Psalm 5: 1 – 13

Skriflesing: Psalm 5: 1 – 13

Fokusvers: Psalm 5: 6 – 8

Tema: Omdat God regverdig is, verwerp Hy hooghartiges maar in sy liefde aanvaar Hy nederiges.

Inleiding

Wie van u onthou nog waaroor verlede week se preek tydens die Nagmaal gegaan het? Baie gelowiges fokus só op die aanloop tot die Nagmaal en die Nagmaal sélf, maar dan vergeet hulle gou weer die inhoud van daardie dag se preek. Sodra die dol week met sy eie uitdagings begin, dink ons al minder aan die troos en die vermaning wat ons die vorige Sondag gehoor het.

God is regverdig én barmhartig

Verlede week se preek het gehandel oor twee mense se ingesteldheid tydens ‘n ete waar Jesus Christus teenwoordig was. Die apostel, Lukas, vertel van die gasheer van hierdie ete asook van ‘n vrou wat ongenooid by die ete opgedaag het. Volgens die ménse was die Fariseer bekend vir sy Bybelkennis en sy toewyding aan God se Wet. Op haar beurt was die vrou weer bekend vir haar opsetlike sonde en en haar onreinheid. Maar dit is slegs Gód wat dieper as die oppervlak kan kyk. Jesus Christus sien die bedoeling van élke mens se hart raak, en daarom bepaal Hy ook die wáre ingesteldheid waarmee elkeen van hierdie mense die ete bywoon.

Van buite af lyk dit asof die Fariseer meer respek vir die geleentheid het:- Hy was immers sélf die gasheer. Hy sit heel rustig en in beheer daar aan tafel, maar diep in sy hart bevraagteken Hy Jesus Christus se gesag. Want van die straat af kom daar ‘n sondige vrou in en kom ontwrig die ete met haar trane en haar emosie. Al waarop die Fariseer fokus is op die vrou se onreinheid en op haar “vreemde” optrede en op die feit dat Jesus Christus haar toelaat om die atmosfeer te vertroebel.

Maar Jesus Christus kyk anders na sondaars as ons, mense, geliefdes. Hy sien hierdie vrou se geweldige nood raak. Hy sien raak dat sy niks ánders as verlossing en genesing en vryspraak vir haar sondes kom soek nie. Omdat sy van harte berou oor haar sonde het, daarom het sy maar één begeerte en dit is om met hierdie afskuwelike sonde in haar lewe te breek. Sy wil nie meer beroemdheid weens haar sonde verwerf nie, maar weens haar toewyding en liefde en dankbaarheid teenoor die Here. Ja, geliefdes, dit is slégs God-Drie-Enig wat die wáre ingesteld kan raaksien waarmee mense sekere dinge doen.

In aansluiting met verlede week se preek, fokus vanoggend se Teksgedeelte óók op ‘n mens se ingesteldheid waarmee jy die Here dien. Ons kyk vandag – ‘n week ná die Nagmaal – hierna, omdat ons ingesteldheid vandág met soveel dankbaarheid gevul behoort te wees. Ons elkeen het weer diep onder die indruk gekom dat ons wérklik vryspraak vir ons sondes ontvang het. Dat ons Here, Jesus Christus wáárlik aan die kruis moes sterf as betaling vir ons sondes. So séker as wat ons die tekens van die brood en die wyn gesien en beleef het – net só séker is ons van ons sonde verlos. Niks hoef ons terug te hou om God te kom ontmoet nie, geliefdes. Niks is veronderstel om ons te verhinder om, dáágliks, tot God te bid nie. Niks behoort ons te keer om vandag God te loof en te prys en te verheerlik nie.

En dít is presies die boodskap wat Psalm 5 aan ons wil oordra. Soos ons in vers 4 gehoor het is hierdie Psalm in die oggend gesing. Gelowiges het in alle waarskynlikheid hierdie Psalm in die vroeg oggend gesing toe hulle in die tempel ingegaan het om tot God te bid (vers 8). Die eerste ding wat die Ou-Testamentiese gelowiges dus wou doen, was om tot God te bid. Hulle het die behoefte gehad om met God in gesprek te tree, want hulle het besef hoe afhanklik hulle van Hom is. Daarom begin die digter hierdie Psalm met die benoude woorde van vers 1 en 2: “Luister tog na my woorde, Here; hoor my versugting! Slaan ag op my noodkreet, my Koning en my God, want tot U bid ek!”

Die angs van ‘n donker nag is stééds in die digter, Dawid, se gedagtes. Soos ons in baie ander Psalms hoor, is daar vyande wat sy lewe bedreig (vers 9; o.a Ps. 3 en 4). Die hele nag deur is hy vol angs en wonder: “Wanneer gaan my teestanders op my toeslaan?” “Wanneer gaan my vyande kom om my leed aan te doen? Dit is met hierdie gedagtes van vrees wat die digter dan sy dag begin. En boonop lê daar ‘n onbekende dag vir hom voor – hy het nie ‘n idee wat die nuwe dag gaan inhou nie. En juis daarom is gebed die eerste ding wat die digter in die oggend doen. “Here, in die oggend hoor U my stem. In die oggend lê ek my saak voor U, en wag.” As gelowige wag hy vir uitkoms van sy Here – wag hy vir redding van sy Koning en sy God (vers 3).

Want hierdie digter besef dat God beide regverdig én barmhartig is. Eers word God-Drie-Enig in Psalm 5 aan ons bekendgestel as die Regverdige God, en daarna leer ons Hom as die Barmhartige God ken. Wanneer ons sê dat God regverdig is, dan bedoel ons daarmee dat Hy in alle regverdigheid en billikheid optree. En wanneer ons sê dat God barmhartig is, dan bedoel ons daarmee dat Hy in alle liefde en deernis sy kinders behandel. Dit is egter belángrik om te onthou dat God áltyd beide eienskappe van regverdigheid én barmhartigheid het, geliefdes. In sy volmaaktheid is die Here áltyd ten volle regverdig maar Hy gee ook altyd om in sy groot liefde.

God verwerp hooghartiges

Voordat ons in meer diepte na God se barmhartigheid gaan kyk, gaan ons éérs na sy eienskap van regverdigheid kyk. Omdat Hy alwetend is, sien ons Vader élke keer raak wanneer sy kinders ónregverdig behandel word. Hy sien al die kere raak wanneer iemand ons wil indoen of ons vals beskuldig of ons afpers. Ja, geliefdes God is bewús van al die kere wat goddelose mense ons lewens bedreig en wanneer hulle teen ons en teen God in opstand kom (vers 11). Dít besef die digter van Psalm 5 baie goed wanneer hy sy oggend-gebed tot God bid, want die Heilige Gees herinner hom aan God se regverdigheid.

Omdat God regverdig is, duld Hy nie die goddelose mense en hulle optrede nie. Hy verdra nie een oomblik hulle boosheid nie (vers 5). Mense wat grootpraat sal nie voor Hom kan staande bly nie, want Hy sal hulle almal vernietig. Mense wie hooghartig is, durf nie eens om voor die Almagtige te verskyn nie, want hulle wil nie erken dat hulle van Gód se sorg en beskerming afhanklik is nie (vers 6). Die Here waarsku ons in sy Woord: “Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, sal jy ook oes” (Gal. 6: 7). Omdat God die regverdige Regter is, vernietig Hy álle mense wat aanhou leuens versprei (vers 7) en het Hy ‘n afsku in álle mense wat bedrog pleeg en moord pleeg (vers 7). 

Die Here tree dus regverdig teenoor mense op wat met die verkeerde ingesteldheid voor Hom lewe. Omdat Hy van alle mense ‘n sekere lewensstandaard in sy Woord vereis, daarom verwerp Hy dié mense wat met dade van ondankbaarheid teenoor Hom optree. In sy heilige woede roei Hy hulle uit wat met ongeloof teen Hom in opstand kom. Want Hy is die Oorwinnaar-Koning, geliefdes, Hy alléén. Geen invloedryke mens of instansie of wêreldmag is sterker as Hy nie. En, geliefdes, ons mag nooit dink dat God ónregverdig is omdat Hy sekere mense verwerp en uitroei nie. God is ál Een Wie soewerein is – dit beteken dat Hy mag doen wat Hy wil sónder dat Hy Homself óf sy optrede hoef te verduidelik. Hy sê sélf op ‘n keer: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wíl wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek my wíl ontferm” (Rom. 9: 15). Dit hang dus van Gód af hoe Hy wil optree teenoor mense – wie is óns om sy optrede te bevraagteken?

Boonop is God totaal en al volmaak, geliefdes. Ons kan Hom nooit daarvan beskuldig dat Hy onregverdig optree nie. Want selfs óns, wie sy uitverkore kinders is, word met God se regverdigheid hanteer. En Hy bewys selfs sy algemene genade ook aan húlle wat ongelowig is. Dit reën bv. óók op die heiden se veld. Maar wanneer dit by die sake kom wat wérklik saakmaak, sien ons God se regverdigheid en barmhartigheid die duidelikste raak: Alle mense se sonde word gestraf, want God eis ‘n gehoorsame lewe. Hy het ‘n hoë standaard wat gehandhaaf moet word. Dus word die gelowige én die ongelowige op grond van sy/haar sonde geoordeel.

Die oordeel oor die sonde van die ongelowige word deur homself/haarself gedra, maar die oordeel oor die sonde van die gelowige word deur ons Here, Jesus Christus, gedra.

Weens die Here se soewereine regverdigheid het Hy sekere mense uitgekies om sy kinders te wees en Hy het ander weer verwerp wat in die sonde van hoogmoed en ongeloof bly volhard.

Weens die Here se barmhartigheid en liefdevolle genade stuur Hy sy geliefde Seun, Jesus Christus, sodat Hy die straf op gelowiges se sondes kan kom dra. Omdat ons Vader wéét dat geen mens hierdie straf op die sonde sélf kan dra nie, oordeel Hy Jesus Christus oor al die sonde wat sy uitverkore kinders gedoen hét, stééds doen en nog sál doen. Hierdie gedagte laat ‘n mens só nederig en dankbaar voel dat ons gerééld aan Chrsitus se verlossingsdaad wil dink én dit wil vier – en presies dít het ons met verlede week se Nagmaal gedoen, geliefdes.

God aanvaar nederiges

My sy éie liggaam en bloed het ons Here, Jesus Christus betáál om ons van al ons sonde los te koop. Hy het ons immers óók uit die mag van die Bose losgekoop, want Hy het die duiwel, én sy invloed wat hy op gelowiges wil hê, oorwin. Selfs al voel dit baie keer vir ons asof ons vyande stérker as ons is en asof ons vyande letterlik wegkom met moord, is dit nie die geval nie. Want ons Here, Jesus Christus, het die dood oorwin! Hy heers nou as Enigste Koning en regeer oor alles en almal.

Sy heerskappy is nie tot hierdie aarde beperk nie, geliefdes, dit is ‘n hemelse heerskappy. En óns het die versekering dat ons éwig deel sal wees van sy éwige heerskappy. Gelowiges ontvang die belofte dat ons, saam met ons Koning en ons God éwig in die hemel gaan leef. Waarom bekommer ons ons dan oor die korrupsie van Suid-Afrika? Waarom is ons begaan oor die onbekende toekoms van ons land en van die wêreld? Besef ons nie dat dit maar net ‘n tydelike woonplek vir ons is nie? Het ons dan vergeet dat Jesus Christus – die Almagtige – in beheer is? Praat ons met God oor hierdie dinge wat ons eintlik so onnódig  bekommer? Of praat ons nét met dié mense wat soos ons dink en soos ons voel?

Geliefdes, kom ons fokus eerder op die feit dat ons voor God mag verskyn, en op sy genade, en op ons dankbaarheid en lof aan God! Kom ons fokus op die wonderlike troos wat ons het om – soos die digter van Psalm 5 – vanoggend in die Here se heerlike teenwoordheid mag wees. Alleen deur die Here se uitverkiesende genade ontvang ons die voorreg om God-Drie-Enig weekliks te mag kom ontmoet. Ontvang ek die voorreg om ‘n blaaskans van die bose wêreld te mag vat en by my Vader se voete te kom sit.

Maar geliefdes, dit is net húlle wat in die geloof volhard, wat hierdie genade sal áánhou geniet. Daarom behoort ons gedurig na ons eie lewe te kyk en onsself afvra: is ek wérklik nederig voor die Here? Het ek nog die nodige respek en agting vir Hom en vir sy koninkryk? Besef ek wat ‘n groot voorreg ek het om deel te mag wees van hierdie gemeente? Of wil ek dalk nou en dan my mag misbruik in hierdie gemeente?

Geliefdes, mag ons dan die Here se wekroep onthou, wat baie duidelik in Psalm 5 vir ons uitgeengesit word: “Verwaande mense sal nie voor die Here se oë kan bly staan nie”. “Die Here duld nie goddelose en bose optrede nie.” Die God wat ons vanoggend onder die eredies ontmoet het ‘n weersin in álmal wat onreg pleeg – sulke mense wálg Hom!

Slot

Laat ons daarom sorg dat ons altyd, in alle nederigheid, voor die Here leef, geliefdes. Laat ons ons afhanklikheid van God besef, want dit is wat die Here van ons elkeen verwag. Die Heilige Gees sal ons aanhou wys dat ons God se skepsels is en dat Hy die Skepper is. God laat nie met Hom spot nie. Hy sal nie toelaat dat nietige ménse Hom of sy koninkrykswerk voorsê nie. Hy, alléén het die finale sê – oor sy vyande – maar óók oor jou lewe, én oor sy gemeente.

Kom ons wees daarom nie beangs oor die onbekende toekoms van ons sondige bestaan nie, geliefdes. Ons Here, Jesus Christus, het vir God se kinders betaal! Ons is losgekoop – vry van die mag van die Bose. Amen.