ook vol vertroue dat Jesus Christus haar sal kan help. Al is sy ‘n vrou, en al het sy ‘n reputasie in die dorp, keer dit haar nie om by Jesus se voete te kom kniel nie. Die van u wat na verlede week se preek geluister het, sal onthou hoe vroue, in daardie tyd, geminag is. Hoe hulle nie deur die samelewing erken is nie. So wat kom soek hierdie sondaar van ‘n vrou dan in die geselsskap van sg. “belangrike” mense? Sy kom soek vir Jesus Christus, geliefdes. Sy kom soek vergifnis vir haar sonde en genesing van haar gebroke gees.
Natuurlik is Jesus Christus alwetend, en daarom laat Hy die vrou toe om daar by sy voete te kniel en te huil met haar flessie olie in haar hand. Want Hy sien haar geweldige nood raak, geliefdes! Sy kom na Hom toe want sy besef dat sy dríngend hulp nodig het! Sy wil vir eens en vir altyd bréék met haar sonde! Sy wil nie meer weens haar sónde beroemd wees nie, maar weens haar liefde en toewyding aan die Here. Vol berou oor haar sonde, huil sy só baie dat haar eie trane Jesus se voete natmaak. Sy het nie eens water of ‘n handoek nodig gehad vir hierdie selfvernederende taak nie. Want met haar éie trane maak sy Jesus se voete nat, en met haar éie hare droog sy dit weer af. In alle eenvoud en nederigheid bedien sy haar Here en haar Eienaar. Want hoe meer hierdie vrou agterkom Wié Jesus Christus is, hoe meer besef sy hoe nódig sy Hom het. Hoe langer tyd sy in die Here se teenwoordigheid spandeer, hoe meer kom sy agter hoe gróót haar eie sonde en ellende is.
Ken jy jou dankbaarheid?
Maar iets waarop die apostel, Lukas, ons vérder wys, is dat hierdie vrou óók haar dankbaarheid teenoor die Here besef. Jesus sê in ons fokusgedeelte dat hierdie vrou baie liefde aan Hom bewys omdat haar sondes baie was, maar dat dit nou, deur Hom, vergewe is. Sy besef dus goed waar sy eens op ‘n tyd was, maar waar sy nou, deur die Here se genade, is. Sy was gekenmerk deur haar sonde, maar noudat sy die Here as haar Enigste Verlosser leer ken het – noudat sy ten vólle in Hom glo – is haar sondes vergewe soos Christus in verse 48 en 50 aan haar beloof.
Haar dankbaarheid hiervoor laat haar dadelik oorgaan in aksie, geliefdes. Hierdie vrou was Jesus se voete met haar trane, sy droog dit met haar hare af. Daarna salf sy Jesus se voete met haar kosbare olie en soen sy, onophoudelik, sy voete. Hierdie vrou aanbid haar Verlosser, Jesus Christus, onophoudelik, omdat sy onbeskryflik dánkbaar vir sy genade is!
Natuurlik sien die gasheer van die ete nié die vrou se bekering en dankbaarheid raak nie. In sy menslikheid kyk hy nét vas in haar sonde en dink by homself: “As Jesus ‘n Wáre Profeet was, sou Hy tog gewéét het watter soort vrou hierdie is – dat sy ‘n sondaar is.” En daarom wys Jesus Christus hom op sy éie sonde – sy sonde van hoogmoed – sy sonde van selfgeregtigheid – sy sonde van ondankbaarheid. Aangesien hy ‘n Fariseer was moes hy van béter geweet het en gróter dade van dankbaarheid as hierdie vrou teenoor Jesus Christus bewys het. Maar hierdie vrou se dankbaarheid is groter as sy dankbaarheid omdat haar sonde méér as syne was.
Slot
Vanoggend word jy ook uitgenooi na ‘n Ete waar Jesus Christus sélf teenwoordig is. Met watter ingesteldheid kom jy by die Tafel aansit? Kom jy hunkerend vorentoe, omdat jy jou éie sonde besef en omdat jy weet dat Jesus die Enigste Een is wat ‘n blywende oplossing vir jou kan bied? Kom jy na Hom toe omdat jy jou eie sonde ken en omdat jy Hom ook ken? Wanneer jy hier kom aansit, dínk jy aan Christus en aan alles wat Hy vir jou aan die kruis gedoen het? Hoe Hy jou losgekoop het van letterlik ál jou sonde en ongeregtigheid? Hou jy ook vas aan sy genade en sy verlossing en sy vryspraak oor jou sonde? Of het hierdie Ete nie só ‘n groot inpak in jou lewe dat jy vir eens en vir altyd wil bréék met jou sondes nie? Kom sit jy dalk vol selfgeregtigheid aan Tafel en dink jy net aan die ánder mense se sonde? Of kom jy met alle nederigheid na vore omdat jy jou éie sonde besef – omdat jy besef dat jy ook, dringend, die Here in jou lewe nodig het?
Geliefde in die Here, tot hoe ‘n mate ken jy jou eie sonde? Tot hoe ‘n mate ken jy die Here? Tot hoe ‘n mate is jy dankbaar teenoor Jesus Christus se verlossende genade – vir jou persóónlik? Elkeen van ons se ingesteldheid, waarop ons binnekort Nagmaal gaan kom gebruik, sal hierdie vrae beantwoord. Amen.