Skrifgedeelte: Psalm 4: 1 – 9
Fokusvers: Psalm 4: 4 en 5
Tema: God luister as ons na Hom roep en behandel gelowiges uitsonderlik, daarom behoort ons stil voor Hom te wees.
Inleiding
Vir almal van ons is die Nuwe Jaar al góéd op dreef. Ons werksaamhede het órals spoed opgetel. Ons kinders is bedrywig in die skole en by die sport. Fuksies word gereel. Ons kalenders en dagboeke raak al vóller en bésiger. ‘n Mens kan amper nie indink dat dit minder as drie maande gelede Kersfees was nie. Die meeste van ons ervaar die druk van die lewe – selfs óns wat hier op die platteland woon.
Indien jy vandag moedeloos en gejaagd en oorweldig voel, mag die Here se Woorde in Psalm 4 aan jou vrede en gemoedsrus bring.
God luister na ons as ons Hom aanroep
In Psalm 4 beleef die digter gewéldige nood. Ons lees hoe hy sy situasie van angs regdeur hierdie Psalm beskryf. Dit voel vir die digter asof hy in ‘n noute is (vers 1), daar is mense wat nou al vir ‘n geruime tyd sy eer skend (vers 3), mense versprei valse leuns van hom en ander mense gló hierdie leuens oor hom (vers 3). Psalm 4 se digter voel oorweldig – soveel dinge is besig om rondom hom te gebeur – dit voel vir hom asof hy besig is om beheer te verloor.
Indien ons sê dat Dawid die digter van Psalm 4 is, dan maak hierdie woorde sin, nie waar nie? Sy sonde met Batseba is waarskynlik nog várs in sy teestanders se gedagtes. Hierdie mense wil nie erken dat God nou die digter as sy gunsgenoot behandel nie. Hulle wil nie die digter vergewe soos wat die Here hom vergewe nie (vers 4). Al het hy húlle ook moontlik teleurgestel en ook teenoor húlle gesondig, voel dit nie asof hulle kan aanbeweeg nie. Hulle hou sy foute, wat hy eens op ‘n tyd gedoen het, teen hom. Hulle smeer sy naam swart by die mense. Hulle praat sleg van hom en fokus nét op sy tekortkominge. Wanneer hulle met ánder mense oor hom praat, dan vertel hulle nét van die digter se sonde.
Mense wat in dieselfde omstandighede as hy is, sal maklik vra: “Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?” (vers 7). Mense wat óók benoudheid ervaar – mense wie soortgelyke lastering van hulle name ervaar – raak maklik moedeloos en vra: “Wie sal ons weer die goeie laat sien?” Vol pessimisme vergeet hulle dat die Hére in beheer van hulle lewe is. Hulle kyk vas in die omstandighede róndom hulle en kyk nie óp na die uitoms wat Bó hulle is nie.
Deur die Here se genade hou die digter van Psalm 4 egter perspektief. Selfs in sy grootste benoudheid vind die digter vrede. Waarom? Want hy práát oor sy probleme. Hy tree in gesprek met verskeie mense en soos hy praat, en dít help hom om vrede in sy gemoed te vind. In Psalm 4 is daar vier partye ter sprake en die digter tree in gesprek met élkeen van hierdie vier partye. Eerstens spreek die digter tot God (vers 2), daarna tot sy vyande (verse 3 – 5), ook tot sy medegelowiges (vers 6 en 7) en laastens praat die digter ook met homsélf (vers 9).
Omdat die digter ‘n uitverkore kind van die Here is, bly hy konstant bewus van die Here. Twee weke gelede het ons gesien hoe die digter van Psalm 5 elke oggend ‘n gebed tot God gebid het. Hy het élke nuwe dag begin met ‘n gesprek tot sy Skepper en Onderhouer. En nou, hier in Psalm 4, sien ons hoe die digter ook elke áánd sy dag afsluit deur met God te praat. Weens sy wonderlike eenheid met God, bly die gelowige digter diep bewus van Wie God is. Hy besef élke dag sy afhanklikheid van God en weet dadelik na Wie toe om te gaan wanneer hy oorweldig voel. Die skrywer doen ‘n belydenis teenoor God in vers 2 wanneer hy erken dat dit Gód is wat sy reg handhaaf. Selfs al dien sy vyande valse beskuldigings teen hom in, is dit Gód wat Regter is. As Almagtige God wéét die Here dat hulle aantuigings vals is – Hy sien immers alles raak! En daarby ontvang die digter – en elkeen van óns – die belofte dat God ook na ons luister wanneer ons na Hom roep. Psalm 4 se digter is só dankbaar God na sy gebede luister dat hy graag hieroor met die Here wil gesels. Dit maak hom opgewonde en dankbaar dat die Almagtige Sélf dáár is as hy vol angs in sy bed lê. Al leef hy met onsekerheid en kommer oor wanneer sy vyande op hom gaan toeslaan, beséf hy dat die Almagtige in beheer is. Hy is Regter oor sy lewe en sy wil sál geskied. Hierdie gedagte gee alreeds vir die digter ‘n mate van verligting, en daarom kan hy vérder bely: “toe ek in die noute was het U vir my ruimte gemaak” (vers 2).
Wanneer ‘n mens benoud is – wanneer jy oor iets angstig is – dan is dit altyd in die nág wat ‘n mens dit die érgste voel. Wanneer jy alleen daar in die donker op jou bed lê, dan is dit so al asof die duiwel jou die mééste pla. Dit is dán wanneer ‘n mens makliker oor iets tob – wanneer dit vir jou voel asof jou eie gedagtes en vrese jou vasdruk totdat daar geen asem in jou longe oor is nie. Wanneer ‘n mens egter dán met die Here in gesprek tree deur tot Hom te bid, dan is dit so al asof die Heilige Gees nuwe suurstof in jou slaapkamer laat inkom. Die oomblik as jy al jou vrese en bekommernisse met die Here deel – ja, ál jou vrese – dan spoel daar ‘n geweldige verligting oor ‘n mens gemoed. Wanneer jy in volkome vertroue op jou middernagtelike gebed “amen” sê, dan word die woorde van vers 9 vir jou ‘n werklikheid: “Nou sal ek onbesorg gaan lê en dádelik aan die slaap raak, want, Here, U alléén laat my veilig woon.”
God behandel ons uitsonderlik
Nadat die digter dan tot God gebid het, verskuif sy fokus na sy vyade toe. In verse 3 tot 5 van Psalm 4 spreek die digter húlle aan wie hom beledig en belaster. Hy vra vir hulle die vraag: Hoe lank gaan julle my naam nog skade aandoen? Hoe lank gaan julle nietigheid nastreef en na hierdie leuens oor my glo? Totius verwoord hierdie vraag van die Psalmdigter so mooi as hy skryf: “Hoe lank is jul met nietighede, met ydelheid en wind teverde? Word leuentaal deur jul begeer?” Mense wat hulle ophou met skinderstories oor ander, is besig met praatjies wat eintlik niks werd is nie. Wat baat dit jou óf die persoon waaroor jy praat? Leer die Bybel ons dan nie dat ons ander mense moet “opbou en nie afbreek nie”? (2 Kor. 13: 10). Sê die Here nie op ‘n keer: “praat nét wat goed en opbouend is,” nie? (Ef. 4: 29). Waarom is baie van ons dan so lief daarvoor om ander mense af te kraak en te verkleineer? Wanneer ons ons verlekker in iemand anders se sonde-toestand, dan is ons ook maar met ydelheid en wind tevrede, geliefdes.
En daarom verkondig die digter van Psalm 4 die Here se Woord aan sy vyande en sê: “Julle moet weet dat die Here sy getroue volgelinge uitsónderlik behandel. Die Here hoor wanneer ek na Hom roep.” Met hierdie woorde van ons fokusvers wil die digter iets van die Here se genade aan sy vyande bekendmaak. Hulle kan hom maar aanhou belaster en leuens oor hom versprei, hy wéét Wie sy Verlosser is. Hy beséf dat God hom sy sonde vergewe sonder dat hy dit verdien. Alleen te danke aan God se uitverkiesende genade behandel Hy sy navolgers uitsonderlik. Die digter van Psalm 4 leer sy vyande van die Here se regverdigheid maar ook van sy barmhartigheid – twee eienskappe van die Here wat ook stérk in Psalm 5 na vore kom. Die Here tree regverdig teenoor alle mense op – maar Hy is besónder genadig teeoor gelowiges – verál teenoor ons sonde. Want God het sekere mense uitverkies om sy ewige kinders te wees, en die oordeel oor húlle sondes word deur Jesus Christus gedra. En daarom kan ons vanoggend saam met die psalmdigter bely: te danke aan Christus, behandel die Here sy getroue volgelinge uitsonderlik!
Daarom behoort ons stil voor Hom te wees
In die geloof wil elkeen van ons vanoggend vashou aan die troos wat ons hier, maar óók in Romeine 8, kry: “Wie kan ons voor die Regter uitdaag? Wie kan God se uitverkore kind aankla? Waar is die mond wat durf om ‘n gelowige te verdoem as God sy kind regverdig noem?” (SB 10: 1). Hierdie Skrif-Waarheid word alleen moontlik gemaak deur ons Verlosser, Jesus Christus. In alle alleenheid moes Hy die angs en vrees van Godverlatenheid ly terwyl mense sy Naam aanhou laster. Hulle staan daar rondom die kruis en bespot en bespoeg Hom. Hulle is met ydelheid en wind tevrede, geliefdes, want hulle sien nie ín dat hulle Hom nodig het nie. Hulle sien nie ín hoe sy sterfte as betaling vir alle gelowiges se sonde dien nie. Hulle beséf nie dat Hy die Ewige, Almagtige Hére is nie. En daarom beteken sy oorwinning oor die dood ook níks vir hulle nie.
Die digter van Psalm 4 spreek egter sy vyande aan en doen ‘n beroep op hulle: “Sidder , moenie sondig nie, dink ná op julle beddens en wees stil!” Hy doen ‘n ernstige broep op hierdie mense dat hulle vir ‘n oomlik sal gaan stilword en mooi gaan dink Wié die Here is en wáártoe Hy in staat is. Hy is die Oorwinnaar oor lewe en dood! Hy is die Regter van alle mense! Jesus Christus kom binnekort weer aarde toe om alle mense te oordeel! Die hel is ‘n werklikheid! Daarom gee die digter van Psalm 4 hierdie raad aan sy vyande: “Dink hieroor ná op julle beddens, en wees stil.” “Bly net vir ‘n oomblik stil, en besef dat jy in die Lewende God se teenwoordigheid is.”
Vir die mense wat dít reeds besef, sê hy: “Bring offers van geretigheid en vertrou op die Here.” Hy spreek ook sy medegelowiges aan en gee aan hulle geloofsperspektief. Aangesien hulle rééds die Here as hulle Enisgte en Ewige Koning ken, behoort hulle aan Hom getrou te wees en alleen op Hom vertrou. Al is daar mense wat pessimisties is, en gelowiges wat vra: “Wie sal dit weer met ons laat goedgaan?” behoort kinders van die Here van beter te weet. Ons is nie van dié mense wat vasklou aan die verlede en aan die “goeie ou dae” nie, want gelowiges sien uit na ‘n béter toekoms saam met die Here. Ons behoort nie te hunker na énige iets hier op aarde of van ons verlede nie, geliefdes, want dit álles – selfs ons verhoudings met ons geliefdes – is verganklik. Vir ons lê die béste nog voor – ‘n ewige lewe saam met die Here!
En dan, in die laaste vers van Psalm 4, praat die digter ook met homself. Nadat hy met God, sy vyande én sy medegelowiges gepraat het, is dit opmerklik dat die Psalmdigter sy éie raad volg. Hy gaan leef wérlik dít uit wat hy aan ander verkondig het. “Nou sal ék onbesorg gaan lê en dádelik aan die slaap raak, want Here, U alléén laat my veilig woon.” Waar die Psalmdigter aan die begin van die Psalm vrees en angs en groot benoudheid beleef het, beleef hy nou vrede en kalmte. Want in die nag – wanneer die benoudheid erger is as in die dag – wanneer die pyn erger is as in die dag – praat Hy met Gód. In die nag kom hy tot bedaring na die trauma van die afgelope dag. Hy word stil voor die Here en práát met sy Skepper eerder as om na wêreldse dinge te ontvlug. Dit is eers nadat die digter met God in gebed gepraat het, dat hy kalmte vir sy gemoed ontvang. Dit is nie mens se status of jou gesondheid of jou bekwaamheid of jou geld wat ‘n goeie nagrus waarborg nie – dit is jou verhouding met die Here.
Slot
Geliefde in die Here, indien jy gebuk gaan onder die druk van die lewe, moet nie moed verloor nie. Volg die Heilige Gees se raad in Psalm 4 en práát oor dít wat in jou hart aangaan. Indien jy deur mense of jou werksomstandighede oorweldig voel, práát met die mense rondom jou. Práát met jou vyande. Práát met jou medegelowiges. Práát met jouself. Maar die belangrikste van alles – práát met die Hére.
Hou op om weg te skram! Hou op om verskonings uit te dink! Maak tyd vir gebed en vertrou op die Here vir uitkoms!
Al manier waarop ons, in hierdie gejaagde lewe, vrede in ons gemoed sal kry, is as ons moeite maak met ons gebedslewe. Vannaand, wanneer jy nie kan slaap nie, moet nie gaan doen wat jy gewoonlik in daardie tyd doen nie. Gebruik eerder daardie tyd om tot Gód te bid. Maar gebruik óók daardie tyd om stil te wees en na Gód se stem te luister. Amen.